Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Met jouself as enigste maatstaf van wat dit beteken om te bestaan , en die eenvoudige aanname dat die wêreld vanuit die menslike skaal naby is aan hoe dit voorkom, word dit ‘n onvermydelike waarheid dat ons mekaar in wese en waarde reflekteer. Wat ookal ons herkoms, dit is as mense dat ons bestaan. Die antwoorde op ons vrae is opgesluit in die ruimte van ons limiete, ‘n ruimte wat groei deur verdeling in ‘n al fyner gryn van refleksie.

Is waarde slegs ‘n toevoegsel of kan dit bestaan buite die erkenning daarvan? Waarde is opgesluit in identiteit, die afsondering en besetting van bestaansruimte deur wese; die transformasie van die gedeelde in die verdeelde; die verwerking van die eenvoudige na die hoogste, of verfyndste vlak van kompleksiteit.Waaruit groei oordeel se gesag? Uit ons gedeelde identiteit.

Afhangende van die perspektief waar vanuit waarneming plaasvind, soos die mikro of makro beskouing van ‘n fenomeen of objek (bestaande binne vaste konseptuele of waarneembare limiete), word verskillende tipes en grade van informasie of data bekom. Waar iets begin of eindig, vanuit die waarnemer se perspektief, is ‘n kwessie van die skaal van waarneming relatief of in verhouding tot ander bekende en konseptueel gedefinieerde, dus sinvolle, skale. Die skaal van gewone menslike persepsie funksioneer as die natuurlike datum en basis betreklik tot die volle spektrum van waarnemings. Kennis is dus relatief tot die waarnemer. Dus ook is kennis nie absoluut nie.

Kennis is, menslik gesproke, die verdeling van die geheel in konseptuele brokkies, soos die verdeling van die vloei van tyd in benoemde segmente relatief tot sekere gevestigde waarneembare patrone van herhaling. Sonder die vastigheid van sulke patrone in die waarneembare wêreld, soos die relatiewe permanensie van vorme (relatief omdat tyd konstant verandering genereer), is kennis onmoontlik. Dit is juis die relatief (tot ons verwysingsraamwerk) onveranderlike onderliggende patrone wat in die natuur te bespeur is wat kennis vir ons moontlik maak selfs binne die kontrasterende veranderlikheid teenwoordig in die onmiddellike vloei van tyd. Indien ons konseptuele raamwerk nie herhaaldelik die waarneembare fenomeen reflekteer nie, is of ons konseptuele vertolking onvoldoende, of die verwagte patroon het dit sélf nie herhaal nie.

Met die tweede geval, deur natuurlik eers seker te maak of dieselfde gebeure in dieselfde omstandighede weer plaasvind of faal om plaas te vind oor ‘n groot genoeg statistiese span (die loop daarvan wat bepaal word deur ervaring, dus presedent), is die verwagte patroon dus skynbaar gebreek en vertolk ons dit in die wetenskappe as ‘n aanduiding dat ons, soos in die eerste geval, die fenomeen valslik of onvoldoende vertolk het. Alhoewel dit ook as ‘n eenmalige gebeurtenis gelees kan word, is dit statisties onwaarskynlik dat dit wel die geval is. Nogtans is dit moontlik. Miskien herhaal dit nooit weer nie, of herhaal dit eers verskeie leeftye verder, of buite ons waarneming daarvan, maar totdat dit ‘n herkenbare patroon vorm dra dit nie tot ons kennis by nie, al dra dit wel by tot ons ervaring.

Insig in die holistiese verband tussen ons analitiese vertolkings is die volgende vlak van kennis. Dit is die herintegrasie van die deeltjies in ‘n geheelbeeld. Insig beskryf die onderliggende of bindende faktore agter al die waarnemings en skryf so ‘n verhaal oor die aard van ons ervaring van die werklikheid. Een so ‘n storie is dat die verband tussen ons ervaring van, en die wêreld van ons ervaring werklik of verteenwoordigend is. Vanuit hierdie aanname word baie verduidelik, natuurlik in terme van die aanname self. Ander stories beperk nie of beskryf nie die werklike geval van sake met die onveranderlike of hegte band tussen ons waarnemings en die veld van ons waarnemings nie. Die oënskynlike direkte verband tussen die objek en die persepsie daarvan volgens die siening is dus nie noodwendig nie. Volgens sulke verhale is die verband subjektief beperk en dus nie -absoluut wat dus ruimte laat vir die moontlikheid van statisties onwaarskynlike gebeurtenisse of werklikhede. Dit ontken dus nie net die vaste verband tussen ons idees en hul eksterne bron nie, maar die moontlikheid dat die verhouding absoluut is.

As gevolg van die wankelrige konneksie tussen die wêreld van ons kennis en die wêreld soos dit is (objektiewe werklikheid) word die bydra van die rasionele, beskrywende tipe kennis tot ons bestaan in waarde beperk tot die vlak waar dit duidelik toepaslik is. Gaaf as dit blyk om te werk of selfs regtig werk en as dit vir ons betekenisvolle voordele inhou en ontsluit, maar dit is volgens kritiese analise te beperk om die geheelbeeld te omskryf. Direkte en interne ervarings het ook waarde, al is dit wel persoonlik. Om die waarde die persoonlike teenoor die waarde van die onpersoonlike te stel word as ongeldig afgemaak. Dit het ‘n ander tipe waarde en is ‘n ander tipe waarheid. So waaroor al die beskuldiginge van ongeldige aannames indien die aannames uit verskillende pole gestaaf word?

Die polarisering van ons ervaring as vanuit beide die twee soorte kennis, naamlik die direkte/interne en die indirekte/eksterne bronne, is baie moeilik om te integreer in ‘n hoër vorm van insig. Die taal wat ons ontwikkel het wat dit die beste kommunikeer is die beskrywende taal . Dit is gefundeer op die wêreld van direkte ervaring en dien as beskrywing, dus verdeling en uiteensetting daarvan in onderskeibare pakkies van informasie. Die simbole en tekens wat ingespan word om die inhoud van ons gedagtes te dra, die medium vir verstand, omskryf ook deels die moontlike verhoudings waartoe mens deur die taal beperk is. Die menslike innovering en verbeeldingsvermoëns asook die voortslepende uitbreiding van die kommunikasie medium, soos die wiskundige of verbale vorme van taal, maak dit moontlik om begrip te genereer selfs oor nuwe ervaringe of beginsels.

Daar is ‘n interne logika aan die verskeie vorme van tale, wat eintlik ‘n vorm van self regulering in die aard van die medium is. Ons ervaar dit as reels en beginsels. Dit word geslyp deur die suksesvolle korrelasie tussen die taal en die doel van die taal, naamlik om beskrywend of weergewend te wees van die ervare werklikheid om sodoende effektiewe kommunikasie te bewerkstellig. Dus is die taal wat geskep is om die eksterne of gedeelde ervaringswêreld te vertolk ‘n kollektiewe en dinamiese formaat wat ook kollektief ontwikkel, of eerder uit ‘n multi-perspektiwistiese oogpunt al meer verfyn word deur die voortgesette herdefiniëring, of verdieping van die interne begrippe . Sulke kollektiewe waardetoevoeging verdiep vanuit die holistiese perspektief relatief tot die maatstaf van die bestaande konseptuele pieke en valleie.

Die kognitiewe publieke veld kan voorgestel word as ‘n intellektuele membraan van insig wat rondom ontwikkelde begrippe begin depressies vorm met die kern van die begrip as die diepste punt. Die membraan verbind idees en laat inligting vloei vanuit die verskeie begrippe wat dien as die bron van intellektuele energie. Die omvang van die membraan vorm ‘n kennis sfeer met die diepste insig van begrippe wat neig na die middel waar alles een word. Hierdie singulariteit is die begin en einde van kennis en kan dus nooit beskryf word nie. Om dit te verstaan is om op te hou met verstaan. Anders as die bekende ‘singularity’ van die kosmiese swart gat is die aantrekkingskrag nie onweerstaanbaar nie. Alhoewel daar baie is wat aanhoudend daarna streef verskaf die oppervlakspanning van die membraan genoeg weerstand om meeste pogings te riem. Die begrip moet genoeg gewig dra of diepte bekom om die membraan se inherente weerstand tee te werk, soos die indentasie wat ’n punt van ’n staf veroorsaak wat met vors teen die oppervlak van ’n styfgespande elastiese vel dit strek tot die vorm van ’n gepunte kegel.

Indien jy vanuit die oogpunt van die singulariteit die binnewand van die membraan sou kon beskou, sal die begrippe soos verskillende grotes stalaktiete na jou toe hang. Die vêrste konkawe depressies van die wand ontvang die minste lig uit die kern, terwyl die punte van die naaste begrip kerne die meeste uitstaan teen die lig. Alhoewel die begrippe wat die diepste beur van mekaar bewus is, is hul konneksies steeds via die oppervlak van die membraan. Soos begrippe in diepte groei, so kom hul kerne nader aan die van mekaar tot waar dit verenig en verdwyn in die middel. Vanuit die buitewand se oogpunt val die swaarder begrippe die donker dieptes in van begrip met die begrippe wat op die oppervlak nog sigbaar of verlig is wat in oppervlak die grootste intellektuele ekstensie van die terrein vorm. Die natuurlike rusposisie van die intellektuele membraan is in sy oorspronklike span, soos ’n gladde rekbare bal wat se vel deur die inner onkunde in ekwilibrium gehou word. Enige kennis toevoeging plaas spanning op die oppervlakte. Dit is makliker om op ’n plat oppervlak te beweeg. Elke mens dra ‘n model van die sfeer in hulself wat die omvang van hul eie begrip reflekteer. Hoe eenvoudiger die begrip, hou minder en vlakker die depressies. Dit vervorm met groeiende bewuswording soos driedimensionele golwe en frekwensies met al groter amplitudes.

Dieselfde kollektiewe krag van die taal vorme is nie vir ons direkte interne werklikheid beskikbaar nie. Dit moet eers indirek (abstrak of representatief) vertaal word, verwoord of verbeeld word, vir dit om te kan kommunikeer. Sonder die verwysing na iets ekstern is dit baie moeilik om die interne gedagte te omskryf. Vergelykings met bekende of waarneembare items moet dien as metafore vir die metafisiese objekte van die gedagtewêreld. In die vertaling gaan daar baie verlore wat ons nie kan vertaal nie, of nie vertaal kan word nie of wat ly onder die onbekende begrip van die ontvanger van die vertolking. Die vertolking rantsoeneer die ervaring na punte wat hopelik met herverbinding weer die kruks of geheel van die verhaal suksesvol sal oordra. Deur die veruiterliking van die inner verhaal bekom ander ‘n mate van beheer of seggenskap oor die verhaal. Interne ervaringe wat in die publieke konteks beskryf word , is met aanhoring aan interpretasie onderdanig, dus word wat geuiter is weereens geïnternaliseer en vorm so weer deel van die persoonlike konteks van beide die luisteraar en spreker, wat ook sy publikasie self aanhoor.

Die prosedure om na iets te moet verwys vir die vorming van ’n begrip verreis die uiteindelike verwysing na iets konkreet of waarneembaar, wat toeganklik en publiek is en onafhanklik van een persoon se ervaring bestaan, iets werkliks uit die oogpunt van die gedeelde werklikheid (iets tegnies objektief), veroorsaak dat die saamgestelde objek van die metafisiese gedagtewêreld slegs indirek beskryf kan word. Die eenheid onderliggend aan die begrip is onvoorstelbaar. Slegs fragmente bestaande uit verwysings is moontlik. Die begrip kry weldra al meer gestalte in die leksikon van idees en word sodoende apart geplaas en verstaan, maar dit is vanuit ’n bepaalde perspektief, of die vlak van waarneming (geestesoog). Deur ‘verder’ of ‘nader ‘ te beweeg van die begrip verander die betekenis daarvan. Soos in ’n fase verandering spring die betekenis vlak saam met die waarnemings vlak . Die boustene van die begrip is die eenvoudigste en diepste vlak, maar as deeltjies dra dit slegs hul eie gewig. Eers met die integrasie van die deeltjies word nuwe betekenis geskep, maar geen betekenis is sonder hulle moontlik nie.

Betekenis en waarde is relatief tot die oordelaar daarvan. Kom ons kyk weer na die materiële wêreld. Eenvoud differensieer in kompleksiteit. Die transformasie verg die vrystelling van die potensiële energie wat in die eenheid opgesluit was wat dan die begin van tyd veroorsaak. Tyd is die konstante tempo van verandering soos gemeet teen die spoed van lig. Dit is die dans tussen die dinamiese en die statiese, die begin en die einde, die siklus van wording en verval. Die mees komplekse skaal of perspektief is presies in die middel van die skaal se pole. Die sub atomiese en die globale of kosmiese skale vereenvoudig al meer met nadering aan hul eie limiete. Die vermeerdering van informasie word gemeet aan groeiende differensiasie. Die mens bestaan kragtens skaal, kompleksiteit en differensiasie, of kwaliteit en konsentrasie van inligting in die ideale materiële en intellektuele middel, in die perfekte balans van moontlikhede. Ons kan in of uit zoom en vind onsself naby die middel van die skaal in terme van ons relatiewe posisie tot die mikro en makro wêrelde. Ons bestaan in die kennis vlak van wording en is die kern en vervaardigers daarvan.

Om terug te kom na menslike verhoudinge en hul selfregulerende faktore. Ons praat hier baie kere van wysheid as ons ideale maatstaf. Wysheid is die wete wanneer om apart te staan en wanneer om saam te staan. Dit is die balanserende faktor wat soos ’n teengewig of pendulum die struweling tussen die uiterste pole probeer stabiliseer. Dit is nie kompromie nie, maar balans. Sosiaal is dit om spasie te gee sonder om te isoleer, maar soms is radikale reaksies nodig om radikale versteurings tee te werk. Moraliteit is die reëls vir die handhawing van sosiale stabiliteit en ekwilibrium. Dit is die sosiale rusposisie. Dit probeer om versteuring in die intellektuele ruimte uit te pluis voordat dit na die fisiese ruimte toe uitkring of oorslaan. Maar die sosiale sfeer is bestaande uit indiwidue. Differensiasie lei na diversiteit en die skepping van identiteit deur indiwiduasie. Die sosiale prys vir groeiende diversiteit is groeiende isolasie, maar diversiteit is die skepper van identiteit. Identiteit word verskaf deur groter kompleksiteit, of die gefokusde en gesentreerde groepering van informasie. Konsentrasies vergestalt in vorms wat dit uitkenbaar maak van mekaar en vir mekaar. Hulle groei en voed vanuit dieselfde bron.

Verdeling ly na kompetisie wat weer op sy beurt kan ly tot konflik. Hier is dit makliker om die aparte bewuste entiteite voor te stel as uitsteeksel vanuit dieselfde basis, soos stalagmiete van gekonsentreerde energievloei gefokus op die kegel se kroon, wat soos die son materiaal omskep na hoër vlakke van gekonsentreerdheid of gesofistikeerdheid met lig golwe as die vrygestelde lewensenergie, in die geval die skepping van ons bewussyn. Die basis waaruit die lewensvorme groei is soos ’n plat tweedimensionele oppervlak bestaande uit naburige eendimensionele punte, die boublokkies van ons wese. Opgesluit in hulle is hope verbindings energie. Sonder die variasie in konsentrasie van die basis materiaal sou kompleksiteit, diversiteit en identiteit nooit kon ontstaan het nie. In getalle simbole is dit soos een en nul, of iets en niks. Die teenpool verhouding vertaal as die getal twee. Beide een en nul is in die getal opgesluit. Die nul is die ‘spasie’ tussen die twee ene waaruit die getal twee bestaan. Maar een maak slegs sin langs die bestaan van twee. Dit is soos twee state van wees. Aan of af. Dit is die verdeling van eenheid in veelheid. Betekenis en wording is uit ons perspektief die resultaat.

Net soos die grootte van ’n ster sy aptyt vertaal, so ook met die mens. Die oneweredige verspreiding van die bron materiaal is nie net die oorsaak van indiwiduasie nie, dit veroorsaak ook diversiteit en die verskil in skaal en bepaal so verder die basis of proporsies vir verhoudinge. Die wat het, sal meer kry. Met genoeg ruimte tussenin is harmoniese verhoudings moontlik, soos vergestalt in die orde van ons kosmos. Maar net soos in die ruimte voer kompleksiteit vanaf die eenvoud. Ook net soos met ons sterre brand sommige vinniger en warmer as ander. Die grootstes verteer die meeste, maar skyn ook die skerpste. Met hul einde laat hulle ’n tweeledige erfenis. Hope vrygestelde hoër vlak materiaal wat weer ly tot vernuwende groei, maar ook ’n donker en duister gat van destruksie aan die hart van hul nalatenskap. Dink aan van die prominente figure in ons geskiedenis. Mense soos Alexander die Grote, Julius Caesar, Genghis Kahn, Napoleon Bonaparte, Adolf Hitler of Joseph Stalin. Nie mense uit wie se bord jy eet nie. Op die rand van hul destruktiewe dade was die rou materiaal vir die opbouende proses van meer stabiele en dieper kompleksiteit, die sisteme van samewerkende orde.

Daar bestaan ook ander tipes groot figure. Hulle kanaliseer en transformeer ook materiaal, maar deur die toevoeging van hul positiewe kreatiewe energie is dit eerder ’n skeppende en opbouend invloed as ’n negatiewe en afbrekende een. Dit is die lewegewende beginsel wat aan die werk gaan. Dit werk op twee vlakke, naamlik die publieke of sosiale vlak en die persoonlike of private een. Die interne fokus en rangskikking word gereflekteer in die ruimte van wording. Idees kry gestalte deur uitvoering. Dit is die wêreld van produksie en transformasie, die rangskikking van hulpbronne in die vorms van idees. Sonder ’n goeie kennis oor die karakter en potensiaal van die boumateriaal is die materiële vertolking van idees gebrekkig en minder harmonies. Dieselfde geld vir geestesarbeid. Harmonie is weereens die balans van samewerking. Dit verg sinkronisasie en bestaanbaarheid. Om in te pas is om aan te pas by mekaar. Die gom of sop tussen mense moet nie te dik of te dun wees nie. Ruimte vir beweging is noodsaaklik, maar so ook die grense van die ruimte. Interne regulering is essentieel vir die skep en handhawing van harmonie. Om op eksterne regulering staat te maak is om almal se bewegingsruimte te verminder.

Dink aan ’n transparante vloeistof wat verdik en verdof rondom die okkupasie van ’n aggressiewe bewegende amorfe figuur drywende in die vloeistof. Net buite sy verdikte posisie is die weerstand min vir rustiger swewende figure. Met tyd verdun die vloeistof weer om die gestremde figuur, wie sy bewegings rustig moet vergroot, want die vloeistof verdik nog vinnig rondom skielike bewegings. Weldra pas sy ruimte weer aan by die res soos hy meer beheerd sy aksies kontroleer en kan hy weer sy posisie verander deur vrylik te beweeg in die sop. Ten tyde sy vertraging, wat deur die verdikte bol vloeistof meer ruimte opgevat het as net sy liggaam, moes ander vrybewegende agente hom omseil. Hoe meer sulke areas van verdikking drywend in die sop, hoe meer beperk vir die res die areas van vrylike beweging.

Met al hierdie sinnebeelde probeer ek iets skets oor die bekleding en inhoud van ons wese. Ons lewe tussen die pole. Die membraan is die kleedstof van ons bestaan, dit waarop ons wese geskets of gemoduleer word. Deur die fokus van bewussyn word ons storie uitgegrafeer op die weefsel van wording. Suiwer bewussyn is identiteit- en begriploos. Die aanhoudende vloei of stroom van bewussyn verwerk die direkte ervaring in begripsfasette, soos aparte konseptuele bondels; amper soos die pêrels van ‘n halsnoer, waarvan die string die skakel en vloei is tussen onderskeibare pakette van idees.Iets wat sonder begin of einde is; met geen limiete van een of ander aard nie; sonder enige identifiseerbare elemente of karaktereienskappe, bestaan slegs in die negatiewe sin van die woord. Vir iets om in die positiewe sin te kan bestaan moet dit ook beskryfbaar wees in positiewe terme. Iets bestaan in niks; wat nêrens is sonder iets nie.Die realiteit is nie alles of niks nie; dit is alles en niks.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Daar vêr uit die Kalahari
Vanuit almal se perspektief bestaan alles en almal deur die bewussyn soos opgesluit in die self. Indien jy nie van iets bewus is nie, bestaan dit nie vir jou nie. Ek glo dat die produkte van my bewussyn wel onafhanklikheid; dus ook buite my bewussyn, bestaan, maar ek word daarvan bewus slegs met die bewuswording daarvan. So ook glo ek dat ander mense ook bewus is, maar ek het slegs indirekte kontak met hul bewussyn soos dit in die gedeelde wêreld sy impak maak en indruk laat. Selfs dan is wie hulle is vir my, my verbeelding van hulle en nie hulle self nie.

Niemand het direkte toegang tot ander mense nie. Ons is subjektief afgesluit van mekaar. Dit is wat ek bedoel met die self as enigste maatstaf vir wat dit beteken of hoe dit voel om te bestaan. Die self bestaan wel ook uit die indrukke wat ander op mens laat en al is dit indirek, help hegte bande en tyd om die gaping tussen mekaar te vernou. Juis daarom is liefde en vertroue en al die dinge wat ons langdurige waarde aanheg die dinge wat mense nader aan mekaar bring en ons help om minder afgesonder en ontbloot te voel. Die oë van vreemde mense val minder sag op jou gelaat as die van goeie vriende en familie. Dit is ook deels hoekom ons vriende en familie prys.

Ek glo nie dat die objektiewe waarheid oor dit wat ons nie kan toets nie is vir enige een beskikbaar nie. Selfs die goed wat ons kan meet en aan karring praat met ons op die vlak van ons waarneming en interaksie. My soeke is vir die antwoorde wat vir my sin gee in die lewe en wat ek kan glo en wat nie. Jou geloof is waar jy stil gaan staan het en dit was jou keuse. Nes jy ken niemand die volle waarheid nie en daarom is dit oneerlik om te maak asof jy doen. Ek weet wel wat my ontstel en wat my verheug in my en ander mense se handelinge. Hier hoef ek niks te glo nie. Ek ervaar dit direk.
8 jaar 9 maande 1 week 6 dae 11 ure oud


Jacques


. . . . alles wat jy sê sentreer in jou eie persoonlike konsep van bewussyn en jou integrasie in die kompleksiteit van verantwoordbaarheid. Jy is omdat jy is. Wil jy leef om dood te gaan? . . . of leef jy om waarde toe te voeg aan leefbaarheid met 'n perfekte sosiale saambestaan?

Moraliteit is die reëls vir die handhawing van sosiale stabiliteit en ekwilibrium.

Ons eie persoonlike evaluasie bepaal die stabiliteit en ekwilibrium.
8 jaar 9 maande 1 week 6 dae 15 ure oud


Hier by
'Met jouself as enigste maatstaf van wat dit beteken om te bestaan....' wil ek vir jou sê: STERKTE! Mag jou denkewandeling jou by die waarheid uitbring.
8 jaar 9 maande 2 weke 1 uur oud


Goeie skets
Ek hou van wat jy hier gedoen het.

Die enigste plekkie waar ek vashaak is by die vordering in afhanklikheid van die groot "bose" figure. Ek dink ons is nou kompleks genoeg ontwikkel om verdere grootskaalse uitwissing van mense onnodig te maak maar dit sal ons seker maar moet sien.
8 jaar 9 maande 2 weke 2 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    KOPERMAAN tot SPIKKELPELIKAAN

    deur Viooltjie

    Hierdie bundel bevat 80 oorspronklike gedigte wat vir enige leser toeganklik sal wees. Dit is gedigte waarmee mense kan identifiseer. Dit sal jou nie onaangeraak laat nie. Natuur, omgewing en bloot net ménswees kom baie sterk hierin na vore.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar