Rubrieke

Titel: Nuwe Jaar
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Voorneme, dis wat almal maak.

Maar hoeveel van julle het werklik die hele jaar uitgehou met die beslissing wat aan die begin van die jaar gemaak was?

Ek erken, ek het al talle gehad, en voltooi? Glo nie.

Almal praat van gewigsverlies – o ja, hulle wil daai ideale gewig bereik, die aankoop van al die vrugte, groete, growwe sade en nog talle ander artikels vul die sakke vol by die winkels. Die koper is opgewonde oor al die smaaklike items wat hy aangeskaf het, en met volle swang die eerste werk Maandag begin die nuwe verslanker met sy fynbeplande eetplan en maaltye.

Maandag verloop goed en die blits verslanker spring die Dinsdag oggend op die skaal en bewonder sy sukses. Teen Vrydag raak hy al hoe luier met die voorbereiding van die kospakkie vir werk en woeps, Vrydag aand lê die eerste pizza in sy bord – soms sommer met ’n soet drankie of self ’n bier – “net vanaand” is die belofte wat hy maak. Tipies.

Die vrugte raak pap in die yskas, die spinasie verlep en die vis word dieper en dieper in die vrieskas geberg. Moet nie sleg voel nie, ons almal probeer dit met die begin van ’n nuwe jaar.

“Sodra ek by die werk kom, gaan ek my baas net mooitjies vertel wie en wat hy is en sommer die deur in sy gesig toeklap” – baie bekende woorde dié en baie van ons voel so. “Daar was skaars ‘n behoorlike bonus in die bank betaal en dit alles vir al die werk wat ek gedoen het. Lang ure, uit my pad gegaan, op tyd aangekom en na die tyd huis toe….” en so gaan ons werk toe, bly stil want, dit is nie maklik om weer ’n pos by ’n ander maatskappy te kry nie, en miskien is ons net so ’n klein bietjie oorgevoelig.

Dink mooi, geniet jy nie tog jou werk nie? Is dit nie lekker om saans bed toe te gaan en jou baas se woorde “mooi so, knap gedaan’’ nog te hoor nie? Soms raak ons so kwaad vir die mense by ons werk, maar daar is talle goeie dae wat verby gaan en as jy weer kyk, is dit weer bonus tydperk. Lekker né??

Hoeveel van ons het nie aan een of ander slim uitgewerkte plan van skelm ’n stel of twee afgetrap nie? Want ons wil mos geld maak. Sonder geld kan ons nie lewe nie. Daar moet meer geld in die bank wees. Ek wil alles koop wat my twee ogies sien. En so raak ons so maklik betrokke by die piramied stelsels, die ketting brief waar jy NET R50 in ‘n wild vreemde persoon se bankrekening deponeer met die hoop dat hulle almal ook NET R50 in joune gaan betaal nie – ooit iets gekry? Dan is daar natuurlik ook die blink liggies en groot makietie geld teaters. As hulle werklik vir ons al hulle geld wou gee, hoekom eers joune vat?

Maar dit is baie lekker om die hardverdiende geldjies een vir een in die groot geld monster te voer – en hy sluk dit al te gulsig, sent vir sent. Werk mooitjies uit – hoeveel voer jy en hoeveel kry jy terug? Ons hoor altyd van hoeveel geld die of daai persoon gewen het, maar, hulle sê nooit hoeveel hulle die monster gevoer het nie – dit bly verewig ’n geheim. Nee wat, die kanse om geld te wen is baie skaars.

Een, twee, drie, kap weer af. Die hoë kolesterol in die are moet meteens wegsmelt, die risiko bloeddruk moet vinnig daal en ’n suikervlak wat hoër as tafelberg is moet japtrap afgebreek word. Jare se slegte gewoontes wat die liggaam onder geweldige druk geplaas het, moet sommer in een oefen week totaal verdwyn. Ons verwag dit van ons liggaam, ons oefen mos nou so hard.

Talle fiksheid gimnasiums is al te bly wanneer die nuwe jaar kom – dis n rekord inkomste maand vir hulle. Ons staan in etlike lang rye om ’n beurt op ’n trap masjien te kry, jou spiere is sommer weer yskoud teen die tyd wat jy ’n beurt kry en na ’n uur van sweet staan jy voor die spieël en bewonder die pragtige spierbou, of miskien nie! Dan is daar natuurlik die fiksheid spesialis wat in sy eie huis ’n oefenfiets het en ’n skud masjien wat meer breinselle losmaak en verplaas as wat dit enigsins iets help. Maar die fiksheid spesialis is net te vrolik omdat hy nie in die lang rye hoef te staan en met ander sy sweet te deel nie. En stadig word die entoesiasme om na werk te gaan oefen meer en meer moeite en die fiets by die huis het so ’n effense stof lagie wat op die swart saal lê.

En dan is daar die nuwe haarstyl, verbouings aan die huis, ’n nuwe motor, verhuising na ’n ander land, hopeloos te veel om te noem. Nuwe Jaars voorneme, dis miskien maar die beste om nie sulkes te maak nie, of miskien nie openbaar te maak nie. Begin enige tyd van die jaar om gesond te probeer lewe en geld te bespaar deur hard te werk en mooi te dink wat jy met jou hard verdiende loon gaan maak. As jy wel aan ’n fiksheid gimnasium behoort, geniet die tyd wat jy daar spandeer en onthou om dit ’n gereelde gewoonte te maak, op einde van die dag kos dit jou geld, maar jy sal wel die vrugte pluk met ’n mooi fisieke liggaam.

Ons het almal voorneme, maar maak ’n besluit en hou daarby. Op die einde van die dag, is dit jou besluit en welgedaan aan dié wat dit wat wel sukses behaal het.

Mmmm laat ek mooi oor myne dink!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar