Rubrieke

Titel: Miracle
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ja-ja, ek weet ek het al oor 'n wonderwerk geskryf. Maar hierdie is nie 'n wonderwerk nie. Dis 'n Miracle. En ek sou waarskynlik heeltemal daarvan vergeet het as dit nie van 'n speletjie op Jakaranda Radio was nie. “Wat is die weirdste ding wat jy al opgetel het?”, het die man gevra. Toe vertel hy van 'n kar se sleutels (booooring!). My storie:

As jongman van vroeg in die twintigs het ek en 'n paar vriende en vriendinne in die Magaliesberge gaan stap. Lieflike plek wat aan die Pretoria Bergklub behoort met die naam Dome Pools. Heeltemal weg van die beskawing. Jou kraan is die riviertjie vyf meter van jou tent. Geen karre nader as tien kilometer nie. Wat die plek veral besonders maak is al die natuurlike super-tjoops wat die rivier deur die eeue tussen die kranse deurgekerf het. Vir honderde meters kan mens so loop-en-gly op jou boude af. Dit kan veral nogals pret raak as die meisies se kostjoems deurskuur. Maar nee, hierdie glye is natuurlik en grof – mens waag dit nie sonder 'n materiaalbroek bo-oor die sensitiewe boudjies nie. En as jy 'n leerpatch aanwerk... seepglad en blitsvinnig! Aan die einde van sommige glye is daar 'n saampaksel van iets swarterig op jou lappe. Dit blyk later die oorblyfsels van ietsies te wees wat al te veel soos klein waterskerpioentjies lyk. Nou ja - Africa is a tough country

Teen die middag het ons ons kneuse en wonde vergeet met 'n paar stelle Swartsanna. Dié kaartspel het erger name ook, maar op Windows roep hulle dit “Hearts”. Daarna word 'n boomwortel in die kampplek 'n kussing vir 'n middeldag uiltjie. En tussen die varings deur kan 'n bobbejaanmens (ek!) met wildevye se wortels so bietjie hoër teen die krans uitklim om die wêreld van 'n afstand af te bekyk. Totdat die dassies se grotgeure jou en jou neus wegjaag. Jip, paradise isn't all that it promises to be. (In so 'n storie vertel ek ook nie van die afwesigheid van toiletgeriewe in Eden nie.)

In my blou Karimor-rugsak se spesiale sakkie bêre ek die hoogtepunt van die naweek. Blikkies eksotika vir die sondag middagete. Ons geselskap se laaste ete in die kloof voor ons die groot terugstap aandurf. En ek en liefie gaan die ander kospaartjies groener as die vleiland maak. Ons (lees EK) het hard gedra aan al die yster en sap van daardie onthaal. Wyn en elke ding.

Daardie middagete is nog helder in my kop. Hoe ons na ’n uurtjie se stap tot by die laaste gly se onderkant gekom het. Hoe ek en liefie vol bravade die rooi tafeldoek uitgerol het vir onsself. Genuine fake kristalglase vir twee. Cabernet Sauvignon. Vir twee. Ek sien hoe rek ons maters se oë al hoe groter soos ons blikkies mossels, vis, groentemengsels en ingelegde watookals uitpak. Ek sien hoe my maters se oë toemond op skrefies begin lag. Want ek begin toe soek na 'n blikoopmaker wat ek skielik beslistelik weet nie daar is nie. Oh man! Alles verniet. Geen feesmaal. Geen lekkerkry van proe. Geen lekkerkry as ons die ander aan hulle droë pro-vitas sien wurg nie. En toe....

In die krakie van 'n rots 'n paar tree weg is 'n paar stukkies as en swartgebrande houtjies. (Alhoewel dit ’n misdaadstoneel is - mens mag nie by Dome vuurmaak nie.) Langs die vuurtjie wat iemand dalk 'n maand terug gemaak het, is daar... Ja ek weet die storie is voorspelbaar. Ek moet erken dat ek gejok het oor die Cabernet Sauvignon. Maar ek jok nie oor die waterskerpioene nie. En ook nie oor die blikoopmaker daar langs die grys vuurtjie nie. Hy was bietjie geroes, maar hy kon nog goed genoeg in die rondte draai. Nadat ek met 'n goofy bravade ons blikkies oopgesny het, kyk ek na die handelsmerk wat in fyn letters op die staal inbult. Ek sweer by my goeie naam. Okei, laat ek eerder net belowe. Miracle.

Hoe obvious moet die Here dit vir ons maak?

'n Jaar of wat later vertel ek opgewonde vir 'n sendeling wat ons gemeente ondersteun dat daar 'n wonderwerk in my tuin gebeur het. Vol evangeliese ywer blink haar oë. Totdat ek vir haar vertel van die Afrikaner-blommetjies wat opkom. En al wat ek gedoen het was om te plant en nat te gooi. Hoe obvious moet die Here dit vir ons maak? As ek nou terugdink was die glye ook 'n miracle. Die kloof was 'n miracle. Die slapie soos op 'n Jakob-kussing. Swartsanna saam met goeie vriende. Die reuk van dassiemis. Die feit dat ons toe blikkieskos met almal gedeel het was beslis 'n miracle.

Hoe obvious moet God dit maak?

My twee Afrikaner-kindertjies wat onder my neus opgroei. My hart wat heel groei. Die witstinkhout-blare wat na hierdie winter weer sal uitgroei. Jy.

Hoe obvious moet die Here dit vir ons maak?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Net so
Jy kan raakvat, ou mater!
6 jaar 7 maande 1 week 2 dae 20 ure oud


Beste optel
Die beste ding wat ek al opgetel het? Iemand het hier in Engeland (nogal) een aand reg onder 'n lamplig (nogal)op ons kollege se parkeerterrein by my motor ingebreek. En wat tel ek op die vloer van my motor op? 'n Opgevoude werksaansoek wat die dief ingevul het vir 'n vakature by Birmingham se lughawe, met sy naam en adres op! Dit het uit sy hemp se bosak geval!
7 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 4 ure oud


Miracle
Lanklaas 'n skrywe so geniet! Baie dankie!
Die inhoud is puik, die skryfstyl interessant en die
werk as geheel netjies aangebied. En ja, dit laat die leser dink, met bedenkinge oor die 'blindes' . . .
7 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 15 ure oud


die weervoorspelling
mooi vertel..en dankie vir die criminal en die crime toneel...anders was daai blikkies steeds toe...
7 jaar 5 maande 4 weke oud


'n Lekker bekgeveg :-)
Hoe heerlik so bakleiery op my thread! En dankie dat jy vir my skryfwerk opkom, Anna-Marie. Maar toemaar wat, dis nie nodig nie. Dit was sommer net 'n lekker skryfsel en ek het dit nie probber aanbied as iets wat "with-it" of briljant hoef te wees nie. So tussen al die ruwe dinge, se Oscar selfs baie mooi goeters. Ekt waardering vir jou lees en kommentaar, Oscar - alhoewel dit seker nie nodig is om so vinnig op jou perdjie (of vliegtuig) te klim nie. Ek hoef ook nie te skryf soos wat enige iemand my WIL laat skryf nie - maar ek sal tog graag wil hoor wat jy persoonlik sou verwag van iets wat die hedendaagse leser se aandag sou vang.
7 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 4 ure oud


Miracles
Dit was uistekende, lekker-hart, weer-dink lees GENOT!
7 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 4 ure oud


Mirakel
Aag tog Oscar. Gaan speel met jou karretjies.
Jy is obviously nog te jonk om enige waardering vir dir beter dinge in die lewe te he. DIT AGTER MY BLAD. (SJOE MY ORE IS ROOIVIES)
Dit was 'n wonderlike storie. Behalwe nou die ooglopende 'wonderwerk' tema, is dit 'n lekker-lees storie.
Mens kom saam met jou daar. Geniet saam jou die grend kos in die berge, afseil teen die klippe. Iemand wat dit nog nooit gedoen het nie, het 'n geweldige agterstand en 'n gaping in hulle opvoeding (raai van wie praat ek....nie moeilik nie)
Dan die irriterende (op 'n mooi manier) 'Jy'. Kritzie!
Een of ander tyd sal jy moet deel met ons. Kannie wag nie!
7 jaar 6 maande 6 ure oud


Blikoopmaker
Baie goed geskryf. Ek het heerlik gelees.
7 jaar 6 maande 19 ure oud


...
Ek vra dit ook! Hoe blind kan ons wees? Hoe hart ons harte? Puik skryfwerk.
7 jaar 6 maande 19 ure oud



Van ons ander lede

Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar