Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

      Dit was ‘n pragtige somersoggend en ek en my dogtertjie Karah was vir ‘n slag betyds. Oudergewoonte begin ek die kar uit die motorhuis trek, maar die keer onderbreek ’n helse slag ons vreedsame bui! Karah wat gewoonlik in die oggende skaars asemhaal tussen al haar sinne sit nou tjoep-stil versteen… Dis die kar se spieeltjie! Ek het dit af gery. Of nie? Na gelang van die harde slag kan ek nie glo dat daar nog enige iets van hom oor is nie. Maar die een helfte sit nog daar! Ek tel die ander helfte op langs die kar. Karah het intussen al haar verlore sinne teruggekry en die vrae stroom oor haar lippies: “Het mamma nie gekyk waar mamma ry nie?” “Was ons in ‘n ongeluk mamma?” “Kan die kar verder ry mamma?” Wat gaan Pappa se Mamma?” Dis Pappa se gesig waarby my gedagtes vassteek terwyl ek probeer om die twee helftes van die spieëltie weer met mekaar te laat trou… Ek wag vir ‘n “kliek” of ‘n “klak” wat vir my sal aandui dat dit êrens hak en pas maar dis tevergeefs! Ek gooi die dop van die spieëltjie op die agter sitplek want dit raak laat! Oppad skool toe om vir Karah af te laai kan ek voel hoe die kar uitstaan soos ‘n seer vinger. Gister het ek nog soos ‘n trotse spog skouperd in die verkeer gevoel, maar hier voel ek skielik soos ‘n tiener met ‘n groot rooi blinde puisie op die punt van my neus!
     
      Ag liewe Vaderland… Daar is honderd en tagtig gate wat moet toegedruk word! Waarom nou nog dit? En so kan ek ook nie ry nie want dit sal ‘n gat in my waardigheid los... By die werk raap ek dadelik vir ou Quintin nader. Hy is baie goed met sy hande (tegnies). Maar Quintin sukkel… Sodra die dop aan die een kant in “kliek” dan “klak” hy aan die ander kant uit! Maar Quintin hou nie op probeer nie. So teen die vyfde “kliek-klak” stop ek maar vir Quintin. Nee, dit gaan nie werk nie, ek sal maar die kar ten duurste moet invat na ‘n Motor Dienssentrum toe… Ek drink eers ‘n suiker- soet koffie en tik vir my vriendin Riëtte ‘n e-possie om haar van my lot te vertel. “Nee-wat,” e-pos Riëtte terug… “Plak hom vriendin, superglue gaan baie goedkoper wees.” Ek moet sê ek het daaraan gedink maar ek wou dit nie sê nie. Ek stop ‘n bietjie moed in die gat van my waardigheid en durf die pad aan na die Dienssentrum. Ek sit “Enya” op om my dieper in my droewige stemming te laat sak. Ek weet in my hart die hakkie wat erens moet “kliek” of “klak” het gek… En ek kan al die kwotasies in my gedagtes aanhoor... Alhoewel die “superglue” vir my na die beste idee ooit klink, weet ek nie of ek die verleentheid gaan kan trotseer om te vra hoe moontlik die opsie vir die Werktuigkundige sal wees…
     
      By die Dienssentrum verduidelik ek so sag as moontlik my dilemma aan die dame by ontvangs. Ek sien hoe ‘n ouer dame in die wagkamer skoon skuins in haar stoel draai sodat haar ore niks van my detail sal mis nie. Die dame stink ooglopend van die geld. Sy het ‘n ring wat opsigtelik vir elke vinger ontwerp is. Elke ring vertel ‘n sierlike storie van styl en status… En haar mondjie pruil op ‘n bloedrooi knoppie soos sy haar lag probeer inhou… Hierdie dame sal nooit haar kar se spieëltjie se dop met gom vasplak nie. Ek gaan sit langs die dame en wag. “So waar kom jy vandaan?” verbreek sy die stilte. En haar vrae hou toe nou ook nie op nie. Ek en die tannie sit later en gesels land en sand oor haar kinders en kleinkinders toe die werktuigkundige voor my kom staan. Die hakkie het toe gegroet… En die kwotasie is R1 600 – 00 vir die ou doppie. Ek weet ek moet liewer bly sit, al voel dit of ek gemakliker gaan kan skuins-lê... Ek is sommer effe naar toe ek na die kwotasie kyk op papier, net om vir myself seker te maak dat ek reg gehoor het. Maar daar is ‘n bloedrooi kring om die bedrag getrek om die realiteit vir my te laat uitstaan! Ek weet ek is spierwit want ek voel yskoud. “Genade…” is al wat ek vir die oomblik kan uitkry om te sê, toe ek die tannie se ryk hand op my hand voel. Haar glimlag is so breed dat dit haar klein gesiggie amper in twee deel. “Plak hom my kind” sê sy.
     
      My moed lig effe terwyl ek met ‘n “honger hondjie kyk” na die Werktuigkundige draai. Hy stotter so effe (moet ook seker maar sy produk probeer verkoop, en die waardigheid van die Maatskappy probeer beskerm). Hy sê hy weet nie so mooi of dit gaan hou nie. “Plak hom… ASSEBLIEF!!” sê-vra ek nou met ‘n dringendheid in my stem. Al is dit net vir vandag. Plak dit vas asseblief... “Weet mevrou se man nie?” vra hy met ‘n effense glimlag om sy mondhoeke. “Nee!” antwoord ek. “En hy gaan my doodmaak!!” Verbaas ek myself nou openlik met ‘n blatante leuentjie… Daar is ‘n witstreep waaroor die kliënte nie mag tree voor die Werkswinkel. Ek voel soos by een van my twee seuntjies se rugby wedstryde. Ek wil op die veld hardloop en gaan hand bysit maar ek mag nie… Hierdie geplakkery moet net werk!! Ek buig my lyf byna in ‘n regte 90 grade hoek bo-oor die wit steep om te loer of die Werktuigkundige regkom. Ek kry dikwels ‘n knop in my keel langs die rugbyveld, maar ek sou nooit in my lewe kon dink dat ‘n werktuigkundige wat aan my kar werk my tot trane sal dryf van pure verligting en blydskap nie… Hy gooi sy duim tevrede in die lug! Dit het gewerk! Dit plak! Dis perfek!
     
      Enya sing droewig voort maar my hart “ROCK” oppad terug werk toe. Ek weet nie hoe lank die ou verdomde spieëltjie gaan hou nie, maar dis oukei. Vir nou is dit oukei. Ek kan nie ophou glimlag terwyl ek aan my vriendin se e-pos en die ryk ou tannie by die Werkswinkel dink nie. Plak hom... Dis oukei. Soms het mens net langs die pad nodig om te weet dat dit oukei is. Dis oukei om nie die wêreldse geld te hê nie. Dis oukei om ‘n fout te maak. Dis oukei om te huil. Om soms tweede te kom. Of kwaad te wees. Om nie die antwoorde te ken nie. Om alleen te wees. Al het jy nie die werk gekry nie, more probeer ons weer. Maar vir nou is dit oukei… Nie enige raad uit die hoogte van wat perfek sou wees nie. Nie ‘n gedreineerde opmerking van onder af oor hoe gedoem jou lewe is nie. Net hier reg langs jou… ‘n Glimlag of ‘n hand op jou hand met die woorde “Plak hom – dis oukei.” Ek dank die Here met ‘n lied in my hart vir my vriendin Riëtte en die ryk ou tannie by die Motor Werkswinkel. Ek dank Hom vir een gat minder wat ek vandag moet toedruk. Ek dank hom vir vandag... Geplak met ‘n bietjie genade en “superglue.”
     
      Karen vd Merwe



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Super!
Ek het hierdie baie geniet.
7 jaar 2 maande 3 weke 6 dae 16 ure oud


Spiëeltjie
Ja dis so n mooi verhaal van mens se stryd om by te bly by elke dag se dinge - en dan nog die uitdaging van onverwagte ongelukkies. Pragtig geskryf.
7 jaar 4 maande 3 ure oud


Dankie
Ek het dit nou nodig gehad, juis vandag! Ek ken van daai 180 gate. En van te min note om hulle toe te stop. Maar vir nou (na jou rubriek) voel ek oukei :-)
7 jaar 4 maande 1 week 2 dae 16 ure oud


Bietjie genade...
Dankie Karen, ek het die storie en jou lekkerlees manier van skryf sommer baie geniet! Moet sê ek het nog nooit met 'superglue' reg gekom nie, maar my wederhelf doen wonderwerke daarmee...
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 4 ure oud


bietjie genade . . .
Ek sien 'n ander prentjie weereens. Die jakkals prentjie. Om 'n spieëltjie af te ry, is normaal. In enige parkeer area, doen iemand anders dit sommer gratis vir jou.
Ek ook en toe gaan ek handelaar toe, No ways, laat hulle maar 'n aap vang, nie vir my nie. Scrap Yard toe. Uit ondervinding al 'n "goeie" een raak geloop. Hy bestel. Presies die ware jacob- ek gee nie om van China, of Indiën of tim-bak-toe. Die ding kom vier uur later en die man sit hom nog aan ook .
Hoeveel?
R60.00 !
Dankie vir jou vertelling. Ek het maklik gelees en geniet jou manier van praat.

Laat waai. Elke dag lewer vertellings op!
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 6 ure oud


....en dis oukei om net mens te wees....
'n Baie lekker meelewende vertelling en ek dink baie van ons kan ons self daarin sien...
Dankie vir die deel...
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 8 ure oud


"superglue"
Jou verhaal is met liefde, insig en groot empatie geskryf en dankie, dit is vandag Genade vir die gaatjie in my hartjie!
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 9 ure oud


Met 'n bietjie genade en
Sjoe, hoe plak jy nou sommer `n stuk van my gemoed! Pragtig Karen. Ek hou van jou laaste "opsommende" parragraaf.

En so het ons mos al geleer, wanneer die gate te veel raak, dan stuur HY vir ons iemand met `n botteltjie "superglue"!

Ek glo hierdie verhaal van jou gaan vir `n klomp mense die "superglue" wees!
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 11 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Lied van Lorelei

deur Rachelle du Bois

Mikrobioloog Talana de Waal keer na haar familie se sitrusplaas in die Laeveld terug om navorsing te doen. Sy bring haar vriendin en kollega, Dr Lerina Keyser saam. Alles gaan voor die wind tot haar kleinboet en sy vriend besluit hul ouer broers, Marius en Armand se liefdeslewe het 'n hupstoot nodig. Die misverstand wat volg het katastrofiese gevolge. Die vreeslike flater laat die wraak van die meisiekinders vlamvat. Tot die bye swyg en die swartvlieë hou op eiers lê . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar