Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Lees: Rom. 7:6

Wat jy nie weet nie is dat ek hier agter die skerms besig is om die hele boek Romeine oor en oor in Grieks te lees en te bestudeer, alles in ’n poging om presies te hoor wat God se Gees Paulus destyds geïnspireer het om vir ons as die mense van God te sê.

Daarom is ek so opgewonde oor hierdie vers, want diegene van julle wat Grieks kan lees, sal weet dat hierdie vers, Romeine 7:6, as’t ware die skarnier is waar rondom die hele boek Romeine se boodskap draai. Alles wat voor hierdie vers in die boek Romeine staan, verduidelik waarom Paulus hier skryf wat hy skryf en alles wat na hierdie vers staan verduidelik dan wat die implikasies is van wat hier staan.

Lees saam met my hoe die Nuwe-Afrikaanse Direkte Vertaling uit die Grieks hierdie vers vertaal: “... Maar nou is ons bevry van die wet omdat ons dit waardeur ons gebonde was, afgesterf het, sodat ons as slawe kon dien in die nuutheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.”

Die 1983-Afrikaanse vertaling vertaal dit daarom baie goed en verstaanbaar so: “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”

Omdat dit wat hier staan die hart is van die verskil tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond, gaan ek ’n bietjie stilstaan hierby.

Paulus is besig om hier te verduidelik wat presies die verskil is tussen ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, wat nou onder die Nuwe Verbond-bedeling staan en ’n Ou-Testamentiese gelowige wat destyds nog onder die Ou Verbond-bedeling was.

Kom ek vra vir jou ’n vraag om dit aan jou te probeer verduidelik: Waaraan herken of geïdentifiseer ’n mens iemand as ’n gelowige volgeling van die God onder die Ou Verbond?

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig en maklik: Dit was iemand wat gelewe het presies soos wat die Wet of Tora onder die Ou Verbond vir hulle geleer het om te lewe.

As jy twee dinge moes opnoem waaraan jy so iemand kon herken was dit dat die seuns en die manne besny is en dat almal die Sabbat gehou het soos wat die Tora hulle geleer het om dit te onderhou.

Die besnydenis-ding is maklik om te verstaan, want dit was ’n fisiese besnyding van die manlike geslagsorgaan.

Die viering van die Sabbat was net so eenvoudig: mense het weekliks van die Vrydagaand 18h00 tot Saterdagaand 18h00, die sewende dag van die week, anders ingerig as al die ander dae van die week om so God te eer en daardie dag te gebruik om spesiaal tyd eenkant te sit om aan God en Sy dinge te wy.

Dan was daar ook ’n paar ander dae in die week, die res van die jaar, wanneer die Joodse feeste waarvan die Tora ook praat, soos die Paasfees, of die Pasga, op ’n ander dag van die week val as die normale Joodse Sabbat, wat daardie dag van die week ook as ’n Sabbat gevier is.

’n Mens kan dus sê dat die identiteit van ’n werklike Ou Verbond-gelowige, wat geleef het volgens die wet of Tora, aan hierdie twee dinge gekoppel was. As iemand hiervolgens geleef het en dit nagekom het, is jy gereken as ’n Ou-Testamentiese gelowige volgeling van God.

Daar is natuurlik ’n klomp gedeeltes in die Ou Testament wat dit vir ons leer. Ek wil net een hiervan vir jou aanhaal naamlik Jes. 58 waar die volgende in vers 13 en 14 staan: “As jy nie op die Sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die Sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.”

Oor die besnydenis as teken van die Ou-Testamentiese volk van God hoef ek hopelik nie te veel te sê nie. Kom ek sê net dit:

Onthou jy hoe God vir die volk wat pas na veertig jaar uit die woestyn gekom het, daar by Gilgal net nadat hulle oor die Jordaan die beloofde land Kanaän binnegegaan het, aangedring het dat al die seuntjies en manne wat nie besny was nie, eers besny moes word? Want tydens hulle verblyf in die woestyn (omdat dit net te gevaarlik was om mense daar te besny), is niemand besny nie. Daarom moes hulle, as God se Ou-Testamentiese volk, wie se identiteit juis ook aan die besnydenis gekoppel en gemeet is, besny word voordat hulle werklik die nuwe beloofde land Kanaän in besit kan neem.

Ek wil afsluit met ’n vraag om jou ’n bietjie aan die dink te laat sit hieroor: As die besnydenis dan so belangrik was, ja, as dit dan die ding was waaraan iemand as Ou-Testamentiese lid van die volk van God herken is, waarom staan daar reeds in die Ou Testament dat daar ’n tyd gaan kom, ’n nuwe era, wanneer hierdie fisiese besnydenis nie meer die ding gaan wees waaraan iemand herken kan word as deel van die werklike volk van God nie?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die nuwe bedeling
Die nuwe bedeling het ontstaan toe die tempel in 70 deur Rome vernietig is en daarmee saam het die Joodse tempelkultus ʼn geweldige slag gekry. Skielik kon daar nie meer offers by die tempel gebring word nie. Die ampte van priester en hoëpriester het onnodig geraak. Die godsdiens is gedesentraliseer na die sinagoges toe, want baie Jode het Israel verlaat en as’t ware in verstrooiing dwarsoor die wêreld gaan woon. Oral in hulle gemeenskappies is sinagoges opgerig om die godsdiensbeoefening in stand te hou, maar die oorhoofse struktuur van ʼn tempel was daarmee heen.
Nou kom die skrywer van Hebreërs en hy stel voor dat die Christuskultus die logiese opvolg is vir die tempelkultus wat in die onlangse verlede van die toneel gevee is. Deur dit voor te stel, hoop hy dat hy sommer weer bietjie lewe in die Christuskultus ook kan blaas, want dit lyk vir hom asof die Christene se arms lam en hulle knieë slap geword het.
Met die nuwe stuk verbeelding wat hy by die mite voeg, wil hy nuwe lewe in die Christendom inblaas en wil hy ʼn teologiese sprong maak om te bewys dat die tempelkultus van die Judaïsme volledig deur die Christus van die Christuskultus vervang is. Daarom bring hy die terme ou verbond en nuwe verbond ter sprake.
3 jaar 9 maande 2 weke 6 dae 9 ure oud



Vader, vergeef

deur http://www.woes.co.za/

'n Geestelike digbundel met 46 Gedigte wat begin by sosiale kommentaar oor die euwels in ons samelewing en dan oorgaan na storiegedigte gebaseer op ware verhale van gebedsverhoring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar