Dis nou ses maande sedert daardie dag waarop ons die skrikmaaknuus gehoor het: longkanker. Daar was dae waarop ons net asseblief en dankie kon sê. In die oggende: “Wees asseblief by ons” en saans: “Dankie dat U by ons was.” Net een dag. Elke dag. Een dag was genoeg. “My juk is sag en My las is lig.” Môre was weer ‘n nuwe dag. En so het ses maande verbygegaan. Ses maande is ‘n halwe jaar.
En hoe gaan dit nou met Chris? Chris lees weer, Chris kyk nuus, Chris loop in die tuin rond, hy sien die rooi blomme van die miniatuur “bottlebrush” raak, hy hoor die voëls fluit. (sy gehoor is aangetas, harde geluide maak sy ore seer) Sy hande voel soms “dood”, snags pyn sy bene en/of sy hakskene. Hy is so maer. So broos. Hy word gou moeg. Maar Chris eet. Sy kos bly binne. Die metaalsmaak in sy mond is nog nie heeltemal weg nie. Hy drink steeds saam met elke maaltyd glase water en kry die kos so sluk-sluk in. Maar hy bly maer. Malvapoeding en vla is bo-aan sy lys van lekkernye. Salig sag gly dit keellangs. Strelend soet en heerlik. Ek sou dit vir hom wil gee vir ontbyt, middag-en aandete. Net omdat ek die lekkers in sy lewe meer wil maak.
Sy hare het net mooi begin groei, toe moes hy tien opeenvolgende en voorkomende breinbestralings kry. Van vooraf kaalkop. Weer oor begin. Maar Chris hou moed, sy gees is sterk. Ek is so trots op hom. Hy kla nie. Saans lees ons Bybel, soek ankers en boeie om aan vas te klou….en kry dit. Telkens. Hoe ons daarsonder sou asemhaal, weet ek nie. As ek tranerig raak, praat ons daaroor. As hy stil raak, hou ons uit. Hoop verdwyn net nooit. Dis elke môre nuut.
Ons harte is vol dankbaarheid oor ons naby-mense se omgee en liefde. Oor vreemdes en bekendes se belangstelling, oor bemoediging uit baie oorde. Ons het geleer hoe belangrik dit is om bly te word oor klein stukkies genade. Ons het geleer hoe kosbaar elke dag is. Ons het geleer om mekaar meer te waardeer. Oor ‘n maand sal ek hopelik met ‘n wye glimlag in my hart en op my mond, kan antwoord: “Dit gaan baie goed met Chris, baie dankie!”
Lees ander rubrieke deur Elizabeth Kendall
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Vesting
Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561