Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Groen is ‘n snaakse kleur, want hy kan wissel van donker groen, lig groen tot see groen. Mens kan groen word van jaloesie of jy kan groen wees as jy gelukkig is. My eerste gedagte aan groen is my ouma se plaaskombuis en so was ook die meeste kombuise van die ou dae groen. Wel toe het jy net ‘n paar kleure verf gekry. Dit was “Signal red, Golden brown, Cream, Royal blue of Green”. Uit al dit was groen seker maar die beste keuse vir die kombuis. As ek dink aan haar, haar groen kombuis en die gelukkige dae wat ek saam met haar geniet het dan is die kleur groen vir my ‘n gelukbringer.

As jy in ‘n groen landskap woon sien jy later die groen nie meer so maklik raak nie, maar as jy in ‘n woestyndorp soos Swakopmund woon en jy reis na die Swartland en Overberg as die graan groen op die lande staan dan besef jy die intensiteit van daardie groen. Dan besef jy dat groen beteken lewe. Dit beteken groei. Dit beteken graankos wat lewe gee. Dan is die groen somtyds vir jou oorweldigend en voel jy dat jy daar op daardie golwende groen kan gaan rol en rol sonder ophou. Soos ‘n kind wat rol op gras as hy speel en gelukkig is. As boorling van die Overberg het dit my nooit so opgeval dat groen ‘n teken van lewe is nie. Dit was eers nadat ek in Swakopmund, ‘n woestyndorp gewoon het dat ek die groen regtig kon waardeer. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het ook lief geword vir die woestyn, want die woestyn het ‘n heel anderste spesiale bekoring. Daar het jy ook polletjies groen gekry, maar dit was wyd en ver tussenin en jy moes behoorlik soek daarvoor.

Die see kan ook wissel van seegroen tot blou tot swart. Ek hou egter van die seegroen kleur van die see. Veral as dit daardie ligte groen maak as die seewater teen die rotse slaan en die seeskuim met die water meng dat jy daardie ligte seegroen kleur kry. Dit is altyd ‘n aanduiding dat daar moontlik ‘n paar galjoene daar onder rondswem in die lig groen skuimwater wat net wag vir jou vissermans hoek.

As jy my regtig groen wou sien van jaloesie dan was dit as jy gaan visvang en jy staan daar die hele oggend en hengel en dan kom daar ‘n vreemde ou en gooi op jou plek in terwyl jy aas aansit en hy vang ‘n groot vis met sy eerste gooi. Dan voel jy dat jy kan word soos die “Incredible Hulk” in daardie bioskoop prent. Dat jy groen kan word soos hy, uit jou klere kan bars en daardie ou met sy vistok en al in die see kan boender en sy vis vat.

Ek het die ondergenoemde gediggie geskryf in Junie 2009 oor die dag se kleure en daarin het ek gemeld dat as die dag groen is dan voel ek lus vir werk. Dit is die dae waar die MG my nie te kwaai beet het nie en ek maklik asem kan haal. Sout is belangrik in die lewe want kos sonder sout is nie lekker nie. Die Bybel se ook ons is die sout van die aarde. So groen en sout behoort dus volgens my bymekaar.

As ek die dag lus voel vir hard werk dan sny ek gras en daar is vir my niks mooier as 'n vars gesnyde groen mat van gras in die tuin en die heerlike reuk van vars gesnyde gras.



DAG SE KLEURE


Verskillende kleure.
Verskillende geure.
Elke dag van die week,
het ‘n kleur en geur met dagbreek.
Party dae smaak soet.
Ander van suur tot sout.
Elke dag het ‘n ander geur.

Party is hartseer dan wil jy treur.
Die dag smaak dan suur.
Die kleur is swart.
en bring net smart.

Ander dae is groen,
dan wil ek baie doen.
Die dag is dan sout,
en word ek nie benoud

Is die dag geel,
is ek vrolik en heel.
Dit smaak dan soet,
en wil ek hom gladnie groet.

Is die dag grou
Is dit een wat ek nie van hou.
Dit smaak dan bitter,
en hoop ek hy word witter.

Is die dag rooi,
weet ek hy gaan my looi.
Dan bly ek liewer in die kooi,
want dan smaak hy soos strooi.

Maandae is gewoonlik blou.
Dis hoekom ek nie van hulle hou.
Dit smaak gewoonlik frank.
Neem hom maar met ‘n doppie drank.

Sondae is gewoonlik wit
Dan wil ek in die kerk of aan eettafel sit
Dit smaak gewoonlik lekker.
Dan hoef ek nie op te staan met ‘n wekker



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Groen
puik geskryf met n prag gedig!!!
5 jaar 5 maande 3 weke 2 dae 4 ure oud


Groen
Ai dis mooi geskryf, dankie vir die mooi gedig wat als afrond, slim van jou.
5 jaar 6 maande 1 week 5 dae 12 ure oud


Groen
Wat kan ek se? Niks behalwe "PUIK" nie! 'n Lekker vars groen storie met sy gedig en al!
5 jaar 6 maande 1 week 6 dae 2 ure oud


:)
Ek hou ook van groen. Onthou jy daardie pragtige baaitjie by Hentiesbaai met die duintjies met die grasgroen kuiwe? Die groenste groen seegras groei mos op die rotse in die stil baai. Daar het ons en ons kinders en ouma baaaie skulpies opgetel. Ai, nou het jy my ver teruggevat...
5 jaar 6 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


groen groen
soos gewoonlik het ek hierdie pragtige werk van jou baie geniet
5 jaar 6 maande 1 week 6 dae 21 ure oud


Groen groen groen
Wel die visvang en grassny was in die dae toe ek dit nog kon doen. Kan dit nie vandag meer doen nie.
5 jaar 6 maande 1 week 6 dae 21 ure oud



VREEMDELING IN MY VADERLAND

deur Piet Schoombie

Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar