Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Nou word daar ‘n vakansiedag gemaak vir die jeug. Alhoewel hulle die heeltyd vakansie hou en so verveeld is soos wat, dat hulle begin eksperimenteer met enigiets van drugs tot seks, want hulle mag mos nou kwansuis nie werk nie. As hulle nie met drugs of seks besig is nie sit hulle soos rusbank wortels (my eie vertaling hoor) voor die TV en speel met hulle wo... ek bedoel tone of voor die skootrekenaar en speel speletjies of is besig op hulle slim foon om te whats up of speletjies te speel of met oorfone in hulle ore rond te loop en niks te sien of hoor nie. Soos ‘n regte iets uit die buitenste ruim of soos ‘n vreemde vlieende voorwerp vanuit die buitenste ruimte. Hulle loop soos slaapwandelaars met hulle fone in die hand en druk knoppies asof dit uit die mode gaan. Lees die ander dag van ‘n seun wat so besig was om na sy foon te luister met oorfone toe hy oor ‘n treinspoor loop huistoe dat hy nie die trein hoor nie en die trein hom vermorsel het. So hoe sou hy enigiets anders hoor wat om hom aangaan as hy die oorfone in sy ore het. Nee, hulle moet eers 18 wees voordat hulle mag werk en dan weet hulle klaar nie wat werk is en hoe om dit te doen nie. Hulle kry nie eens oefening om die gras te sny nie. Nee die tuindienste moet dit kom doen. Nou wonder ons wat is verkeerd met die jeug van vandag. Hoekom gebruik hulle drugs en pleeg hulle moord? Vat nou maar die Waterkloof vier en die Griekwastad moorde. Verder sit hulle ringe in op al wat ‘n plek is wat ek nie eens hier wil noem nie en nie eens in oorbel wil sit nie. As hulle nie ‘n tatoo het nie dan is hulle nie cool nie. Hulle vra ook nie meer deesdae ouers of trou nie. Nee wat se ding is dit? Hulle woon sommer saam, want dit is die in ding. Dit is nou te se, as dit nie dalk nog een is van dieselfde geslag nie, want hulle mag ook mos nou met mekaar trou as hulle uit die box gekom het. Ek weet nou nie wat die box daarmee te doen het nie, maar kom ons blameer die box maar vir hierdie nuwe soort verhoudings. Arme box.

Wel nouja, ek praat hier darem nie van al ons jeug nie hoor. Daar is met uitsondering ook darem gelukkig die goeies wat ‘n ouer se hart laat swel. Hulle wat hulle nie skuldig maak aan dit wat ek hierbo genoem het nie. Ek wil my hoed afhaal en laag buig vir hulle wat koelkop bly en die waardes en sedes deur hierdie tye behou.

Toe ek kind was, was daar werksdae vir die jeug. Die werksdae was die skoolvakansies, want dan het die jeug wat dan op skool was huistoe gekom en het ‘n ekstra paar hande gebied op die plaas of om die huis. Ek onthou nog sekere dinge van daardie werksdae op die plaas.

Aartappel planttyd was byvoorbeeld sulke werksdae. Eers is die grond reggemaak. Omgeploeg met die John Deere model R en enige kweek, klippe of gras of bossies of iets wat nie op die grond hoort nie is bymekaar gemaak en uitgery. Die eerste Diesel John Deere wat ingevoer was vir die Goodwood skou het my pa toentertyd gekoop. As jy hom wou start was dit ‘n prosedure. Jy het eers ‘n klein petrol masjientjie gestart wat dan die groter tweesilinder diesel masjien aan die gang gesit het.

As die grond reg was is mis in die kraal bymekaar gemaak op hope, opgelaai en op die grond oop gery.

Dit was met my pa se Dodge petrol lorrie gedoen wat iewers in die oorlogs jare vervaardig was. Sien die oumense het gepraat van ‘n lorrie. In daardie dae was daar nog nie vragmotors nie, nee die nuwe woord het later eers gekom. Ja brandstof is ook ‘n nuwe woord wat later gekom het saam met diesel vragmotor wat my pa later gekoop het toe hulle op diesel brandstof begin ry het en nie meer petrol nie. ‘n Lorrie het ‘n neus gehad. Met ander woorde die sidevalve masjien was voor die voorruit en het so stil geloop jy moes mooi luister om hom te hoor. Die neus was bokant die masjien en tussen die twee modderskerms gelee en die ligte was bo-op die modderskerms ge-monteer en het so ‘n peer vorm gehad. Ek het baie saamgery met my bene wydsbeen oor die koplig en my sitvlak op die modderskerm. Die neus het twee klappe aan weerskante gehad wat jy kon opslaan en so in die middel knak en terugvou as jy aan enige kant van die masjien wou werk. Amper soos wat jy ‘n kis sou oopmaak. In die middel voor op die neus was daar dan ‘n chroom ram gemonteer. Die lorrie was rooi en die modderskerms swart. Nou se trokke het mos nie eens meer plek vir vir iets soos ‘n ram of iets nie. Rols Royce het darem syne deur die tyd behou.

Omdat ‘n lorrie in die oorlogs jare vervaardig was, was die bak van hout sowel as die deure. Metaal was vir die oorlog toerusting beskore. Die kap was ook van hout met sulke hout ribbetjies bo waaroor daar ‘n seil getrek was. As die son die seil so bietjie verweer het was dit weer met pik gesmeer sodat die reen nie kon inkom nie. Die syvensters was ‘n stukkie syl wat jy kon afgerol as dit koud was of reen. Die voorruit het uit twee plat ruite bestaan met ‘n stukkie blink chroom in die middel waar die twee ruite mekaar ontmoet het. Net die bestuurder het ‘n wiper gehad. Ruitvieers het eers later uitgekom. ‘n Wiper het ‘n pypie gehad wat met lug vanaf die masjien se inlaat stelsel gewerk het. Dit het so ‘n tipe motorjie gehad hier bokant die voorruit aan die binnekant van die kap wat met vakuum gewerk het. As jy bult uitgery het, het die wiper so rukkerig gewerk en amper gaan staan. As dit dan hard gereen het moes jy die petrol pedal bietjie laat skiet sodat die wiper kan werk voordat jy weer kan vet gee. Daar was altyd ‘n aartappel in die lorrie wat gebruik was om die linkerkantste ruit mee te vee as dit reen sodat die passasier darem ook kan sien wat in die pad aangaan. Die aartappel het voorkom dat die reen druppels vorm op die ruit. Die sitplek was ‘n plank wat kon opslaan omdat die petroltenk onder die plank was en jy moes eers uitklim, die plank op sy skarnier oopmaak om petrol in te gooi. Daar was ook ‘n slinger in gebere vir ingeval die batery pap was kon jy hom met ‘n slinger aan die gang sit. (Nie soos vandag se motors wat jy moet stoot nie) Bo-op die plank was daar ‘n klapperhaar kussing van so 10 sentimeter wat met leer oorgetrek was met sulke knopies wat ingetrek was. Die kussing was maar hard en daar was nie juis vering in nie. Elke gat en stamp op die pad het direk op joune ingestamp. As daar produkte Kaap toe gery was het jou bankies mors dood gesit en was jy net so duskant die verkryging van aambeie. Die voetbord binne die kajuit was ook van hout en daar was ‘n paar groterige gate deur waar die pedale, handbriek, self aansitter wat jy moes trap en die rathefboom deurgekom het. Daar was ‘n lekker groot voetskrop op die kant langs die deure waarop twee grootmense maklik kon staan.

Die mis vir die aartappel land is dan met die lorrie en die trekker en wa uitgery en oop gestrooi op die land. Die strooi werk was gedoen deur stadig te ry terwyl daar met vurke die mis oop gestrooi was. Een man strooi links af die ander een regs en nog een agter af. Op een geleentheid het die lorrie deur ‘n knik in die land gegaan en ek het so half my balans verloor, want die vurk was groter as ek en het my van balans geruk en met die steek slag druk ek die vurk deur my een voet. Toe ek wil strooi kom ek toe agter dat my voet nou wil saam beweeg met die mis. Dit is eers toe dat ek agterkom die vurk is deur my voet. Ek het die vurk uitgepluk en aangegaan met strooi, want jy het nie gewaag om jou pos te verlaat vir so ‘n onbenulligheid nie. My ma het die voet in die middagtyd ontsmet en gedokter en verbind en toe is ek met doekvoet en ‘n ou kous aan en al kraal toe om weer te gaan mis laai. Daar was nie skoene gedra vakansie tyd nie. Nee, skoene was net vir Sondag se kerk.

Vir die aartappel plantery is die Messey Harris trekker gebruik omdat hy kleiner was. Hy het met die slinger op petrol gestart en as hy eers warm geloop was is hy oorgeskakel na kragparafien wat destyds goedkoper was as petrol. Die ou masjiene het maar almal op kragparafien geloop. Diesel het eers later sy verskyning gemaak vir plaas implemente en vragmotors.

Die sakke aartappels is uit gespasieer op die land en elkeen wat leef en beef op die plaas het dan ‘n vakkie gekry om vol te plant wat uitgemerk is met ‘n stokkie. Grootmense het ‘n dubbel vakkie gekry. Parafien blikke is voorsien van ‘n draad hingsel met ‘n stukkie tuinslang waardeur die draad gesteek was sodat die hand wat dit dra nie so seerkry nie. Kinders is ‘n halwe blik gegee. ‘n Halwe blik het normaalweg net ‘n vakkie vol geplant en ‘n vol blik twee vakkies. Daar word dan ‘n voor geploeg met die tweeskaar ploeg en die aartappels is dan in die wal van die voor ingedruk terwyl jy al in die voor af loop. As jy die blik gaan volmaak het jy gehardloop, want die swart sand het die son aangetrek en so warm geword dat dit gevoel het jy loop op ‘n dover stoof se plaat wat lekker vol brand. In die voor moes jy ook jou storie ken om te plant, want die Messey kon nie staan en luier nie, want hy loop op kragparafien en as hy koud word begin hy te hoes en proes soos ‘n kind wat kinkhoes het. Hy moes werk dat hy warm bly. As dit ‘n koel dag was is ‘n sak voor sy verkoeler gehang om hom warmer te hou. Ek kan nog onthou hoe ek paniekerig raak as ek daardie onmiskenbare reuk van die verbrande kragparafien kry, want dan is die Masey besig om jou in te haal en moes jy aartappels gooi dat dit bars.

Skaapskeer tyd was ook altyd in ‘n skoolvakansie, want ons kinders moes die wol intrap in die bale. Daar het dan ‘n span swartmense vanuit die Ooskaap gekom om die skape te skeer met skaapskeer skere. Hulle het gewoonlik net ‘n kortbroek gedra en was kaal bolyf as hulle skeer, maar as hulle die skeerhok verlaat het hulle ‘n kombers omgedraai. Hulle kon vir ure sit in die aande en hulle skere slyp op spesiale slypstene wat elkeen byderhand gehou het. ‘n Skeerder se heiligdom was sy skere, slypsteen en sy kombers. Vir elke skaap wat hy skeer het hy ‘n boontjie gehaal uit ‘n blikkie wat by die hekkie na die vangkraal gehang het en wat net soveel boontjies in gehad het soos wat daar skape in die kraal was. Op die einde van die dag is elke skeerder se boontjies getel en gerekonsilieer met die aantal boontjies wat oorspronklik in die blikkie gegooi was. Sy vergoeding is dan bepaal volgens die aantal boontjies in sy besit. Vir ‘n ram se skeer het hy twee boontjies gekry op voorwaarde dat hy nie raak skeer nie, anders kry hy net een. Saam met die span was daar altyd ‘n kok en ‘n wol gooier. Die gooier se taak was om die afgeskeerde wol mooi op te tel waar die skeerder dit gelos het. Vir elke sekere aantal skape wat die span geskeer het was hulle dan geregtig op ‘n slagskaap om hulle van vleis te voorsien asook ‘n sak mieliemeel.

Die skeerder begin gewoonlik die skaap te skeer deur die wol op die pens en die agterkant van die skaap te skeer. Dit word die loks genoem. Dit word dan op ‘n aparte tafel gegooi om uitgesorteer te word. Ons kinders se werk was dan om die klonte mis en verkleurde urine stukke wol van die goeie wol te skei en die misklonte dan weg te gooi in ‘n emmer.

Die wol goeier tel dan die wolvag op terwyl die skeerder sy geskeerde skaap terugneem en ‘n ander ongeskeerde een gaan vang in die vang kraaltjie. Hy gooi dan die vag wol in die lug oor ‘n skeer tafel sodat dit heel oop val op die tafel. Dit is nogal ‘n kuns en moet aangeleer word. Die wolklasser klas dan die wol. Eers word die buite rant afgehaal, want dit sal die wol op die maagkant van die skaap wees en van swakker standaard. Dan word die wol op die middel geskei van die res en dit is dan die wol op die rug van die skaap. Jy kan dit sien aan die tekstuur aan die punte van die wol waar die reen normaalweg op die skaap se rug geval het. Dan word gekyk of die wol ‘n breuk het deur die een punt van die buitekant van ‘n stukkie wol in die een hand te hou en die ander kant wat naaste aan die lyf van die skaap was in die ander hand se twee vingers vas te vat en dan met die middel vinger ‘n soort skiet beweging te doen met die wol. As die skaap op ‘n stadium siek was of daar was min kos en die skaap het honger gely asgevolg van droogte sal daar ‘n breuk in die wol verskyn. Die wol se tekstuur word ook bekyk. As dit ‘n baie fyn kartel toon is dit ‘n goeie fynwol wat die skaap gelewer het. Growwe kartels beteken gewoonlik ‘n swakker tipe wol. Skape wat fynwol produseer is skape wat natuurlike veld weiding en berg veld weiding bewei. Die wol word dan in spesiale hout kaste gegooi waarin daar ‘n wolsak gehang was. Ons jeug se werk was om die wol vas te trap in die wolsak. Jy het eers die kante en die hoeke ingetrap. Dit was ook kaalvoet gedoen en die wol het jou voete sag gemaak van die natuurlike olie vet in die wol. Daar was maar altyd dorings ook in die wol en dit was dan eers so bietjie gelos in die voete sodat dit so half begin sweer dan het jy dit maklik uitgehaal met ‘n naald. Later het die wolpres sy verskyning gemaak wat die wol meganies in die wolsak ingepres het.

Daar was altyd ‘n wolklasser wat saam met die span gekom het en hy het dan ‘n kursus in wol klas voltooi waarna hy as hy die sertifikaat bekom het die reg gehad het om ‘n springbok kop op die wolbale aan te bring met ‘n stensil. Hy was daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die korrekte wol in die regte baal geplaas word en dienooreenkomstig te merk.

Oestyd was ook in die skoolvakansie en dan was dit weer gerwe op hope dra en aanry na die dorsmasjien. Jou bene en arms was rou gesteek deur die koring stoppels en jou voete was so hard dat ‘n duiweltjie nie eens gevoel was nie. Later het die stropers ingekom waar die graan in sakke ge-oes was. Dan moes jy ook jou storie ken om die sakke toe te naai voordat die volgende een daar was. Die sakke is dan op die land staan gemaak en moes ook gereeld omgekeer word. Die swaar werk het gekom as die graan op die vragmotor gelaai word, want dan het die arm spiere oefening gekry. Dit was ons jeug se oefening en nie soos hulle in nousedae dit in die gym doen nie. Nog later het die massa tenk eers sy verskyning gemaak en oes was nie weer dieselfde nie.

Uie planttyd was in die September skoolvakansie en dan is daar lande vol uie geplant en het jy of ‘n tuin ploegie met die hand gestoot dat die blase op jou hande verander het in eelte. ‘n Voortjie is met die ploegies gestoot en 30 tot 50 werkers het dan die uie plantjies in die voortjie geplant. ‘n Ander ploegie met ‘n skuiwer daarop gemonteer het dan die geplante plantjies weer toe gestoot. As die grond klipperig was was dit nie ‘n maklike taak om daardie ploegie van die oggend tot die aand met uitvaltyd te stoot nie. Terselfdertyd was dit dan ook ertjie pluktyd en is 300 mense aangery om die ertjiepeule op die lande af te pluk in suikersakkies vir die inmaak fabriek.

In die aande en oggende voor die dag se werk was daar natuurlik ook nog die melkery en die koeie wat gemelk moet word. As dit nog donker was en die ryp le wit op die grond asof ‘n ou ‘n meelsak uitgeskud het was al genade om jou verkluimde voete lewe te gee om dit in ‘n warm hoop beesmis warm te maak. Daar is ook winkel gehou in die aande vir die werkers wat uitslaap en kos voorrade benodig het.

As daar nie ander werk was nie was dit tyd om die hoenderhok skoon te maak of die gras om die huis te sny. Nogtans het ons kans gekry om met ons Dinky toys plaas, plaas te speel onder die groot ou akkerboom. Dit was gewoonlik Saterdag en Sondag middae. Daar was selfs nog tyd om die kar te was en politoer Saterdae reg vir Sondag se kerk.

Intussen was daar nog tyd om my ouma se houtkis vol te dra en die dover stoof te politoer met die blik sunbeam stoof politoer. Die blik het so ‘n opkomende son op gehad met swart en geel strale wat van nou na wyd uitgeloop het op die deksel. Jy is ‘n swart borseltjie gegee met so ‘n hout boog handvatsel om die politoer mee aan te smeer. Daarna is ‘n plat borsel gebruik wat so ‘n band gehad het. Jy het jou hand onderdeur die band gesteek en jou vingers het dan die rand van die borsel vasgegryp. Jy borsel dan dat dit bars en pasop dat jy nie die borsel teen ‘n kant vas slaan nie dan het jy bloed onder die naels gekry. Volgende was die boiler aan die beurt. Dit is met brasso blink gemaak. Eers die brasso aansmeer met ‘n lappie uit die blik botteltjie en dan moet die koper blink gepoleer word met ‘n sagte droe lap totdat jy jou gesig daarin kon spieel. Vir al dit het jy dan ‘n sikspens gekry wat jy gespaar het om ‘n nuwe Dinky toy by Davis se apteek op Caldon te gaan koop.

Die plaas werkery vakansietye was nooit ‘n oorlas nie en ons as kinders het uitgesien na die werkery op die plaas en het dit nooit beskou as straf nie. Ek was nooit spyt dat ek skoolvakansies moes werk nie, inteendeel het ek dit geniet en het ek baie daardeur geleer wat ek in my latere lewe kon gebruik. Ek dank elke dag my ouers dat hulle my op 'n mooi manier geleer het om te werk.

Baie van ons jeug werk in elk geval deesdae oorsee waar daar nie ‘n vakansiedag vir hulle is nie. Hoekom daar dus ‘n vakansiedag vir ons jeug moet wees verstaan ek nie terwyl daar geen vakansiedag is vir Hemelvaart. Die een belangrikste dag in die Christendom en die vroe kerk se ontstaan toe die Heilige gees uitgestort is tot voordeel van die ganse aarde se mensdom.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jeug
dit was nou n lekker lees hierdie!! ek se dankie Here vir my 3 pragtige meisiekinders wat my nog net plesier gegee het en op wie ek so bitter trots is
5 jaar 2 maande 3 weke 21 ure oud


dankie
Nou het ek darem lekker gelees. Dit was heerlik om te lees van julle doen en late op die plaas. Wat 'n jammerte dat so 'n produtiewe plaas onteien is. Dit moes 'n harde slag vir jou familie gewees het. Ja...vandag se kinders is bietjie aan die lui kant. Eks nou sommer lus om myne in die werk te steek...hehe. Arbeid adel...dis waar. Baie goeie bydrae..
5 jaar 2 maande 3 weke 3 dae 7 ure oud


Wat 'n skat!
In hierdie skrywe van jou vervat jy so baie waarhede uit die lewe en goeie dinge uit die verlede.
Ons wat met plaaswerk grootgeword het en wat ons kinders ook van die dinge kon leer, besef nie altyd hoeveel van 'n agterstand die jeug het wat die geleentheid om te kan werk ontneem is nie. Fisiese werk bou karakter en kreatiwiteit. Dit maak die kinders ook rats en handvaardig. As mens kyk na sportsterre is daar vele in sterk spanne wat op plase grootgeword het.
Dis 'n onding dat kinders nie deur werk (al is dit op 'n speel-manier) kan leer en ontwikkel nie, is 'n groot oorsaak van swak werksetiek. Plaaskinders leer al op laerskool trekker bestuur en pype en gereedskap ronddra en gebruik. Van windpompe regmaak tot lammers kastreer en merk en doseer. Wolklas en skaapslag en vleis werk is alles dinge wat jou die waarde van eerlike werk en die orde in die wêreld leer. Vleis kom nie uit 'n slaghuis of winkel nie. Iets moet bloei sodat mense kan eet. Mens moet bereid wees om jou hande vol bloed te kry as jy wil 'n tjoppie op die kole gooi. Dit mag snaaks klink, maar dit gee mens respek vir die lewe van alle dinge. Dit leer jou dat daar verantwoordelikheid is en dat iets wat doodgemaak word 'n prys van die gebruiker eis. Rekenaarspeletjies waar die lyke rol sonder dat die speler iets fisies oorkom stomp mens af.
Ek glo dat die klomp groenes wat oor leeus en luiperds en jakkalse en rooikatte aangaan maar nie ooit self iets moes skiet om 'n ander ding te beskerm nie, sou beter besef het wat die prys van lewe is as hulle self die herder moes wees van die hulpeloses.
Realiteit maak mens nederig. Elke oomblik kan daar iets gebeur wat jou kan beseer as jy nie jou werk reg doen nie. Daai kragparrafien Massy Harris kan jou trap as jy nie jou litte roer nie. Om die paal te haal moet jy maar op jou tande byt en aanhou misgooi, al pyn jou voet. Die tipe dinge maak van jou 'n MAN.
(Of in die breër sin 'n verantwoordelike volwasse oersoon met werksetiek. )

Baie goeie skrywe.
Ek het dit geniet om dit te lees.
5 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 2 ure oud


jeug
Ja jong party kinders word sommer sleg gebore en ander word sleg groot. Ek het lekker gelees dankie, die dae se speel was darem die lekkerste speel.
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 1 uur oud


Die hoog van werk!
My pa het altyd gesê 'arbeid adel' - en hierdie stuk van jou wys dit maar net weer. Dis omdat die arme kinders nie fisiese werk ken nie dat hulle so soek na iets om hulle hoog én moeg te maak. Nou gebruik hulle maar dwelms . . .

Ek stem ook saam met Aná Niem en ander sê.

Dankie vir lekkerlees vertel.
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 11 ure oud


Jeug
Ja, ons soek 'n wereld wat nie meer bestaan nie. . . Die Skrif se, "Laat hom wat lees, oplet.." en as mens sien wat alles in die wereld van vandag aangaan, besef jy dat ons laaankal in die greep van die antichris is . . . Prof. Walter Veith se DVD's (Total Onslaught) is skrikwekkend openbarend en laat mens besef waarom dinge gaan soos dit gaan.

Lekker gelees aan die plaasstories!
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 12 ure oud


Jeug
Dit was sekerlik een van die mees insiggewenste stukke wat ek nog gelees het. Die plaaslewe klink maar of dit baie moeilik was, en dat jy jouself nogtans gate uit geniet het. Dankie vir die deel, ek dink ek verstaan n paar dinge nou beter.
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 15 ure oud


jeug
schattz jy vat n man darem ver terug met hierdie artikel van jou. ek het hierdie artikel woord vir woord gelees en gaan hom weer en weer lees. wat n wonderwereld het ons as kinders gehad teen vandag se jeug. dankie vir hierdie pragtige terugvoering na n era wat verby is. ek het toevallig nou die dag gesien n boer stroop nog met n ou slattery stroper, kan jy dit glo.
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 17 ure oud


Jeug
Ongelukkig is die pragtige familieplaas in 1972 deur die staat onteien vir 'n appel en 'n ei vir wat vandag bekendstaan as die Helderstroom gevangenis en na 'n geveg in die hooggeregshof deur die staat oorgeneem nadat hulle ons 28 dae kans gegee het om die plaas te ontruim. Alhoewel ons gedwing was tot 'n skiking deur die staat het die regter nogtans sy opinie uitgespreek en aangehaal uit 'n ou hoogholandse hof uitsparaak wat gelui het dat "Wanneer die staat iets neem van 'n privaat individu sonder om hom genoegsaam uit die staatskas daarvoor te vergoed is hy een rower en een dief".
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 17 ure oud



As drome waar word

deur Evelyn van der Merwe

Sewentig gedigte wat ‘n buitengewone vrou se lewe beskryf. Sewentig boodskappe van lief en leed uit die pen van ‘n vrou wat op die harde manier geleer het om meer as die gewone teenslae van die lewe te hanteer, om sterker te word en uiteindelik om sterk te wéés – nie net vir haarself nie, maar ook vir die mense rondom haar.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar