Weergawe: 1
Aantal woorde: 2246
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 18 Jan 2010
Daar is verskillende maniere om hoere te ervaar en beleef. Sommige gevalle bring lekker opwinding in jou lewe, ander kere weer is daar pyn en woede, soms hartseer, ook ontferming en selfs respek, groot respek...
Ek het hoere en hoerery op verskillende maniere beleef...my ‘ondervinding’ het my geleer dat daar hoere is, regte volbloed, harde hoere; maar dat daar ook ‘vroue’ is wat vasgevang is in ‘n ‘beroep’ wat ‘n desperate uitkoms is. So het ek ook gesien en ervaar dat hoerery fasette het, fasette wat meebring dat sommige ‘hoere’ baie mense in die hemel sal voorgaan - Kom loop bietjie saam my die ‘hoer pad’...
Die wat gedink het ek gaan hulle hiermee op ‘n sappige en glibberige baan deur ‘n ‘Loslyf’ of ‘Hustler’ vertelling neem moet maar berus by ‘n teleurstelling, want ek gaan ander draaie maak, amper maar nie ‘stamper’ draaie! Gedurende die sewentiger jare toe ontug so erg was soos ‘n kaping vandag is, was dit vir ons as Polisie ‘n moreel opgelegde plig om die wit mans te vang wat van die “ousie se sousie” hou - soos ons dit gestel het. Dáárdie tyd was ‘Escourt Agencies’ nie ‘n faktor nie, en het ons eie dames ‘ongesiens’ opereer. Ontug was ‘n euwel wat knaters en al uitgewis moes word – genade, ons moes dan grens toé, terwyl andere die vyand spyker! Selfs ou Fanus Rautenbach het ‘n grappie of twee gemaak en geskryf oor Bapsfontein, die ontug Mekka. Min het ek geweet dat ek ook later daar ‘n ‘hoer draai’ sou gaan maak. Agter die ou Tegniese Kollege egter, daar naby die Leeubrug in Kerkstraat, Pretoria, het die donker dames saans so skuins voor twaalf vir die base met die note gewag.
Een aand gly ons sonder ligte, soos ‘n donker luierende haai geruisloos agter om die Kollege. Die destydse, outomatiese Ford F100, was ‘n heerlike sluiper – walla! – ‘n Valiant Baracuda hou stil, en die ousie van die nag klim. Ons volg hulle en Deon merk op: “ek dink sy vat al klaar haar vatte, die perd trap op onnodige plekke rem...” Naby die ‘Lollippop Roadhouse’ waar Kerkstraat uitgaan na Silverton, draai die Baracuda na regs in die veld in en hobbel oor die graspolle na onder die brug waar die snelweg vandag is. Ons stop ‘n hele ent weg ongesiens, gee so bietjie uittrek kans, los ons pette in die patrolliewa, en kruip na waar die spierwit Valiant sy ‘lêplek’ staan gemaak het. Deon kruip links om en ek reguit na die regter deur. Dit was winter en die uitsonderlike groot skuins agterruit van die Baracuda wasem ‘n ‘ekstra wasem’. Die vere begin praat en ek druk my oor teen die deur... “Daarshy nou, kry djy lekker my baas!” Ek bars uit van die lag, Deon vloek my en ons spring op en pluk die deure oop...
Agt jaar later is ek op Welbekend gestasioneer naby Bapsfontein. Bapsfontein Hotel en omgewing was ‘n ‘optel plek’ wat van die Kollege by die Leeubrug, ‘n ontug vulletjie gemaak het. By ‘Bappies’ was dit nie net Barbara Ray en Gene Rockwell wat die manne se harte met “...I dont want to play House” en “Heart” laat klop het en die ronde dansbaan laat gons het nie, daar het die manne na hartelus ‘oor die grens gesteek’ om adrenalien te pomp. So gebeur dit dat ek een middag kort voor die aanvang van skemer toevallig om die lang draai naby die hotel kom toe ‘n groot luukse BMW vir Nurse stop. Nurse, was ‘n Bappies hoer en was ‘n lobôla-lose verloofde van een van ons swart polisiemanne. Ek volg die BMW. Wonder bo wonder stop die bestuurder waar die pad na Bronkhorstspruit draai, en trek net daar van die pad af. Ek ry verby asof ek niks gesien het nie want die skierlike aftrek was onverwags gou op my. Ek ry ‘n ent en maak ‘n ongesiene U draai duskant ‘n blinde hoogte en jaag terug na waar die BMW langs die pad staan. Ek stop met my regter deur feitelik teen die BMW se bestuurder deur sodat die man nie daar kan uitklim nie. Hy sien my nie want sy kop is elders, en toe Nurse se hakke wat reeds op die paneelbord rus, ruk van die skrik vir my, kom die man orent met oë soos pierings agter die goue raam bril onderkant ‘n klam deurmekaar kuif! Die BMW trek met ‘n spoed weg met Nurse en al, rigting Bronkhorstspruit. Terwyl ek sukkel om my omdraai te kry, kontak ek die stasie per radio en praat met konstabel Mlangeni: “Hardloop dadelik pad toe en keer ‘n silwer BMW voor wat van Bapsfontein na Bronkhorstpruit op die hoofpad beweeg, Nurse is in die motor, vermoedelike ontug” “Gelees Adjudant!” en ek hoop Mlangeni maak die 120 meter van die Polisiestasie na die hoofpad betyds want die BMW skarnier, en die ses kilometer Polisiestasie toe is oop pad.
Toe ek die indraai na die Polisiestasie met die singende 1600 Toyota ‘partolliewaentjie’ nader, sien ek net vir Mlangeni en geen BMW. Hy staan langs die pad met die masjiengeweer in gereed houding. Toe ek by hom stop basuin hy dit uit: “Hys ga varby, maar ek het hom” “Wat bedoel jy, jy het hom?” “Nee ek het hom gaskiet, three shots” “Jissis is jy fokken mal”, hy kyk my met ‘n verbaasde uitdrukking en sê: “Au, maar die Adjudant mos hy’t gasê ek moet hom stop mos” “My liewe fok MLangeni, stop beteken nie skiet nie, jy kan nie skiet vir ontug nie, het jy raakgeskiet?” “for shure my Adju, three shots by die voorste deur van die passasier” “Ag my heretjie tog, nout ons kak, groot kak my boy” Ek laat al my ondervinding soos ‘n ‘pinball’ in my brein rond dartel... “Mlangeni!” “Adju?” “Waar het jy gestaan toe jy geskiet het?” “Hierso!”, en hy wys ‘n punt direk langs die pad amper by die skouer van die teer aan die linkerkant, rigting Bronkhorstspruit. “Luister nou mooi vir my – gaan na jou kamer in die barracks, klim in die bed, ek het jou soontoe gestuur want jy ly aan skok, en wag daar totdat ek jou laat roep, toe fokkof, ons sal moet plan maak hier!” Ek soek rond toe Mlangeni weg is en kry die drie 9mm doppies wat die HMK masjiengeweer uitgespoeg het, tel dit op, en druk dit in my broeksak...
Konstabel Koekemoer is ‘n loopgraaf yster, sout van die manne aarde... hy is van diens en ek gaan na sy kamer in die enkelkwartiere en lig hom in... hy stem. “Okay ek gaan nou hier teen die grensdraad staan dan kom jy daar van Bapsfontein se kant af met ‘n spoed, gaan so vyftig meter van waar ek nou net gestaan het van die pad af en gooi so ‘n wye ‘broady’ in die gras tot naby die draad en ‘broady’ wyd tot terug in die pad en gaan parkeer weer jou kar in die garage nadat jy die wiele goed afgespuit het en... moet om Godsnaam nie jou kar nou rol nie!” Nadat Koekies se stof en gras gaan lê het gooi ek die drie doppies op strategies die ideale plek.
Ek stap saam met die Diens Offisier wat ek volgens protokol van Pretoria af ontbied het, na die toneel. “Kolonel ek het die man afgegee en bed toe gestuur hy het sy gat af geskrik, hy was amper dood.” “Nee dis solank reg, wys my net waar en hoe die dinge gebeur het” Ek wys waar Mlangeni in die pad gestaan het en gewys het die BMW moet stop. Waar hy uit die pad gespring het toe hy sien die bestuurder verminder nie spoed nie, waar die BMW die pad verlaat het reg op Mlangeni af, waar Mangeni in die gras ingehardloop het en die BMW verder op hom afgery het, en van waar daar geskiet is toe die BMW hom rakelings amper teen die grensdraad gemis het... “Bliksem, maar dit is mos poging tot moord hierdie, is jou konstabel okay moet ons nie die Distriksgeneesheer vir hom uitkry nie?” vra die Kolonel terwyl hy kopskuddend na Koekies se ‘broady’ kyk. “Die hoer se kliënt het ons man amper doodgemaak, het ons nie ‘n registrasienommer nie?” “Nee Kolonel” lieg ek. Toe alles gaan lê het, spoor ek die eienaarskap van die registrasienommer wat ek memoriseer het op en skakel ‘n huis in Waterkloof... “Hello”, kom so eg Afrikaans beleefd, die pragtigste dogtertjie stemmetjie my aan die anderkant tegemoet. “Waars jou pappa?” vra ek “Hy is by ‘n konferensie oom, in Johannesburg...” “Dankie ek sal weer later bel” Drie spanningsvolle dae later is Nurse gepoeier, met hoë hakke en kondome in die handsak langs die pad...ek was nog nooit so bly om ‘n hoer in ‘lewende lywe’ te sien nie. Wat die man van Waterkloof betref, die koeëlgate in sy BMW se deur en sy smaak in vroue is sy geheim, en Koekies se ‘broady’ ons sin, ’just in case...’
Jare later beval die ongewone voorreg my om as Adjudant Offisier van ‘buite’ af, as misdaad fotograaf in die destydse Kriminele Buro opgeneem te word, en kry die ‘hoerjaery’ vir my ‘n totaal ander ‘kleur’ Dit was 1986 – 1990, en die Polisie se ‘Drank Dobbel en Ontug’ afdeling het hulle hande vol gehad met die ‘gesellinne’ wat soos ‘paddastoele’ in die Jakarandastad opgespring het. Die Kerk het by die Kommissaris geboer oor die ‘gehoer’ en die polisie moes spesiale moeite doen om te sorg dat die psalmdigter se manewales nie by die volk opgeneem word nie. Om ‘n ‘hoer’ te vang was nie meer net van buk en bekruip en betrap nie, nee - dit het ‘n volle ‘uitoorlê’ gekos. Dit het beteken dat ‘n hele nuuskierige, toegeruste span van die Staat, met top tegnologie ‘n lokval moes stel vir die gesellin. Die Polisie sou twee aangrensende hotelkamers huur en verkieslik ‘n reservis of indien dit nie anders kon nie, moes ‘n polisieman die lokvink oftewel die ‘lokvoël’ wees. Die hele span wat die hoer moes vang sou in die kamer langsaan wag, en die lokvink in die ander kamer. Die lokvink is toegerus of eerder ‘uitgereik’ met ‘n vulpen of klein sakrekenaar wat eintlik ‘n mikrofoontjie in gehad het – een wat ons by veiligheid se ‘gadget toonbank’ moes gaan uitboek. Die gesellinklub is geskakel en ‘n dame is bestel vir die lokvink langsaan.
Die opdragte en prosedure was duidelik: “Jy mag nie penetreer nie my ou maat dit is die reël” en die lokvink knik sy kop en almal grinnik. “wanneer die gemerkte geld in haar besit is en julle is genoegsaam ontklee om die daad te impliseer, verkieslik moet sy heeltemal kaal wees, dan gee jy die sleutelwoord – gebruik, ‘jyt mooi tiete’. Jy moet dit duidelik sê sodat ons dit deur die mikrofoon kan hoor. Ons sal dan in die kamer instorm met die fotograaf voor en jy moet wegrol of iets want dan gaan die kamera praat...” Dit was my eerste keer, en toe ons in die ‘kamer langsaan’ wag nadat die oproep gemaak is kyk ek die span so en wonder hoekom daar so baie manne moet wees. Een fotograaf is voldoende, twee manne van die eenheid omdat hulle ervare is en die storie ken, ‘n polisie vrou vir die visentering, en dan die ‘voël in die wagkamer’. Maar daar was ek tussen sewe onnodige mans en ‘n polisievrou. Snaaks hoe ‘n kaal vreemde vrou vir ‘n onseker man soos ‘n karkas vir ‘n lafhartige hiëna kan wees... Hoewel ek verplig was om ‘op te tree’ wanneer hulle my dienste benodig het, het ek van die eerste dag af ‘n renons in die ‘lokval’ gekry. Die vernedering vir die vrou in haar naakte privaatheid het my altyd bygeval en sal my ook vir altyd bybly – kaal gestroop, alleen en in die kak.
Ek onthou die netjiese vrou in wie ek ‘n waardigheid bespeur het. Sy het op die onderlip gebyt en die vernedering kop onderstebo gevat. Ek wou my hand op haar skouer sit, om haar opreg te troos. Sy het dit baie nodig gehad ek kon dit sien. Sy het was alleen moeder vir ‘n dogter wat in ‘n prominente en duur hoërskool presteer het en haar man het hulle midde in die tyd gelos. Al wat die kind geweet het is dat haar ma saans ekstra werk doen, maar sy het niks tekort gekom nie en kon in die skool bly... Ek sou wat wou gee om daardie dame nou te kon kry om haar te vertel dat haar ma ‘n heldin is, nie ‘n hoer nie. Dan was daar die vrou wat uitsonderlik maer was – sy moes hoer om haar kanker bestraling te kon bekostig want sy het kinders gehad wat moes lewe.
Hoer is soos selfmoord jy moet versigtig wees voor jy sommer oordeel – ek het destyds ‘n saak gedoen van ‘n man wat homself geskiet het – ek weet vir ‘n feit hy is in die hemel! Voorwaar is daar etlike hoere wat predikante in die hemel sal voorgaan, baie predikante sal ingaan agter die hoer aan!
Om op ‘n ligte noot af te sluit. Daar was die geval toe daar met die mikrofone fout gegaan het en ons die sleutelwoord nie dadelik gehoor het nie. Skierlik breek ‘n benoude skreeu: “Jyt mooi tiete, jong, ek gaan hom insit!” en toe kom die kalm ervare vroue stem...”nou waarvoor wag jy, maak so!” Ons het so gelag ons het die hoer op vrye voet laat gaan...