Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Januarie 1960, toe ek sewe jaar oud en in standerd 1 was, reël my ma dat ek klavierlesse begin neem by die sub A-onderwyseres op die dorp, juffrou Hanita le Roux. Ons het op Touwsrivier gewoon en daar was op daardie stadium nie ‘n musiekonderwyseres in die laerskool nie. Juffrou Hanita kon goed klavier speel. En sy het my mooi geleer. Ek is nie uitsonderlik musikaal soos my suster nie, maar het goed genoeg aangegaan. Musiek het deur my hele lewe aan my groot plesier en plesierigheid verskaf.

My eerste musiekboek was so ‘n groot rooie: Making Music deur Hilda Blake en Jessie Capp. My ma het vir my ‘n tweedehandse musiektassie vir my musiekboek, my huiswerkboekie, my teorieboek en my tissue gekoop. Sy het ook vir my ‘n Invicta-polshorlosie by ‘n Jood op Worcester gaan koop sodat ek nie Dinsdag- en Donderdagmiddae laat vir my lesse sou wees nie. Ma het vir die Jood gesê: “Ek soek ‘n ordentlike ding wat vir jare sal hou en nie honderd pond kos nie.” Daardie horlosie en my leerskooltas wat my pa vir my gekoop het toe ek hoërskool toe is, was vir jare my kosbaarste besittings. Ek het beide artikels nog lank na my troue en jare lank as onderwyser gebruik.

Ek het vir twee jaar lank by juffrou Hanita musiek geneem smiddae na skool in die Sub A-opslaanklasse. Soms in die somer het ek eers gou vinnig na studietyd saam met my maats in die koshuisdam gaan swem en dan op die tippie laat spaander met die stofstraat langs musiekles toe. As ek dan my toonlere sit en speel met die water wat in straaltjies uit my nat hare in my nek afloop, het juffrou Hanita my hare met haar vingers gekam.

Die hoogtepunt van my eerste musiekjaar, was toe ek aan die einde van die jaar by die skoolkonsert, ‘n klaviertrio saam met twee van die ‘groot kinders’, Vasti du Plessis en Annatjie Loots, moes speel. Van daardie dag af was die lekkerste deel van klavierspeel vir my om duette saam met iemand te speel.

In standerd 3 het ons ‘n regte musiekjuffrou by die skool gekry. Juffrou Euvrard. Sy was ontsaglik kwaai, maar het my goed geleer. Ek het ook my eerste UNISA teorie-eksamen by haar geskryf – alles in Engels. Sy het my geleer hoe om vinnig ‘n klawerbordjie te teken op my vraestel en dit dan te gebruik om die vrae te antwoord. Sy het na aanleiding van my naam vir my Beethoven se Für Elise leer speel. Ek was so bang vir haar, dat ek smiddae vir ure geoefen het op die koshuis se se ou regop swart klavier met die koper kandelare. Sommige mense op die dorp het beweer sy was met die maan gepla, want haar buie was erger met volmaan as met donkermaan. Ek het met my eie oë gesien hoe sy een middag, omdat ek nie my toonlere geken het nie, so woedend geword het, dat sy die klavier se een hoek opgelig en dit op die vloer gestamp het. Sy het huilend op my geskreeu: “Jy is my ‘star pupil’! Hoe kan jy dit aan my doen!” Toe het sy uitgestap en buite op die stoep haar warm gesig gaan staan en koud waai. Ek het my boeke en musiektas gegryp en weggehol en agter die naaste vuilgoeddrom op die skoolgronde gaan wegkruip. Toe sy my begin soek, het ek op my hurke met die musiektas onder die blad, al om die drom gekruip, sodat sy my nie moes sien nie. En toe vir my ma gaan vra wat ‘star pupil’ beteken. Ek was onder die indruk dis ‘n skelwoord.

Aan die einde van daardie jaar het sy afgetree en op George in die Garden Route Hotel gaan woon. Ons het jare lank met mekaar gekorrespondeer. Sy het haarself daar uitgeleef in die plaaslike toneelvereniging.

Ek het daarna verskeie musiekonderwysers gehad, maar die laaste paar jaar het ek die voorreg gehad om by tannie Jackie Volschenk musiek te neem. Sy het uit ‘n baie musikale familie gekom – sy was die broerskind van die bekende Suid-Afrikaanse komponis, Stephen Eyssen. Toe ek die Graad VII UNISA-eksamen in standerd 8 slaag, het ek besluit genoeg is genoeg. Ek wou nie meer voltyds vir eksamens oefen nie, maar ‘n slag net mooi klassieke stukke oefen. Tannie Jackie het vir my die boek World Famous Piano Pieces bestel en ek speel vandag nog baie daaruit.

Aan die einde van my standerd 9-jaar, moes ek en my boesemvriendin, Anneline, ‘n duet op die prysuitdeling speel. Ons skooltjie het nie ‘n skoolsaal gehad nie, en ons gaan oefen smiddae in die kerksaal: In a Persian Market van Ketèlbey. Ek en Anneline is twee regte karperdjies en geniet ons gate uit daar in die saal. Ons skuif die klavier reg in die middel van die verhoog. Dan gaan sak ons in die voorportaal op ons knieë af en op-julle-merke-gereed-en-weg spring ons dan weg en hardloop so vinnig as ons kan in die twee paadjies tussen die stoele deur en aan weerskante van die verhoog teen die trappe op en val plat op ons sitvlakke op die vloer voor die klavier neer en begin dadelik speel met ons hande bokant ons koppe omhoog. Ek sit aan die regterkant en dit is my inspannende taak om kort-kort hier onder van die vloer af om te blaai!

Op 29 September 1969 om tien oor nege die aand, skud die groot aardbewing die Boland. Ek sal nooit daardie veraf gerammel wat al nader kom en die aarde wat buite beheer begin skud, vergeet nie. In 1970, my matriekjaar, gaan tannie Jackie (wat ook die kerkorreliste was), met verlof en maak my bietjie touwys om die kerkorrel vir twee Sondae te speel. Anneline loop saam met my kerk toe as ek smiddae gaan oefen. Ons kyk die orrel deur en probeer alle knoppe en stoppe uit. Ons trek die tremolo stop uit, druk die laagste basnote en vermeerder die volume geleidelik – dit voel of die hele kerk begin bewe met ‘n onaardse gedreun. Ons maak die aardbewing na.

In 1970 is daar een middag ‘n tee vir die bejaardes in die kerksaal. Hulle vra vir Elna, my sussie in standerd 5, om ‘n klavieritem te lewer. Sy oefen op aanvraag een of ander opgewekte militêre mars en vra my om saam te stap kerksaal toe. Daar gekom, deel die koster ons mee dat daar fout is met die klavier en dat hulle spesiaal ‘n outydse traporreltjie aangery het vir die okkasie, want die oumense sal baie daarvan hou. Ek bars uit van die lag, maar my suster kyk my stil. Nooit sal ek daardie gesig vergeet nie: Elna wat met haar twee rooi wange, wat al hoe rooier word, die twee blaasbalk-pedale teen ‘n ongelooflike spoed sit en trap en terselfdertyd ‘n vinnige mars al galoppende op die klawers sit en uitkap! ‘n Luide applous volg en hulle oorhandig aan haar ‘n toegedraaide geskenk. Op pad huis toe, lag ek my byna dood. Elna maak haar geskenk op die sypaadjie oop. Dis ‘n boks versuikerde vrugtelekkers. “Ek hou nie eens van vrugtelekkers nie,” sê sy vies en smyt dit net daar op die sypaadjie neer. Ek tel dit op. My pa hou daarvan.

So agt jaar gelede hier in Engeland, kry ek celebrity-status: daar verskyn ‘n beriggie van my en Patricia (skuilnaam) in die plaaslike koerantjie. Dit het so gekom: Ek het op daardie stadium in ‘n ouetehuis gewerk. Patricia, ‘n oud-musiekonderwyseres, het sieklik en depressief by ons aangekom - in jare nie klavier gespeel nie. Met een woord misrabel. Ongewaste haartjies, geen grimering, ‘pleated’ skirtjie, toegeknoopte jerseytjie, afskuwelike borsspeld en opryg-verpleegsterskoentjies. Julle het die prentjie. Toe sien ek in haar kamer 'n sertifikaat wat meld dat sy in 1953 met ‘first class honours’ eerste gekom het in die Britse Eilande in die Guild Hall Lisensiaateksamen terwyl sy aan die Royal College of Music in Londen studeer het. Die volgende aand toe sy in die eetkamer ingekrimp met haar ou koppietjie Horlicks sit, sleep ek haar agter die ou vals, stowwerige klavier van die ouetehuis in. Sy sê sy het as gevolg van depressie jare gelede ophou klavierspeel omdat sy ‘n vrees vir die klavier ontwikkel het. Ons begin sommer al daardie ou Honkie-Tonk duette wat ek en Elna as kinders naweke uit opgeskeeptheid op die koshuis se swart regop klavier uitgekap het, speel! Regte saloon-musiek! En hoe langer ons aanhou, hoe verspotter raak ek en hoe meer begeesterd raak Patricia. Die uiteinde was dat sy weer musiekboeke aangekoop het en ‘n Kersuitvoering gehou het daardie Desember in die United Reformed Church in Knowle. Sy laat haar hare nou weekliks doen, dra grimering en trek modieus aan. Ek en sy oefen deesdae elke 2de Donderdagaand twee uur lank duette op ‘n nuwe klavier wat sy vir die ouetehuis gekoop het. Dis een van my lekkerste dinge hier in Engeland! Dankie juffrou Hanita! Dankie juffrou Euvrard! Dankie tannie Jackie!


VERLEDE Kersfees vlieg ek en my jongste seun Suid-Afrika toe vir my ouers se sestigste huweliksherdenking op Bultfontein. My middelste seun en sy gesin kom haal ons op die lughawe in Johannesburg. Ons luister na ‘n Kersfees-CD op pad. Êrens tussen Kroonstad en Welkom, terwyl die kleinkinders oor my in die motor klouter en ek oor die Vrystaatse grasvlaktes sit en uitstaar, het ek in verwondering sit en luister hoe my twee seuns Panis Angelicus uit volle bors met hul diep basstemme saamsing. En ek het gewens dat die tyd vir ewig moes stilstaan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

:-)
Ek het nou sommer lekker gelees aan hierdie rubriek. pragig gedoen.
7 jaar 7 maande 1 week 4 dae 16 ure oud


Stilstaan tyd
Ook mosterd na die maal kom lees ek nou eers jou prag-vertelling. Ek het groot respek vir vir musiekmense wat so vêr gekom het met musiek-opleiding en steeds volhou om dit toe te pas en te geniet. Ek speel slegs op gehoor...kan nie twee note agtermekaar lees nie. Geleer op my oupa-hulle se traporrel (wat ook die eerste traporrel van die ou Hervormde Kerk in Potchefstroom was) en Prys die Heer, Chop sticks en die Kalfiewals was van die eerstes wat ek kon speel. Ek was elf jaar oud toe my pa vir my die klavier gekoop het. Ek moes gereëld vir hom O, Boereplaas en Vêr in die ou Kalaharie speel. Omdat ons op die plaas gebly het was dit nie moontlik om lesse te neem nie. My oudste dogter het darm tot GrIII gevorder by 'n dierbare Mrs. McInerney in Stilfontein. Ons het steeds die orrel en klavier asook 'n Technics sleutelbord, moendfluitjies, blokfluit, kitare en dan nog 'n mandolin guitar ook. Lg. vir R20 in 'n pandjieswinkel gekoop en nog nooit iemand gekry wet dit kan bespeel nie.
......
Kyk nou net hoe het jou musiek-storie my uitgelok!
Dankie! Vir 'n paar oomblikke het tyd vir my kom stil staan.
7 jaar 7 maande 1 week 6 dae 2 ure oud


Tyd stilstaan ...
Elise, BAIE dankie dat jy hierdie pragtige bydrae met ons deel. Ek het so lekker gelees en gewens jou vertelling hou aan en aan ...
7 jaar 7 maande 2 weke 3 ure oud


...
Hier is 'n medalje vir jou storie en dat jy nie opgehou het toe die kwaai juffrou met jou in Engels raas nie. Nou speel die "star pupil" saam met die Engelse meisie klavier. (Hie-hie, daardie "pupil" woord het kleintyd darem vir my ook baie naby aan 'n lelike woord geklink!)
7 jaar 7 maande 2 weke 12 ure oud


Laat die tyd stilstaan...
Magties Elise, het ek nou hierdie stukkie geniet -- so mooi geskryf en daar eindig dit met 'n traan in my oog! Ek wou so graag klavier leer, maar daardie jare in die verre Noorde se bosveld was dit baie moeilik. So speel ek nou maar mondfluit, maar dit maak my ook gelukkig...

Ag hier in ons huis het ons een van daardie Switserse opwen musiekspelertjies. My vrou speel dit graag as sy die huis skoonmaaak en net vanmiddag hoor ek weer die wonderlike suiwer klanke van Für Elise...

Groete, Vic
7 jaar 7 maande 2 weke 17 ure oud


Hi
Elise,
Wat 'n pragstorie, en my absoluut gunsteling:Beethoven se Für Elise.
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 1 uur oud


Baie lekker storie...Ek kan dit voel en saam leef...
Baie lief vir musiek, maar self nie bo-baas speler nie...Daar is soveel mense wat te vertel het dat musiek van die duiwel is, maar dan herinner ek my aan Koning Dawid....Musiek kan streel en raak waar woorde nie kan in nie.
Baie mooi lewensstorie....
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


musiek
wat 'n wonderlike storie. dit het ek nou baie geniet. my ou musiekjuffrou in st 1, tannie Eckardt, het vir my ma gesê, nee wat, sy het nie veel talent nie. Nou-ja! maar ek hou vreeslik van mooi musiek!
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


Musiek
Sekerlik was jy ook die "star pupil" met opstelle skryf! Ek lief jou vertellings en sou jou graag wou ontvoer sodat jy elke dag vir my ten minste een storie kon vertel.
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


Musiek
....en ek het gewens jou storie hou nooit op nie! Maar dit het. En ek is vol vreugde gelaat. Ai hoekom het ek gedink juffrou Euvrard was 'n kwaai vrou, sommer net toe ek haar naam hoor? Jy lees reg,'hoor'. Ek hoor jou praat as ek jou stories lees. In my kop is daar 'n stem vir jou. Ek kruip saam met jou om die asblik en staan langs jou en kyk na die antie'kie met haar slierte en ryg-skoene. Weereens uitmuntende leesgenot!
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


musiek


. . . . en wiskunde,
volgens my,
loop hand aan hand,
bitter graag wou ek ook musiek neem,
maar ek het alreeds toe ander buite-muurse-aktiwiteite geniet,
en my Ma het doodeenvouidg gese dat daar nie geld is vir my om ook nog musiek te neem nie.

bitter graag sou ek eits wou leer voor ek graf toe gaan,
miskien moet ek 'n moderne klawerbord koop en begin deuntjies leer speel.
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 4 ure oud


Kyk nou net !!
Ek sluk my woorde
ELISE!!!
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


"Ek het geweens . . .
Dat die tyd vir ewig moet stilstaan . . .
Hoevele kere het dit al gebeur
Elis,
Thanks Girl!
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


musiek
hi, lekker om jou hier rak te lees. Liefde v stories by jou pa geerf. Jy en Elna is voorwaar geseen met musiektalent. Goeie weergawe van jou dankbaarheid. Vrede!
7 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 8 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

DVD-reeks, HOE HOOR EK DIE HERE SE STEM

deur Christo Nel

Hoe hoor ek die Here se stem? Soveel gelowiges vra gedurig: Maar hoe hoor ek die Here se stem in my lewe? In hiedie DVD-toerustingskursus gebruik Christo Nel 9 sessies om verskillende fasette van die antwoord op hierdie vraag vir gelowiges te belig.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar