Weergawe: 1
Aantal woorde: 720
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 17 Aug 2011
Hordes operasies en etlike chemosessies later, bevestig die dokters dat die tentakels van kanker te diep vasskop. En hoop begin soos seesand deur ons vingers wegglip.
Nukkerige oë onder ruie wenkbroue en 'n streng snor, bewend van verontwaardiging, lê in 'n hospitaalbed. 'n Waarskuwing: "PLEASE DO NOT SHAVE MR VAN HEERDEN!", met die hand geskrywe op 'n stuk papier, gluur kwaai van die muur af. My ma, Mevrou, sal. Mevrou ruil ook die doeke.
Mister word mettertyd Oupa en Mevrou kry 3 etes per dag. Want die hospitaal is nou hulle huis. Die punt van Oupa se hart, die oogappelkleinseun, die stil outjie met die mooi blou oë en skaam glimlag, skryf eksamen. Derdejaar BComm Rek word instudeer in 'n hospitaalkamer, binne armlengte van Oupa. Hy verlaat die kamer slegs om te gaan eksamen skryf en te gaan stort. Slaap selfs in die stoel langs Oupa se bed.
En my bekommernis oor daai laaste skof in die pylvak neem toe. Miskien is daar tog 'n hemel vir mense wat halfpad glo? Nie? O jitte. Kan hy nie net jok en sê alles het reggekom nie? My wyse vriend Christo vra sou JY jok, as die rolle omgekeerd was? Nope, nie maklik nie.
En my sussie daag op met 'n "vriend" (toevallig haar dominee, kan jy glo?) en hulle kom net inloer vir 'n rukkie. En later, toe al die besoekers weg is, vra Oupa wie was die man met die wit klere? En my ma probeer onthou, maar daar was te veel mense. Haar kop is in elk geval te deurmekaar.
Oupa hou aan oor die man, dwarsdeur die hele volgende dag en Ouma probeer onthou. En sy moet fyn trap, want Oupa se brein is vlymskerp, selfs flinker as ooit. En hy wil weet wanneer kom die man met die wit klere weer kuier en my ma dink en dink. Die volgende aand onthou sy! Ag man, dit was mos daai vriend van sussie, Sebastiaan!! Oupa frons en sê ag magtag, ek WEET wie is Sebastiaan! Die man het LANGS Sebastiaan gestaan! En Ouma se oë vernou. Want daar was geen ander man nie.
'n Paar dae later sê Oupa my ma moet opskuif en plek maak, want sy staan voor die man met die wit klere. Maar dis net hulle twee in die kamer. En Saterdag kyk ons almal saam die Bulls vs Sharks en hy ken steeds elke speler, bereken die telling en maak 'n grappie toe sy span verloor.
Sy verjaarsdag en vadersdag kom en gaan. So ook sy kragte. Maar sy brein bly kristalhelder en vlymskerp, dikwels tot sy magtelose frustrasie.
Kleinseun se eksamen is verby, nou kan hy al sy tyd saam met sy Oupa spandeer. Dinsdagaand is ons toevallig almal gelyk by hom, net Kleinseun en sy sussie kom later - hy het haar by 'n opvoering gaan haal waar sy opgetree het. Oupa is bitter swak maar prewel iets van Kleinseun en ek sê hy kom nou-nou. Ek maak 'n grappie oor my ma se (aaklige) kopdoek en Oupa frons en sy voorkop trek beneuk op 'n plooi. My ma haal die kopdoek af en hy sug verlig. Teen elfuur besluit ons almal om te ry, net toe Kleinseun daar aankom. Ek gaan staan langs sy bed, hou sy hand vas en vra ag Here, kan hy nie maar gaan voor die ergste lyding begin nie. En terwyl ek met toe oë staan, voel ek my kind se lyf van die kant af teen my druk, ek voel die warmte van die seunslyf teen myne en ek maak my oë oop. En my seun sit doer anderkant op 'n stoel. En ek weet.
Skaars tuisgekom, kry ek 'n sms van Kleinseun: "Die engel het vi di laste keer kom kuier en vi oupa sam hom gevat". Ek sms terug: "Oupa het vir jou gewag, seun".
En toe ry ons terug hospitaal toe ...
Lees ander rubrieke deur tanisoo
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur borrels
ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart