Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Lui bliksem wat vereis dat die wyfies al die gevaarlike werk doen en dan kom aanlê vir ete. Die sappigste en grootste deel van die karkas eers vir homself toeëien terwyl hulle (en die welpies) kwylend moet toekyk totdat hy dik gevreet eenkant gaan neerplof. Dan eers mag hulle die vrugte van hulle harde arbeid geniet. Die enigste keer wat hy dalk mag deelneem aan prooi plattrek is wanneer die trop deur droogte en noute gedwing word om werklik groot en gevaarlike karakters soos buffels, olifante en kameelperde aan te vat. Dan sal hy teësinnig sy koninklike boude lig en bietjie hand bysit. Andersins is hy ‘n nikswerd hoerkind wat welpies doodbyt om sy eie ‘meerderwaardige’ gene te laat geld bo dié van ‘n vorige alfa wat hy deur brute krag en aggressie weggedryf het met geen ontsag en respek vir die moederinstinkte van die ma van die welpies nie. Hy sal haar seermaak as sy haar kroos probeer verdedig.

Klink dit bekend?

Vir my ja, danksy National Geographic. Die manne met die lense en die ‘kennis’. Die manne wat kwansuis vir jare agter ‘n trop leeus aankarring sodat hulle vir mense soos ek - wat niks weet van leeus nie behalwe dit wat ek lees (en kyk) - kan ‘inlig’.

Ek was ook trots op my ‘kennis’. Ek weet mos van want ek kyk (en lees) mos dokumentêre literatuur. So seker was ek van my saak dat ek tydens ‘n skaakspel die koning vergelyk het met ‘n leeumannetjie (en mans oor die algemeen natuurlik, siende ek nie veel liefde vir dié spesie het nie). “Jy sien”, seg ek. “Kyk die lui bliksem. Hy kan net een blokkie op ‘n slag beweeg. Hy staan maar net daar rond en traai mooi en impressive lyk, maar dis die koningin wat die ware vegter is. Sy doen al die werk en trotseer al die gevare.”

Wel ... ek was verkeerd.

Dawerend verkeerd.

My ontnugtering het geskied by Gharragab in die Kgalagadi.

Leeuwereld.

Kom ons begin by die voorkoms. Ek sit een oggend op die stoepie en braai in die warm son (dit was nog vroeg – net na sesuur). Laat ek eers bietjie afdwaal hier. Warm son? As jy dit sê klink dit warm maar dit beskryf nie die intensiteit van die sonstrale in die middel van die Kalahari nie. Die son is so intens dat jy die indruk kry een of ander diabolies stuitige reus speel met ‘n vergrootglas en konsentreer daai strale net op jou (en grynslag). Goed – ek sit in die konsentrasie van vergrootglas-sonstrale. Die leeus was maar besig die hele nag. Daar is geen omheinings en dinge wat mens skei van die doenigheid van die natuur nie – jy is deel daarvan. Die volgende oomblik verskyn Meneer om die hoek van die chalet en ek en hy deel ‘n intieme oomblik. Ons kyk mekaar vas in die oë oor ‘n afstand van ongeveer twee meter. Ek in heldergeles en hy ... wel (jammer vir hom). En net daar ontwikkel ek ‘n crush – op ‘n leeu. Beeldskoon man. Beeldskoon. Die oomblik duur ‘n paar sekondes.

Hy loop aan, gaan staan stil so ‘n paar meter verder en kyk weer om. Geles in ... wel (jammer vir hom). ‘n Paar sekondes lank. En my crush verdiep.

‘n Leeumannetjie is mooi.

Dis ‘n feit.

‘n Dag later staan ek ligdag op en gaan staan op die stoep. Wel, dis wat jy doen by Gharragab in die Kalahari want dis leeuwereld. Jy staan/sit op die stoep. Die twee wyfies lê by die watertrog ongeveer 100 meter weg. Geen teken van Adonis nie. Die gemsbokke is hard besig met nasiebou en horings bly in die slag. Hulle bou nasie ‘n entjie weg van die twee wyfies. Die leeus was maar daar vir ‘n paar dae al – so – ek reken die gemsbokke het gerus geraak. Oorgerus.

Alles lyk rustig en vreedsaam. Die enigste teken dat iets aan die kook is, was die swiep-swiep van beide wyfies se sterte.

Ek is nog in hipnose oor die sterte toe ek ‘n gedoente aan my regterkant hoor. Nou moet ek weer afdwaal. ‘n Gemsbok het indrukwekkende horings – dit weet ons almal. ‘n Gemsbok is ook nie klein nie. Dis ‘n formidabele dier. In my wysheid oor die mag van gemsbokke sê ek in ‘n gesprek ewe wysneusig: “een leeu kan nie ‘n gemsbok plattrek nie.”

Gmpf.

Adonis trek hom plat. Man alleen, of liewer leeu alleen terwyl die twee wyfies hulle naels verf.

Die hele proses duur ‘n paar sekondes; van die kort stormloop tot die bok omrol tot die wurg aan die keel en die afsny van die slagaar. Tjoef tjaf.

En Meneer draf weg en gaan lê eenkant.

Hy raak nie aan die bok nie.

Die twee dames draf nader en druk servette by hulle halse in.

Laat die fees begin.

En was dit ‘n fees.

Hy tree eers toe amper hier by nagereg rond.

Ek was verkeerd ja.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Leeus
Dankie dit was nou heerlike lees van my hartland waar ek hier in die vreemde sit en verlang! As jy lus het, gaan lees gerus by my rubrieke "Die Leeu het gebrul". Dit was ons ondervinding in Etosha so 'n klompie jare gelede. Daar's 'n foto by wat my dogter geneem het van die okkasie . . . ek dink sy't van skrik die knoppie gedruk!
3 jaar 10 maande 2 dae 9 ure oud


Insiggewend
Hierdie stukkie kersete is baie goed voorberei. Ek het lekker daaraan gesmul. Goed gedoen!
3 jaar 10 maande 2 dae 23 ure oud



Van ons ander lede

Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar