Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Stop die bus! Net omdat my sosiale lewe ‘n nul op ‘n kontrak is, beteken nie my 10-jare s’n is ook nie. So kry hy toe laas week ‘n verjaarsdag uitnodiging van ‘n maatjie. En met groot ogies smeek hy of ons nie eerder op ‘n ander naweek ons spesiale ma-en-seun-naweek kan hê nie, want hy wil so graag na die verjaarsdag gaan. Dit sluit ‘n vliek en middag ete by die Spur in. Kan sommer sien hy’s huper opgewonde daaroor, so ek moet my eie opgewondenheid opsy sit vir ‘n paar weke. Hy’t nie juis baie maatjies nie, so partytjies is min en ver uitmekaar. Ek onthou toe hy kleiner was, moes ‘n mens behoorlik rondspring op Saterdae om die kinder partytjies in te pas. Die beursie het net so gesukkel om by te bly, want natuurlik word elke geskenk met sorg uitgekies (“solank dit nie meer as R…… is nie” keer ek met elke duur ding wat my seun wil inlaai in die trollie).

Die partytjie-adres word met balonne aan die posbus aangedui en jy’s bly dit was maklik genoeg om die huis te vind. Jou kind verdwyn die huis in nog voor jy die kar se alarm kan aktiveer. Kinders gee mos nie om wie se huis dit is nie. Dis net grootmense wat skugter-skugter die voordeur binne tree. Vinnig loer jy in die eerste vertek tussen die mense rond en hoop jy sien iemand bekend. Jou moed sak tot in jou skoene en jy glip maar liewers so agterlangs verby tot in die tuin. Volg net jou ore tot by die groot geraas van kiddies wat rondhardloop en lag en gil.

Nou kom die opsies.

Logiese opsie nr. 1: Jy vind ‘n stoel en hou die kinders dop. Hopelik lyk jy meer na ‘n belangstellende ma as na ‘n patetiese “ek-sit-maar-hier-in-die-hoekie”-meisie. Sekerlik sal iemand nou-nou met jou ‘n geselsie aanknoop of ‘n koppie tee aanbied.

Veilige opsie nr. 2: Jy stel jou aan die naaste vreemde mammie voor en hoop dis nie een van die ma’s wat by die juffrou gaan kla het oor jou stout kind se gedrag nie. Daarna is dit tenminste ‘n uur van mamma-praatjies. Woepie!!! Bytvas.

Gewaagde opsie nr. 3 is om jouself by die manne se groepie in te wikkel; kanse is goed dat jy ‘n warm ontvangs sal kry want hulle is min gepla. Dis ‘n makliker groep as die dames en die geselskap is beslis nie oor baba’s, doekie of wasgoed nie. Jou goeie grappie word opreg waardeer en nog meer die feit dat jy kan saampraat oor dinge waarvan vroulief gewoonlik niks weet nie. Enigste probleem is dat dit voel asof ‘n paar dames jou liederlik aangluur. Gelukkig ken hulle jou nie so goed nie, want indien hulle boonop moes weet jy’s al 9 jaar geskei………. (ha-ha!)

Naas opsie nr. 3, is nr. 4 by vêr my gunsteling. Jy sluit jou so vinnig moontlik by die kinders aan. By ‘n springkasteel help jy die kleinertjies om ‘n kans te kry en voor jy jou oë uitvee staan ‘n hele klompie opgewonde kleuters in lyn om deur jou gehop of geswaai te word. Maar weet net dat jou arms die volgende dag soos lood gaan voel van die pyn. Indien die partytjie ‘n swemmery insluit swem jy saam. Die ma’s is gewoonlik baie verlig dat daar ‘n ekstra ogie is en nog meer dat die haartjies wat gister ten duurste by die haarkapper laat doen is, ongeskonde kan bly. My kind noem altyd hoe lekker hy kry dat sy mammie al mammie is wat wil saamspeel.(vir NOU natuurlik, daai dae raak getel) Dis als hope pret en die tyd vlieg behoorlik verby.

So dis kortliks my Kinder Partytjie 101 vir die dag. Dalk vind jy dit makliker as ek en voel dis bietjie oordruif van my kant. Dalk het jy nie benul hoekom dit vir my so ‘n “issue” is (was) nie.

‘n Paar jaar later word daar bloot verwag van die ma om die kind af te laai en weer oor ‘n paar uur te kom haal. Snaaks hoe ‘n mens smag na ‘n paar uur vir jouself, en dan skielik nie weet wat jy met jouself gaan aanvang tot 16h00 nie.

Die punt waar ek eintlik by wou uitkom is dat jou kinders se klein-kindjie dae verby vlieg. Dis so ‘n uiters kosbare tyd in jul lewens. Geniet dit. Koester dit.

Een dag word jy nog saamgesleep partytjie toe en klou hy skaam aan jou broek vas…… Die volgende dag as jy jou oë uitvee wil hy jou nie meer totsiens soen by die skool hek nie. Daarna kom die “Ma, lag sagter asb.” in die vliek en volgende keer sit hy twee rye vorentoe van jou af weg. (Wil glo nie in die verleentheid gestel word deur sy ma nie.) ………………….En ‘n jaar of wat later, oppad na ‘n tiener-partytjie, word jy mooitjies gevra (sonder om jou gevoelens seer te maak, natuurlik) om hom liefs by die hoek af te laai sodat hy self kan verder loop, want dis “totally UN-cool” as jou ma jou aflaai.

Vir nou kry ek nog elke keer my totsiens- en hello-soentjies van “Mommy’s big boy”. DANKIE TOG!

Maar ek weet die dag gaan kom . . . . .



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

LC
Partytjie 101
Hi Dane

Ek neem aan hierdie stukkie werk is autobiografies van aard? Ek het dit baie geniet om te lees. Ek is al 16 jaar geskei - net so lank as wat my dogter oud is. Ek kan myself dus in jou hoofkarakter se skoene plaas, want ai, sommige sosiale byeenkomste is nou maar een maal 'n tameletjie vir 'n enkelma. En ja, ons kinders word so gou groot...

LC
(Louise)
6 jaar 4 weke 1 dag 1 uur oud


Dit was nou leesgenot vir toeneus-meraai
Horisontaal vanuit die Ausie-kooi met toeneus verslind ek nou heerlik julle woorddisse en hierdie partytjie-lyne was nou heerlike nagereg!! Kan doen met so bietie woordsuiker.

Hierlangs nooi gin stuk Australjanner vir jou sommer in nie! Jy staan en skoene tel wat voor die deur pryk ... terwyl jy loer of kleingoed darem die rigting reg het vanwaar die gejil vandaan kom.

Ongeskik se moses. Maar as hulle by jou kom word jy amper uit die pad gestoot in hulle haas om verby jou na binne te kom ... en hulle loer wat hang teen die mure en waar is die olifanttande en renosterhorings en wat staan op jou boekrak al kan hulle gin woord daarvan uitmaak. Nuuskierig om te sien HOE lyk 'n S'ner (Suid Afrikaner) se huis.

Lekker gekuier hier op jou erf en dit was nog lekkerder om saam te kon instap. Ek is VREK nuuskierig gebore!!!
6 jaar 4 weke 1 dag 19 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Meeste gelees in die laaste 24uur
(2014-10-23 22:00:00 - 2014-10-24 22:59:59 )

Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Botes Stamregister en Kwartierstaat

deur Willie Botes

Genealogiese kwartierstaat oor die Botes familie. Ander vanne sluit in Oosthuizen, Botha, Putter, Du Preez en Shafer



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar