Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Sondag is Moedersdag - 'n spesiale dag waarop elke moeder terugdink aan hul kinders se geboorte, kleuterdae, tienerstadiums, troudag en selfs haar kleinkinders. Dis 'n dag van onthou, weemoed, hartseer, vreugdes, lag en deel.

Nie elke moeder is so bevoorreg om haar kinders by haar te kan hê hierdie jaar nie en nie elke kind is so bevoorreg om hul moeder by hul te kan hê hierdie Moedersdag nie. Sovele moeders het kinders aan die dood afgestaan of hul kinders is oorsee of het nie kontak met hulle nie. Sovele kinders het hul moeders afgestaan aan die dood of die moeder-kind-band laat slap lê die afgelope maande. Ek weet van 'n besonderse dogter van 18 wie se ma aan 'n sekere siekte ly en daarom nie die volle betekenis of waarde van Moedersdag met haar dogter of man deel nie. En dan weet ek ook van twee klein ou dogtertjies wie se mamma 'n paar weke gelede gehoor het sy het kanker en dat sy op onberekenbare geleende tyd. Kyk net rondom jou ... lees die koerante ... mens kan nooit ooit jou moeder terugkry as sy eers weg is nie!

Kind ... oud of jonk, bejaard of jeug, as jý so bevoorreg is om by jou moeder te kan wees Sondag of haar met 'n oproep of blomme te kan verras, mag dit dan juig en jubel in jou binneste van dankbaarheid en mag jy God dank vir dié besondere voorreg. Moeder ... as jy jou kinders, kleinkinders en manlief rondom jou het Sondag, mag jóú hart dan van vreugde sing en jy weereens besef hoe besonders jy in God se oë is om die geskenk van moederskap te mag ontvang het.

Aan my eie ma ... Mammie, ek mis jou en my hart is aan stukke. Dis die eerste jaar wat ek nie by jou sal wees nie, wat ek jou nie kan bederf nie, wat ek nie jou trane gaan sien as jy my en die dogters 'n liefdesdrukkie gee nie. Dis die eerste jaar wat ek nie jou sagte-ma-arms om my skouers gaan voel en jou geskenk vir my met afwagting gaan oopmaak nie. My hart is seer Mammie. Jy's só naby maar tog só vêr hierdie jaar. Ek wens ek kon jou saam met my en die dogters in die kerk gehad het Sondag want Irma gaan die diens waarneem en Mammie ken mos al vir Irma deur al my praat, sy is my geestelike berader by die kerk en het sommer my aanneem-ma geword noudat Mammie so vêr is want sy droog al die trane op en gee my 'n drukkie as ek na Mammie verlang.

Aan my dogters ... Ek weet julle hartjies is seer oor ons nie by Ouma kan wees nie. Ek weet julle mis dit om hierdie jaar saam met Ouma van winkel tot winkel te loop om vir my geskenkies uit te soek. Maar my liefste twee dogters, julle liefde, julle drukkies, julle ek-is-lief-vir-Mamma-woorde en julle warm lyfies langs my Sondag in die kerk is die grootste geskenk wat enige ma voor kan wens. Ek is só geseënd om julle ma te kan wees en ek is só trots om julle as my kinders te mag hê. Ek weet julle dink my mamma-hartjie is seer oor ek nie by Ouma gaan wees nie en omdat julle my nie so baie gaan kan bederf soos voorheen toe Ouma nog naby ons gebly het nie. Ek hoor julle fluister en ek hoor klein Bianca se planne. Maar my dogters, ek hou Ouma styf in my hartjie vas en ek neem haar in my gedagtes en hartjie saam kerktoe Sondag as Tannie Irma vir ons die boodskap gaan bring en júlle hande in myne Sondag wanneer ons bid gaan vir my die heel grootste geskenk wees wat geen geld ooit kan koop nie.


God Bless, geseënde Moedersdag.

Elize




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hierdie teer woorde laat my sluk aan 'n lastige knop in die keel. Pragtig verwoord!
10 jaar 10 maande 3 weke 6 dae 11 ure oud



Hartsnare

deur Driekie Grobler

100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar