Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Verlede keer het ons afgesluit met die woord daar in Rom. 3:28 waar staan: “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.”

Dan wys God se Gees deur die pen van Paulus, ons in Rom. 4 terug na Vader Abraham, ons geloof-vader, of beste voorbeeld van wat ware Bybelse geloof beteken.

Hier het ons ’n man wat vir 25 jaar vasgehou het aan ’n woord van God dat daar vir hom en Sara ’n eie-kind gebore sal word. Ek sê vir 25 jaar! Want hierdie woord het eers waar geword toe Abraham self 100 jaar oud geword het en sy vrou, Sara, 99 jaar oud was.

Bybelse geloof is dus nie sommer net vir vandag of jy nou glo en dan ophou glo nie. Nee, ware Bybelse geloof is vasgryp en vasbyt en aanhou glo omdat God so gesê het. Dit is aanhou glo en aanhou handel in geloof op grond van ’n woord van God totdat dit gebeur het wat God belowe en gesê het.

Om net te glo is ook nie waaroor dit hier gaan nie. Bybelse geloof het alles te make met wat jy glo en waaraan jy vashou in geloof. As jy nie vashou aan ’n spesifieke woord van God of ’n handeling van God nie, beteken daardie “glo” in elk geval niks nie.

In ons wêreld glo almal iets. Daar is selfs mense wat glo dat hulle “nie glo nie”.

Omdat ons redding, verlossing, vryspraak, geregtigheid voor God, vergifnis, noem maar op, afhang van wat en in wie jy glo, is dit noodsaaklik om net weer ’n bietjie na te dink oor wat die Bybel se “glo” en “geloof” werklik oor gaan.

Daar in Heb. 11 leer God se Gees ons: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Dan begin die Gees ons terugwys na voorbeelde van hierdie Bybelse geloof. En weer sien ons Abraham se gesig tussen die foto’s wat Hy op ons tafel neersit.

Oor en oor hoor ons van mense wat vasgehou het tot die einde toe aan ’n woord van God. Dit was waarop hulle gehoop en gebou het.

In my boek, WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, skryf ek oor geloof as die noodsaaklike deel van hoe ’n mens deel word van die ware Ekklesia of Kerk van Jesus Christus. Daar in Hand. 2:36 tot 39 word 4 dinge genoem wat ek beskryf as die 4 onontbeerlike komponente van ’n normale Bybelse geboorte wat noodsaaklik is vir iemand om normaal gebore te word as ’n nuwe, verloste mens in Christus Jesus.

Daardie 4 dele is dan ’n Bybelse berou en bekering, Bybelse geloof, doop in water en doop in die Gees.

In baie van ons se geestelike lewens het die twee laaste elemente of totaal ontbreek of eers later plaasgevind in ons lewe. En die rede waarom dit ontbreek het of eers later plaasgevind het, was as gevolg van verkeerde lering oor die doop met water en oor die doop met die Gees in die dele van die Liggaam van Jesus waar ons opgegroei het.

Natuurlik het dit ons normale Bybelse geboorte uitgerek en geweldige groei-probleme veroorsaak in ons lewens as gelowige volgelinge van Jesus.

Maar ek wil hie vandag gesels oor hierdie dope nie. Ons is besig om te gesels oor geloof en dus waar die eerste twee elemente ontbreek. Waar geloof en ware Bybelse berou ontbreek, kan daar nie sprake wees van ’n werklike Bybelse geboorte nie.

Daarom staan daar in Joh. 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

En in vers 18 staan dan: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Sonder geloof in Christus Jesus kan daar geen sprake wees van verlossing in die Bybelse sin van die woord nie.

As ek dan hierdie Bybelse geloof moet beskryf, is daar ten minste 5 aspekte wat volgens die Skrif ’n onontbeerlike deel daarvan is.

Daarom skryf ek dat hierdie soort geloof wat die sleutel tot ons verlossing is, altyd gebou is op historiese feite van iets wat God gedoen het in en deur die lewe van Jesus Christus.

Tweedens behels hierdie geloof ook ’n wete en sekerheid dat Jesus dit ook vir my gedoen het.

Derdens moet hierdie geloof bely word met die mond, soos daar in Rom. 10:9 staan: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

Vierdens moet hierdie geloof prakties uitgelewe word. Dit moet dus oorgaan tot dade, soos daar in Jakobus 2:14 tereg gesê word: “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”

Die Skrif sê, vyfdens, dat ware Bybelse geloof tot die einde toe sal volhard en sal vashou aan dit wat God belowe het. Daarom skryf die skrywer van Hebreërs daar in Heb. 6:11,12 die volgende: “Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is.

Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Vader, vergeef

deur http://www.woes.co.za/

'n Geestelike digbundel met 46 Gedigte wat begin by sosiale kommentaar oor die euwels in ons samelewing en dan oorgaan na storiegedigte gebaseer op ware verhale van gebedsverhoring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar