Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die koöperasie op ons dorp was altyd die bymekaarkomplek vir die boere van die distrik. Veral op ‘n Vrydag, wanneer die skoolkinders kom haal word vir die naweek. Ek sê was, want dit was so toe ek nog ‘n kind was. Deesdae, lyk dit vir my, het die koöperasie ‘n onpersoonlike, selfhelpwinkel geword. Vroeër jare was daar ‘n langerige toonbank, waar jy kom staan het, en vir een van die klerke gevra het waarna jy soek. Hy het dan tussen die rakke verdwyn, en teruggekeer met jou item, waarná jy dan betaal en uitstap.

Die boere staan oral in groepies en gesels, en vra uit na mekaar se welstand.
“Môre ou Gjert! Hoe lykit, hê’ jy darem al ‘n bietjie reent gehad?”
“Môre Willem! Neeeee jong, my ooie moet lam en die groenigheid raak nou skaars. Ek wetie wat hierie jaar aangaan nie. Assit nie gou kom reent nie, sal ek moet beginne voergjee. En die mielies raak nou juis so duur!”

Dit was min of meer die trant van die gesprekke. In ‘n ander groepie word daar bespiegel oor die komende verkiesing, en sommige manne bespreek die wenslikheid van die gekose pak voorspelers van die Springbokspan, en die huidige prys van skaapwol. Een staan met ‘n nuwe draadtang, wat hy so pas gekoop het in die hand. ‘n Ander een soek ‘n waster vir ‘n windpompsilinder. Gawie Malang (seker eintlik Malan, maar almal spreek dit uit met die ‘g’ op die end ) moet bontstaan agter die toonbank.
“Koos!” roep hy agtertoe, “lai gou daar vir baas Willem ‘n sak lêmeel en ‘n mud boermeel en ‘n emmer koekmeel. Oom Willem, trek maar om, Koos sal jou goedjies vir jou lai.” Gawie hardloop tussen die rakke in en kom terug met ‘n “ghelling” olie vir oom Gert se Massey Ferguson. Oom Gert staan nader. “Ag ou Gawie, gjee maar sommer twee dikwiel taaiers vir ou Piet se baaisiekel ok. En twee tjoeps. Sit sommer pêts en seloesin ok by, lat die ou bogger ‘n slag sy papwiele self regmaak. Ek bly aan’t tjoeps koop,” mor oom Gert. So verloop ‘n tipiese Vrydag in ons “kopperasie.” Maar ek wil by oom Kallie uitkom.

Oom Kallie Suutjiespoep was ‘n afgetrede boer, en het ná sy aftrede dorp toe getrek. Hy was ‘n redelik welgestelde man, maar vrek suinig. Een oggend ry hy “kopperasie” toe, om te loop kyk of hy vir sy vrou, Ant Hessie, ‘n gieter kry. Sy kla al vir weke lank oor die stukkende sinkemmer wat sy moet gebruik om haar plante op die stoep nat te gooi. Mor-mor klim oom Kallie in sy bakkie en ry straat-af. Hy stap by die koöperasie se voordeur in, sy kakiebroek op sy maag kropgevat met ‘n stuk baaltou, sy velskoene asvaal van die stof, en sy verslete ou baadjie se moue effens aan die kort kant. Gawie Malang gewaar nie vir oom Kallie nie, want hy is druk besig om te skryf in ‘n boek op die toonbank. Hy het die vorige dag “stock” gevat, en nou sukkel hy om die syfers te laat klop. Gelukkig is dit stil in die winkel en kan hy die tyd gebruik om die fout te soek. Oom Kallie sien dat Gawie salig onbewus is van sy teenwoordigheid, en hy glip óm die punt van die toonbank, tussen die rakke in. Ná ‘n rukkie kry hy wat hy soek. ‘n Klein ou “plêstiek” gietertjie, nét reg vir ou Hessie. Dit is ook die laaste een in die rak, half weggesteek onder ‘n klomp ander goed.

Stil soos hy gekom het, stap oom Kallie weer terug, tot by Gawie, wat kop in die hande na die boek voor hom sit en staar. Oom Kallie sit die gietertjie op die vloer, tussen sy voete neer.
“Ou Gawie,” teem oom Kallie, “hê’ jy dan nie vir my ‘n ou gjietertjie nie?” Half geïrriteerd kyk Gawie op. “Oom Kallie, as jy ‘n gieter in hierdie kopperasie kry, kan jy hom maar vir jou persent vat!”
“Nee ma’ reg ou Gawie, da’ loop ek ma’ eers.” Oom Kallie buk af, tel die gietertjie op, en stap uit. Gawie kom tot verhaal en sy oë fokus weer. ‘Wat wou oom Kallie nou gehad het?’ Dan skiet dit hom te binne, en hy storm deur toe.
“Oom Kallie! Wag!” Maar oom Kallie se maer beentjies het hom reeds tot by die Datsun bakkie gedra, en hy trek in ‘n stofwolk weg. Wat nou gemaak? Gawie besef die gieter was op die winkel se voorraad-lys, en nou is die ding weg. Oom Kallie sal moet betaal.

Ná werk ry Gawie na oom Kallie se huis toe. Hy verduidelik die situsasie aan die oom, maar oom Kallie hou voet by stuk. Gawie het gesê as hy ‘n gieter in die kopperasie kry, kan hy dit maar vir hom persent vat. Hy hét een gekry, en toe maak hy soos Gawie gesê het! Dreigemente van ‘n saak van diefstal het geen uitwerking nie. Gawie besef dit is nodeloos om met die ou man te redeneer, en keer onverrigter sake huis toe. Die volgende dag betaal hy maar die geld vir die gieter uit sy eie sak, en skryf ‘n kwitansie uit in die naam van oom Kallie. Hy sal ná werk die kwitansie vir oom Kallie vat. Miskien versag die ou se hart, en betaal dan maar.
“Hier is oom se kwitansie vir die gieter. Nou sal niemand darem kan sê oom het die ding gesteel nie!” Gawie kyk die ou man hoopvol aan.
“Nee ma’ dankie vi’ die voldaantjie ou Gawie! Jy is reg, niemand sal kan sê ek het die ou gjietertjie gesteel nie. Stom draai Gawie om, oom Kallie se kekkellaggie in sy ore.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kallie
so n ou wetter soos Jn sê. Jy is reg kooperasies is nie meer wat dit was ni en plaaswinkel bestaan nie meer nie
5 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 17 ure oud


Kallie.
so 'n ou wetter! jy laat my nou baie ver terug verlang. Waar is die plaaswinkeltjies waar jy van 'n vlooi tot 'n olifant kon koop.
5 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 23 ure oud


Kallie
Blerrie Ou Kallie, mog hy dit duwwel en dwars iewers anners verloor!
Alweer lekker hieraan gelees.
5 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 8 ure oud


oom Kallie
so n swerkater!!! hehehehe ja so kry mens alle soorte mense ne!!!! my pa se altyd ryk mense is so ryk omdat hulle so suinig en inhalig is... hehehe lekker gelees
5 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 9 ure oud


Oom Kalie
Ek weet van baie meer as een oom Kalie
Van die wetters het tot tools uit my workshop gesteel

Mooi storie die ene
5 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 11 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

ROEPSTEM

deur Charmain*

Charmain Potgieter besit die vermoë om ʼn leser gevange te neem in haar beeldryke digkuns. Haar woorde vorm en vloei gemaklik in mens se gedagtes met ʼn belofte om te bly. By die lees van haar gedigte staan ek telkens opnuut verwonderd oor haar wonderlike gawe wat sy met soveel passie oordra. Haar werk is in diepte verrykend en laat altyd stof tot nadenke en iets kosbaar om te bêre in die hart. Ek kan haar bundel met die grootste vrymoedigheid voor elkeen met ʼn liefde en koestering vir digkuns kom neersit. Karen van der Merwe



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar