Rubrieke

Titel: November
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Hierdie tyd van die jaar is ’n nare tyd van ‘n jaar”, sê ek vir die soveelste keer in ’n gesprek hierdie maand.

November het sy oomblikke van lekkerte, maar by uitstek, is dit ’n maand van frustrasie en moegheid, sonder lus en met meer gevegtery as waarvoor die meeste van ons kans sien. Ongeag of jy jou kalender in Rome of Griekeland of Egipte laat druk het, hierdie elfde maand van ons moderne bestaan se kalender, is ’n pyn sonder medisyne!

In die bedryf waar ek mý deel van die huishouding se botter, brood, vleis en wyn verdien, is geldsake dun aan die einde van die jaar. Vir alle praktiese oorweging hoef die fabriekseiendomsbedryf slegs 10 maande op hul kalender te hê. Desember sluit die meeste deure tot in die helfte van Januarie en vir dié klompie wat nog werk in daardie tyd, is hul omset en goedere sekuriteit met lomerige personeel, ’n dringender prioriteit as om die grondheer se huur te betaal.
“Ieder geval kan hy wag tot einde Januarie vir sy deel van die geldjies.”
Maar, dis nie net die sake-stil-tyd in hierdie twee maande nie, dit is die gevoel van afwagting vir die jaarlikse vakansie wat in November die voorkop van die brein oorneem en summier sinvolle werkebeplanning, -besluitneming en –houdings onder sy beheer neem. Ons gewillige navolgers van evolusie wil nie meer nuwe goeters aanpak nie, behalwe om te sorg dat alles op ’n spits gedryf word vir die tweede week in Desember en om dan af te skakel...
Kliek!
Ligte af!

November is vir my soos ’n dief in die nag, of middag of aand of watter tyd van die dag ook al. Van vroeg in die jaar af gaan mens rustig voort met die dinge van elke dag en beplan mens vir dit en vir dat wat doer en hier gedoen moet word. Tyd is nie ’n steurnis nie en samewerking is nie ’n luukse nie. Selfs die Kaapse reën is nie ’n onoorkomenlike uitdaging nie. Mens draf deur die dae, weke en maande en vier Paasfees en elke nasie op die aardbol se nuwejaar en ons hou kort skoolvakansies en pak die viertrek om in Julie woestyn of berg of wildtuin toe te ry. Die beurtkrag kom en gaan en na ‘n week of drie dan pla dit ook nie meer nie, tot die somer sy kop uitsteek en Eskom saam met die wingerd begin gedy in hul nuutgevonde energie. En dan... een verskriklike oggend... is dit November.

Lente is by hierdie tyd al ou nuus en ’n vergete seisoen. Die Kaapse dokter begin sy laat winderige aanslag op die bome en bloeisels en almal moet apteek-toe om strooikoorspille te kry. Die skollies wat geduldig vir tien maande tevrede was om klein stukkies koperpyp en staal hier en daar te aas, raak oornag ongeduldig en asof daar ’n geheime netwerk van nuwe kriminaliteit geopen word, vind die manne ’n nuwe lus vir die onderwêreld se lewe. Inbrake word sommer helder oordag gedoen. Die ouens probeer jou selfoon, wieldoppe en wat ook al sommerso in die ry in Voortrekkerweg gryp en gewapende roof neem so toe dat die polieste nie eens vinnig genoeg saaknommers vir die versekering kan toeken nie. Joernaliste skryf nie meer oor die daaglikse roof en diefstal nie, want die mense lees dit nie meer nie!

Gepraat van “mens”...
Die ander dag ontmoet ek ’n kennis, noem hom maar Willie, wat ek seker twintig jaar laas gesien het. Soos dit die gawe mens betaam, vra ek ook, hoe gaan dit, wat doen jy deesdae, is jy nog in die dorp ensovoorts?
Na Willie al die algemene vrae geantwoord het, begin hy te vertel dat hy gedink het dat ná veertig jaar se werk, hy sy aftrede sal geniet en weer “mens” sal kan word.
( Ek het nie besef dat dit wel so is nie, maar ek het al gehoor dat mense sê “dat hulle gedaan en op gewerk is en tot in hul mensdom in uitgeput is.” Foeitog, dit moet erg wees. )
Maar, terug by Willie.
Hy vertel verder dat die voorafopgestelde idee om sogenaamd weer mens te word, nie vir hom beskore was nie. “Om die waarheid te sê” gaan hy voort, “ek het ses maande na my aftrede weer begin werk, want ek kon nie meer ’n mens wees nie!”
“Nee, my ou! Hoekom so?”
Willie sê dat hy en sy dierbare vroutjie eers vir ’n maand gaan vakansie hou het. Hulle het die kar gepak en die tweetjies het ’n wye draai deur die land gery en sommer alles mooi bekyk.
Na so ’n week of wat terug by die huis was Willie reg om rustig op sy aftreestoep met sy koffie en keorant te gaan sit toe “mammatjie” een oggend vra: “ sal mens nie die stoep se dak seël en miskien skuifdeure insit nie?”
Hy sê, hy het hom nie baie daaraan gesteur nie, maar dit wel laat doen.
Na nog ’n maand of wat vra sy weer een oggend: “pappa, dink jy nie mens kan die houtwerk ’n slag olie nie?”
En toe bars die damwal!
Dit word “sal mens die grensmuur kan verf; die swembad se plaveisel regmaak, die motorhuis se rakke vervang en sal mens .. en kan mens... en...en “
en toe besef hy: “ hier moet ek weg, ek wil nie ’n mens wees nie!”

November is veronderstel om ons geleidelik vir die einde van die jaar voor te berei, maar dit het kennelik daarin misluk. Die ondernemings hou kerspartytjies en jaarafsluitings vir die meeste van die maand; die studente, wanneer hulle nie klipgooi nie, begin al vakansie hou voor die laaste November-partytjie se uitnodigings gestuur word. Die skoolkinders smaak die vryheid van die lang vakansie wat om die draai lê en albei ouers se senuwees is op, omrede die een kind net wil rondrits en die ander een sukkel om aan die leer te kom.

Die boukontrakteurs se werkers is bedags moeg en smorens vol wyn; die jaar se harde hande arbeid wurg die laaste bietjie energie uit die vakmanne en kruiwabestuurders uit. Maar, ongeag daarvan, moet die huis en bouwerk klaarkom. Die mense wil intrek, die gordyne is bestel en die skoonfamilie uit die binneland se vlugte is bespreek. “Al daal die vlammehel of die stormweer neer, met ’n skop onder die gat, sal ons hier deur.”

So glip November met al sy bagasie onder en bo-oor ons en wanneer die eerste dae van Desember aanbreek, dan sit ek sonder verwagting, leepoog, na die kalender en staar...” net nog een week”.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

November
Nes Kiekies se, ai die mense darem... Puik!
5 jaar 2 weke 1 dag 19 ure oud


Nov
Mens...hier het jy darem goed gedink en mooi gepraat om hierdie groot waarheid perfek te verduidelik!!
5 jaar 2 weke 2 dae 22 ure oud


november
Hennie,
Jy het dit mooi vasgemaak hier hoe baie mense voel in hierdie tyd van die jaar.

Mooi gedoen,

Charles
5 jaar 2 weke 3 dae 2 ure oud


November
Sekerlik die langste maand van die jaar. Baie om aan te herkou in hierdie lekkerlees skrywe van jou.
5 jaar 2 weke 6 dae 5 ure oud


Ano
November
Whahahahaha! So, dit lyk my dit is makliker om vir 'n vreemde baas te werk as by die huis? Sal dit ingedagte moet hou en my arsenaal skietgoed opbou vir wanneer sulke tyd aanbreek. :-)))
5 jaar 2 weke 6 dae 21 ure oud


Z
Lekker gelees Hennie. Ja dit voel vir my ook of die jaar 'n onnodige draai maak gedurende November.
5 jaar 3 weke oud


My goeiste!
Is DIT hoe dit werk, Viooltjie?
Dat ek nooit daaraan gedink het nie!
En hier sit staan en loop ek my halfdood
om al die ,menslike' aangeleenthede
klaar te kry!
Hennie, hoekom skryf jy dit nou eers man?
Het ek net geweet, het ek net geweet...
GvT
5 jaar 3 weke 10 ure oud


November
Heerlik gelees, Hennie :-) Lekker gelag vir Willie en sy vrou se stories. Sy het dan nou hoeka jare gewag dat hy moet aftree sodat hy al die werkies in en om die huis kan doen :-)
5 jaar 3 weke 13 ure oud


***
Ja-nee, Hennie, daar is baie waarheid in hierdie lekkerlees stuk. Baie dankie.
5 jaar 3 weke 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

The Road to Eden

deur Rachelle du Bois

Once rich and still beautiful, Eve Vermont’s life was in tatters. She found a job as house manager with the wealthy and powerful Blythe family. She soon realised that the compelling Adam Blythe was determined to uncover the painful secret of her past. She was forced to accept that he wasn’t going to stop until he knew what brought her to Oak Manor but was she prepared to open up and allow him to know her as he intended? Or would she keep hiding from Adam and the world? Adam Blythe found a stylish, beautiful and mysterious woman in his home. As house manager. She was totally unsuitable for the job, and he felt compelled to find out more about her. And as he uncovered the layers of this incredible woman, his love for her grew and he knew he had to keep her at Oak Manor at all costs. But would she stay?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar