Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In Januarie 1959 besluit my ouers dis tyd dat ek my skoolloopbaan moet begin. Ek is nog nie ses jaar oud nie, maar hulle dink ek is selfstandig genoeg om die groot stap te neem.

Ons woon op Vryburg. My pa is ‘n onderwyser en die koshuisvader van ‘n seunskoshuis. My maats is die koshuisseuntjies, hoofsaaklik afkomstig vanaf plase in die Kalahari. Smiddae na studietyd waai die nerwe soos ek myself gô-uit speel op die sanderige en klipperige koshuisgronde.

My ma is die shorthand typist by Double Crown Soap and Yeast Company op die dorp. Ek het ‘n babasussie wat bedags ‘n voltydse oppasser het.

Die Vryburg Voorbereidende Skool vir sub A, sub B en standerd 1 is ‘n opslaan-asbesgeboutjie op die kant van die dorp en almal praat van die blikskooltjie. Meneer Cumpsty is die skoolhoof.

Omdat beide my ouers nie kon afkry by hul werk op my eerste skooldag nie, reël my pa met die skoolhoof om my reeds gedurende die skoolvakansie by die skool te gaan inskryf. Dit was voor die dae van skoolsekretaresses. Die skoolhoof sê ek is by mevrou Le Roux in die klas en gaan wys my waar my klas sal wees. Hy sê ek sal nie alleen voel nie, want my beste maatjie, Hilda Robertson, sal ook in mevrou Le Roux se klas wees.

Hilda was my enigste dogtertjie-maat. Haar pa was die skoolhoof by my pa se skool. Een oggend per week het my ma gereël dat ek by haar gaan speel. Dit was veilige tye en ek het alleen na hul huis toe gedraf – al op die kant van die dorp langs ‘n baie ou begraafplaas verby. My pa het my op ‘n horlosie leer kyk en ek moes die wekker dophou en eers soggens halftien na die Robertsons se huis toe gaan. Die koshuismatrone het ook ‘n ogie oor my gehou. Ek en Hilda het ander soort speletjies as die koshuisseuntjies gespeel. Ek en sy het Siembamba geluister, Snap, Donkey en Slangetjies-en-leertjies gespeel en boekies geblaai. Haar ma het vir ons ‘n strokiesprent uit die koerant gelees en vir my Ou Droë Lewer genoem omdat ek gedurig dors was. Ek mag nie in hulle boom geklim het nie. Dit was nie vir my sleg by Hilda nie, maar dit was nie naastenby so lekker soos smiddae se rowwerige gespeel saam met die koshuisseuns nie. En dan was ek natuurlik jonger as Hilda. Die tandemuis het al vir haar geld in haar skoen gesit, toe loop ek nog met al my melktandjies. En as ons vuis gemaak het, het sy al knoppieskneukels gehad terwyl ek nog kuiltjies daar gehad het.

Dis slegste van skoolgaan was dat ek moes skoene dra. Ons het dit nie breed gehad nie en my ma het nie onnodig geld uitgegee nie. Sy het by die skoolhoof toestemming gekry dat ek my kerkskoene, my enigste, met ‘n bandjie oor die voet wat met ‘n knopie vasmaak, kon skool toe dra. So stap ek toe stokalleen op my eerste skooldag met my bottelgroen skooljurk met drie plooie van voor en drie plooie van agter en ‘n gordel om die middel en ‘n blou karton-skoolkoffertjie by die skoolhek in reguit na my klas toe.

Juffrou laat my langs Hilda sit en ons rol slangetjies met speelklei uit op plankborde. Ek bekyk die vreemde kinders on my. Meeste van hulle is al haasbek. Ek let op dat ek die enigste een is met knopieskoene. En ook die enigste een wat nie winkelsokkies aan het nie. My ma het self my sokkies op drie breipenne gebrei met die mooiste kantpatroontjies in. Die breiery het my gefassineer. Dit pla my glad nie dat ek die enigste een is met tuisgebreide sokkies nie. Ek neem maar aan die ander se ma’s kan nie so mooi brei soos my ma nie. Wat my wel pla, is dat hulle van hul ‘gyms’ en hul ‘girdles’ en ‘pleats’ praat. Toe ons my skoolklere gaan koop het, het my pa al vir my gesê dis ‘springjurk’ en ‘gordel’ en ‘plooie’. En hy sal weet.

Ek kry my eerste leesboek. Ek blaai daardeur en verwonder my aan die kleurvolle prente van Sus, Daan, Moeder, Vader, Koeloe, Kiet, Boef, Langoor, Kees, Duif en oom Jan. Maar o wee, toe ek die leesboek in my koffertjie moet pak teen huistoegaan-tyd, sien ek die boek is te groot. Toe dra ek maar vir die res van die jaar my vetkryt en kosblik in die blou koffertjie en my leesboek onder my blad.

Ek onthou net twee kinders wat saam met my in sub A was. Dis nou behalwe Hilda. Een was so ‘n klein seuntjie met donker krulhare. Sy naam was Dawie. Hulle het ‘n besigheid gehad en een van hul werkers het hom smiddae na skool met hul afleweringsfiets kom haal. Dit het vir my vreeslik lekker gelyk om so in die kartonboks aan die voorkant van die handvatsels te sit. Die ander een se naam was Betsie. Sy was baie langer as ek met twee ronde donkerbruin oë. Haar kortmou skooltruitjie was in mossteek gebrei. Dit was vir my so mooi, dat my ma my dadelik moes wys hoe mens mossteek brei.

Pouses was vervelig, want seuns en dogters moes apart speel. Aan die dogterskant was ‘n oop skuur, bestaande uit staalpype en –pilare met ‘n sinkdak oor om vir ons koelte te verskaf. Ek het dan maar my skoene en sokkies uitgetrek en teen een van die pilare uitgeklim tot teen die dak en dan met een van die skuins pype afgeseil tot onder. Ook net tot my ma wou weet hoekom my skoolbroek deurgeseil en my sokkies so vuil was.

Daar was net een klavier in die skool. Vrydagoggende het ons sang gedurende die eerste periode by die skoolhoof gehad. Dan moes ons, nadat ons aangetree het voor ons eie klaskamer, daar in die ry omdraai om in die teenoorgestelde rigting na die klas met die klavier in te marsjeer. Ek het altyd gesorg dat ek Vrydagoggende laaste in die ry staan, sodat ek voor kon stap na die omdraaislag. Dan kon ek my plek reg langs die klavier uitsoek om mooi te kon kyk hoe meneer Cumpsty die klavier bespeel.

Verder kan ek nie veel van daardie skooljaar onthou nie. Ons is aan die einde van 1959 weg Boland toe. Maar ek onthou die beste gebeurtenis van daardie jaar baie goed: Een van die groter koshuisseuns met die naam van Evert het my een Saterdagmiddag toe ons by hulle op die plaas gekuier het, agter op sy fiets gelaai en in die plaaspad op en af gery. Maar toe gly die fiets in dik sand en my voet beland tussen die speke en my been draai in die wiel vas. En al het ek vandag, vier-en-vyftig jaar later, nog steeds ‘n litteken en is my een enkel merkbaar dikker as die ander een, onthou ek hoe heerlik dit was om as gevolg van my besering vir ‘n volle twee weke lank kaalvoet te kon skoolgaan!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Blikskooltjie
Hoe heerlik het ek nou gelees, baie dankie!
6 jaar 11 maande 3 weke 5 dae 23 ure oud


Mooi geskryf
Hello Daar
Lekker het ek nou gelees aan al jou onthou van eerste dag skoolgaan.. Jou skryfstel trek my altyd in tot op die laaste punt... Hoop ek sien meer van jou in 2013 Groete!
7 jaar 15 ure oud


V
Baie goed!
7 jaar 1 week 21 ure oud


Skool...
Daardie dogtertjie laat my baie aan my eie een dink wat nounog die seuns se wêreld baie meer avontuurlustig vind. Fyne Vlinder, maar altyd in 'n boom, op 'n rots aan die klouter. Kaalvoet.

Dankie Elize, ek was saam met jou in die blikskooltjie en het my verlustig in jou storie.
7 jaar 1 week 1 dag 6 ure oud


Skool
Elize ek het in 1985 \ 86 agter daardie skooltjie gebly. Reg voor ons was die biblioteek. Die skoolkinders het my twee kleintjies pouses altyd gefasineer.
Maar ek dink daardie paar kousies moes pragtig gelyk het. Wens ek kon dit sien.
7 jaar 1 week 1 dag 13 ure oud


skool..
Heerlik gelees aan jou skooldae, lekker sorgelose, kaalvoet dae!
7 jaar 1 week 1 dag 14 ure oud


Skool
Kosbae herrinneringe Elize. Ek het dit nou beleef asof ek deel van jou onthou is. Ons het 'n tweelingseuntjie (6j - kleinkinders) die tandemuis het die een al beloon maar loop die ander outjie, baie omgekrap daaroor, steeds met al sy melktandjies.
7 jaar 1 week 1 dag 17 ure oud


Skool
Demmit, ek het alweer so lekker gelees. Ons was 1 jaar Vryburg toe met die bus vir atletiek kampioenskappe. Magtag mens, ek het amper versmoor van die hitte. Julle het sekerlik die Boland daarna, vreeslik geniet.
7 jaar 1 week 1 dag 18 ure oud


Skool
Lekker gelees dankie en lekker vir die kaalvoet kwessie.
7 jaar 1 week 1 dag 21 ure oud


Kaalvoet
Toe ek so om '44, '45 met die bus skooltoe ry, het ons houtpropellertjies gesny en met 'n nael of 'n speld aan 'n stokkie gesteek en by die venster uitgehou. Partykeer was daar seker oor 'n dosyn propellers in ons bus. Maar ons kon nie verstaan hoekom die bus met die meeste propellers nie vinniger was as die ander busse met slegs twee of drie ,ekstra-enjins' nie!

Een van die dae merk ek dat sommige kinders sonder skoene skooltoe kom. Dit was onder andere die ,Lebs' en die arm kinders van die plotte en die plase. Uit solidariteit het ek my skoene uitgetrek en agter 'n bossie weggesteek voor ek in die bus ingeklim het.

Toentertyd had ons nie selfone of aaipotte, nie eers maar 'n eie telefoon by die huis nie. En dit was nie 'n volle week nie (met naweek daartussen) dat my ouers my met 'n brief van my juffrou konfronteer. Al my argumentasie oor solidariteit en saamstaan met die andere het niks gehelp nie, ofskoon hulle arbeiderparty was; van toe aan moes ek my skoolskoene aanbehou.

Tot by die bushalt op pad huistoe.

GvT
7 jaar 1 week 1 dag 21 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

deur Thalita Goosen

Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar