Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Toe Wederhelf vir oulaas ons nuwe adres in Beaconbaai, naby Oos-Londen, met die meubelwa se bestuurder bevestig, sê laasgenoemde: “Meneer moenie tyd verspeel nie. Ons ry dwarsdeur die nag en behoort so teen drie-uur môremiddag daar te wees. Dis Saterdag en die manne sal dadelik wil aflaai. Ons sien Meneer daar.”

Ek staan op die sypaadjie voor ons leë huis in Kempton Park en kyk die meubelwa met al ons aardse besittings in agterna.

Ons val met ons Fordbakkie en ‘n swaargelaaide woonwa in die pad. Die drie kinders is is per vliegtuig vooruitgestuur George toe en kamp saam met Oupa en Ouma op Heroldsbaai. Dis ‘n snikhete Desemberdag.

Ons ry in die louwarm nag met afgedraaide vensters deur die Vrystaat. Wederhelf stop kort-kort om bene te rek en om ons labrador 'n draaitjie te laat loop en water te gee. Teen ligdag ry ons deur die Oos-Kaap. Dis onbekende wêreld vir my en ek geniet die nuwe avontuur.

Wederhelf het al ‘n paar maande tevore in Oos-Londen begin werk en solank in die spoorweghostel tuisgegaan. Ons gaan kry eers sy motor en ander besittings by die hostel voordat ons deurry Beaconbaai toe. Dis byna halfdrie. Ons nuwe erf is teen die hang van ‘n redelike skuins klofie. Die breë sement-oprit, of moet ek liewer sê afrit, loop met ‘n draai en ‘n baie steil helling af na die ruim motorhuis op die eerste terras. Dan is daar ‘n stel trappe af na die huis op die tweede terras. Daar is ‘n groot grasperk rondom die huis.

Toe ons by die huis stilhou, bemerk ons onraad. Op die grasperk langs die huis is daar is ‘n kleinerige markiestent waaruit oorverdowende musiek blêr terwyl iemand die luidsprekers uittoets. Daar staan ‘n hele paar motors en ‘n woonwaentjie in die straat.

Wederhelf klop aan die voordeur. Die vader van die huis kom maak oop – ge-collar en ge-taai met ‘n wit angelier op die lapel. Hy sê ons kan ongelukkig nie vandag intrek nie, want dis sy oudste dogter se troue. Alles was bietjie skielik, want sy moes trou en hy kan haar nie sonder ‘n behoorlike paartie afgee nie. Hy leen vir hulle sy woonwa, wat reeds bo in die straat staan, vir hul honeymoon.

Wederhelf sê ons meubels word binne die volgende halfuur verwag en waar moet ons daarmee heengaan? In die garage, sê die vader van die bruid en roep sy opgeskote seun nader en gebied hom om die twee voertuie uit die motorhuis te verwyder en in die straat te gaan parkeer. Seun is blykbaar die strooijonker of iets, want hy het ook ‘n pak aan met ‘n knoopsgatruiker. Hy maak die garagedeure oop. Die twee motors daarbinne se vensters is reg rondom toegeplak met koerantpapier. “Ons is besig om hulle te spray-paint,” verduidelik hy. Terwyl hy die motordeur aan die bestuurderskant met een hand oophou om by die deur te kan uitkyk waar om te ry, gee hy vet om die draai teen die opdraend uit in trurat. Die tweede motor is skaars met ‘n brullende enjin by die hek uit, toe stop die meubelwa reg voor die hek met remme wat pshsssh-pshsssh blaas. Wederhelf is nog besig om aan die vragmotorbestuurder te verduidelik dat die meubels in die motorhuis gestapel moet word, toe twee van die werkers reeds met ‘n sitkamerbank teen die afdraend afkom.

Net toe kom die bruidsmotor met linte en balonne in die straat af en toet voor die hek vir die meubelwa om te geepad. Vergeet daarvan, sê die bestuurder – my manne is klaar besig om af te laai. Moeder van die bruid kom vra ook, want die bruidsrok het ‘n lang sleep en dit sal vuil word teen die opdraende uit. Nee, sê die bestuurder – julle moet maar die sleep optel.

Ek staan eenkant en slaan die petalje gade. Bruid klim die trappe van die huis af versigtig uit. Terwyl Moeder en Suster die sleep omhoog hou, draf die werkers sonder verposing links en regs van die prosessie verby met tafels en stoele en kaste. Die gesin se skoothondjies hardloop heen en weer tussendeur en blaf opgewonde. Ouma kom met ‘n stywe been agterna en twee dogtertjies ondersteun haar die steilte uit.


“Waar slaap ons vanaand?” vra ek vir Wederhelf.
“In ons woonwa. Hier is baie woonwaparke.
“Op wie se onkoste?”
“Die drie ekstra dae se okkupasiehuur vir die huidige bewoner is baie meer as wat die woonwapark ons gaan kos.”
“Wat van ons hond?”
“Ons sal ‘n plan maak.”
“Hoe gaan ons die klomp meubels later uit die motorhuis teen die trappe af in die huis kry?”
“Ek en jy sal regkom – ons het al voorheen alleen getrek.”
“Nie met ‘n klavier teen ‘n stel trappe af nie.”

Vir die volgende drie dae ontspan ons toe heerlik in ‘n woonwapark en verken die stad. Nonna, die labrador, is in ‘n hondehotel. Terwyl ons by ‘n hardeware winkel ‘n paar goedjies vir die nuwe huis koop, staan daar ‘n vakansieganger wat spykers soek langs ons. Toe die verkoopsman nie Afrikaans verstaan nie, vra die man benoud vir ons wat spykers in Engels is. Voor ons nog kan antwoord, sê hy skertsend vir die verkoopsman: “Ag man, ek soek ‘n poend se spoekers to moeker in the moer.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Trek
Ek dink jou storie sal Nataniël jaloers maak! Hiehie...
6 jaar 7 maande 4 weke 1 dag 2 ure oud


*
Ek is in Desember 1990 getroud, die 22e! Wat 'n petalje! Lekker gelees1
6 jaar 8 maande 2 dae 12 ure oud


Jinne maar jy is n goeie mens
Ek sou n oorval gekry het as dit met my gebeur het.
6 jaar 8 maande 3 dae 2 ure oud


Hmmmm
Haha. Ek sou my waarskynlik lelik vervies het vir die troue-klomp. Sou self 'n paar spoekers gesoek het...
Of dalk maar by die troue ingeval het en maar saam geparty het tot hulle weg was. ;-)
Goed vertel!
6 jaar 8 maande 3 dae 8 ure oud


***
Groot glimlag op my bakkies!

...maar nou wonder ek hoe julle toe die klavier en daardie goed in die huis gekry het...

Julle weet toe darem waar om spoekers vir die skilderye teen die moer te kry :))
6 jaar 8 maande 3 dae 13 ure oud


Poend
Ag dit was nou 'n lekker storie om te lees.
6 jaar 8 maande 3 dae 17 ure oud


Spoekers . . .
Ek dink wederhelf moet goud kry vir kalmte en jy ook.
Ek sou beslis nie die affêre so kalm en aanvaardiglik hanteer het nie.

Pragtige bydrae.
6 jaar 8 maande 3 dae 21 ure oud


Moeker
Lekkerrrrr lag ek nou! Jou storie het die hele tema die moeite werd gemaak. Ek is sommer lus en herplaas my 1 trek storie.
6 jaar 8 maande 3 dae 23 ure oud


Spoekers
Heerlik gelees, dankie Elise. Vertel ons asb die opvolg ... :)
6 jaar 8 maande 4 dae oud


spoekers
Lekker gelees, omtrent 'n deurmekaarspul gewees! Ek sou dit nie kon oorvertel nie, sou aan aanstuipe iets oorgekom het!
6 jaar 8 maande 4 dae oud


Viooltjie
Ja, dis die heilige waarheid. Trouens, al my rubrieke is die heilige waarheid!

Datum van gebeurtenis: Desember 1990
6 jaar 8 maande 4 dae oud


spoekers
Lekker gelees dankie. Ja so loop hy.
6 jaar 8 maande 4 dae 2 ure oud


Ja-nee...
met 'n ingenieur getroud! Ek glo elke heerlike, smaaklike woord. Ek het ook 'n hele paar sulke trekstories om te vertel :D! Ons het later twéé labradors oral saamgekarwei. Net toe ons hiernatoe trek, het ons maar die langslewende, Kita, daar gelos. Sy bly nou al ses jaar by my man se broer hulle. Is nou amper 13 jaar oud. Grys, styf, doof en blind van ouderdom. Ek dink sy wag vir ons om terug te kom...
6 jaar 8 maande 4 dae 6 ure oud


Spoekers
Ek weet voorwaar nie wat ek sal aanvang as dit my moet oorkom nie...haha. Sjoe!...is dit die waarheid? Goed geskryf....dit was 'n aangename leeservaring.
6 jaar 8 maande 4 dae 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Waarheen met die nuwe wyn

deur Christo Nel

Dr Christo Nel skryf hier oor die nuwe wyn-waarhede in die Bybel wat sy en ander se lewens verander het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar