Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

So drie of wat weke gelede is ek en my vrou tussen Ventersdorp en Swartruggens op pad op ons roete terug huis toe. Ons sit en luister na RSG waartydens inbellers die geleentheid gehad het om die onderwerp rondom die skoonheid van ’n vrou te debatteer. Sporadiese harde reënbuie elke nou en dan het gemaak dat ons groot gedeeltes van die gesprek egter misloop (daardie aand het ons naby Groot Marico oorgeslaap – wat ’n interresante ou dorpie en ondervinding was dit nou gewees?).

In elkgeval. Ek onthou dat een vrou die gesprek ingelei het met die opmerking dat sy, as baie aantreklike dame, probleme ondervind het met mans wat gedurig op- of aanmerkings oor haar skoonheid of voorkoms te maak gehad het. ’n Man het gesê dat sulke aanmerkings gewoonlik die gevolg is van kleredrag wat nie veel aan die verbeelding oorlaat nie. Iemand anders het weer gesê dat wanneer vrouens te intens bewus is van hulle eie skoonheid, hulle later so gewoond raak aan die vleiende komplimente wat hulle vir hulleself in die spieël gee dat ander opmerkings maar vaal opweeg daarteen. ’n Ouer dame het in antwoord gesê dat ’n vrou positief behoort te reageer op sulke aanmerkings omdat dit meesal as ’n kompliment bedoel word en ’n bewys is dat die moeite wat sy met haarself gedoen het, waardeer word. ’n Man weer het beweer dat ’n vrou se skoonheid hoofsaaklik bepaal word deur hoe sy haarself versorg. ’n Ander ou weer het gesê dat die voorkoms van ’n vrou se voete ’n aanduiding is van haar totale skoonheid, ens, ens.

Watookal die redenasie ten opsigte van “mooi“ as sulks of in hierdie geval dan spesifiek ’n vrou se skoonheid, kan ons seker maar opsom in die Engelse spreekwoord wat sê: “Beauty is in the eye of the beholder“. Wat vir my mooi is, is nie noodwendig vir jou mooi nie en omgekeerd.

Maar daar’s tog ’n paar dinge wat daarin ’n rol speel. Ek stem heelhartig saam dat, wanneer ’n vrou onversorgd is, maak nie saak hoe pragtig sy gebou is, hoe volmaak haar beenstruktuur en hoe fyn haar gelaatstrekke nie, dan kan sy beslis nie mooi wees as sy met ’n sigaret in die bek op haar selfoon op ’n Saterdagmôre voor ’n supermark, met platgeslaapte hare en gekleed in ’n sakkerige, verkreukelde sweetpak staan en klets terwyl haar snotneustelg aan haar ander arm rem nie. Nou kan iemand natuurlik die redes vir sodanige verslonste voorkoms probeer verdedig deur een of ander krisissituasie met man, kinders of troeteldiere op te haal, maar dit wil maar nie lekker afgaan nie.

’n Groot bron van irritasie is deesdae se gewoonte van jong “dames“ om saam met hulle ultra-moderne, onder-die-heupe “hipsters“, ’n deurtrekker of “G-string“ van flentertjies helderkleurige materiaal te dra. Die konsep op sigself het niks met my te make nie want elkeen kan tog sekerlik die klere en onderklere dra waarmee hy of sy gemaklik is. Wanneer dit wel ‘n probleem vir my word, is as ek rustig, “minding my own business”, met my trollie in ‘n supermark onderweg is en sy, sonder waarskuwing, so ‘n paar tree voor my gaan staan en buk of afsak om iets op te tel of op ‘n onderste rak raak te vat en ek in die proses trompop gekonfronteer word met twee bleek boudwange waartussen ’n kanterige flentertjie lap op breekpunt deurgetrek is. En as daardie flenterjie lap boonop so ’n effense vuiligheidjie aan hom het ......? Kyk, ‘n vrou se boude, as geheeldeel van haar liggaam, is pragtig. Maar, so ‘n blatante vertoning van daardie agterste deel van die anatomie, spesifiek daar waar ‘n ou se gedagtes rondom vleis en groente en brood bedrywig is, is bietjie onvanpas. Dit maak dat mens jou eet- en kooplus skoon verloor.

Iets anders waaraan ek maar moeilik sluk is, is wanneer ’n pragtige jong dame met my kom praat of vir my iets kom vra terwyl sy spoegspattend en oopbekkouend is aan ‘n stukkie “bubblegum“. Nou dit klink amper iets soos: “Askies tog, Oom. Tsja, tsja, tsja. Ek het gewonner of Oom my kan help? Tsja, tsja, tsja. Het oom nie miskien so ‘n outjie met rooi hare en ‘n groen hemp hier gesien verbykom nie? Tsja, tsja, tsja.“ Sies, magtag.

Skoonheid, in my beskeie opinie, het alles met styl te doen. ’n Vrou se selfbeeld, haar versorging, haar manier van loop, van praat, van optree, ens, word alles in STYL saamgevat. ’n Meisie met styl kan ’n sakkerige sweetpak soos ’n Georgio Armani tabbert laat lyk. ’n Meisie met styl kan met die rook van ’n sigaret, jou laat wens jy’s daardie sigaret. ’n Meisie met styl weet hoe om te loop, hoe om aan te trek en hoe om haarself in die openbaar te gedra (vergelyk bietjie Paris Hilton of Britney Spears met Penelope Cruz).

Ek staan een aand in Lavalle straat, Buenos Aires en hou die dames (jonk sowel as middeljarig) dop wat by my verbystap tot ek later nie anders kon as om vir myself die vraag te moes afvra: “Is hier dan geen lelike vrouens in dié plek nie?“ Maar, dit het absoluut niks met die standaard definisie van mooi of lelik of vet of maer te doene gehad nie. Dit het bloot gegaan oor die manier hoe hulle hulleself in die openbaar hanteer het. En glo my dit is ongelooflik mooi. Iets om te beleef en in stilte te admireer.

Maar, net so min aanvaarbaar is daardie man met sy tweedag-oue stoppelbaard, hand-platgestrykte olierige hare so skewerig eenkant gedruk (om die bles te probeer toemaak) met ’n vet-gevlekte, effens knap rooi T-shirt wat die naam Klipdrift verwring soos dit styfspan oor ’n allemintige bierpens. Op ’n Saterdagoggend is hy op pad om vir hom ’n six-pack of twee bier te gaan haal met ’n halfmas, gekreukelde pers kortbroek aan die onderlyf en geel Crocs aan die voete. Dan is hy nog vermetel genoeg om ’n vulgêre en uitlokkende opmerking teenoor ‘n pragtige meisie in ‘n stylvolle minirok te maak. What a useless specimen of human being?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wanneer ek president word, gaan ek sweetpakke (tensy jy 'n professionele atleet op 'n sportveld is!) teen die wet maak. Sal jy vir my stem?
Ek wil ook graag (as onderwyseres) 'n nuwe buitemuurse aktiwiteit by ons skool begin: DAMES-KLASSE. Ai! Die meisies lag en praat so hard en skel. Hulle vloek. Hulle loop en hardloop en sit so lelik. Alles dinge wat skoonheid afbreek.
9 jaar 2 maande 1 week 23 ure oud


Ek het lekker gelees hieraan... goeie vergelykings en humor.

Dit is goed verwoord en ek hou van jou verwysing: "Dit het bloot gegaan oor die manier hoe hulle hulleself in die openbaar hanteer het" Dit is die crux van jou boodskap...



Baie van wat jy hier na verwys is hartseer - hartseer omdat soveel mooi verlore gaan.
9 jaar 11 maande 1 week 6 dae 13 ure oud


Skoonheid
Dis goed opgesom: skoonheid het met styl te doen. Maar wat is STYL - verskuif mens nie maar net die bakens nie? Styl kan net waardeer word as dit die vrug van 'n kultuur is, en kultuur is die resultaat van die voortdurende innerlike arbeid van 'n beskawing. Dus: al daardie lelike goed wat jy beskryf, is of die oorblyfsels van barbaarsheid, of, en dit is ontstellend, die terugkeer na barbaarsheid ...
Groete! Steyn
9 jaar 11 maande 1 week 6 dae 17 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Ontdek die Siel in my

deur helna

Dis vir my 'n eer om my eerste digbundel te kon uitbring. aangesien ek 'n passie het vir die kunste is die omslag een van my eie werke! "Ontdek die Siel in my" het sover net positiewe kommentaar ontvang, kom deel asseblief hierin.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar