Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(‘n Rukkie gelede het Ita ‘n rubriek geplaas waarin sy onder andere na ‘n operasie verwys het nadat ‘n breinaneurisme by haar gediagnoseer is. Dit het my aangespoor om ook my storie te vertel. Alhoewel my ondervinding baie verskillend van hare was, is daar ook tog vele raakpunte.)

Op die eerste skooldag in Januarie 1993 sit ek op die verhoog van Hoërskool Grens in Oos-Londen tydens saalopening en kom meteens agter dat die leerlinge in die saal se gesigte uit fokus is. Ek knyp my oë om die beurt toe en besef dat die fout by my linkeroog lê. Ek kan nie eens my hand op my skoot met daardie oog raaksien nie. Ek bring my hand nader aan my oog. Ongeveer drie sentimeter vanaf my gesig, kom my vingers effens in fokus.

Na skool op pad huis toe, ry ek met ‘n toegeknypte linkeroog by die dokter se spreekkamer aan. Hy vra: “Hoekom gaan sien jy nie liewer ‘n oogarts nie?”
“Omdat ek nie dink die oorsaak van my probleem lê by my oog nie. Ek kon nog tot vanoggend voor skool perfek sien.”

‘n CT-skandering dieselfde middag wys ‘n gewas so groot soos ‘n gholfbal in my linker frontale breinlob. Die oogspesialis sê daar is nie ‘n direkte verband tussen die gewas en my oog nie. ‘n Gewas in die linkerbreinlob sal die sig in die regteroog affekteer. My linkeroog se lens is net om een of ander onverklaarbare rede in ‘n klipharde spasma saamgetrek. Maar ek moet dankbaar wees daaroor, want dit het tot die opsporing van die gewas gelei.

Die neurochirurg wys my op die plate dat ‘n deeltjie van my skedel langs die gewas ook beskadig en baie dun is en dat hy daardie gedeelte van die kopbeen waarskynlik met ‘n sterk, sintetiese plaatjie sal moet vervang. Die operasie om die gewas te verwyder sal plaasvind op Maandag 15 Februarie.

‘n Ongelooflike kalmte van gees neem van my besit. Ek sê vir die Here dat ek so graag my drie seuns, toe onderskeidelik 13, 11 en 8 jaar oud, self sal wil grootmaak, maar as Hy dink dat iemand anders dit beter as ek sal kan doen, ek dit sal aanvaar.

Ek hou aan met skoolhou tot die Vrydag voor die operasie. My ouers kom bly intussen by ons om hand te gee met die kinders en om my rond te ry, want ek kan nie veilig bestuur met net een oog nie. Gedurende die week voor my operasie, daag ‘n interkerklike Christengebedsgroep, bestaande uit ongeveer agt lede as ek reg onthou, onverwags een aand by ons huis op en dank die Here vir sy liefde in die lewe van sy kinders, en vra Hom om my veilig deur die operasie te lei.

Die Saterdag voor die operasie, ontwikkel ek ‘n seer keel en ‘n lastige hoes. Die volgende oggend het ek ‘n swaar verkoue. Ek bel die neurochirurg. Hy sê hulle sal definitief nie die volgende dag onder daardie omstandighede kan opereer nie, maar ek moet in elk geval die middag om vieruur by die Oos-Londen Privaat Hospitaal aanmeld, sodat die narkotiseur my kan ondersoek. Ek gaan later die oggend kerk toe om my Sondagskoolklassie se boeke aan my plaasvervanger te oorhandig. Ek vertel vir een van die ouderlige, wat ook saam met my Sondagskool hou, dat die operasie as gevolg van my verkoue uitgestel sal word. Ons gaan sit sommer op ‘n stapel Sondagskoolboeke in die toringkamer in die voorportaal, wat as stoorkamer gebruik word. Hy sit sy hande op my kop en bid vir genesing. Die Here verhoor sy gebed onmiddellik en ek stap perdfris daar uit. Die neurochirurg kan sy oë nie glo toe hy my die middag in die hospitaal besoek nie.

Ek het krieketkaartjies vir my pa en die drie seuns gekry vir die toets die volgende dag tussen die Springbokke en die Wes-Indiese Eilande op Buffalo Park om hul gedagtes van my af te lei. Ek het ook vir Wederhelf gevra om die kinders die aand na die operasie saam te bring as hy my kom besoek, ongeag hoe goed of sleg ek lyk. Ek glo kinders moet nie bekommerd wonder oor dinge nie; hulle moet my sien soos ek is.

Vroeg die oggend van my operasie, kry ek medikasie om my te laat ontspan. Die suster waarsku dat dit my vaak kan laat voel en moontlik sal laat insluimer. Ek gaan gou vir oulaas toilet toe in my privaat-badkamertjie. Maar die skuifdeur van die badkamer haak vas en ek sit vasgekeer daarbinne. Daar is nie ‘n klokkie om te lui nie. Ek roep, maar niemand hoor nie. Die vaak is besig om my te oorval. Ek gaan sit plat op die vloer. As ek dalk aan die slaap raak, sal ek darem nie ver val nie. Na wat soos ‘n ewigheid voel, kom die neurochirurg met sy berugte vinnige humeur op my af. Hy skop die badkamerdeur af en ek hoor deur die newels hoe hy met die matrone raas omdat sy nie toegesien het dat die deur ordentlik reggemaak is na ‘n vorige soorgelyke voorval nie. Wederhelf daag betyds op om saam met my te loop toe ek teater toe gestoot word.

Toe ek my bewussyn herwin, staan beide die narkotiseur en die neurochirurg, nog steeds in hul groen jurke, langs my bed. Wederhelf staan by my voetenent. Ek hoor hoe die chirurg, met ‘n bloeddeurdrenkte jurk, vir Wederhelf sê: “Moet tog nooit jou vrou teen die kop met jou vuis probeer slaan nie, want jy sal jou vuis vergruis!”

Later het hy aan my verduidelik dat hulle, nadat my kopvel losgemaak en teruggetrek is, ‘n wigvormige venstertjie in my voorkop met ‘n elektriese sagie gesny het. Maar die been word om verstaanbare redes nie heeltemal deurgesaag nie; die laaste millimeter word versigtig met ‘n spesiale beiteltjie losgemaak. Volgens hom is dit ‘n bekende feit dat Europese vroue die hardste kopbene van alle mense op aarde het, maar my gelyke het hy nog nooit teengekom nie. Hy moes na ‘n lang gesukkel naderhand aansienlike krag gebruik om deur die laaste millimeter been te beitel. By die laaste stukkie, glip die beiteltjie en skeur die slagaar wat bloed na die brein neem, oop. Dis hoekom sy jurk so vol bloed gespuit was. Hulle moes toe baie kosbare tyd gebruik om die aar weer behoorlik te heg. En hy het toe nie die dun gedeelte van my skedel met ‘n sintetiese plaatjie vervang nie, want selfs die sterkste plaatjie beskikbaar, is nie eens naastenby die gelyke van my millimeter dik marmer kopbeen nie. Deur die Here se genade was die gewas ook nie kwaadaardig nie.

Wederhelf bring die kinders die aand om my te besoek. Ek lê vol pype en sensors in die intensiewe eenheid en is verskriklik naar. My hare is voorlangs tot agter by my kroontjie afgeskeer en die lang velwond wat uit twee boë vanaf oor tot oor bokant my haarlyn geloop het, is met ‘n netjiese ry metaalkrammetjies geheg. Die seuns staan my wond noukeurig en nuuskierig en bekyk en sê ek lyk soos Tiekie in die sirkus met ‘n reuse kaal voorkop en die rye krammetjies lyk soos my wenkbroue. Hulle vertel my opgewonde van die geweldige ses wat Otis Gibson geslaan het en wat in die ou begraafplaas langs Buffalo Park grond gevat het.Toe gaan sit die oudste twee en kyk na ‘n televisieprogram op die TV in die kamer. Maar my agtjarige jongste staan langs my kopkussing en hou my stip dop. Na ‘n lang ruk vra hy: “Gaan Mamma nou soos oom Jan wees?” Oom Jan ly aan Alzheimers. Ek stel hom gerus, maar wonder self of ek na dese heeltemal reg in my kop sal wees.

Ek spandeer twee dae in die intensiewe sorgeenheid en keer op die vierde dag terug huis toe. ‘n Week later vertrek my ouers ook. Wederhelf en die huishulp sien na my en die kinders om. Maar ek wonder al meer of ek regtig normaal is. Ek het gehoor hoe my ma vir my pa sê dat ek nie myself is nie. Sommer so in my teenwoordigheid, asof sy dink ek sal nie snap wat sy sê nie. My man praat onnatuurlik stadig en onnodig hard met my om seker te maak ek verstaan wat hy sê. As ek nalaat om iets te doen, gee die oudste twee kinders mekaar sulke betekenisvolle kyke. En ek wonder of ek te mal is om te weet dat ek mallerig is.

Ek kom wel self agter dat ek vergeet om te onthou. Ek weet die wasgoed is op die draad en ek weet dit moet afgehaal word. Maar ek vergeet om te onthou om dit af te haal. Ek weet die kinders is uitgenooi na ‘n partytjie. Ek weet wie se partytjie dit is. Ek weet wanneer die partytjie is. Maar ek vergeet om te onthou om ‘n geskenkie te koop en die kinders te stuur. En ek sukkel om op woorde te kom. Ek het nog al my woordeskat, maar kan nie altyd die regte woord vind nie. As ek egter die regte woord een keer gebruik het, sukkel ek nie weer om dit te herroep nie – dis permanent terug. Ek kom agter dat my elfjarige middelste kind, wat ‘n gebore raakvattertjie is, skielik spontaan my onthourol op sy skouertjies neem. Soggens aan ontbyttafel maak hy seker dat sy boeties hul liggaamsoefeningklere, koorlêers of wat-ook-al vir die betrokke dag nodig is, in hul tasse het. Smiddae kyk hy deur almal se huiswerkboekies om te sien of daar iets soos geld vir ‘n koekverkoping nodig is of dalk skeurstrokies wat ingevul en teruggestuur moet word.

Ek is verskriklik moeg en slaap vir lang tye deur die dag. Smiddae na skool kom sit agtjarige Jongste langs my op die bed met ‘n stapel ou Huisgenote. Hy lees die artikels vir my voor. Ek kom agter hy toets my woordeskat en ek kan my lag nie hou nie. Hy lees ook uit die Huisgenotjies vir my voor. “Snap Mamma die grap?”
“Ja, natuurlik!”
“Nou hoekom lag Mamma nie?”
“Ek lag sommer na binne.”
“Verduidelik dan vir my wat die grap is sodat ek kan seker maak of Mamma dit snap.” Eintlik verstom ek my oor Jongste se insig in humor wat selfs ‘n volwasse ondertoon het. Hy verduidelik selfs een grap vir my toe ek my opsetlik dom hou met: “Dis omdat vrouens altyd sê ‘Later, not now’!” Nogal in Engels!

Een middag bring hy vir my ‘n skinkbord met ‘n sny bruinbrood, ‘n homp kaas, ‘n tros druiwe en ‘n glas melk kamer toe. Hy sê: “Ons het vandag van gesonde kos in die skool geleer. Eet nou al hierdie kos sodat Mamma gesond kan word.” Hy sit my ewe streng soos ‘n slang en dophou om seker te maak ek eet elke krummeltjie en ledig die melkglas tot die droesem.

Ek begin bekommerd wonder of ek nog kan wiskunde doen. Sal ek kan terugkeer werk toe? Ek het ook die senior natuur-en skeikundeklasse.

Einde Maart stuur die hoërskool se adjunkhoof ‘n eksemplaar van die Nasionale Senior Wiskunde Olimpiade wat die vorige middag geskryf is vir my saam met Oudste. Ek wag totdat die kinders en Wederhelf die volgende oggend weg is werk toe en skool toe. Ek gaan sit by die stoeptafeltjie met my potlood, uitveër en rofwerkpapier. Ek stel my wekker sodat ek kan onthou wanneer om op te hou skryf. Ek vra die huishulp om my nie te pla nie en om die telefoon te antwoord. Toe trek ek weg met die uur en ‘n half-lange vraestel met my toegeknypte linkeroog. Ek voltooi dit sonder moeite binne een en ‘n kwart uur. Ek ontspan. Ek weet ewe skielik dat daar nie groot fout met my kop is nie. My spastiese ooglens sal wel een of ander tyd weer ontspan as my liggaam oor die skok van die gewas en die operasie is. En dit word ook al makliker om woorde op te haal en om te onthou om te onthou. Dis net die onthou van mense se name wat nog groot probleme lewer.

Die volgende oggend soek ek na my bos sleutels. Ek sien weer hoe Wederhelf en die oudste twee betekenisvol onderlangs na mekaar kyk. En skielik ontplof ek: “Enige mens, soos byvoorbeeld ook julle, vergeet soms waar hulle hul sleutels gesit het! En ek het gister ‘n volle wiskunde olimpiade-vraestel sonder moeite binne die voorgeskrewe tyd voltooi! En ek wed julle nie een van julle kan my dit nadoen nie en ek is meer reg in my kop as julle al drie tesame!” Daar daal ‘n stilte neer oor ons almal in die kombuis. Hulle staar my grootoog aan. Elise is besig om terug te keer en beheer oor haar lewe te neem.

Gedurende die volgende twee weke haal ek my Bernina-naaimasjien, ‘n mondigwordingsgeskenk van my ouers, uit sy kassie. Ek hou my dowwe oog toe en maak vir elke seun ‘n unieke laslappie-duvet-oortreksel van al die oorskietmateriaal van rokke wat ek vir myself oor ‘n tydperk van agtien jaar gemaak het. Deesdae, amper twintig jaar later, slaap my kleinkinders onder daardie duvets.

Middel April spandeer ons gesin Paasnaweek saam met familie in ‘n outydse strandhuis in die ou deel van Jeffreysbaai. Die seuns slaap onder hul nuwe duvets. Die familie bewonder my handewerk en ek voel so goed en dankbaar. Ons ontspan heerlik en loop lang ente langs die see. Vroeg op Paassondag lê ek na die plafon en kyk – en besef skielik dat my sig terug is! Ek maak vir Wederhelf wakker en sê my sig het teruggekeer op die Here se opstandingsdag.

Einde April is ek terug by die werk. Ek hou van my bekende klaskamer aan die agterkant van die skool. Ek hoor nie van daar af die alewige gepieng-pieng van die vlagtou in die seebriesie teen die voorste vlagpaal nie. Ek het ‘n uitsig oor die oseaan en soms sit daar ‘n witboskraai in die koraalboom voor my venster.

My leerlinge lag eers vir my borselkophaartjies wat aan die uitgroei is en toe begin ons volstoom werk. Ek maak lysies wat ek op my werkbank plak om my te help om nie te vergeet om te onthou nie. Ek sê vir die kinders ek kan nie hul name dadelik onthou nie, maar dis besig om terug te kom. Ek is geskok om te sien dat die vrou wat in my plek afgelos het die volle twee maande gebruik het om werk met die matrieks te doen waarvoor ek net twee weke begroot het. Ek sê vir hulle: “Julle sal my moet help. Ons sal moet werk soos nog nooit tevore nie. Ek wil nie hê julle moet aan die einde van die jaar swak doen nie, want dan gaan almal sê wat anders kon mens verwag van ‘n onderwyseres met ‘n breingewas.” Omdat ek hulle reeds in standerd nege gehad het, weet ek dis ‘n klomp staatmakers wat voor my sit. En ek is vandag dankbaar om te kan getuig dat hulle my nie teleurgestel het nie.

So ‘n paar weke later gooi ek een middag ‘n krieketbal op ons grasperk vir Middelste om sy nuwe kolf uit te toets. Hy moker een van die balle reguit na my terug en tref my vol op die regteroog. Die volgende dag lê my leerlinge soos hulle lag vir my toegeswelde pers oog, maar niemand het die vrymoedigheid om te vra wat gebeur het nie. Ek hou hulle in die duister. Halfpad deur die natuur- en skeikundeperiode steek een van die matriekseuns sy hand op en vra ewe formeel vir ‘n spreekbeurt. Hy sê: “Juffrou, ek praat namens die hele klas. Ons weet nie wie Juffrou se oog so toe geslaan het nie. Maar ons is wel seker daarvan dat Juffrou se opponent vanoggend veel slegter as Juffrou lyk! En ons wil u net graag daarvan verseker dat ons almal aan Juffrou se kant is! Dankie.”



Wat het ek uit hierdie hele ervaring met my saamgeneem die toekoms in? Basies vier dinge.

1. Die gebed van ‘n gelowige het groot krag. Behalwe my familie, vriende en gemeentelede, het gebedsgroepe so ver as Namibië vir my ingetree by die Vader. Ek het deurgaans daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan waarvan die Bybel praat, ondervind.
2. Ek het vir twee maande tot stilstand gekom en weereens besef dat rustige tyd saam met my man en kinders kosbaar is. Ek het geleer ek mag soms met grasie “Nee!” sê as mense aanhoudend beslag op my talente en tyd wil lê.
3. Ek het opnuut die waarde van lojale vriende ervaar; in my geval by uitstek my leerlinge. As mens elke dag jou beste vir ander lewer en deurgaans bereid is om die ekstra myl te stap, sal hulle jou op die hande deur vuur dra. Mens kan dit seker op enige beroep van toepassing maak.
4. Ek het veral geleer dat ‘n mens se brein die hoogste sentrum van beheer in jou lewe is. As jy liggaamlik gestremd is, kan jy jou brein gebruik om planne te beraam om met jou gestremdheid saam te leef. Maar as jou brein gestremd is, kan jy jouself nie help nie. Dit het my geduld geleer met mense en leerlinge wat minder talente as ek ontvang het. Kortom: dit het my geleer om dankbaar te lewe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

*
Pragtig! Dankie vir die deel.
7 jaar 1 week 1 dag 21 ure oud


sjoe
Baie mooi getuienis
7 jaar 2 maande 2 weke 5 dae 14 ure oud


Kinders
Dankie vir die deel Elize. Ek beaam alles hieronder gesê. Wil net byvoeg dat ek dit besonder baie geniet het om te lees hoe jou kinders op die situasie reageer het.
7 jaar 3 maande 3 weke 12 ure oud


Vergeet
Uitstekend stekend stekend!! En so motiverend! Praat van hardkoppig EN supervrou. Ek is erg beindruk!!!! Baie dankie vir die 4 lesse.
7 jaar 3 maande 3 weke 16 ure oud


Vriendin!
My stuiwer in die aambeurs vanaand (so op my verjaardag) staan ek met hoed in die hand(as ek kon) en buig voor die nederigheid, dankbaarheid en begrip van mense wat deur 'n werklike smeltkroes gelouter is! Julle is mentors vir ons. Julle ruk mens terug na realiteit. Julle maak mens skaamkry vir die geloofs-onvermoë of liewer geloofs-wantroue in jouself. Dankie vir hierdie kosbare lewensles en waarderingswaardige bydrae.... om oë van sienende blindes oop te maak!
7 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 10 ure oud


Breinoperasie
Staande applous vir jou as mens, vir jou sterk geloof en vir al jou wonderlike vriende. Baie dankie dat jy hierdie wonderlike, inspirerende bydrae met ons gedeel het.
7 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 22 ure oud


Elise
Inspirerend!
Dankie vir die deel daarvan - ek moet jou en jou gesin gelukwens met die manier hoe julle die krisis hanteer het.

Jy mag maar trots wees op hulle.
7 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 22 ure oud


Ita
breinoperasie
dankie vir jou vertel Elise,ek het elke oomblik saam beleef en onthou weer die hol kol in my maag voor die teater en die volkome veligting toe ek bygekom het ennie verlam was soos voorspel was nie.Ek het nog'n duidelike duik langs my linkerslaap waar die valdeur gemaak is om in my skedel te kom.Ek is volkome genees,en was dankbaar om 5 mde daarna by Matrieks te kon instap 10 dae voor hul rekordeksamen en vrag werk te kon klaarmaak waarmee hul agter was,nog 5 ander grade se werk te kon doen,als verskillende grade ,en te kon instap en Life Orientation doen met matrieks oor equity law,wat ek boggerol van geweet het.Ek was verheug om te kon ervaar met my brein skort niks ....maar ek kan nie lekker onthou nie.Ek vergeet om te onthou wat ek vergeet het,en moet wekker stel vir alles,soos om te onthou iets gaan gebeur,nou kan ek en my gesin spottender wys sê dis my gatkoppie se skuld.Die Here is 'n wonderlike geneesheer en gebed het so baie baie krag!
7 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 23 ure oud


Elise
Baie dankie vir hierdie inspirerende stuk. Ek glo vas dat 'n positiewe uitkyk die gesondwordproses aanhelp.
7 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 23 ure oud


vergeet
Bly jy het goed herstel met belangrike hulp van Bo.
7 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 2 ure oud


Elise


. . . . dis nou regtig die geval van die liriek:

‘onthou om te onthou’

‘vergeet om te vergeet’
7 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 4 ure oud


Vergeet . . . .
Beide hierdie en die skrywe van Ita asook enige ander skrywes van ons "familie"
Is Noodsaaklik.
1. Mens moet praat sodat dit nooit gesê kan word : "Ons weet dan van niks."
2. Ek glo dat niemand vertel met die doel om enige vorm van simpatie te kry nie eerder om die suksesse van Seën, uithou, aanhou,oorwin en vreugde, agterna te deel.
3. Motifering en inspirerend. Die lewe is vol kinkels en draaie en met kalme Geloof, vertroue, selfvertroue en selfdoen, word hierdie kinkels ge-reguit.
Laaste maar nie die minste. Die mens is broos en sy lewe op hierdie Aarde is tydelik. Deur te weet sal alle ander versterk en geïnspireer word om ook soortgelyke krag te vind. Dan ook is 'n skielike wending soos die stil van vriend se stem, ook nie 'n onaangename verwyt nie.

Dankie vir jou skrywe.

Dit was my doel van skryf en ek glo ook elk ander.
7 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 8 ure oud



MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar