Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek beny die ou mense. Die lewe het diep kepe op hulle gesny, en tyd het hulle gefolter met ontberinge…maar ook seker niks meer of minder as ons nou nie…

Maar daar was uitkoms.

Jy kon op jou perd of in jou Chev’ ses myl ry, tot waar niemand jou kan kry nie. As jy seer was kon jy iewers onder ‘n wilde-kweper gaan sit het en snot en trane gehuil het. Jy kon dan jou oë op jou tyd kouewater gelawe het waar niemand kan sien nie, en in jou saligheid weer aangaan met jou lewe.
Ja, jou skouers hang ‘n bietjie.
Ja, jy praat bietjie minder.
Maar elke dag het jy daai net-my-eie-tyd net vir myself. Weg tyd.

Met tyd, as almal jou net uitlos, raak dit dan beter.
Jy kon net sowel in die Kongo wees as in oom Faan se langgrasveld. Niemand weet waar jy is nie, en niemand kan jou kry nie.
Jou enigste vrees was om in die dorp vas te loop in iemand waarmee sake verkeerd geloop het. Jy kon maklik die “waar-ons-was” spesiale plekkies van jou verlore liefde vermy. Jy kon die reuke van die plekke wat seer was omseil. Die afgestorwenes was heeltyd dood, en jy het net ‘n boks kiekies oorgehou waaraan jy later gewoond geraak het aan die kyk, en waar die pyn saam met die ‘eternal polaroid ink’ vervaag.
Die vinnigste wat jou skandes kon sprei is tot iemand vergeet om dit oor te vertel. Of dat dit nie meer belangrik is nie. Dan hou dit op. Niks het viral gegaan nie. Niemand het jou post geshare tot almal weet nie.

Deesdae is die seer oral. Dit omsingel jou soos mis. Daar is nie meer iewers weg nie. Jy kan wragtig nerens meer gaan sonder om herinner te word nie. Jou foon sing teen jou, al wens jy hy doen nie. Hulle kry jou tot onder die brug waar niemand daai tyd jou eers gevang het toe jy skelm gerook het nie.

As jy deur jou e-pos soek na ‘n lank terug iets is dit daar. Die dreigement van ‘n bank wat jy lankal vergeet het steek weer diep. Die stukke van ‘n slegte hofsaak word weer gelees. Gebleikte drome van projekte wat nooit gebeur het nie.
Jy tik dalk die name in die ‘Aan’ veld en addresse van mense wat jy nooit weer wil sien nie pop op. Die stomme sagteware het tog geen manier om te kon weet nie…
Dis die tyd van Nooitvergeet (of miskien is dit net die tyd van Altyd-herinner).

In my Whatsapp is daar die voicenote van jou op my verjaarsdag. Nou is jy dood. Ek wil dit nie weer luister nie, en ek mag dit nie wegvee nie. Dis daar soos ‘n dissel in my hare.

Hoe oorleef die weggegooide lovers? Waar hardloop hulle heen? Elke dag ‘n Facebook like. Nuwe fotos. Lag.
Kan jy jou indink hoe dit voel as daar elke paar dae vars met gister naels in jou pyn gekrap word? Wonde wat nooit kan toe nie. Soos jy dink die spore raak dof, stap die een weer oor die gladde sand. Nuwe wegsak.

Maar die goeie bly ook beter. Ek kyk baie oor wat my bly maak en hulle bly vars. Die papier by Google bly wit, en die rante van die letters loop nie.

Ons kinders sal seker beter gestaal wees teen mislukking. Hulle pyne is al van vroeg af in die oop. Hulle leer openbare verwerping en openbare oorkomming. In die flitslig van almal se kyk is hulle seer helder. Later pla dit hulle seker minder. Hulle word seker stomp en apaties oor dit.
Dis net ons, die altwee-kanters wat gaan sukkel. Die ou kant en die nuwe kant. Net ons kan nerens gaan vergeet nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

onthou net jy sal nooit kan vergeet nie
baie lekker gelees aan hierdie stuk.. ja so word mens vandag in n tegnologiese wereld vasgevang teen wil en dank
4 jaar 1 week 5 dae 22 ure oud


vergeet
Goeie sosiale kommentaar wat jy hier pen en ja tot tyd en wyl tegnologie die gees gee, gaan dit by ons spook. Ons is almal vasgevang in die "web"
4 jaar 2 weke 1 uur oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    drafstap deur my gemoed

    deur helna

    ek noem my bundel drafstap deur my gemoed, want ek wil hê jy as leser moet saam my daagliks voel wat ek voel en ek glo ek gaan jou aanraak...



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar