Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Pa, jy verjaar eersdaags. Dit sal jou eerste verjaarsdag in die hemel wees en ek verlang. En noudat die pyn van rousmart minder is, kan ek myself toelaat om jou weer in daardie groot wit bed te onthou. Die bed waarvan hulle die gordyne toegetrek het . . .

Jou mooi kunstenaarshande waarmee jy soveel dinge gebou, onderhou en ook afgebreek het, omklem die laken. Hulle is geswel, pa. Die are lê blou, soos riviere, sterk vloeiend op die bleekwit hande. Of vloei die bloed nou stadiger, pa? Noudat jou ure minder geword het.

Jou swart hare met die strepies grys daardeur gevleg, lê effe deurmekaar teen die kussing. Jou eens groot manlyf, nou klein onder die laken wat jou saggies toemaak en al die pype verberg teen ons wat kyk, maar nie wil sien nie. Ons wil jou nie só sien nie pa.

Wanneer jy jou blou oë oopmaak is hulle blouer as die hemelblou van ‘n Namib sonskynskyndag. Blouer as gister en al die vorige dae in hierdie hospitaalbed toe pyn hulle dof en grys verkleur het. En dit is toe dat ek geweet het. Ek het geweet pa. Dit sou n laaste dag wees. ‘n Laaste blousel blou wat ek kon onthou. En ek onthou wel, pa.

Jy is swak wanneer jy vir water vra en wanneer ek die water vir jou aanbied, drink jy dorstig. Water vir lewe. . . Met jou dors geles, lê jy terug teen die kussings. Die heel laaste reis het vir jou begin pa.

Jou reis sluit ons uit, pa. Ons sit voor jou bed. Woordeloos. Ek ma en jou drie dogters.
Jy beweeg van bekend na onbekend. Prewel onhoorbare woorde en dit word duidelik dat jy al verder van ons af weggaan. Met elke tik van die sekondemeter word jy dieper ingetrek na daar waar ons nog nie sien nie. Jy word mooi pa. Jou gelaat versmelt in sagte lyne op jou gesig. Voor my oë word jy sag en weer jonk. Jy praat met die stem van n klein seuntjie onverstaanbare woorde pa, en 'n koue wéét kom lê in my hart.

Wanneer ons weer kom, is die gordyn om jou bed toegetrek. Ek prewel jou naam, en n skor geluid kom uit my binneste. Jou voorkop is nog warm onder my lippe wanneer ek jou groet pa. Langs jou bed die waterglas, nog vol. Jou dors nou geles met die water van Lewende water, pa.

Jy verjaar binnekort pa. Jou eerste verjaarsdag in die hemel. En ek mis jou so.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jou pa
Sjoe, dis hartseer. Het my so laat verlang na my stiefpa wat onlangs oorlede is.

Die groot manlyf, klein onder die laken ...
Die blou oë ...
Die toegetrekte gordyn ...

En die skielike besef dat 79 jare vol kennis en ervaring net eensklaps WEG is!!
9 jaar 5 maande 1 week 3 dae 2 ure oud


Ai Marina... hoe verskriklik mooi het jy darem maar nie hierdie happie geskryf nie... jy't al wat 'n herinnering is wat ek van my "dad" het waar ek sy hand vasgehou het toe hy "hemel" toe is, laat herleef. Ek mis hom **TOTALLY**

DANKIE dat ek saam met jou in hierdie happie kon deel.

Groete
Willemien
10 jaar 7 maande 7 ure oud


Pa,, ek onthou!
Ai nou is ek in trane dankie hoor! Dit laat my terugdink aan 'n tyd toe ons ook moes groet langs 'n bed waar 'n groot man ook klein in sy wit bed met sy blou oë vir ewig gesluit gelê het! Hartseer sake. Jy het hierdie onthou so mooi geksryf mens kan nie anders as om saam te onthou en te treur! Jou Pa was ook een van 'n paar sterk, aantreklike en besondere Jacobs-mans, en ek dink ons elkeen mis hul ook op ons eie manier. Die stukkie gaan gunsteling hoekie toe!
10 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 11 ure oud


Dit is so diep geskryf Marina en ek is so na aan trane. Dit het my laat dink aan my Pa se sterfbed, hy was so bang en het my hand so hard gedruk, wat my so geruk het is dat die sterk en trotse man so weerloos daar gelê het. Ek plaas hierdie een by my gunstelinge.
10 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 2 ure oud


Pa, ek onthou!
Dis 'n seer storie so iets! Sterkte
10 jaar 7 maande 3 weke 5 dae 3 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Van liefde en so ...

deur Robelle

Verse oor liefde in blom, in krisis, verlore ... verwerkte grappies in digvorm



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar