Rubrieke

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Potgebraaide vleis, los rys, pampoenmoes en boontjiestowe dit is onse mense se Sondag-kos, die familie-kom-kuier-kos of die baba-word-gedoop-kos. Deesdae kan ʼn bruilof maar ʼn deftige affêre wees vir die uitsoek gaste, maar glo my agter die skerms sal daar ʼn Ma wees wat voor die tyd of na die tyd ʼn tafel sal dek vir hààr mense. Ook met Kersfees, ʼn begrafnis of ʼn verjaardag.

Hoekom wil ons dit alewig so ingewikkeld maak as ons vreemdelinge wil beïndruk? Glo my, as elke Suid-Afrikaanse ambassadeur in verre lande hul heel beste, stywe amptelike voetjies voorsit verskyn daar tot vervelens volstruis of wildsvleis, fênsie bobotie of snoek op die spyskaart. Het iemand al net ʼn bord uithang huiskos voorgesit? Die soort etes wat dae se groot beplanning en aankope verg, maar elke keer is dit vleis, rys en aartappels. En groente. En slaai. En poeding. Nie nagereg nie – Poeding en fluwelerige vla.

As ʼn geliefde in die buiteland of op universiteit of sommer net ver is en daardie een kom huis toe, dan weet hy of sy met die intrapslag by die voordeur, weet elke greintjie van sy menswees: dis mos huis hierdie. Dit is in die ruik van kaneel en potvleis en soet, soet poeding en die warm groet van geliefdes. Ma sorg soos altyd.     
                                                                       
Die huis word vir die okkasie deur Ma op horings geneem. Sy skarrel en koop en skil. Die potte bewe van die stoom en almal se gesigte gloei van bly en lekkerkry. Almal in die huis word deur Ma omgepraat, geboelie of gebied om meubels reg te trek, tafel te dek en messegoed blink te vryf. Want iemand kom huis toe.

In die groot pot is ʼn heel vleis. Verkieslik skaapboud. Soms gaan hy oond toe. Met sy romp van aartappels wiggies sal hy later in die middel van die tafel pronk. Op die ander plate op die stoof word pampoenmoes sag en soeter in ʼn suiker, kaneel en botter-bad. Die groenbone kry ʼn spesiale gebraaide spek geurtjie omdat vandag vir uithang is.  Die rys is los en wit. Deesdae koop ʼn mens dit in pakkies wat belowe dat dit so lossies sal uitdraai. Nie so lank gelede was dit as ʼn opregte kuns beskou as die huisvrou haar rys mooi los kon kook. Nie almal kon dit regkry nie. Sowaar. Dit was ʼn kuns aangeleer aan moedersknie en geen resepteboek kon die tegniek voorsê nie.  
          
As die vleis mooi bruin is, is dit die soetste poeding se beurt om aan sy goudbruin kroon in die oond te werk. Daar is honderde resepte vir die deftigste, ingewikkelste en regtig uithang affêres, maar as die gaste spesiaal is, bak ons Malva Poeding. So soet dat elke happie belowe om heupe toe te gaan – maar hierdie keer sal almal dit oorsien want die samesyn en die warm om die hart oor die moeite wat gemaak is maak alles reg.

Die vla. Goudgeel en lekker warm. Nie uit ʼn boksie nie. ( Al hou Pa van die winkelgoed.) Ook nie die eiergeel en vanielje kunswerk nie. Hierdie is die soort wat met melk en vlapoeier gemaak word en die pot word fyn dopgehou op die stoof dat hy nie oorkook of aanbrand nie. Selfs die mees uitgelese sjefs sal ook met die huis-toegaan-slag lekker eet aan Má se vla.  
                                 
Hoekom gee ons vir ons buitelandse besoekers nie ook hierdie soort huiskos nie? Dit is eintlik eenvoudige kos, maar dit is die ritueel en die afwagting in die lug na groter dinge wat die hele vleis, rys en aartappel ete so eg Suid-Afrikaans maak. Dit word met die hand en uit die hart gemaak. Die weergalose kuns wat Ma’s het om die huishouding op te sweep. Vir kinders, ouma, Pa se baas, vriend of vreemdelinge – vir julle sit ons die beste voetjie voor. En dis deel van die onthou agterna, saam met die ruik van die huis, die atmosfeer van: “Hier gebeur iets!”     
                       
Die kook van so ʼn ete word onthou want ʼn mens se geheue is op sy beste as al die sintuie ingespan word. Die huis ruik hemels, die tafel lyk feestelik, alles proe goed, die geselskap klink soet op die oor en die harte loop oor van trots, bly-wees en tevrede-wees.

Gee so ʼn saam-wees ete aan enige buitelander wat hier is vir groot sport byeenkomste, as ʼn vakansieganger of selfs ʼn ou met ʼn politieke agenda. Daardie persoon sal weggaan en nooit weet weet waar die lekker begin het nie: by die kos of die mense. Alles word later een in sy oorvertel, want dis hoe ons is : gasvry.    
                                                  
Daar was al groot bekgevegte onder koskenners en geskiedkundiges oor die oorsprong van eg Suid-Afrikaanse kos of Boerekos. Ons kan vandag die verkorte weergawe lees (513 bladsye!) van H.W Claassens se tesis “Die Geskiedenis van Boerekos 1652 tot 1806” . In hierdie werk verduidelik sy van die koskultuur van die Europeërs wat hulself aan die Kaap gevestig het en hoe hul eetgewoontes deel van hul nasate gebly het. Daar was daardie tyd al van “Boerekos” gepraat wanneer daar na die kos wat aan die Kaap geëet is verwys is. Dit was toe reeds ʼn mengelmoes van Frans, Hollands, Maleis, Indies, Chinees om maar ʼn paar te noem. Dit het nooit opgehou nie en vandag is ons ewe tuis met invloede vanuit Portugal, Italië, Griekeland, Duitsland, die Nguni en die Sotho.

Kom ons wees eens en vir altyd net ʼn bietjie doodeerlik met onsself. Ons tafels van oordaad bring mense bymekaar in liefde en gulle mededeelsaamheid. Dìt is wat ons kos spesiaal maak en geen mens kan agtena sy vinger lê op die een spesifieke dis wat die oomblik vashou nie. Boerekos is toe maar net Mensekos. Lekker.
                                         



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Destined to Love

    deur Rachelle du Bois

    As she sat down on her suitcase, despair almost overwhelmed her. The events of the past week should have prepared her for something like this – this old house with this overgrown garden in this godforsaken little town in the eastern Free State of South Africa, which was left to her by a grandmother she had not known existed. But as she steadily began uncovering the secrets of her granny’s and her mother’s past, she found her destiny here, irrevocably linked to her smouldering neighbour, Julian du Toit. He'd made a promise to her grandmother that he fully intended to keep.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar