Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek is op soek na die perfekte rekenaar. Daar moet tog sekerlik so iets met ons moderne tegnologie vervaardig kan word. Een wat nie foute maak nie. Mense, ons gaan dan al na buitenste ruim en Mars. Mens kry deesdae allerhande soorte rekenaars. Kleinjies wat jy in jou een hand kan vashou. Grotes wat ‘n halwe vertrek kan volstaan. Hoekom soek ek na die perfekte een? Ek kan dit net soos volg op my eie langdradige manier verduidelik.
My eerste kennismaking met ‘n regte rekenaar was in die jaar 1978 of so daar rond. Voor dit net gehoor van die monster van ‘n onding wat nog die mens gaan oorneem en sy werk gaan afvat. Sulke goed soos skootrekenaars en persoonlike rekenaars in al wat huishouding is in vandag se tyd het toe nog nie bestaan nie en was nie eens van gedroom nie. Deesdae kan ons nie sonder die goed funksioneer nie. As die krag af is alles in ‘n warboel en kom ons lewe tot ‘n onmiddelike stilstand. Ons kan skielik niks doen nie.
Waar gaan al die mense werk kry as die rekenaars eers oorneem is daar dan in 1978 gesê. Ek het toe al wel te doen gekry met boekhou masjiene by my vorige werknemer, die Hermanus Munisipaliteit, wat ‘n kaartprogram moes inlees en dan die rekeninge druk met so ‘n golfbal drukker. Wel ook seker maar ‘n tipe rekenaar en die ding was so groot soos ‘n huis orrel.

Praat van ‘n vertrek volstaan wat my laat dink aan daardie jaar wat ek myself in diens van die Swakopmund Munispaliteit se Tesourie department bevind het. Daar is toe besluit om die rekeningstelsel van die Munisipaliteit te rekenariseer. In daardie dae was dit nog eintlik nie Munisipaliteit nie maar die Stadsverwaltung, want Swakopmund was toe nog meer Duits as Afrikaans of Engels sprekend en die meerderheid van die personeel ook Duits en is daar Duits gepraat onder die personeel en het ek my standerd ses Duits gou moes poleer om te kon verstaan wat hulle van die boertjie skinder. Ha ha. As iemand in ‘n ander taal praat wat jy nie verstaan nie en dit in jou teenwoordigheid vebeel jy jou allerhande dinge wat hulle kwansuis van jou skinder. Ek het gou geleer dat as hulle praat van die Schlapoorn hulle van my praat, want dit was hulle bynaam vir die boertjie. In daardie dae het selfs die besighede in Swakopmund Duitse name gehad en jy kon jou maklik verbeel jy woon dalk in Duitsland
Hier kom nou ‘n helse onding van ‘n gedoente of draak met die naam, rekenaar is daar toe in die gange van die Munisipaliteit gefluister. Almal was bang die ding gaan dalk vir hulle begin dink en hulle werk afvat of dat hulle nie die draak sal kan verstaan nie, want watter taal gaan die ding dan nou eintlik praat. Eers was daar ‘n swart en wit film vertoon aan die personeel om die konsep van rekenaars aan die personeel te verduidelik. Die hoof gedagte was “Garbage in Garbage out” Wat beteken ‘n rekenaar is net so slim soos wat jy hom vertel om te doen. Kom ons sê om ons so ‘n bietjie te breinspoel omdat die meeste mense maar geneig is om teen te stribbel teen enige verandering in die werksplek. Veral as hulle iets nuuts moes aanleer wat hulle nie ken nie. In daardie dae was rekenaars iets uit die bose wat jy net in films gesien het. Almal was bang vir die gedrog.

Die belangrikste ding wat jy geleer was is as jy gemors in die draak se ingewande invoer sal hy gemors vir jou terug spoeg met vlamme en al. Eerstens moes ‘n vertrek van 10 meter by 12 meter stofdig gemaak word. Lugversorgers is vanaf Amerika ingevoer vir die doel. Dubbel deure is installer en die vensters is verseel. Die druk binne die vertrek moes altyd dieselfde bly. Swakopmund is ‘n woestyn dorp, geleë in die oudste woestyn in die wêreld, die Namib woestyn. Dit is ook geleë aan die kus en die misweer in die winter wat vir ‘n hele week kan aanhou en die nat seelug oor die woestyn indra kan alles nat, sout en fogtig maak aan die kus.

As die ooswind waai in die wintermaande bring dit ‘n baie fyn mika stof vanaf die woestyn in wat dwarsdeur alles waai. Mika is ‘n isoleer material en as dit in die rekenaar of draak se binnegoed beland het kan jy jouself indink wat sal gebeur. Hy sal net flame spoeg en doodgaan, arme dierasie. Ek het daardie tyd ‘n Volkswagen paneelwa gehad wat bekend was dat hy redelik dig was. As die warm ooswind vanaf die binneland en woestyn in die nag opgekom het en die stof het oor Swakopmund gaan lê dan het ek maklik ‘n sigaret houer vol mika stof vanaf sy dashboard ( weet nie wat die Afrikaans hiervoor is nie, want ek is nooit ‘n ander naam deur my pa geleer nie ha ha ) afgevee. Daar was ‘n ou Duitse omie, sy naam was onkel Hans en hy was reeds 80 jaar oud en steeds vir die Munisipaliteit gewerk en het dan die verskriklike taak gehad om die strate skoon te kry. Ja hy het my ‘n voorbeeld gestel dat ‘n mens nooit te oud is om te werk nie. Hy het ‘n Unimog gehad met ‘n besem en ‘n laagraaf vooraan gemonteer. Eers het ‘n padskraper gekom en die ergste sand wat soos duine in die strate gelê het kom bymekaar skraap en met laaigrawe weggery. Daarna het hy met sy Unimog die sand op hope gevee en met die laaigraaf agter op sy unimog gelaai en weggery. My aanstaande vrou het in daardie dae ‘n woonstelletjie agter onkel Hans se huis gehuur. Hy het altyd na himself verwys as die “Strassenfeger” (straatvieër)

Daar was ‘n vulstasie as jy vanaf Windhoek se rigting inry het by Swakopmund en die woestynsand het die brandstof pompe by een geleentheid toegewaai dat net die pompe se boonste half meter gedeelte bo die sand uitgesteek het. Palmbome is baie stewige bome en ek het fotos geneem waar die takke van die bome omgeswaai is dat dit alles na die een kant toe ombuig so sterk die wind dan waai. Amper asof ‘n reuse kam hulle hare agtertoe gekam het. Die sig was beperk en jy kon somtyds net ‘n paar meter voor jou sien so dik is die fyn stof. Die aande na ‘n dag van ooswind was altyd heerlik doodstil en lekker warm. Al die nattigheid van die nat misweer word dan uitgedroog.
Maar wag dat ek nou eers by die draak, die ding wat mense gaan verteer en hulle werk afvat, die rekenaar terugkeer. Daar is toe ‘n uitgesoekte klompie personeel onderwerp aan rekenaar aanleg toetse. Van die klomp wat daaraan onderwerp was het net twee van ons die toetse geslaag. Die een was ‘n man met ‘n gesin en myself. Ek was daardie dae nog ‘n alleenloper, maar darem ‘n meisie gehad wat later my ou Schatsie geword het. Ek is toe verkies om ‘n vier weke programerings kursus in Johannesburg te deurloop, want die ander man het nie kans gesien om sy familie te los vir so lank nie. Voor ek vertrek het was ek verplig om eers ‘n kontrak te teken dat ek ‘n pro rata koste van die opleiding sal terugbetaal indien ek binne twee jaar die Stadsverwaltung se diens sou verlaat.
Die boertjie is toe ingevlieg na die Sodom en Gemora van Randburg waarvoor hy so deur sy ma gewaarsku is daar naby Johannesburg om die taal van die rekenaar te gaan aanleer. Ja in daardie dae kon jy nie met die rekenaar werk as jy nie sy taal kon praat nie en daardie taal was Cobol. Jy het so ‘n tikmasjientjie gehad wat gaatjies in ‘n kaartjie wat so groot soos ‘n tjekboek was ingepons het. Die rekenaar het dan die kaartjies gelees en so het jy dan programme verander of nuwe tariewe ensovoorts na die rekenaar ingevoer. Ek kan julle verseker dit was die moeilikste taal wat ek nog moes aanleer.
Met my terugkeer na die opleiding vlieg ek na Windhoek en land die middag op die lughawe wat so ‘n paar kilometer buite Windhoek geleë is. Ek was baie haastig om op Swakop te kom, want dit was ou Schatsie se 21 ste verjaardag en ek wil daar uitkom, betyds vir die partytjie. Ek was veronderstel om die trein te neem vanaf Windhoek na Swakop, maar ek besluit dat ek sommer gaan ryloop, want die trein loop deur die nag en dan kom ek eers die volgende oggend in Swakop aan en natuurlik te laat vir die partytjie die vorige aand. Dit sal nou mostert na die maal wees.

Vanaf die lughawe moet ek die lughawe bus neem tot in die stad. Op pad spring die bus se band se loop af. Gelukkig het die boertjie sy knipmes byderhand en sny ek sommer al swetende en swetsende in die middag hitte die stuk loop wat los is af, want die bestuurder weier om verder te ry ingeval die stuk los band die rempyp kan afslaan en dan verongeluk die bus die afdraende af na Windhoek.

Toe begin die rylopery. Ek stap uit die stad uit met my koffer en al tot amper by Brakwater buite Windhoek. Dit begin reeds sterk skemer word en ek begin wonder of ek nie maar die oornag trein na Swakop moes neem nie. Uiteindelik kry ek ‘n geleentheid tot op Usakos. Die ou ry asof die duiwel van die vaal hel agter ons is. Ons snel soos ‘n wafferse Sterling Moss voort in die donkerte en die naald bewe so op die 160 km per uur, want hy glo daarin dat as ‘n koedoe spring en jy jaag vinnig genoeg gaan hy agter jou verby spring. My vingernaels was maar stomp, maar op die rit sny hulle in my handpalms in soos ek my vuiste toeknyp en gebedjie op gebedjie opsê as ek ogies langs die pad in die motorligte sien verbyflits. Op ‘n geleentheid mis hy ‘n vlakvark ma en haar kleintjies so net, net. Ek het my oë toegeknyp en gedink dis verby met ons, maar toe ek dit weer oopmaak was ons genadiglik verby. Vanaf Usakos kry ek weer ‘n geleentheid en die ou het al die tyd in die wêreld en ry niks harder as 70 km per uur en gesels die hele pad asof ons die wêreld se tyd het. Die 21 ste partytjie was net mooi lekker vol aan die gang toe ek daar opdaag, nog net soos ek Johannesburg op die vliegtuig geklim het. Dit was die eerste en laaste keer wat ek in my lewe geryloop het.

Uiteindelik het die ICL rekenaar opgedaag en is die monster van ‘n masjien in die vertrek installer en het dit soos ‘n u sy lyf in die vertrek ingewurm en die vertrek volgestaan. So ‘n meter breed en so hoog dat dit net tot onder my arms gekom het en ek is lank. Die draak het ‘n kop ook gahad. Dit was so ‘n ding amper soos ‘n koekblik van deurskynende plastiek wat so twee drie dekker koeke sou kon huisves. Dit was geplaas op ‘n ding wat amper soos ‘n platespeler gelyk het en sulke vingers wat in die koek in die blik se lae ingeskuif het en dan is die inligting van die rekenaar in die koekblik gestoor as ‘n back up. Later jare het ons gewoond geraak aan stoor op harde skywe, magneetband, floppies, stiffies en nog later het alles nog kleiner geword na ‘n stick of so iets. Wonder wat dit in nog 20 jaar gaan wees.
Op ‘n dag het daar toe ‘n probleem met die draak onstaan, omdat sy ogies nie meer wou gloei nie en as hulle nie gloei nie dan spoeg hy nie rolle en rolle rekeninge uit nie. Dit het veroorsaak dat ‘n rekenaar ingenieur vanaf Johannesburg sou moes invlieg teen groot koste om in die draak se ingewande te kom rondkrap om te kyk waar sy kinkel in die derm is. Daar is toe besluit dat ‘n dame die telefoon sal beman met die ingenieur aan die ander kant. Hy sal instruksies vanuit Johannesburg gee aan die dame en sy sal die die instruksies aan my deurskree terwyl ek die veranderinge aan die rekenaar se ingewande aanbring. Dit het behels dat jy al die panele van een meter by een meter aan die een kant van die draak moet afskroef en dan skywe of plate met omtrent dieselfde grootte met transistors, goetertjies en dingetjies of so iets daarop omruil met ‘n soortgelyke spaar bord totdat die draak weer werk en sy ogie weer gloei. Ek het dus die draak se blindederm uitgehaal sodat die draak weer helder kan sien. Alhoewel dit betken het dat dit ‘n oproep van langer as een en ‘n half uur beteken het kon ons die vlieg en verblyfkoste van die ingenieur bespaar. So het dit by ‘n paar geleenthede gebeur dat ek in die ingewande van die draak moes gaan rondkrap op soek na ‘n tegniese fout.
Instede van mense minder te maak is daar toe nog mense in diens geneem. Twee nuwe ponsdames is aangestel en ‘n hoof van die rekenaar dienste afdeling is aangestel. Pakke en pakke forms met inligting is ingevul en van rekanaar nommers toegerus. Daar is oortyd en naweke gewerk om al die inligting vir die rekenaar betyds voor te berei vir invoer na die rekenaar deur die ponsdames. Eers is daar ‘n gelykloop gedoen. Met ander woorde daar is rekeninge op die ou stelsel gedoen en terselfdertyd op die rekenaar om foute vas te stel. Foute was wel gemaak omdat met al die oortyd en tyd skedules was personeel so moeg en is meter lesing verkeerd geneem of ingevoer, wat agterna reggemaak moes word. Ons is egter geleer om aan die publiek te verduidelik dat die rekenaar nie ‘n fout gemaak het nie, maar dat dit ‘n menslike fout was deurdat die verkeerde inligting ingevoer was. Die rekenaar kan nie ‘n fout maak nie, tensy jy die verkeerde tariewe of inligting vir hom invoer.
Daarom soek ek nou deesdae die perfekte rekenaar, want ek hoor al meer die gesegde dat as daar ‘n fout insluip iewers dan word dit op die monster van ‘n rekenaar geblameer wat kamtig ‘n fout gemaak het. Ek het vir baie jare in die bank gewerk voordat ek die Munisipalewese betree het en in daardie tyd is die meeste werk nog met die hand gedoen. As iemand wou geld trek en dit was in besigheids ure was daar nie ‘n probleem nie. Dit wil sê as hy geld op sy rekening gehad het. Of die krag af was en of daar ‘n orkaan gewoed het en alle telefoon lyne was af kon alle transaksies voortgaan. Dit gebeur al meer op ons klein dorpie dat jy maklik vir ‘n dag nie kan geld trek by die enigste outobank nie omdat daar aan hom gewerk word. Of dat hy af lyn is of dat hulle jou selfs nie in die enigste bank op die dorp kan help nie omdat dit af lyn is. Kom jy by die Munisipliteit is dit dieselfde storie as jy ‘n voertuig lisensie wil hernu of krag wil koop. Jammer meneer ons is af lyn, Is daar ‘n fout op jou rekening word gesê; “Jamer meneer die rekenaar het ‘n fout gemaak”

Ons mense pomp biljoene liters olie en gas uit die aarde se ingewande en wat kom daar in hul plek onder die grond is my vraag. Ek is nie ‘n wetenskaplike nie en maar ‘n non-kom-poop leek wat dit aan betref, maar gestel ons versteur die aarde se kors daarmee wat vuurspuwende berge wakker maak. Dan sê my kometjie sin vir my dat die stof en as so dig kan word as ‘n paar vuurspuwende berge tergelyk wakker skrik dat dit ons seine van die sateliete en selfone kan uitsny. Wat gaan dan van ons rekenaar stelels word. ‘n Ruk gelede het ‘n enkele vuurspuwende berg as oor Europa versprei wat alle vlugte gestrand het. Daarom soek ek ‘n draak van ‘n rekenaar. Die perfekte een wat dan ook sal kan werk en nie sal aflyn gaan nie. Een wat se dongel steeds ‘n sein gaan vang vir my internet. Een wat so perfek is dat selfs die een wat die draak voer nie foute kan maak en dan op die arme draak blameer nie. Ha ha.

Nou sal julle verstaan as ek sê dat ek die perfekte rekenaar soek. Een wat geen foute meer maak nie, nie af lyn gaan nie of ‘n virus kry nie. Een wat se ingewande altyd reg werk sonder dat daar deur ‘n tegnikus aan hom gewerk moet word. Wat werk as die krag af is. Verstaan julle dat ek nou die nuwe generasie draak dringend soek, die perfekte een. Help my tog asseblief mense, waar kry mens daardie perfekte masjien of moet hy nog gemaak word. Sê MY TOG WAT DINK JULLE ASSEBLIEF TOGGIE.


 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

rekenaar
Lekker gelees dankie en ongelukkig is hy nog nie op die mark nie wie weet? dalk eendag maar dis nogsteeds die operateur hehehehe
5 jaar 10 maande 2 dae 4 ure oud


Perfek
As jy hom vind, laat asb tog dadelik weet waar! Die kinders vertel vir my rekenaars maak nie foute nie,dis glo P I C N I C
'person in chair, not in computer' wat foute maak.
5 jaar 10 maande 3 dae 1 uur oud


Perfekte rekenaar
Dankie Schatz. Ja ek wonder oor daai perfekte rekenaar. Deesdae moet jy n graag he om die wasmasjien te bemeester,of die stofsuier.haha. Ek het jou Suidwes storie geniet.
5 jaar 10 maande 3 dae 5 ure oud


Perfekte rekenaar
Die storie moet beslis in die argiewe gebere word vir ons nageslag. Baie goed vertel, het my ook sommer laat terugdink aan die ontwikkeling wat ons met tikmasjiene gehad het, eers op die gewone 'manuel' tikkers, toe elektriewe masjiene en toe rekenaars :) Vir vandag se kinders is hierdie stories van onstatbare waarde :)
5 jaar 10 maande 3 dae 5 ure oud


...
Die storie van Suidwes tussen-in was baie lekker!
5 jaar 10 maande 3 dae 9 ure oud


--
Die belangrikste ding wat jy geleer was is as jy gemors in die draak se ingewande invoer sal hy gemors vir jou terug spoeg met vlamme en al ... ** LAG **
5 jaar 10 maande 3 dae 15 ure oud


Ano
Rekenaar
So wragtie! As die rekenaar nie wil werk nie, is ons handjies afgekap en ons ou lewetjies knars tot stilstand. Maar of jy 'n perfekte enetjie sal opspoor, sal niemand weet nie...
5 jaar 10 maande 3 dae 17 ure oud



HOOP

deur Ano

HOOP is 'n hulpmiddel vir persone wat sukkel om die dood van 'n geliefde te verwerk. Die hoofstukke is kort en aan die einde van elkeen is 'n paar vrae wat jy aan jouself kan stel. Vrae soos 'Van watter metodes maak jy gebruik om van jou rou af weg te vlug', of 'Hoe hanteer jy verjaarsdae en ander feestelike byeenkomste'? Hierdeur hoop ek die leser sal tyd in introspeksie deurbring en vir homself 'n paar antwoorde vind.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar