Weergawe: 1
Aantal woorde: 901
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 02 Nov 2015
Om die Bybel te lees, is baie keer soos om hierdie onbetaalbaar kosbare skatte te soek met die Bybel as padkaart in jou hande.
Prof. Willie Jonker het altyd vir ons as teologiese studente gesê dat een van die belangrikste dinge wat ons God se mense kan leer is om hulle te leer om die Bybel reg te lees.
Hoeveel keer lees ons sommer net oppervlakkig bolangs en dan mis ons hierdie half versteekte kosbaarhede wat ’n bietjie meer moeite en stil meditasie vra.
Rom. 5:17 is so ’n gedeelte.
Luister hoe word dit in die nuwe Direkte Vertaling vertaal: “Want, as deur die oortreding van een die dood deur dié een geheers het, sal dié wat die oorvloed van genade en van die gawe van geregtigheid ontvang het, veel meer in die lewe heers deur die Een, Jesus Christus.”
Ek het mos al baie vir jou gesê ek verstaan dinge baie keer beter deur dit in prentjies vir myself te verduidelik.
Kom ons gebruik die gelykenis van die verlore seun as ons reeks prentjies om iets meer te verstaan van wat hier staan oor God se genade-geskenk wat Hy vir elke mens aanbied in die boodskap van die Evangelie.
Jy ken die gelykenis baie goed. Daarin word vertel van hierdie jongste seun wat sy pa letterlik dood wens en dood dink. Daarom dring hy aan om alles wat syne sou wees as sy pa regtig sou sterf, sommer nou al te kry sodat hy dit kon vat en kon loop om sy lewe te lei soos hy dit wil.
So word dit die prentjie van elke Jan Alleman, elke mens wat dink en lewe asof God nie bestaan nie of dood is en wat al Sy seën geniet asof vandag die laaste dag is in hulle lewe. Hulle volg hulle eie kop en doen net wat hulle wil en wat hulle plesier gee.
Dan op ’n dag kom hierdie mens tot besinning, want God het mos baie luidsprekers en maniere om in Sy genade met Sy verlore kinders daar in die vreemde te praat en hulle te herinner aan Sy liefde en genade wat ook vir hulle daar is. Dit is daardie iets hier in ons binneste wat ons voor ons bekering na hierdie genadige Skepper-Vader “terugroep”.
Verstaan mooi, ons verdien niks. Ons verdien nie dat God ons genadig hoef te wees of met ons moeite hoef te doen nie. Ons het immers ons eie keuses gemaak en ons eie kop gevolg. Daarom sit ons waar ons sit en is dit pikdonker nag vir ons.
Daarom is dit juis genade, is dit juis hierdie onverstaanbare en onverklaarbare genade-geskenk wat hierdie Skepper-Vader na ons as Sy verlore, bedelaar seuns en dogters uithou wat my in hierdie skrywes laat sing en jubel as God se imbongi.
Kan jy glo, as ons na Sy paleis nog so aankom, sien Hy ons reeds van vêraf aankom en kom Hy as die Koning van alle konings uitgehardloop, want Hy het heeltyd gehoop, gewag en verlang dat ons tog sal terugkom.
Dan gryp Hy ons vas, omhels ons in ons verflenterdeid, met al ons vuilheid en morsige verlede. Ons wil nog jammer sê en vra dat Hy ons tog sal vergewe, maar Sy soene op ons vuil mond maak ons stil en sê wat 1 Joh. 1:9 vir ons sê: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om al ons sonde te vergewe en ons te reinig van al ons ongeregtigheid. Ons verlede maak nie meer saak nie. Dit word in een oomblik uitgewis en vergete. Want ons het teruggekom.
Jesus Christus het reeds vir al ons hardkoppigheid, rebellie, sondes, noem maar op, Sy lewe gegee en die volle straf daarvoor gedra. Daarom kan die Vader nou jou wat teruggekom het na Hom toe, onmiddellik vryskeld en alles vergewe. Maar Hy kan ook onmiddellik elke band of ketting wat jou nog vasbind uit die verlede, of reg wat die vyand op grond daarvan op jou gehad het om jou steeds sy slaaf of gevangene te hou, af te sny in Jesus se Naam, op grond van wat Hy aan die kruis gedoen het.
Dan hang die Vader vir jou die kleed om wat van nou af almal vertel jy is kind van die Koning, ’n prins of prinses wat bedoel is om die troonopvolger te wees en wat inderwaarheid reeds saam met jou Oudste Broer, Jesus Christus, die Koning van alle konings, heers.
Daarom gaan jy, openbaar God se Gees daar in Efesiërs, daar langs Hom aan Sy regterkant op die troon sit om saam met Hom te heers en te wag totdat die Vader, soos daar in 1 Kor. 15 staan, “... elke mag, elke gesag en krag vernietig het.” Ja, ons gaan van daar saam met Jesus Christus heers “... totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.”
Daarom word ons ou bedelaars skoene uitgetrek en ons ordentlike skoene aangetrek wat pas by koningskinders en daar word ’n ring aan ons vinger gesit waarmee ons elke dokument of verklaring in die toekoms kan bekragtig in die Naam van die Koning, asof dit Hy self is wat dit onderteken het.
En ons word die stoorkamers en eetkamers van die paleis ingelei waar die tafels reeds vir ons tot oorlopens toe vol voorberei is. Alles vir ons.
Daarom hoor ons, soos ’n Paulus, uit die mond van die Gees: My genade is vir jou genoeg.
Lees ander rubrieke deur Christo Nel
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Christo Nel. Geloofswaarhede wat jy eenvoudig en duidelik spreek. Mag die Here jou en jou woorde seën. Ek weet en glo Hy doen dit.
Terloops: CHRISTO Nel en CHRIS Nel? Dit is werklik verwarrend, soms moet ek mooi kophou om nie die name te verwar nie, want ek stel nie belkang in Chris Nel se skrywes nie.
(En: Ek wonder darem al lankal oor die ding . . .
Albei name is tog afgelei van die Griekse naam vir die Messias naamlik: "CHRISTUS".
As Chris Nel dan sê/glo Jesus CHRIStus is die valse profeet, is hy dan eintlik die Anti-Chris?)