Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Dis aand. Die foon lui. Dis Jackie: “Julle kan Hagar môre kom haal.” Sy klink so afgetrokke. Seker nie lekker vir haar nie. Hagar is haar swart Labrador wat sedert sy eerste jare by haar in die huis geslaap en haar opgepas het. Nou moet sy trek na ‘n kleiner plekkie. Vir Hagar is daar nie plek nie. Ook nie vir haar groot Great Dane wat mens met een ligte stootjie byna onderstebo stamp as jy naby hom staan nie. Haar drie, of was dit vier, klein Dobermannetjies gaan saam. Gelukkig.

Maar ons is bly! Ons dooie tuin en erf gaan weer ‘n hond kry. ‘n Hond wat blaf en ruik en lek en stertswaai, ‘n hond wat saam met mens kan gaan stap, wat lag as die kabouters vir Oupa en Ouma kom kuier, wat so geduldig en liefdevol met kinders is. Ja, ons is bly. En ons sal mooi kyk. Jackie hoef nie te kommer nie.

By Jackie aangekom, is dit ‘n woeligheid. Die radio speel. Mense dra meubels uit die huis. Die Great Dane druk my dan die kant toe, dan daai kant toe. Ons groet “ons” hond met blydskap. Sy stert swaai. Ons sit vir hom ‘n leiband aan. Ons besluit ek sal met hom stap tot by ons huis. Chris ry stadig met die bakkie neffens my en hou my dop, gereed om onmiddellik uit te spring sou daar enige krisis opduik. Dis net ‘n paar blokke ver mos. Buitendien hou ek van stap. Ek sou nie graag op dié stadium van my lewe agter op ‘n bak wou sit nie, mens haal dalk net die agterblad van die Streeknuus. En ek wil nie die bakkie bestuur nie, dis nie so lekker soos stap nie. Die Great Dane trap vir oulaas op my voet. Jackie groet haar Hagar. Plak ‘n soen op sy swart kop. Stort ‘n koebaaitraan. Ek belowe haar weer ons sàl mooi kyk. Hagar loer vir oulaas agtertoe. Toe stap ons. Hy snuffel-snuffel en ek wikkel-wikkel.

Skielik kom ek agter dat my sandale, die lekker gemaklikes wat ek spesiaal vir die geleentheid aangetrek het, nie lekker loop nie. Die een gespe is af. Great Dane. Ek trek dit uit. Kaalvoet is heerlik. Almal wat verbykom, waai. Verseker ‘n positiewe prentjie in ons dorp se strate: ‘n afgetrede “dame” met ‘n swart hond aan ‘n leiband in die een hand en kaalvoet, sandale in die ander hand. Chris ry rustig in sy baan aan die oorkant van die pad. Sy oë op ons en die pad. Hagar stap te mooi. Slim hond. Ek’s so bly hy is nie meer ‘n baba nie, hy’s al uit die doeke en verby die tandekrystadium. Hy’s al mens.

Toe ons tuis kom, gee ons hom vars boorgatwater. Sjlof-sloef-sjlsjlaf! drink hy. Die druppels spat oor die plaveisel. Ons haal die leiband af. “Daasy Hagar! Hier’s jou nuwe huis.”

Laas nag (die tweede nag) het hy heerlik op sy duvet in die garage geslaap. Ek weet, ek het gaan loer. Vandag kom die kabouters kuier. Hy eet sy blokkies wat sy baas vir hom koop. Sy pels blink in die son. “Woef!” blaf hy hier langs my venster. Daar’s weer lewe op die hoekerf. Oorlede Lassa sou bly wees…….



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

smile..sweet.Piele en Koei en Orca stuur stertswaaiend groete.
7 jaar 5 maande 4 weke 13 ure oud


Sussa, hierdie is soooo mooi happie. Dit le my verskriklik na aan die hart. Julle sal glad nie spyt wees oor daardie lewe op die hoekerf nie. 'n Huis sonder 'n hond is nie 'n huis nie.
7 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 18 ure oud


Welkom snoetsoen vir Hagar! So mooi lekker storie. Nou moet ek eers die eerste een gaan soek...
7 jaar 6 maande 2 ure oud


Ek het nou jou eerste een ook gelees en voeg my kommentaar daarvoor, hierby...

Met net soos jy kan skryf, het jy ons alles laat meemaak - my opnuut laat besef vir hoeveel mooi redes 'man's best friend' daar is...

7 jaar 6 maande 1 dag 5 ure oud


aaaaaag, hy's so pragtig..gee hom 'n soen op sy bek!!
7 jaar 6 maande 1 dag 11 ure oud


Geniet hom; hulle maak ons lewens só ryk!
7 jaar 6 maande 1 dag 17 ure oud


Die sjl-klank is uniek! Soos die 'GG' in Afrikaans!
7 jaar 6 maande 1 dag 18 ure oud


Ag Sussa weet jy hoe lank kyk ek al uit vir die storie van jou en Hagar.....ek is bly hy is nou daar en geniet elke oomblik...ek kyk uit vir 'n opvolg....
7 jaar 6 maande 1 dag 21 ure oud


Voel sommer of Hagar nou nuwe lewe gebring het.
7 jaar 6 maande 1 dag 23 ure oud


So so mooi, ek is baie bly vir julle.
7 jaar 6 maande 2 dae oud


Geniet jou brakkind en dis 'n mooi prentjie
7 jaar 6 maande 2 dae 4 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Botes Stamregister en Kwartierstaat

    deur Willie Botes

    Genealogiese kwartierstaat oor die Botes familie. Ander vanne sluit in Oosthuizen, Botha, Putter, Du Preez en Shafer



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar