Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Ek dra hierdie stuk op aan alle plaasma’s wat hul kinders op 6-jarige ouderdom by skoolkoshuise moet gaan aflaai.)

Dis Februarie 1995. Ons woon in Oos-Londen. My man aanvaar ‘n werk in Kaapstad en ons huis word verkoop. Aangesien ek die hoërgraad wiskunde- en skeinatonderwyser vir die matrieks by my skool is, oorreed die skoolhoof my om tot Junie, as ons deur die leerplanne is, aan te bly. Gelukkig het ek in die leerlinge se standerd 9-jaar al ‘n groot hap van die matriekleerplanne afgehandel. Die vorige koshuisvader het afgetree en sy woonstel staan leeg. Die skoolhoof bied dit vir my aan op voorwaarde dat ek diensdoen, hoofsaaklik aan die seunskant. Die woonstel se sydeur maak direk in die seunsgang oop. Dit behoort nie ‘n probleem te wees nie, sê die hoof, want ek is mos getroud en het self drie seuns. Daar is genoeg onderwyseresse aan die dogterskant. Ek moet net af en toe uithelp aan die dogterskant indien nodig.

Ek en my drie seuns en ons twee honde, ‘n Engelse bulhond en ‘n ‘dalmation’, betrek die woonstel. Voordat Wederhelf Kaap toe vertrek, herstel hy die heining om die agterplaas van die woonstel om die honde binne te hou. Die nuwe koshuisvader is ‘n jong ongetroude man wat verkies om in sy kamer op die boonste verdieping tussen die hoërskoolseuns aan te bly. Hy en die senior seuns is dik vrinne. Die skoolhoof, wat in ‘n huis op die skoolgrond langs die koshuis woon, is die hoogste gesag, maar hy vertrou sy personeel so, dat hy nooit ‘n voet in die koshuis sit nie.

Ekself het in ‘n koshuis grootgeword en die gereguleerde koshuislewe pla my nie. Met die handhaaf van dissipline het ek ook nog nooit gesukkel nie.

Die eerste oggend toe die ontbytklok lui, sien ek ‘n klompie van die laerskoolseuntjies kom laat aangehardloop. Hulle skoolskoene is vuil, hul klere opgekreukel, hulle hare is ongekam en dit lyk asof daar makoumis in party se ooghare gekoek is. Klaarblyklik is dit nie die matrone, soos ek in my skooldae gewoond was, se taak om toe te sien dat die kleiner kinders netjies skool toe gaan nie. Trouens, dit wil my voorkom asof dit niemand se taak is nie. Daar is ook nie tyd om na ontbyt daaraan aandag te gee nie, want die laerskool sit naby die middestad en hulle moet dadelik in die pad val om nie laat te wees nie.

Die middag na skool gaan bekyk ek die opset aan die seunskant. Die plek bars uit sy nate. Die ontspanningsaal aan die verste punt van die onderste gang, is noodgedwonge ingerig as ‘n reuse-slaaplokaal vir die jongste seuntjies. Daar is twee rye met ‘n stuk of ses beddens in elke ry aan weerskante van die saal teen die mure. In die middel van die vertrek staan ‘n dubbele ry staal-toesluitkassies vir hul klere rug aan rug.

Die aand keer ek die prefek, wat die opstaanklok soggens lui, in die gang voor en vra hom om asseblief die volgende oggend nadat hy die klok gelui het, te gaan seker maak dat die klomp kleintjies opstaan sodat hulle genoeg tyd het om hul gesigte te was en hare te kam. Hy antwoord my nie en stap weg met ‘n nukkerige houding wat duidelik sê ‘Ek sallie. Ons en ons jong meneer het sover hierdie jaar goed genoeg klaargekom sonder ‘n vroumens wat aan ons kom voorskryf.’ En net daar draai hy my moer oordraad.

Toe die opstaanklok die volgende oggend lui, loop ek in die seunsgang af na die kleintjies se slaaplokaal. Kloklui-prefek kom poedelkaal met sy handdoek oor sy skouer in die gang af op pad badkamer toe. Hy hou vir die vale toe en gil op my: “Juffrou kan nie hierdie tyd van die oggend in die seunsgange rondloop nie!” en hol by die kleedkamers in. Ek gaan praat by die badkamerdeur met hom: “Ek het nuus vir jou. Ek mag enige tyd van die dag of nag op enige plek aan die seunskant rondloop. Wat meer is, van vandag af gaan ek elke oggend hierdie tyd in die gang wees. Trek dus jou broek in die vervolg aan.”

By die seuntjies se slaapsaal lê al twaalf nog snoesig onder hul duvets. Ek pluk die naaste een se beddegoed af en lê sommer plathand in. Toe ek die derde een uit die vere boender, sien jy net beddegoed trek soos die res uit hul kooie vlieg en hul beddens begin opmaak. Ek sien hulle haal hul opgefrommelde skooluniforms onder die matrasse uit. Hul skoolskoene lê orals onder die beddens rond. Ek roep hulle bymekaar en vra: “Hoekom is julle skoolklere onder die matrasse?” Hulle sê dat dit makliker is as om dit in die kas te bêre. Ek sê: “Vanaand nadat julle gestort het, gaan ek vir julle ‘n storie kom vertel. Dan moet elkeen se skoolklere netjies op die stoel langs sy bed uitgesit wees vir môre. En julle moet na skool vanmiddag julle skoolklere netjies in die kas bêre dat dit nie so lelik kreukel nie en julle skoolskoene politoer en blinkpoets, want ek wil vanaand sien dat jou blink skoene netjies onder jou stoel staan. Gaan was nou julle gesigte en kam julle hare.”

Die middag na skool sien ek hoe hulle op ‘n ry buite teen hul slaaplokaal se muur sit en hul skoene ywerig poets. Na studietyd, lui my woonstel se deurklokkie onophoudelik. Dis my seuntjies wat in groepies van twee of drie hoogs in hul skik met hulself wil weet: “Nou wánneer kom kyk Juffrou dan ons skoene?”

Die hoërskoolseuns gaan stort saans na ete al die donkie se warm water uit sodat die kleintjies in koue water moet stort. Hulle staan ook so lank onder die storte, dat hulle laat in die studiesaal opdaag. Ek gaan kla by die koshuisvader. Die volgende aand gebeur dit maar weer. Ek stap badkamers toe. Hulle staan lawaaierig onder die warm storte en die stoom is so dig dat mens amper daarin kan verdrink. Ek stap doodluiters in die oopplan-stort in en begin die krane van ‘n kant af toedraai. Dis meteens doodstil. Hulle gryp hul handdoeke en laat spaander kamers toe. Ek sê ek soek hulle oor presies vyf minute in die studiesaal. Die probleem met laatkommers en koue water vir die kleintjies was vir die res van my verblyf daar opgelos.

Die klomp seuntjies van sub A tot standerd 2 kom op die aande wat ek nie studiediens doen nie, blinkgeskrop met hul kamerjasse en pantoffels by my in die woonstel TV kyk. Ek vertel dan vir hulle ‘n storie en nadat ons godsdiens gehou het, gaan hulle bed toe. Op my sitkamervloer is ‘n leeuvel. Almal wil op die leeu se kop sit. Hulle maak beurte. Blykbaar werk klein seuntjies wat in ‘n groep is se knypspiere ook nie so goed nie, want hulle los aanmekaar windjies. “Juffrou ek dink dis Piet wat nou net so stink gemaak het. Ek ken sy brênd.” Ek smoor dié soort geselskap net daar in die kiem.

Een aand laat loop ek by hul slaapsaal in om te kyk of alles in orde is. Hennie is nie in sy bed nie. Sy matras is ook weg. “Waar is Hennie?” vra ek.
“Hier’s ek, Juffrou!” roep Hennie vrolik iewers in die donker vandaan. Ek kyk op. Hy lê met matras en al bo-op die sluitkassies. Sommer vir die avonuur.
“Klim dadelik af, alla maggies! Jy sal jou nek breek. En as jy of enigiemand anders dit weer waag, is daar pêre!”

Een dag doen ek diens aan die meisiekant. So teen eenuur die nag kom klop van die dogters my wakker. ‘n Skolier vanuit die Transkei wat weens ‘n nierdefek weekliks na die Frere Hospitaal gaan vir dialise, is siek. Sy is natgesweet en het ‘n hoë koors en yl. Haar swart gesiggie is asvaal. Ek skat haar so sestien jaar oud. Ons het die telefoonnommer van haar maatskaplike werkster wat ons in noodgevalle moet bel. Die maatskaplike werkster bel na ‘n rukkie terug en sê sy het met Frere Hospitaal se Noodgevalle geskakel. Ons moet die leerling dadelik daarheen neem – hulle wag vir ons. Ek gaan maak die koshuisvader wakker. Hy sê as ek aan diens is, moet ek haar maar self neem. Ek kan my ore nie glo nie. Maar die siek kind is eerste prioriteit. Ek gaan maak twee matriekseuns wakker om saam met my in die nag deur die stad te ry.

By die hospitaal los ek een seun in die motor by die siek kind en die ander een loop saam met my na die ontvangstoonbank. Die suster by Ontvangs sit in Xhosa op die telefoon en klets en steur haar nie aan my nie. Na ongeveer twee minute leun ek oor die toonbank, neem die gehoorstuk uit haar hand en plaas dit terug op die mik. Woedend vra ek waar ek ‘n rolstoel kan kry. Toe sy nog staan en rondtrap, kom die twee matriekseuns by die deur ingehol het die siek meisie, wat besig is om haar bewussyn te verloor, in ‘n rolstoel. Waar hulle die stoel gekry het en hoe hulle die lywige kind uit die motor in die stoel gekry het, weet ek nie.

Twee manlike verpleërs daag sleepvoetend op en neem ons na ‘n kamer met twee beddens. Hulle sit die leerling in een van die beddens. Ek sien dat die beddegoed nie skoon is nie, maar sê liewers niks. Die ander bed in die kamer se beddegoed is deurmekaar. Op my vraag waar die ander pasiënt is, deel hulle my mee dat dat sy al die vorige dag ontslaan is. Ek sien daar staan ‘n half-geëte bord kos op die bedkassie. Genadiglik daag daar toe ‘n dokter op. Skielik hoor ek eienaardige knarsgeluidjies. Ek kyk om na waar dit vandaan kom. In die bord op die bedkassie sit die grootste twee kakkerlakke wat ek al ooit gesien het en vreet aan die oorskietkos.

Toe ek en die twee seuns later deur die stad se stil strate terugry, sê ek aan hulle net die nuwe regering sal weet hoe hulle dit reggekry het om een van die beste staatshospitale in die land in minder as ‘n jaar in hool te verander. Ek het die volgende dag vir elke seun ‘n sjokolade gekoop.

Met die rugby wêreldbekereindstryd, plaas een van die onderwyseresse haar TV-stel in die seuns se voorportaal. Ons sit teen die trappe na die boonste verdieping uit soos op 'n pawiljoen en skree ons kele hees toe Joel Stransky die skepskop in die doodsnikke van die wedstryd tussen die pale deur klits.

Die week voor die wintervakansie stuur ek my jongste seun solank vooruit saam met my ouers George toe om my vraggie ligter te maak. My vyf-deur Fordjie is al klaar bietjie lig in die broek vir my, die twee oudste seuns, die twee honde en ‘n swaargelaaide Camel-sleepwa deur die Ciskei se bergpasse. Die laaste dag voor die vakansie, skrop my twee oudste seuns die twee honde silwerskoon en ons maak hulle op die agterstoepie toe. Ek gaan slaap die aand vroeg. Ek lees in die Bybel die gedeelte waar die Here vir Moses in die woestyn verseker het dat hy sy engel voor hom uitstuur.

Hulle sê skokke kom in drieë.

Ek kry my eerste skok toe ek my oudste seun, wat in standerd 8 was, die volgende oggend met ‘n blink, kaalgeskeerde kop in die kombuis raakloop. Hy het die vorige aand by ‘n maat gaan skaakspeel en hulle het ‘n weddenskap aangegaan dat die verloorder se se hare afgeskeer sal word. Ek vermorsel hom amper. “Jy besef natuurlik dat ek jou oor 3 weke by ‘n nuwe skool in Kaapstad moet gaan inskryf, en kyk hoe lyk jy! Gelukkig sal jou broer darem by wees om jou ‘looks’ uit te balanseer.”

Die tweede skok kom toe ons direk na skool die motor begin laai. Twee hoërskoolkinders vanaf George wat met tennisbeurse by ons skool studeer, kom staan langs die motor met hul tasse. “O ja, Mamma,” sê my middelste kind, “ek het vir hulle gesê hulle hoef nie buskaartjies George toe te koop nie. Die bus het vanoggend al vertrek. Ons ry mos deur George.”
“Jy’t seker ook vir hulle gesê dat jy heelpad met hul tasse op jou skoot sal sit.”

Die derde en grootste skok kom toe ek die kinders stuur om die honde op die agterstoepie te gaan haal. Die mense wat na my die woonstel sou betrek, het vroeër die oggend al van hul goed begin aanry. En ‘n oop sak houtskool by die honde op die agterstoep gesit. Die honde het in die sak gekruip en die houtskool gekou en daarin gerol en hulle is van snoet tot stertpunt gitswart en smerig. “Haak die sleepwaentjie af,” sê ek aanmy kinders. Ons draai die honde in hul komberse toe en ek ry met hulle na die veearts. “Spuit asseblief hierdie twee honde in sodat hulle eers in die Kaap wakker word.” Sy weier eers en sê dis oneties. Ek sê ek aanvaar volle verantwoordelikheid.

Terug by die koshuis haak die kinders weer die sleepwa. Terwyl ons die flikker- en remligte toets, kom drie standerd 8-seuns aangehardloop en gee vir my ‘n handgemaakte kaartjie waarin hulle my bedank vir al my arbeid in die koshuis en my voorspoed vir die toekoms toewens. Dit laat my beter voel. Ons laai die twee tennisspelers se tasse in die bagasieruimte by die agterste luik. Daar is so ‘n klein spasietjie tussen die tasse vir die twee slapende honde. “Juffrou kan mos nie die honde soos bagasie inpak nie!” sê een van die koshuisseuns wat staan en toekyk.
“Ek kan,” sê ek.

Toe my ou motortjie met my en die swaargelaaide sleepwa en die vier kinders en die twee honde in die volgepropte kattebak vir oulaas by die skool se hekke uitry, bid ek met my oop oë: “Stuur asseblief ook u engel voor my uit. En stuur iemand in my plek wat sal toesien dat my klomp klein koshuisseuntjies nie weer in die verwaarlosing verval nie.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Koshuislewe
'n Pragtige vertelling - ek was behoorlik jammer toe dit klaarmaak. Baie dankie vir die deel daarvan.
7 jaar 5 maande 2 dae oud


Koshuis
Lekkerlees storie hierdie! Jy was beslis die koshuis-engel. Jinne, maar jy skryf so dat mens nie wil ophou lees nie.
7 jaar 5 maande 1 week 13 ure oud


Koshuis
Ek was in 'n koshuis vir die volle 12 jaar van skool -- net vakansies huistoe gegaan. Was wonderlike tye en het baie dissipline vir my toekoms verskaf. Maak nou nog my bed perfek op elke oggend.

Dis 'n baie lekkerlees storie -- ek hou van jou skryfstyl. Moet sê ek ken 'n kwaai juffrou as ek een sien/of van hoor...

[...en dis nodig]
7 jaar 5 maande 1 week 14 ure oud


*
salute!
7 jaar 5 maande 1 week 17 ure oud


Koshuis
Of daar nou 'n engel na die koshuis gestuur was weet ek nie, maar daar was beslis een wat jou voor gegaan het. Jy kan bly wees jou jongste het vooruit George toe gegaan. Dit was nou 'n lekkerste-lekker lees hierdie. Heeeeerlik vertel! Ek wou nog meer gehad het. Smaak my ons 2 sou baie goed oor die weg gekom het.
7 jaar 5 maande 1 week 18 ure oud


Juffrou van goud
Ek hou van hoe net mooi niks jou onder kry nie, Elise!
7 jaar 5 maande 1 week 19 ure oud


Vlakvark
Ja Elise, ek was ook in 'n koshuis en die klokke, die klokke!
Tot vandag toe, as 'n klok lui - wil ek skreeu!

Al wat jy gedoen het was om dissipline en liefde te gee - dit is al wat die kinders nodig het - maar deesdae nie meer kan/mag kry nie.
Baie goeie storie, uitstekend vertel.
7 jaar 5 maande 1 week 1 dag oud


Elise
juffrouens soos jy
is vir ewig in nuwe SA verby
kolleges is gesluit
onderwysers nou in stryd
kinders wil net muit
miskien is skool nie meer nodig
selfone is in en leerkrag oorbodig

Jy verdien 'n MEESTERSGRAAD
of is dit nou 'n DAMESGRAAD

kom ons hou op diskrimineer
en gee jou die DOKTORSGRAAD
vir goeie raad en goeie daad
vir ewig vereer
7 jaar 5 maande 1 week 1 dag 1 uur oud


Juffrou doen diens .
Ai
Bo en behalwe die inhoud, is jou skryfmanier jaloesie-wekkend.
So vloeiend, spasie en papier sparend. Enige uitgewer se droom.
Wat sê jy is jou vak (e)?
Wiskunde en Wetenskap
Het ek maar kon wis om te weet . . .
Hoe.

Lekker gelees.
7 jaar 5 maande 1 week 1 dag 3 ure oud


:D
En ek glo jou gebede is verhoor! Dankie Elise, dit was weer heerlike lees...sulke Juffrouens moet medaljes kry!
7 jaar 5 maande 1 week 1 dag 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

HOOP

deur Ano

HOOP is 'n hulpmiddel vir persone wat sukkel om die dood van 'n geliefde te verwerk. Die hoofstukke is kort en aan die einde van elkeen is 'n paar vrae wat jy aan jouself kan stel. Vrae soos 'Van watter metodes maak jy gebruik om van jou rou af weg te vlug', of 'Hoe hanteer jy verjaarsdae en ander feestelike byeenkomste'? Hierdeur hoop ek die leser sal tyd in introspeksie deurbring en vir homself 'n paar antwoorde vind.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar