Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

('n Deel van hierdie rubriek het reeds voorheen verskyn by
http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/n-bladsy-uit-my-dagboek)

Drie maande na ons troue in 1975, gedurende die Paasvakansie, kom Skoonmoeder onverwags met die trein uit die Karoo in Kaapstad aan om vir ons in ons woonstel in Goodwood te kom kuier. Haar dierbare seun, ‘n ingenieurstudent, het egter elke oggend dou-voor-dag Stellenbosch toe verdwyn om in die elektronikalaboratorium aan sy skripsie te gaan werk en dit was my beskore om haar besig te hou en aan haar drie etes per dag voor te sit. Nie dat die voorsit van etes vir my ‘n probleem was nie – ek was nog nooit onbeholpe in ‘n kombuis nie en eet self graag lekker. Dis net dat haar kuier ontydig was en tyd 'n probleem was. Ek, asook ons woonstelletjie, was letterlik en figuurlik toegegooi onder rolle en rolle materiaal. Ons skool was besig om The Sound of Music op die planke te bring en bo en behalwe die sewe Von Trapp-kinders se kostuums, was ek ook nog besig om meters en meters ongebleikte linne in lang stroke aan mekaar vas te stik in die vorm van vier reuse-doeke waarop die dekor geverf moes word. Aangesien die stuk in verskeie sale opgevoer sou word, moes die dekor kon oprol om vervoer te word.

Sommer op die eerste oggend heers daar konsternasie onder my dak toe Skoonmoeder die kunsonderwyser, wat solank die eerste voltooide linnedoek kom haal het om te begin verf, sonder my medewete (en teen my uitdruklike instruksies in om nie die deur vir vreemdes oop te maak nie) binnenooi en ek niksvermoedend poedelkaal tromp-op in hom vashardloop toe ek gou ongesiens probeer kaalnael vanaf die stort na ons slaapkamer. Nadat ek vir Skoonma gevra het of sy nie sommer lus was vir ‘n paaseier vir ontbyt nie, het sy dieselfde dag nog by die naaste CNA vir my S.J.A. de Villiers se vier-en-dertigste druk van KOOK EN GENIET gaan koop. Destyds vir ‘n hele R4,75! Dit was my eerste resepteboek. Vandag, bykans as vier dekades later, beklee dit nog steeds ‘n ereplek op my kombuisrak hier in Engeland, al het dit teen hierdie tyd al ‘n rek rondom nodig om al die blaaie bymekaar te hou. Toe ‘n kollega wat in haar vrye tyd jaghonde afrig ‘n ruk gelede vir my twee wilde-eende en twee fisante present gee, kon ek selfs in KOOK EN GENIET gou weer oplees hoe om die pluimvee te ontveer en te ontderm – iets wat ek in my kinderdae laas gedoen het. En toe ek in 2004 op my oudste seun se troue in die Paarl die heildronk op die grootouers moes instel, het ek tot Skoonmoeder se groot plesier in my toespraak die paaseier-vir-ontbyt-episode opgehaal en sommer vir my nuwe skoondogter die wenk gegee dat die pad na my seun se hart deur KOOK EN GENIET se bobotieresep loop.

In die vroeë neëntigs het ons gesin een nag gedurende ‘n vakansie in Namibië saam met my suster en swaer en hulle gesin in ‘n jagtershut op ‘n afgeleë plaas in die Namib oornag. Vroeg die volgende oggend kom nooi die ongetroude, middeljarige boer ons hartlik om ontbyt saam met hom in die ruim plaasopstal te nuttig. Ons is altesame tienstuks wat aansit. Die lang eetkamertafel is onberispelik en smaakvol gedek. Twee jong, netjiese Namavrouens bedien ‘n keurig voorbereide ontbyt uit die boonste rakke. Lemoensap, mieliepap en graankos. Roosterbrood, growwemeelskons, marmelade en kaas. Roereier, lewer-en-spekrolletjies, niertjies en biltong. Koffie met warm en koue melk. Na ontbyt stap ek kombuis toe om die twee vroue te bedank en te komplimenteer. “Dis maklik, Mevrou,” sê die een. “Ons werk uit hierdie boek uit.” En sy wys na ‘n nuwer uitgawe van KOOK EN GENIET op die kombuistafel, oopgemaak by die voorbeelde van spyskaarte.

Terwyl ons gesin gedurende die laat tagtigerjare in Kempton Park gewoon het, trek een of ander griepvirus my plat. Ek is so siek soos ‘n hond. Ek kry kouekoors en alles aan my pyn. Die Saterdag sê Wederhelf: “Jy roer nie uit hierdie bed uit vandag nie. Ek sal na die huis en na die kinders omsien.” Ek aanvaar die aanbod met dank en sonder kommer, want hy was nog nooit versukkeld nie. Om die waarheid te sê, hy moes nog net ‘n rok maak en geboorte skenk, dan het hy al alles gedoen wat ‘n vrou kan doen.

“Wat kan ek maak vir ete?” kom vra hy later.
“Kyk in die vrieskas is ‘n boks met Snoekies. Jy kan dit vanaf bevrore sommer buite op die rooster braai,” sê ek met ‘n dronk kop en swaar ooglede. Later sien ek deur ons kamervenster hoe my oudste twee seuntjies suurlemoene pluk en dink by myself dat Wederhelf seker besig is om vir my sy ouma se Jamaikagemmer-met-heuning-en-suurlemoensap-konkoksie aan te maak om die griep uit te sweet. Na ‘n rukkie hoor ek egter hy vra aan een van die kinders in die kombuis om vir hom my KOOK EN GENIET aan te gee. Toe hoor ek hoe hy klaterend met die kastrolle en kookgerei begin werskaf. Hy is seker besig om marmelade te kook, dink ek so tussen die griepnewels deur en sluimer in.

Ek skrik wakker van die walglikste reuk denkbaar wat vanaf die braaivleisplek by die slaapkamervenster inwalm. Dis ‘n mengsel van aangebrande suiker, vis en nog iets wat ek nie kan plaas nie. Na ‘n rukkie staan ek moeisaam op met ‘n kloppende hoofpyn en sleep my bewerige liggaam in die gang af en loer by die patiodeur uit. Die drie kinders sit by die tafeltjie en peusel solank aan die eerste dun stukkies snoek wat al gaar is. Op elke stukkie vis is ‘n verdagte swarterige verkoolde kors. Wederhelf staan met ‘n kastrol op die heup en plak met ‘n verfkwas sulke dik lae geel pap uit die kastrol op die snoek. ‘n Digte blou rook gaan vanaf die rooster op soos vanaf ‘n brandoffer.
“Wat op aarde smeer jy oor die snoek?” vra ek met my hand oor my neus vanaf die deur.
“Suurlemoenbotter,” sê Wederhelf.
“Wááát?”
Wederhelf gaan haal vererg die leë Snoekieboks uit die vuilgoeddrom en kom hou dit voor my gesig. Hy lees die aanwysings op die sykant daarvan met nadruk terwyl hy met sy voorvinger op elke sillabe stamp: “Be-drúíp-met-súúr-le-móén-bót-ter!”
“Waar kry jy hierdie sogenaamde suurlemoenbotter?” waag ek dit en ag dit terselfdertyd gerade om liefs nie ook nog in te gaan op die betekenis van die woord ‘bedruip’ nie.
“Self gekook in ‘n kastrol!” sê hy hoogs in sy skik met homself. En met dié druk hy KOOK EN GENIET, oopgeslaan op bladsy 355, onder my neus in. En daar voor my oë, in die middel van die bladsy, lees ek die opskrif van ‘n resep:

SUURLEMOENBOTTER (“LEMON CURD”)

Ek begin onbedaarlik en kortasem met ‘n bors wat sulke steekpyne gee, lag. Die trane loop oor my wange. Ek moet aan die deurkosyn vasklou omdat my pynlike, bewerige bene onder my wil meegee.
“Dis so goed of jy smeer versiersuiker op vleis!” kry ek dit hortend en met moeite tussen die pynlike lagbuie deur uit.

Nie Wederhelf of die seuntjies verstaan wat so snaaks is nie. Maar my man hou duidelik glad nie daarvan dat ek vir hom lag nie, en beveel streng: “Gaan klim terug in die bed en los die kosmakery vir my!” My middelkind hou ook nie daarvan dat ek vir sy pa lag nie. Hy stoot sy bordjie terug en gaan staan langs my man se linkerbeen; sy hardekoejawel liggaamshoudinkie ‘n miniatuur bloudruk van Wederhelf. “Dis die lekkerste snoet wat ons nog ooit geëet het!” voeg hy my met ‘n verontwaardigde klein pruilbek toe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Snoet
Pragtig!
6 jaar 8 maande 1 week 6 dae 14 ure oud


Kook en geniet
Het baie lekker gelees. Ek gebruik ook nog al die jare my kook en geniet. Het in standerd 8 'n CNA koopbewys gekry as prys vir die beste opstel geskryf in my eindeksamen. Toe gaan koop ek vir myself 'n kook en geniet daarmee, en dit was nog al die jare 'n baie groot treffer :)
6 jaar 8 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


V
Daardie boek was in my ma se huis, toe in ons huis en is nou in my dogter se huis.
6 jaar 8 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


Skitterende humor!
En ja, KOOK EN GENIET kook nog altyd. Oral...tot hier in Kanada ook!
6 jaar 8 maande 2 weke 9 ure oud


Kook
Ek het dit weer 'n keer geniet, ja! Iemand het gesê as mens lojaliteit wil hê moet jy 'n hond koop. Jou wederhelf kry dit van middel seun af. Dis kosbaar!
6 jaar 8 maande 2 weke 16 ure oud


***
Weer lekker gelees, dankie Elise!

Ons het vir ons kleindogter op haar 21ste 'n KOOK en GENIET as present gegee -- wonderlike boek!
6 jaar 8 maande 2 weke 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Botes Stamregister en Kwartierstaat

deur Willie Botes

Genealogiese kwartierstaat oor die Botes familie. Ander vanne sluit in Oosthuizen, Botha, Putter, Du Preez en Shafer



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar