Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Oomblik in tyd of, soos hulle in Engels sou sê, “a moment in time” het in die verlede weinig betekenis vir my gehad tot nou die dag.

Uit pure verveeldheid sit ek so ‘n paar dae gelede deur die TV kanale en blaai sonder om iets te kry wat my interreseer, of wat ek nie alreeds tot vervelens toe gesien het nie. Toevallig eindig ek op by die een of ander “Style“ of “Fashion” kanaal waar ’n “persoon“ in pienk hare besig was om bekende modeontwerpers uit te vra oor modeneigings vir die nuwe seisoen. Ek luister met ’n halwe oor terwyl ek my kop sit en skud oor die “klere“ wat, veral, die “mans“modelle loop en vertoon. As ek dit jare gelede sou aantrek, het my pa my by die huis uitgegooi. As my seun dit sou dra, dan’t ek hom ook die huis belet. Die mense met wie hulle praat is al die grotes in die modewêreld soos Paco Rabanne, Giorgio Armani, Gucci, Roberto Cavalli en ander.

Skielik sit ek regop, want die modeontwerpster met wie hulle praat lyk vreeslik bekend. Die manier wat sy haar hande gebruik wanneer sy ’n punt probeer maak, roep lank-gelede se herinneringe skielik helder na vore. Toe haar naam op die skerm verskyn, toe weet ek.

’n Hele paar jaar gelede was ek op pad van Helsinki na Londen. Die lugredery (Finair) het oorbespreek en ek moes terugstaan om te wag vir ’n volgende vlug. Ons was omtrent so tien of vyftien passasiers wat soos skape daar gestaan en drom het terwyl lugrederypersoneel aan ons nuwe kaartjies uitgereik, maaltydkoeponne uitgedeel en ons geld vir die kaartjies van die vorige vlug volledig uitbetaal het. Links van my in die bondel het ’n korterige dametjie gestaan, nie besonders aantreklik nie, maar met ongelooflike styl.

Voordat ek verder gaan, moet ek eers iets vinnig opklaar. Styl is nie altyd Cosmopolitan, Fashion TV of die “persone“ wat die bekendes se klere, na die Oscar-geleentheid uitmekaar sit en trek, se oppervlakkige siening nie. Styl is ook nie die nuutste modes op die rak of die populêrste haarstyle nie. Styl is doodeenvoudig die manier waarop, veral ’n dame, haarself in enige situasie en op enige plek met die nodige waardigheid kan hanteer.

Ek gaan verder. Hoe dit presies gebeur het, kan ek nie onthou nie, maar op ’n stadium raak ek en die dametjie aan die gesels. Sy stel haarself aan my voor as, kom ons sê maar, Paula. Sy was op pad New York toe om die een of ander modeweek te gaan bywoon. Volgens wat ek van haar kon verstaan was sy ’n modeontwerpster in die proses om naam vir haarself te probeer maak. Hoe dit ookal sy, ons besluit toe dat dit baie beter sou wees as ons die onvermydelike “lastigheid” van die uitgestelde vlug so tussen ons twee gaan omskep in ’n soort van avontuur.

Vir ’n gewoon onoorspronklike siel wat normaalweg melk sal laat dikword, net deur daarna te sit en kyk, verbaas ek myself in die geselskap van Paula, daardie dag. Die lughawegebou met sy hordes “duty-free“ winkels word ons ontdekkingsveld. Hand aan hand loop ons die plekke deur en bespreek elke item, soms sarkasties, soms humoristies, soms vulgêr en soms ernstig. Ek koop vir haar ’n Finse poppie en sy koop vir my ’n Helsinki-pen. Ons gaan haal middagete met ons komplimentêre koeponne en ons sit mekaar en voer terwyl ons lag vir die geskokte uitdrukkings op sommige passasiers se gesigte. Té gou moet ons vertrek, maar op die vlug oor Swede na Londen, sit ons styf teenmekaar en verbeel ons dat ons pasgetroudes is.

Op Gatwick, waar ons land, is daar geen teken van my gasheer nie en ek bel hom by die werk. Hy’s jammer, maar toe ek nie op die bespreekte vlug was nie, het hy aangeneem ek land eers die volgende dag. Sou ek omgee om die aand in Londen oor te bly? Hy beloof om my die volgende dag te kom haal.

Paula sien geen probleem met die reëling nie aangesien sy self die aand moes oorbly. Ons gaan en verander bloot haar hotelbespreking na “two persons sharing“ toe en los ons bagasie by die hotel. Vir die res van daardie dag loop en ry ons Londen plat en luister na kitaarmusiek in die Underground. Ons gaan eet by ’n Indiese restaurant voordat ons na Cats gaan kyk en daarna nog ’n paar pubs besoek. Laataand en effe onvas op die bene strompel ons terug in ons hotelkamer in. Ek stel voor dat sy eerste gaan bad, maar, (soos sy dit gestel het) om water en tyd te spaar, eindig ons toe saam in dieselfde bad. Tevrede raak ons heelwat later in mekaar se arms aan die slaap, twee toevallige vreemdelinge in ’n vreemde stad.

Ek het weke later ’n poskaart van haar gekry. Op die voorkant sit ’n karikatuur van Marlon Brando ’n druppende kaastoebroodjie en eet. Dit was ’n uitbeelding van een van ons komiese oomblikke op die Helsinkilughawe daardie dag, daardie vlietende oomblik in tyd.

Dit was goed om te weet dat sy tog op die einde sukses behaal het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

'n oomblik in tyd
Jislaaik,dankie weer !Hoe maklik kan 'n gewone oomblik iets spesiaals word deur met iemand te gesels.Ek sou graag die badtoneeltjie meeleef maar dalk spoil die feite net my verbeelding.Dankie 'anyway'
9 jaar 4 maande 1 week 5 dae 7 ure oud


Mmm, vuurmaakhoutjies vir oudag se koues!
9 jaar 10 maande 2 dae 18 ure oud


Oomblik in Tyd
Aitsa!
9 jaar 10 maande 3 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Lady en die Leeu

deur Rachelle du Bois

Sy is een keer gevang, maar nou is sý die jagter met die prooi in háár visier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar