Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is ’n valerige prent met ’n ewe vaal raam. Vir jare sien ek elke dag hierdie skildery met sy ou skakelhuise, hul verweerde verf en pleisterwerk en die bewolkte lug, asdrom en lamppaal op die voorgrond en vir jare sien ek niks meer as dit daarin raak nie.

Teen die muur in my kantoor hang hierdie olieverfskildery wat ‘n straattoneel van die ou Kaap, die huisies in Soutrivier van ouds, met ‘n ets van Tafelberg wat op die agtergrond uitloer. Dié Tafelberg sonder strepe toeriste en voor die bergies en vuurslaners.
Die ses mense in die skildery is net beelde, fiktiewe figure sonder bestaan. Langbroekdraers wat soos mans lyk. Die een stap op en die ander een is op pad af in die straat. Duskant staan twee op die sypaadjie en lyk of hulle gesels en doer ander kant, rus ’n man teen ’n muur. Maar, dit is die straattoneel wat tot vlak teen die raam van die prent loop, wat raakpunte uit my verwysing druk. ’n Straat stil sonder motors en vroue, met Seemeeue wat wydvlerk sweef en ’n kindjie in die middel van die pad, wat netsowel uit my geheue na my aangestap kon kom...

Herinnering

My mater,
die herinneringsding
is ’n rower en stoker
’n laspos ten beste
van onmin ten slegste.

Sin skuil skugter
agter die gordyn van herinnering.
Nogtans, trek hy verstomd
die lap stadig weg, ritsellend,
verwagtend, om nie hier-en-nou daar te vind.

Gegiet en goor gevormd
deur die illusie in herinnering
laat hy sy hartseer
en sy gedagtes verfrommeld
groet soos ’n vreemdeling.

Oor vergange dinge en tye
en blydskappe wat eens eg gelyk het,
sit ek,
en staar,
na ’n spieël, wit, sonder gesig.

Hoe skril is die waarheid se ontnugtering
hoe eenvoudig klein
verward waardeloos lyk die onthou,
die verlede,
en sy gebeure, sy herinnering.

Sal hy die oorblyfsels van vergange hout
uit die vuur van herinnering bly grawe,
dit strooi op die voetpad van sy geheue?
Of sal hy lewenswarmte in as probeer blaas;
vir ewig en nog meer vasklou, soos ’n dwaas?


So baie skrywers en digters en aspirant rubriekmakers neem graag die klawerbord onder een arm en hul nostalgiese herinnering onder die ander. So baie van ons onthou met seer verlangende heimweë , die dinge wat was. Die dae toe ons nog jonk was, of die dae toe ons sorgeloos was, of die dae toe ons nog kon werk of loop of.... bloot onthou.
So baie van ons is vir groot gedeeltes van ons stiltye doenig met herinneringe wat juis net dit is,..... “oorblyfsels van vergange hout”.


In die sogenaamde sosiale media word daar elke dag tientalle nuwe “filosowe” gebore. “Vriende” wat die lewenswaarheid van ander as apostels verkondig en geloofsbelydenis doen, wat mekaar moet motiveer om van die verlede te vergeet en die waarde van hier-en-nou te koester en te lewe asof daar nie ’n môre sal wees nie. Waarhede in woorde op prentjies vol hoop, regte kalme kleure en waterstrome. Waar duiwe teen die prag van die hemelruim invlieg of die aansteeklike glimlag van Mahatma Ghandi onder ‘n aanhaling, wat regtens of verkeerdelik aan hom toegedig word. Aanhalings soos....”Live as if you were to die tomorrow, learn as if you were to live forever”.


Ek weet nie so mooi nie.


Soms, nee eintlik meestal, “pen” ek gedagtes wat uit gister en vandag se ervarings op my inwerk op die skerm voor my neer. Soms wil-wil ek myself wysmaak dat dit onnodig is om met jou gedagtes oor dié of daai saak op jou mou mee rond te loop. Soms kry ek dit nogal reg om eerder die ander pad te kyk en gedagtes van een affêre, vir ’n ander te verruil. Soms is dit regtig moeilik.
Dit is asof die gebeure, werklikhede en gedagtes daar rondom, hulself keer-op-keer op my “voorstoep” kom tuis maak en dit dan bykans onmoontlik is om te ignoreer of selfs weg te wens. Sou ek probeer, dan krap dit my gemoed om en druk dit, totat die gestoei in gedagtes in ’n geskrif uitkom; as’t ware deur my gestel uitgespoeg word.
Waarna ek uitgeput, verlos kan terug sit.


Elke dag beweeg elkeen wat ek ken op die een of ander wyse op-en-af tussen waar hulle moet wees en waarheen hulle wil teruggaan. Werktoe, skooltoe, huistoe, winkeltoe, waarookaltoe. Op elkeen van daai paaie is daar daagliks goeters wat ons aan iets erens herinner.
“Die mooi skrale dingetjie wat op die sypaadjie draf lyk nogals soos daai meisie wat almal oor gaande was in standerd 7; wat was haar naam nou weer?”.....of
“ek moes nooit die Cortina verkoop het, jinne daai kar het darem krag gehad”....of
“daai dakverf is aaklig, lyk soos Tant Lenie hulle se spoorweghuis van destyds. Dit was nie lekker daar nie..”....of
en so dink ons, onthou ons, vergader ons gedagtes van gister en spandeer ons hulle vandag; hier en nou.


Nee my “vriende”, die kindertjies speel nie meer in ons strate nie. Die buurmanne kom nie meer op die straathoeke byeen nie, maar die meisies doen wel.
Die Seemeeue sweef nie net nie, hulle plunder asblikke en word deur Hadeda’s verjaag.
Ons herinneringe en heimweë oor wat was en die verlange na wat kon gewees het, is niks anders as ’n verstandsklug wat gemaklik ingespan word om ons te beskerm en selfs te regverdig nie. Te midde van ons hunkering en verlange na wat eens was, verloor ons empatie met hulle wat nie kan verlang na iets wat hulle nooit gehad het nie; met hulle wat hoop dat môre nie sal opdaag nie, sodat hulle juis nie vandag hoef te onthou nie.
Soms is ek self iemand wat ’n fiktiewe figuur op ’n afstand geword het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Prent uit vergange se dae
So sien ons altyd iets nuut uit iets oud.

Jy vat raak en jou beskrywing is soos altyd nadenkend en. Presies.

Ek het lekker gelees met nostalie en hoop vir die toekoms.
5 jaar 2 maande 3 weke 2 dae 15 ure oud


Prent
Uit-bloemieng-stekend! Jou prent gesels nogal met my.

As ek nie gister se onthou gehad het nie, sou geen van my geskriffies bestaan het nie. Selfs die onthou wat pyn en naar maak, voel beter na skryf se terapie.
Hou ook van Koekekranka se raad om baie droë hout bymekaar te maak vir oormore se terug dink.
5 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 23 ure oud


So gesels die prent teen my muur


Goed gehanteer die filosofie van jou!

(Maar 'n doring in my vlees bly maar - wat 'n ou omie van oor die negentig eendag vir my doer in die Marico-bosveld -amper net so filosofies soos jy- my eendag mee geproef het: "Luister nou maar na wat 'n lewensbeleefde oumens onner hierdie skielike witrypdag vir jou vermaan" seg hy en verduidelik met 'n helder lig in ou oë: "Maak soveel droë hout as wat jou jonge liggaam uit vandag kan dra bymekaar vir die oudword se winter van more wanneer jy nog wil, maar nie meer kan nie; maar darem nog kan terugdink aan wat jy kon! Dit is die brandhout wat dan saakmaak teen die onnodigheid van oudword."

En sy stuitige laggie vlam vandag nog!!!
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 6 ure oud


so gesels
diep nadink stukkie met n puik gedig
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 6 ure oud


Fritz


"Soms is ek self iemand
’n fiktiewe figuur
’n afstand geword"

. . . . 'n baie belangrike spieel
is jy werklik iemand of ek dalk niemand
of ek werklik iemand en jy dalk niemand
hoe ver verlede
hoe fiktief hede
hoe is toekoms rieel

soms as ek na fotos in die album kyk,
wonder ek of ons werklik bestaan,
of soos gedagtes vergaan

groetnis en dankie
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 17 ure oud


prent
Baie goeie bydrae. Fritz. Aangenaam om te lees en dit laat mens weereens 'n bietjie nadink. Uitstekende gedig ook. Goeie werk :-)
5 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 23 ure oud



Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar