Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het sonder om te aarsel en met pertinensie al geskryf dat ek die vergifnis prinsiep nie aanvaar nie en die voorbeeld gebruik van ‘n man wat vir 75 jaar lank kinders molesteer en sodomiseer het, en dan op sy sterfbed tot bekering kom en volgens die woord van God in ‘n oogwink skoongewas, en met ‘n harpgeskal, die hemelpoorte ingaan... Ek het nie ‘n behepte aggressie teenoor die Christendom soos een ‘gerespekteerde Woes skrywer’ dit gestel het nie. Ek jaag die waarheid na, en na dese kan ek my daarop beroep dat ek met bogenoemde stelling profeties was. Wanneer die hoogste amptelike gesag van die Kerk en Christendom per implikasie deur die Christelike dogmatiek medepligtig is aan een van die mees verwerplike verdorwenhede op hierdie aarde, en vergifnis die stukrag daaragter is, dan is my genoemde stelling inderdaad profeties...

Mense kamp uit op die weg wat hy gaan volg, sodat hulle voor kan staan om hom te sien. Hulle staan ure voor die tyd op ‘n plein en trotseer Europa se gure weer om dáár te wees wanneer hy sy verskyning op die balkon maak. Sy hand, skoon geskrop, wuif salig en sedig met ‘n engelagtige gebaar en hy knik die kop met heilige inkennigheid, erkentlik vir die respekvolle toejuiging. Sy konvooi met die glaskas beweeg teen ‘n slakkepas deur die mense wat mekaar verdring om net ‘n oog op hom te kan he. Die magtigste Godsman op Aarde – Pous Benedict XVI. Tot en met April 2005 in die werklike lewe, soos gebore, Joseph Ratzinger... later Kardinaal Joseph Ratzinger soos pous Johannes Paulus II voor hom, wat eers Kardinaal Karol Wojtyła was...

Maar daar is ‘n kinkel in die heilige kabel. In die naam van God gly Sy heilige slakke met ‘n slymerige sleepspoor oor en deur die kinder wêreld. Die as van die Middeleeuse brandstapels het skaars gaan lê, maar van die lewendige verbranding van ons beste vroue, het die Kerk se diaboliese hiërargie hulle bloeddorstigheid vervang met ‘n siek en verwerplike wellus. Terwyl mansstemme in God se huis ‘n psalmodie vir kerkgangers neurie, is dit niks minder as ‘n monotone begeleiding vir sodomie in ‘n agterkamer van die huis van God – temamusiek vir heilige pornografie sou ek dit noem!

Word priesters pedofiele aan die hand van die kerk, of is die kerk ‘n ‘trekpleister’ vir pedofiele? Ek dink dit is ‘n trekpleister vir pedofiele, want ‘n normale man wat deur God geroepe voel sal hom nie maklik laat oorhaal tot ‘n harige vergryp deur die ‘agterdeur’ nie. Vandag kan mens inderdaad met verligting juig wanneer ‘n priester tussen die lakens met ‘n vrou gevang word. Ek dink dit sou perse ‘in hierdie sin’ prysenswaardig en uiters gewens gewees het indien gereelde orgies tussen die priesters en die nonne ‘n instelling was. Een dag in die monnikeklooster, die ander keer kan die moederowerste van die nonneklooster die gasvrou vir Katolieke sokkiejol wees! Ten minste sou die jong seuntjies gespaar gewees het. Maar ek dink perse dat wanneer baie mans besluit hulle wil priesters word, weet hulle klaar wat hulle wil he!

“Bring die kindertjies na my toe... aan hulle behoort die koninkryk van God” het Jesus gesê toe hy sy arms om hulle gooi. Het Jesus ooit kon voorsien dat hulle eerder aan die ‘koninkryk van die kerk’ sou behoort, of dat die priesters vir heeltemal ander redes ‘die hand aan die seuntjies sou slaan’?

Volgens die New York Times van 28 Maart 2010, het Pous Johannes Paulus II, toe hy nog Kardinaal Karol Wojtyła was, verklaar dat die Poolse veiligheidpolisie “kwaadwillig” is wanneer hulle die priesters van seksuele wanpraktyke met kinders beskuldig. Hy verklaar dat die “....pedofilie probleem, niks minder as ‘n Kommunistiese komplot is om die kerk swart te smeer...” Teen die tagtigs was hy Pous, en het hy alle verwysings oor kerklike pedofilie met neerhalende selfversekerdheid afgewys. Dit het hy konstant bly doen vir twintig volle jare daarna, vir solank hy pous was. Intussen word die wêreld oorspoel met ‘n onwelriekende slyk openbarings oor priesterlike pedofilie wat deur lande loop en oor kontinente strek wat, dekades heen teruggevoer kan word – of soos sommige geskiedkundiges tereg sê – selfs eeue teruggaan.

Vir jare en jare het die kerklike gesag alle verwysings na pedofilie in die kerk weggewys en verkies om aanklagtes te ignoreer en toe te smeer. Die kerk het onder die vaandel van Goddelike mensliewendheid tienduisende kinders in kerklike weeshuise, verbeteringskole, skole vir dowes en gestremdes, plaaslike gemeenteskole en kerke, seksueel molesteer en sodomiseer. Mens kan sê dat die kerk ‘n afvoerband was wat kinders in hulle hordes ‘gevoer’ het na die sekshole waarin die pedofiele in hul heilige gewaad in die kerk se kuil lê en wag...

Priesters wat uitgewys is as pedofiele is deur die kerk hiërargie stil, stil verskuif na afgeleë gemeentes waar hulle van nuuts af kon aas op die kinders van die goedgelowige, niksvermoedende nuwe gemeentes waarop hulle losgelaat is. Die kerk het inderdaad die ‘swart biskoppe’ op die kerk se skaakbord rondgeskuif sodat hulle skuins, skuins kon maai onder die klein wit pionne. Ontkenning en verberging van hulle dade is algemene gebruik en is deur die jare van bisdom tot bisdom en nasie tot nasie só deurgevoer dat dit baie duidelik geword het, dit ‘n doelgerigte beleid van die kerk was, wat deur kerklike gesaghebbendes daargestel en volhou is. Instruksies wat direk uit Rome gekom het, het gelas dat elke biskop en kardinaal dinge geheim moes hou. Die instruksies self is geheim gehou – die toesmeerdery self is toegesmeer. In 2002 het Pous Johannes Paulus self, ‘n mandaat op skrif geplaas wat spesifiek beveel dat alle aanklagtes teen priesters in die geheim aan die Vatikaan rapporteer moes word en dat die verhore ‘in camera’ gehou moes word – ‘n prosedure wat ‘n direkte miskenning van alle staat en kriminele kodes is. Dit is ‘n flagrante verberging van ‘n misdaad.

En hoe word hierdie dinge geregverdig? Deur te vergewe en te vergeet. Die kerk se segsmanne speel met ‘n Goddelike woordeskat van erbarming en genesing – maar nie soseer vir die slagoffer nie, eerder vir die een wat die onreg gepleeg het. Hulle beskou die molesteerder as ‘n sondaar wat sy sondes bely en wat onderneem om sy weë te herstel. Inplaas van kerkering of gevangenskap is daar berou en kwytskelding. Die boosdoener oftewel die misdadiger kry geestelike vertroosting, maar terapeuties word die sataniese lus aangeblaas. Tronkstraf is ‘n baie goeie en effektiewe afweermiddel, maar wanneer dit nie daar is nie sê die skrywer van ‘n artikel oor strawwe: “With the abscence of any threat of punishment,, the perpetrator is restrained only by the limits of his own appetite and the availability of opertunities...” Toe Aartsbiskop Bernard Law, emeritus van Boston konfronteer word met ‘n geval waar een van sy priesters ‘n sesjarige seuntjie sodomiseer het, het hy verklaar “die seun en sy ouers het tot die daad bygedra omdat hulle nalatig was...” Law het nooit tronk toe gegaan vir die honderde gevalle wat hy toegesmeer het nie. In 2004 toe dinge vir hom te warm word in sy Boston aartsbisdom, is hy deur Pous Johannes Paulus II, gered en hoof gemaak van een van Rome se grootste basilikas, waar hy met heerlike diplomatieke immuniteit in paleisagtige gemak geleef het en sy eie baas was tot nou die dag.

En die ou Pous wat vir meer as twintig jaar lank sy rug gedraai het, slyp sommer sy opvolger om die ‘konsistorie kapperjolle’ verder te beskerm – ‘n langtermyn belegging’ om die jeug te bewaar! Voordat Kardinaal Joseph Ratzinger in April 2005 ingesweer is as Pous Bebedict XVI, het sy opponente na hom verwys as die “Pitbull” of “God’s Rottweiler” Hy was Paus Johannes Paulus se ‘politieke aanstelling’ en is na die Vatikaan se voordeur gebring om op te tree as die beskermheer van die Roomse Kerk onder die vaandel dat hy dissipline, konformiteit en kerkgesag as ‘n instelling moes bewerkstellig... So het die toekomstige pous die hoof geword van die magtigste en histories die mees onderdrukkende instelling van die Roomse Kerk – die ‘Congregation for the Doctrine of Faith’. Hierdie liggaam het vir eeue bekend gestaan as die “Heilige Kantoor van die Inkwisisie” Die instelling wat daardie tyd verantwoordelik was vir die daarstelling van ‘religieuse howe’ waar tienduisende mense van heksery aangekla, gemartel en verbrand is weens ‘heksery en kettery’ So is die toekomstige pous aan die spits geplaas van hierdie hedendaagse inkwisisie... en wat doen die toekomstige pous met die mag wat hy gegee word met die instrument wat hekse gebrand het?

Vir 24 jaar het Ratzinger hierdie moderne tyd se regskantoor van die kerk bestuur. Hy het daaroor bevel gevoer... en so vir dekades hulle pedofiele beskerm deur stille verskuiwings van die aangeklaagdes van die een gunstige posisie na die ander. Deur die bewimpeling van Ratzinger is ‘n ‘heilige kordon’ om die kinderjagters gegooi. In 2001 reik hy ‘n brief uit aan al die biskoppe en gee opdrag dat “alle” seksuele wangedrag en bewerings daaroor geheim gehou moes word. Priesters wat van seksuele misdrywe beskuldig is sowel as hulle slagoffers moes die strengste geheimhouding toepas en soos hy dit gestel het “restrained...” wees “...by perpetual silence” – ewigdurende verswyging! ‘n Voormalige prokureur van die Vatikaan, Vader Tom Doyle het hierdie beleid sterk veroordeel en gesê “Wat ons hier het is ‘n eksplisiet geskrewe beleid wat gevalle van kindermolestering deur geestelikes, toesmeer, en waardeur diegene wat die aandag op hierdie dinge vestig, gestraf word” hy gaan verder en sê “When abusive priests are discovered, the response has been not to investigate and prosecute but to move them from one place to another” Katolieke teoloog Hans Keung skryf van Pous Benedict XVI “There was not a single man in the whole Catholic Church who knew more about the sex abuse cases than him, because it was ex officio. He gave the instruction himself, as head of the Congregation for the Doctrine of the Faith, and repeated it as Pope” Verder skryf ‘The National Catholic Reporter’ op 26 Maart: “Die heilige vader moet in ‘n geloofbare forum direkte antwoorde gee oor sy rol - as aartsbiskop van München (1977-82), as prefek van die ‘Congregation for the Doctrine of the Faith (1982-2005), en as pous (2005 – huidig) – betreffende die wanbestuur van die seksuele mishandeling krisis”

Is dit wanbestuur op die hoogste vlak, en is pouse, pedofiele en die vergifnis doktrine, die hoof oorsaak van ‘n ‘heilige abdikasie van verantwoordelikheid’ teenoor die kindertjies wat die groter wêreld se heel grootste verantwoordelikheid is – daardie wesentjies aan wie die koninkryk van God reeds behoort?

In April van hierdie jaar is ‘n memorandum blootgestel wat die huidige pous, destyds toe hy nog Kardinaal Ratzinger was, uitgereik het. Hy het alle aksies teen ‘n pedofiele priester, Eerwaarde Lawrence C. Murphy, tot niet verklaar en gestop. Eerwaarde Murphy was daarvan aangekla dat hy alleen, meer as 200 seuntjies by ‘n Milwaukee Skool vir Dowes seksueel molesteer het. Hierdie eerwaarde was nie ‘n skierlike ontpopping van ‘n priester wat die pad byster geraak het nie. Dit het aan die lig gekom dat die arme dowe kinders dekades lank met hul vingertaal en gebare in vergaderings met biskoppe en sekulêre amptenare van die kerk aangedring het dat “Vader Murphy” voor stok gekry moes word. ‘n Regter van die ‘Holy Roman Rota’, die kerk se hoogste hof, het in ‘n artikel wat deur die Vatikaan goedgekeur is geskryf “dat biskoppe gladnie seksuele oortredings aan burgerlike gesag moet rapporteer nie”. Dit is ook vir jare so gedoen. Biskoppe en kardinale het versuim om hulle samewerking aan die polisie en amptenare wat wetstoepassing moes uitvoer te gee. Hulle het prontuit geweier om enige rekords van oortreders beskikbaar te stel en aanspraak daarop gemaak dat vertroulikheid van die lêers privilegies dieselfde wetlike beskerming het as die kommunikasies in ‘n persoonlike konfessie. Die vergifnis hokkie het ‘n klein ambassade vir pedofiele geword amper soos die pornografie hokkies in Holland se Walletjiestraat, al verskil is met die praatjies oor kinderseks het immuniteit gespruit – heilige kwytskelding! Biskop James Quin van Cleveland het aanbeveel dat kerkamptenare alle lêers wat inkriminerend is na die Vatikaanse ambassade in Washington DC gestuur moes word waar dit dan onder die beskerming van diplomatieke immuniteit opgesluit kan word.

Meer as 4000 priesters is tussen 1950 en 2010 in die VSA aangekla vir molestering van kinders, en die Katolieke Kerk het meer as 2 biljoen dollar skadevergoeding uitbetaal aan slagoffers van pedofilie. In 2007 het die Los Angeles Aartsbisdom ‘n 600 miljoen dollar skikking met ongeveer 500 eisers aangegaan. Ses Aartsbisdomme was verplig om hulself bankrot te verklaar en baie bisdomme moes groot gedeeltes van hulle bates verkoop om te kon betaal vir skikkingsooreenkomste. Die bewerings van grootskaalse pedofilie in die kerk het in Amerika begin en skierlik toe die ys gebreek is het eers Italië en toe gedeeltes van Duitsland waar daar groot Katolieke bevolkings is na vore getree as die skuilplekke waar hierdie priesters tekere gegaan het. Een uit elke tien priesters wat in 1970 ingeseën is, is teen 2002 van pedofilie beskuldig. ‘n Ander opname wat deur die ‘US Conference of Catholic Bishops’, ‘n eerlike kerklike organisasie wat die vergryp stop probeer sit, het dokumenteer dat daar 5,450 klagtes ingebring is teen ten minste sestien top biskoppe. En die pous het verklaar dit is net “a few bad apples”

Pous Johannes Paulus II is in 2005 na sy graf terwyl hy steeds geweier het om te ontmoet met die slagoffers van sy priesters, en sonder om enige apologie aan te teken vir seks verwante misdade en toesmeerdery. In sy nalatenskap is daar geen tekens van enige berou by die kerk nie. Toe een van die kerk se mees ‘geharde’ oortreders forseer is om ‘af te tree’ na sewentien jaar se kapperjolle met amper 200 slagoffers, het Aartsbiskop Law aan hom geskryf “On behalf of those who served well, in my own name, I would like to thank you. I understand yours is a painfull situation...” En So was Aaartsbiskop Law meer besorg oor die pyn van die pedofiel as die ellende wat hy op die minderjarige slagoffers ‘afgesteek’ het. Volgens die ‘New York Times’ van 22 April 2010, is ‘n Franse biskop daaraan skuldig bevind dat hy geweier het om ‘n priester wat kinders molesteer het aan die polisie te oorhandig. Dit het “onlangs aan die lig gekom”, verklaar die New York Times verder, dat ‘n top kardinaal van die Vatikaan, Kardinaal Dario Castrillón, aan die biskop geskryf het: “I congratulate you for not denouncing a priest to the civil authorities. You have acted well, and I am pleased to have a colleague in the episcopate who, in the eyes of history and of all the bishops in the world, preferred prison to denouncing his son and priest” Uiteindelik het die biskop net ‘n opgeskorte vonnis gekry. Paus Johannes Paulus II het hierdie brief bemagtig en vir Kardinaal Castrillon opdrag gegee om dit aan “al” die biskoppe oor die katolieke wêreld te stuur...

Die Mayo Kliniek, in Rochester, Minnesota, Amerika word allerwee in die wêreld beskou as een van die mees gesaghebbende mediese navorsing sentrums in die wêreld. Vir meer as agt jaar het die ‘Fortune’ die Mayo Kliniek gelys onder die 100 top Amerikaanse maatskappye om voor te werk. Hulle spesialiteit is navorsing met die meer as 3,700 mediese dokters, spesialiste en wetenskaplikes. Die Mayo kliniek het bepaal dat: 95% van alle kindermolestering van kinders 12 jaar en jonger gepleeg word deur “oortreders wat diagnosties aan die kriteria van pedofilie voldoen”

Nou wonder Waldor. ‘n Manlike persoon wat ‘n seuntjie seksueel sodomiseer molesteer is perse homoseksueel. Is dit dan gebruiklik dat baie homoseksuele priesters word? Indien wel, vir watter rede?

Ons weet dat seksuele misdrywe teenoor kinders wêreldwyd baie, baie ernstig beskou word. Maar hoe is dit dan moontlik dat die Roomse Kerk bo hierdie internasionale besorgdheid oor die mensdom se grootste bate – ons weerlose kinders – uitstyg met ‘n immuniteit, dat hulle bo die wet geplaas word?

Die wêreld se magtigste geestelike heiligdom – Christendom se eie regering – het ‘n hawe en bolwerk geword waaragter die basiese prinsiepe van ons dogma die wêreld se kinders fisies en geestelik vernietig... Het die bieghokkie in die klooster ‘n plekkie geword waar pedofiele in privaat kan kloek en grinnik oor hul sataniese eskapades en op die koop toe vergifnis kry?

Pouse pedofiele en vergifnis – wat anders te verwagte as ‘n jong vars maagd in die skoot van die psalmdigter gele word op sy sterfbed... dan is dit mos reg dat ‘n pedofiel op sy sterfbed vergewe kan word!



Spaar Geld op Versekering


Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Meeste gelees in die laaste 24uur
(2014-11-22 11:00:00 - 2014-11-23 11:59:59 )

Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar