Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Daar is al baie geskryf oor ‘middelste kinders’. Skynbaar is hulle soos hulle is, omdat hulle weens hul posisie in die gesin nie al die aandag of dieselfde aansien geniet as Oudste en Jongste nie. Of dit waar is, weet ek nie. Ek is doodeenvoudig nie die soort mens wat oor sulke dinge wroeg nie. Ek hanteer situasies soos wat hulle oor my pad kom en soos ek op daardie tydstip glo die regte manier is.

Middelste word in die middel van die winter ‘n halfuur na middernag in subzero temperature in die hospitaaltjie op Beaufort-Wes gebore. Hy weeg ongeveer nege outydse ponde en sy eerste oorverdowende skreeu duur net een sekond voordat hy met oorgawe begin bibber van die koue. Hy troos homself dadelik deur sy regterduimpie in die mond te druk en te begin suig.

Hy is baie rustig en slaap vanaf sy derde week deur. Hy spoeg sy fopspeen uit en suig sy duimpie. Hy drink sy bottel snoep leeg en omdat hy nog steeds honger lyk, gee ek hom van sy vierde week af soggens en saans ‘n bakkie babapap. Die klinieksuster kry amper stuipe toe sy dit hoor, maar ek verseker haar dit werk goed.

Sy vreeslike rustigheid en tevredenheid begin na ‘n paar maande op my senuwees werk. In teenstelling met Ouboet, wat die energie van ‘n rubberballetjie het, neem Middelste skynbaar van niks notisie nie. Ek sit hom onder die peperboom voor die agterdeur sodat hy na die takkies wat wieg in die wind kan kyk, maar dit sus hom sommer gou-gou aan die slaap. Ek sit hom voor die wasmasjien sodat die tuimelende wasgoed sy aandag kan trek. Maar ook dít sus hom aan die slaap. As ek met my vinger die vliegtuigie wat met oorverdowende geraas oor die dorp vlieg vir hom probeer wys, bekyk hy my vinger. Ek begin dink hy is bietjie dommerig - tot ek een middag toe hy tien maande oud is oudergewoonte ‘n Mariebeskuitjie in sy handjie sit. Nog voordat ek namens hom “dankíé” kan sê, sê hy dit self. Ek staan na hom en kyk en wonder of ek reg gehoor het. Ek vat die koekie terug en sit dit weer in sy handjie. En hy sê weer: “Ghakíé!”

‘n Paar maande later het die kinderarts op George uitgevind dat hy met ‘n openinkie tussen twee hartkamers gebore is en dat sy rustigheid toe te skryf was aan suursofarme bloed wat na sy brein gepomp is. Die openinkie het egter redelik vinnig spontaan toegegroei. Hy is gereeld gemonitor en teen sy sesde verjaarsdag was dit genees.

Van kleuterdae af, is hy ‘n regte raakvattertjie. Hy is die enigste kleuter waarvan ek weet wat soggens sy eie doekesak gepak het voordat hy by die dagmoeder afgelaai is – ses doeke, Wet Ones, ‘n glasie jogurt en sy tupperbakkies met kos. Dan het hy die sak by die voordeur gaan sit en sy pap gaan eet. En dan sommer vir Ouboet, bietjie minder as twee jaar ouer as hy wat met die paplepel sit en speel, ook gevoer!

Hy praat verrassend goed nog voor hy hy twee jaar oud is. Hy sê opgewonde vir sy ouma: “Kyk Ouma, ek het weggooidoeke gekry! My ma het dit spesiaal vir my gekoop vir die vakansie!” Op ‘n dag terwyl die dagmoeder sy doek omruil, sien hy sy eie weerkaatsing in haar oog en sê: “Ek sien ‘n dooie ek in jou oog!”

Toe hy drie jaar oud is, sê die hoof van die kleuterskool op Beaufort-Wes vir my dat ek hom dokter toe moet neem, want sy vermoed hy het ‘n blaasprobleem. Hy is dikwels nat. Ek sê dit klink vir my sommer na stoutigheid, want mens kan nie ‘n blaasprobleem by die skool en nie by die huis hê nie.
Die middag sê ek vir hom: “Juffrou Amy sê jou broekie is soms nat by die skool.”
Hy sê: “Ja, as ons pouses so lekker speel, is daar nie nog tyd om toilet toe te gaan nie. Dan piepie ek my sommer nat, want dis so lekker warm buite dat dit sommer gou droog is.”

Hy begin sy skoolloopbaan op Vryheid in Natal. Een oggend toe ons moet skool toe ry, sit hy nog in sy onderbroek met ‘n magnetiese skaakstelletjie en speel. Ek raas met hom en waarsku as dit weer gebeur, gaan ek vir hom wegry want hy veroorsaak dat ons almal laat kom. Ons woon nogal ver van die skool af. Die volgende oggend sit hy weer en speel en ek ry vir hom weg. Toe ek die middag by die huis kom, sê hy: “Dit was nou ‘n groot geluk dat Ma vir my weggery het. Toe ek skool toe hardloop, tel ek ‘n R10-noot in die middel van die straat op.”

In sy tweede skooljaar, woon ons in Kempton Park. Hy ry met sy fiets skool toe. Ek loop een middag sy onderwyseres in die poskantoor raak en sy vra my so stywerig of ek asseblief sal toesien dat Middelste sy skooltas bedags skool toe bring. “Gaan hy dan sonder sy tas skool toe?” vra ek verbaas.
“Dit het al ‘n paar keer die afgelope tyd gebeur,” lig sy my in.

Die middag by die huis sê ek vir hom: “Jou juffrou sê jy gaan soms sonder jou tas skool toe.”
“Mamma sien, ek is soms te haastig om my tas te vat, want ons speel so ‘n speletjie soggens voor skool en die kind wat eerste daar is, is die kaptein.”
“Jy moet maar sorg dat jy in die vervolg elke dag jou tas vat, want ek het vir jou juffrou toestemming gegee om jou goed te straf as jy weer daarsonder by die skool opdaag.”

‘n Ruk later sê ek een middag aan Middelste: “Bring ‘n slag jou tas hier dat ek kan sien waarmee julle in die skool besig is. Hy sê: “Mamma sien, ek bring nie meer my tas huis toe nie. Ek los dit sommer by die skool.”
“Waar?” vra ek verbaas.
“In die stormwaterpyp langs die rugbyveld.”
Ek foeter hom sommer met die plathand by die voordeur uit om sy tas by die skool te gaan haal. Toe hy by die huis kom, blaai ek deur sy boeke. Op sommige plekke is sy handskrif byna onleesbaar. “Wat gaan hier aan?” vra ek. Hy verduidelik: “Partykeer ry ek op my stoeltjie in die klas – dan sit Juffrou twee bakstene onder my stoel se voorpote. Dis wanneer ek so agteroor lê dat ek so lelik skryf. Maar Mamma moenie bekommerd wees nie – ek kan baie mooi skryf as ek regop sit.”

Toe hy in standerd 3 is, woon ons in Beaconbaai in Oos-Londen. Die drie seuns is in Laerskool Beaconhurst ek ek hou skool by Hoërskool Grens in die stad. Toe ek een middag by die huis kom, kom Middelste met ‘n bord met ‘n doekie oor by die huis uitgedraf. “Mamma is net mooi betyds om my by die skool te gaan aflaai, want ek is bietjie laat.”
“Wat is daar onder die doekie?”
“Eetgoed. Ek het verlede week op ‘n lysie ingevul dat Mamma vanmiddag ‘n bordjie eetgoed vir ‘n vergadering by die skool sal stuur. Ek het vergeet om vir Mamma te sê, maar moenie bekommerd wees nie – ek het sommer gou ‘n bakpoeierbroodjie na skool kom bak. Ek kon nie die bakpoeier kry nie, en moes by die bure gaan leen.”
Ek lig die doekie op en is heel beïndruk. Die broodjie lyk goed en die snytjies is netjies met botter en fyn gerasperde kaas en marmite op ‘n papierdoilie gerangskik.

In sy standerd 9-jaar land ons in Benoni aan. Vrolike meneer Middelste het dadelik hope maats, speel in die eerste rugbyspan en is die dirigent by die atletiekbyeenkomste. Wederhelf is met werksverpligtinge in Skandinawië toe Middelste kom vra of hy een Vrydagaand na ‘n partytjie by iemand se huis kan gaan en sommer daar kan oorslaap. Hy wys my die uitnodigingskaartjie. Dis ‘n bring-en-braai. Dis al sterk skemer toe ek hom die aand met sy steak en wors en koeldrank en slaapsak by die onbekende huis gaan aflaai. Ek stap saam tot by die voordeur. Die seun wat die voordeur kom oopmaak, probeer sy sigaret agter sy rug wegsteek toe hy my sien. Toe ek vra waar sy ouers is, sê hy hulle is gou dorp toe. Op pad huis toe, weet ek meteens dat ek nie gelukkig voel oor daardie partytjie nie en maak net daar ‘n u-draai. Ek klop aan die partytjiehuis se voordeur. Niemand kom maak oop nie. Ek loop in. In die kombuis op die toonbank staan genoeg drank vir ‘n weermag. Daar’s heelwat seuns en meisies en die kombuis ruik na rook, naskeermiddel en parfuum. Almal kyk na my. Met ‘n beweging van my kop beduie ek vir Middelste om saam met my te kom. Hy tel sy slaapsak in die sitkamer op en volg my motor toe. Op pad sit hy dikbek woordeloos voor hom en uitstaar. Ek sê: “Ek weet ek het jou in die verleentheid gestel, maar ek gaan nie om verskoning vra nie, want ek het die regte ding gedoen.”
Geen antwoord.
“Hoe ken jy die mense?”
“Van die rugby af – hy is in die tegniese skool.”
Ons ry in stilte verder.
Naby ons huis sê ek: “Ek weet jy is nou dikmond omdat jy wonder wat die vrinne Maandagoggend by die skool gaan sê. Nou kyk, hulle is nie mý vrinne nie en dit kan my min skeel wat hulle van mý dink. As dit sake vir jou makliker gaan maak, gee ek jou toestemming om my vreeslik sleg te sê voor hulle. Jy kan maar vir hulle sê jy het ‘n regte heks vir ‘n ma. Die outydste ou koekerigste ding op twee bene. Of net wat jy wil.”

Meteens bars ons altwee uit van die lag daar in die donker motor.


‘n Maand gelede kuier ek by Middelste en sy gesin in Suid-Afrika. Hy is deesdae ‘n baie voorbeeldige en streng pa van drie. Tydens een van daardie ‘onthou-jy-nog’-geselsies, sê hy hy was net een keer baie vies vir my. Ek raai: “Dit was toe ek jou by die partytjie gaan uithaal het.”
“Nee.”
Ek raai weer: “Dit was toe ek jou met ‘n sigaret onder die boom voor ons agterdeur betrap het en gesê het ek is so bly jy is nie ‘n tweeling nie, want ek soek nie meer as een van jou op my werf nie.”
“Nee. Dit was toe ek by Ouboet gekuier het na sy troue en sy vrou op Facebook geskryf het hoe lekker ons twee broers kuier. Toe skryf Ma daar ten aanskoue van almal op Facebook: Gee vir my twee oudste kinders ‘n klapsoen namens my – ‘n klap vir Middelste en ‘n soen vir Oudste



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

*
Baie lekker gelees Elise, so oulik geskryf!
6 jaar 9 maande 3 weke 5 dae 14 ure oud


Klapsoen
Baie oulik, Elise. Kinders bly kinders, en 'n ma is maar net 'n ma :)
6 jaar 10 maande 5 dae 4 ure oud


Klapsoen
Wat 'n oulike kêreltjie. Dankie vir hierdie mooie staaltjies.
6 jaar 10 maande 5 dae 18 ure oud


:D
Nee kyk, dis nou die heerlikste storie nòg wat ek hier op Woes gelees het!! (Jammer julle ander, maar hierdie een van Elise stof almal veeeeeer uit!)Gee maar vir Middelste nog 'n klapsoen!

Twintig uit tien vir dié een! Skryf nog sulkes asseblief en kyk tog dat ek nie weer geblok is by jou nie.
6 jaar 10 maande 5 dae 19 ure oud


Soen
Ai jinne sies Elize, hoe kon jy? Met reg was hy vies vir jou. Dit was weer 'n lekkerrrrrr Elize rubriek, dankie!!
6 jaar 10 maande 5 dae 20 ure oud


Klapsoen...
Heerlik gelees aan die staaltjies. Middelste kon maar 'n tweeling gewees het, hy is flippen oulik en baie kreatief!
En vir jou mamma -Bravo!
6 jaar 10 maande 5 dae 23 ure oud


Volle klapsoen.
Uitstekend neergepen! Jy verdien 'n volle klapsoen vir hierdie een want jy het my dag gemaak. Die sleutelbord lyk eintlik dof deur my lagtrane.
6 jaar 10 maande 6 dae oud


Ai Elise

. . . . ek het dit nou lekker gelees,
want sien; . . . ek is ook die middel-sindroom van saamwoon,
. . . ek moes altyd ‘bekhou’ vir my ouer broers,
omdat hulle my seniors is;
. . . ek moes altyd ‘bekhou’ vir my jonger sussie omdat sy sussie is,
en jonger boetie omdat hy die jongste is.

. . . nooit kry ek ‘n spreekbeurt.
Nou hang ek maar uit op woes;
kry soms ‘n klap en soms ‘n soen. . .
En soms ‘n gat se skoen.
6 jaar 10 maande 6 dae oud


klapsoen
Ja is dit nie lekker om so oor die staaltjies van die ou dae te skryf nie. Hou van jou verrassende slot.
6 jaar 10 maande 6 dae oud


***
Dankie Elise! Sommer baie lekker gelees en baie goed geskryf, hoor!

Dis goed as mens sulke herinneringe kan neerpen -- vir die later se onthou...
6 jaar 10 maande 6 dae 1 uur oud


Baie
Bie lekker gelees en beter dink ek nie kan daar geskryf word nie !
6 jaar 10 maande 6 dae 2 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog

deur Francis Gillieron

Kroniek van die rol van Suid-Afrika in Eerste Wêreldoorlog. Gedenkuitgawe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar