Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Sy staan skugter nader. Dis haar eerste oggend saam met die gebedsgroepie by Lofdal Gemeente. Sy voel vreemd en terughoudend. Sy het nie gedink sy sal ooit 6-uur in die oggend 'n gebedsgroep bywoon nie want dis gewoonlik haar opstaan-koffie-en-gereedmaak-tyd, maar 'n vriendin het haar uitgedaag om die groepie net vir 'n week lank by te woon en dan eerlike terugvoering te gee of sy 'n verskil kan voel aldan nie. Oom Okkie, die leier van die gebedsgroepie, staan nader en gee haar 'n hartlike verwelkomingsdrukkie wat haar bietjie meer op haar gemak stel. Sy luister na die oggendboodskap, die opregte woorde van die groepslede en die persoonlike getuienisse wat hulle deel. Geen skanse, geen maskers. Almal net mense wat in diepe afhanklikheid van die Liewenheer is en die dag saam met Hom wil begin. Geleidelik voel sy die spanning uit haar skouers vloei en haar toegeknypte hande ontspan. Sy luister aandagtig en knik instemmend toe Oom Okkie die boodskap van Sondag se preke bevestig. TYD ... 'n mens se grootste geskenk aan iemand is jou tyd. LIG EN SOUT ... 'n mens moet die Lig uitstraal en soos sout wees. As mense na jou kyk moet hulle sê 'sy het iets .. ek wil dit ook hê ... sy straal 'n Lig uit .. sy is soos sout, as jy eers die smaak geproe het wil jy altyd sout byvoeg ...".

Kinders en kleinkinders kom ter sprake en almal voel dit eens dat die druk op kinders aan die toeneem is, dat kinders voor keuses gestel word wat jare gelede nooit eers 'n gedagte sou wees nie. Skielik borrel die woorde oor haar lippe en sy luister asof verbaas na haar eie ontboeseming van inligting wat sy nie gewoonlik sommer spontaan deel nie : "My kind is homoseksueel en ek soek die fout by myself. Sodra ek dink ek het vrede en aanvaarding, dan duik daar nuwe vrae op. Ek verslind al wat 'n boek is maar boeke verwar my en laat my selfs meer vrae vra. 'n Familielid het die naweek die skuld voor my deur geplaas en gesê dis my as ma se skuld omdat ek geskei is, omdat my verhoudings nie gewerk het in die verlede nie. Dit vreet my op. Iemand anders het vir my gesê dis nie my skuld nie en het vir Adam en Eva as voorbeeld gebruik. Sy het gesê Adam en Eva het die perfekte Pa gehad maar tog het hulle verkeerde keuses gemaak ... dit was nie God se skuld dat hulle die keuses gemaak het nie, hulle het self besluit oor wat hulle wou doen. As 'n perfekte Pa soos God se kinders verkeerde keuses gemaak het, hoe kan 'n gewone feilbare mense-ma verantwoordelik gehou word vir haar kind se keuse?" Skielik bly sy stil. Dalk het sy te veel gesê. Wat as die groepie haar ook nou verwyt of behandel asof sy een of ander aansteeklike siekte het? Mense kan so seermaak, soms met goeie bedoelings maar ander kere is dit uit blatante oordeel. Met sagte stemme bemoedig hulle haar egter, geen verwyt en geen oordeel. Elkeen deel iets hul eie lewens met haar. Die verligting in haar is allesoorheersend. Die boodskap is duidelik .. laat die een wat geen sonde het, die eerste klip gooi ... en op hierdie ou aarde is daar geen mens sonder sonde nie. Daar is nie 'n onderskeid in klein of groot sondes nie, sonde bly sonde.

Die koppe is gebuig en elkeen kry 'n beurt om te bid ter afsluiting van die oggend. Sy struikel nie oor haar woorde nie en haar gebed kom opreg uit haar hart .... "Dankie Here dat niemand my of my kind veroordeel nie ... dankie dat ek vanoggend by hierdie groepie uitgekom het om my te versterk en op te lig ... dankie dat U vir my Lig en Sout op my pad geplaas het vanoggend." Met ontspanne skouers en innerlike vrede gee sy elkeen 'n drukkie op haar pad uit. Sy glimlag met haar vriendin. 'n Week is nie nodig om terugvoering te gee of daar 'n verskil is in haar lewe of nie want haar gemoed is op hierdie eerste oggend al klaar ligter as wat dit die hele naweek was!

Dis so maklik om te veroordeel, om iemand te kry om te blameer wanneer dinge buite die normale norms verloop. Dis so maklik om homoseksuele mense te vermy, te veroordeel, hulle weg te wens uit die lewe. Is dit hoe Jesus-liefde lyk? Is dit hoe die Vader wat al ons sondes vergewe, wil hê ons moet homoseksuele mense behandel? Het Hy dan nie Self tussen melaatses, prostitute, drankverslaafdes, egbrekers, verkragters, dobbelaars en afvalliges steeds Liefde, Vergifnis en Aanvaarding uitgedra nie? As kerke en mense dan alle homoseksuele mense eenkant toe stoot, hulle verag en veroordeel, hoe is hulle veronderstel om te ervaar en te beleef wat Jesus-liefde is? Is die egbreker minder sondig as die homoseksuele persoon? Is die prostituut 'n beter mens as die homoseksuele? Is die persoon wat vure aansteek met 'n skindertong dan 'n meer aanvaarbare sondaar? Dis so maklik om veroordelende woorde te spreek en seer te maak ... so maklik om tugtende versies uit die Bybel aan te haal! Dalk is dit tyd dat ons onthou hulle is ook mense, hulle het ook gevoelens en is normaal nes ek en jy. Net soos die egbreker, prostituut, dwelmslaaf, alkoholis, skinderbek en verkragter steeds liefde ontvang het van die Liewenheer, net so verdien die homoseksuele mense ook 'n opbouende woord en Jesus-liefde. Niemand van ons is sondeloos nie, as jy sonder sonde is dan hoort jy nie op die aarde nie. Of jy vloek, skinder, dobbel, drink, egbreek, hoereer, vuil grappe vertel, steel ... of homoseksueel is ... by God is dit een en dieselfde ding. Hoekom moet ons as mens dan 'n streep trek en onderskeid tref tussen groot en klein sondes, tussen aanvaarbare en onaanvaarbare sondes?

Die een wat sonder sonde is kan die eerste klip gooi ...

My kind, vir my bly jy my kind ongeag van jou seksuele voorkeure. Ek is jou mamma en ek is lief vir jou soos al die sterretjies in die wêreld! Ek sal jou kussing wees as jy val, ek sal jou stut wees as jy struikel, ek sal jou oor wees as niemand wil luister en ek sal jou nooit ooit verwyt nie. Ek is jóú mamma ...

God Bless
Elize



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Moeder
Wens daar was meer soos jy. MEnse skep 'n probleem waar daar nie een moet of behoort te wees nie. Aanvaar net, hoe dan anders?
10 jaar 6 maande 4 dae 6 ure oud


Bravo!
Die seer en teleurstelling is ongelooflik, drome word vernietig, tog bly dit jou kind. My oudste seun is gay en ek is baie lief vir hom. Ek ken die pyn en kan jou dus sterkte toewens met 'n rein gemoed. Ook kan ek nederig buig voor jou liefde vir 'n kind wat anders is, maar steeds kind is, en altyd sal wees.
10 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 1 uur oud


Onthou liefde is vir almal dieselfde,bloed kruip waar water nie kan loop nie, liefde bind waar bloed nie kan kruip nie, jy is n wonderlike Ma. Gtoete Johnny
10 jaar 11 maande 21 ure oud


Dit vat baie moed om te erken dat jy "anders" is. Daar is baie redes daarvoor en nee, dis beslis nie jou skuld nie. Ek onthou Delene (skryf onder Danie) het 'n artikel hieroor geplaas wat dit baie mooi verduidelik.

Ek het 'n paar gay vriende en ek ruil hulle vir niks in die wereld nie. Hulle is elkeen uniek met 'n eie persoonlikheid.

Soos jy sê wie is enige van ons om die eerste klip te gooi?

10 jaar 11 maande 1 dag 2 ure oud



MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar