Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hierdie stukkie was net te goed om nie met my woester vriende te deel nie.

NÁ die seisoen van konfetti en trou-albums en katelbreektyd

ontwaak 'n nuwe Seisoen in die grootste gros huwelike.

Dis die tyd wanneer kinders inbars en alles omgedolwe word.

Geld, tyd en rus is min. Vurige twiste en Noord-suid-opinies is
volop.

Wat eens lekker geruik het, word 'n stank. Wat mooi was,

word afskuwelik.

Wat slim geklink het, word beterweterigheid.

Soetlemoene verander in bitterappeltjies.

Dan, so 20 of wat jaar ná die konfetti-dag, wanneer die

kuikens hoenders

word en in hul eie weiland begin skrop, daag 'n ander

seisoen op. Jeuktyd,

kraptyd, byttyd, skaaftyd. Dis Dan wanneer die

huweliksbed se voeë begin

meegee en die wiekelende konstellasie dreig

om vloer toe te tuimel.

Ná jare van geldstryd en kinders grootsukkel,

sit die eens uitspattig-

gelukkige huwelikspaar met mekaar opgeskeep.

Bykans vreemdelinge.

Of vyande. Buitentoe lyk alles wel. Almal glo

dit gaan góéd met ons.

("Ons" is 'n versamelnaam vir wie ook al aan

die versameling wil behoort).

Ons hét alles en ons lag en kuier,

sing kerkkoor, stap met die hond, hou

vakansie, koop saam-saam kruideniersware.

Oënskynlik die perfekte

verbintenis.

Maar agter die voordeur waar niemand

sien of hoor nie, staan die pitsweer

'n goudgeel punt. Barstens gelade met sarkasme,

sinisme, ondankbaarheid,

erbarmloosheid, humorloosheid. Ons is áltyd

gereed om te verskil en te beskuldig;

te pik en te amputeer. Ysstiltes en 'n

vrot atmosfeer is aan die orde van die dag.

En daar hang ons in die slagyster. Skei kan ons nie,

want dis 'n geval van

my kombers en jou matras en daar lê die ding.

'n Huweliksberader wíl ons nie,

want niemand het energie vir 'n ellelange

dermuitrygery nie. Dan maar deurdruk,

hoe gallerig ook al. Solank niemand ontdek

wat agter die gordynvoerings aangaan nie.

Om te kompenseer vir die yskaslewe, Pak ons

allerhande vernietigende handvuurtjies
aan vir hitte. Affairs, drank, pille, pornografie,

koopsiekte, vreetsiekte, verenigings, oorgodsdienstigheid,

werkoholisme. En noem maar op.

Ek en die ou gryse het al deur baie driwwe geswem.

Enkeldiepte, borsdiepte,

en soms watergetrap. Dat ons mekaar nie jakkalsgif

ingegee het nie, bly 'n mirakel.

En toe, tydens een van ons doodbliksem-gevegte,

kom ons op die kwessie sowel as

die oplossing af. Ek sê nie dit sal vir almal werk nie,

maar vir ons het dit.

Die kwessie: Spasie. In sy wese bly die mens 'n eenling.

Hy wil 'n sirkel om hom kan trek; 'n spasie waaroor hy,

en hy alleen, baasskap het. En die huwelik het 'n rare

manier om die mens sy eenlingskap te ontneem.

Dis 'n cliché om te sê die huwelik is 'n eenwording

van twee mense. Want twee mense kan nooit één

word as elke eenling nie 'n heel mens op sy eie is nie.

En as die mens van sy spasie beroof word,

raak hy soos 'n hondsdol hond wat alles byt.

Die oplossing: spasie. Só baklei ek en die ou

gryskop doerie tyd amper tot by die bottel

jakkalsgif. Uit beboosdheid trek hy met

klere, boeke, lessenaar en spanners

na die spaarkamer op die boonste

verdieping. En dáár bly hy vandag nog.

Wat destyds 'n ek-bliksem-jou-

sommer-dood-aksie was,

het geblyk die antwoord te wees.

Sy kamer is syne.

My kamer is myne.

Hy kan snork en poep en

televisie kyk wanneer hy wil.

Ek kan snags my bedliggie

aansit en slaapkouse brei

as iets my ry. Ek kan dwars oor die bed

slaap, en hy kan besluit hoeveel

komberse hy oor hom wil hê.

Niemand besweet niemand, en daar is

nooit 'n nagtelike gestry nie. En dis

salig om uitgerus wakker te word sonder

'n kierie teen jou rug. Of sonder 'n redeloos

beneukte vrou langs jou. Die saligste bly

die op- en afsluipery met die trap.

Soos outydse court. Sondagmiddag gaan

lê ek in sy arm. Of ek skrik middelnag wakker

as hy fluistervra of hy agter my rug kan lê,

want hy verlang na my. Om boontoe te SMS dat

ek my man in my kooi soek, of om sy brekfis

trapop te dra en te gaan sê hy's my koning.

Nou se dae kan nie ek óf hy onthou waar ons

die jakkalsgif gebêre het nie.


Want ek het my kombers en hy het sy matras.

En nêrens lê 'n ding nie



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

lekker gelees en gelag goeie raad
10 jaar 5 maande 1 week 13 ure oud


ek het gelag laat die trane spat toe ek heirdie lees, ek het nog 'n entjie om te loop tot ek daar kom, maar ervaar al klaar die tekens in my eie lewe.
10 jaar 5 maande 2 weke 1 dag 19 ure oud


Dis 'n awesome stuk die! Mag julle die trap nog baie besoek, en natuurlik mekaar. God bless.
10 jaar 6 maande 4 weke 6 ure oud


Groot waarheid. Ons behoefte aan spasie verskik van dag tot dag.
10 jaar 7 maande 1 week 17 ure oud


Baie onderhoudend geskryf oor 'n onderwerp wat soveel van ons raak. Ek het dit regtig geniet. Dankie vir die deel hiervan.
10 jaar 7 maande 1 week 18 ure oud


Baie dankie vir hierdie kosbare stuk. Dis beslis wyse woorde. Dalk sal daar meer bottels jakkalsgif soek raak as mense mekaar bietjie ruimte gun. Vir my is dit reeds te laat, die botteltjie is leeg en weggegooi.(Glimlag) Dis egter raad wat ek kan deel met ander.
10 jaar 7 maande 1 week 1 dag 21 ure oud


HEHEHE...JA....TWEE MENSE..EN EEN LEWE.....RERIG GOED.MOET NOGALS N MOEILIKE BESLUIT WEES,WIE SE LAKENS OM VANAAND TE KOL....
10 jaar 7 maande 1 week 2 dae 16 ure oud


Nie Prof Olivier
Haai mede woesters, ek bitter jammer maar die stukkie happie is glo nie 'n Prof Olivier sin nie maar ons eie koningin skrywer Annelie Botes se werk. Ek jammer as ek dit verkeerd gestel het, het dit werklik so per epos ontvang.
GROOT VERSKONING AAN ANNELIE......
10 jaar 7 maande 1 week 4 dae 16 ure oud


Baie intressant en baie goed geskryf.
10 jaar 7 maande 1 week 4 dae 20 ure oud


Sjoe, dit is meer as 'n mond vol.
10 jaar 7 maande 1 week 5 dae 5 ure oud


Nou rêrig die stuk geniet want dit klink sooo bekend! Jy moet dit eintlik na elke huweliksberader toe stuur, want dit klink regtig soos 'n oplossing vir 'n baie werklike probleem-situasie! Soos een vrou sê, aan skei het sy nog nooit gedink nie, maar aan moord dikwels!
10 jaar 7 maande 1 week 5 dae 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar