Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende




Ek sit my stuitjie boggel-seer voor die Rekenaar wat my méér as gebrekkige rekenaar-vaardigheid weier om te verdra! En die blikding verstand nie genoeg om ons twee se kommunikasiegebrek maar net logies - of dan tenminste diplomaties! - toe te skryf aan my dom wysvingertjies wat meer tússen die toetse rondtas (Soos ’n blinde wie se gidshond tuig ontspoor het of wat ’n ge-breekte soek-tik-soek-tik-kierietjie verloor het!) as wat daar handig raak gevat moet word nie. En onhandig is ek, ja. Van vóór geboorte af al! En Ma se gebreekte kombuisgoed verklik mos allergraag aan èlke nuwe kuiergas verma-kerig woordloosluid, sommer so met hulle se intrapslag, oordadig!

      Ek het altyd gepyn as iemand met ’n aangebore onbeholpenheid ver-nedering ervaar wanneer karakterboewe die een of ander vermeende weggesteekte kompleks ontdek en dan daarmee vermaak. (’n Diepliggende psigiese siekte? ’n Sielle-pestelensie dalk? Of blote onopgevoedheid; aangeleerde onbeskoftheid; ’n onbekende psigose? En smagtend hoop ek dat die psigoterapie vóór die eindelose toekoms ook hiér dalkies kan remedieer!)

      Nee, nie mal geword nie. So gebore. Maar my rondkrappery in myself gaan oor kleinkind Loudine, want ’n Aapknaap terroriseer haar psigies in die klas. So ’n vark! En die Onnie lag glo behaaglik saam met die semels oor uitlatings wat gladnie snaaks is nie! Toe wil ek dat sy die Apie sommer so in die oog van die Onnie ’n peer op die neus meet maar haar ma sê nee, dit is barbaars. En ek verstom my oor die omgekeerde barbaarsheid en gaan kussing diklip omdat Vroutjie ook die rooilig gooi!

      (Die manne het saf geworrre! beginne ek nou insien wat Pa al handevol-jare gelede voorspel het.)
     
      Het jy toentertyd die debat en nabetragtings by Tukkies se fakulteit teologie beluister? Twee torre, een van die NG-Kerk en die ander ’n ek-weet-nie-van-waar-nie het met twee knape vanuit die VSA swaarde gekruis oor die opstanding dan nie van Christus. As gelowige sou jy verseker ook ’n ogie in die seil gehou het, glo ek, en daaroom sal ek graag jou objektiewe mening kennig wil word! En spaar nie, want dit gaan oor die hart!!!

      My kop wil te veel oor wat die vingers onmagtig mee is. Ai, nog ’n doring in die vlees! Tog biggel ek in swaarheid so nou-en-dan ’n traantjie van soeke na die onontdekte om my maar weer na sovele kere vas te loop in ’n, vir die gewone begenadigde, logiese geestelike denke. ’n Alledaagse. Vir my ’n onverstaanbaarheid: “…maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.” (Handelinge 10:28) Mag ek nie meer die satanis as onheilig of onrein ag nie? Mag ek nie die dollosgooier as onheilig of onrein aanmerk nie? Klein jakkalsies wat wil verniel! Help uit!

      Ek wil op die pad van swaarstap soms ingee, oorgee aan die vloed van nuwe denke… Maar die Gees belet, bestraf! En kyk ek links, dan regs, na agter, na vore en laat die ondertoe en die boontoe kyk nie agterwee nie…Tóg bly die doring steek!

      Die mens se soeke na wysheid hou nooit op nie ervaar ek. Maar dan hoor ek dat my ervaring ’n oertydse fossiel is! Tóg: Die wonderlike wète is dat die wysheid daarin verborge lê om die Here te dien!

      Ek blaai onverskullig deur die Bybel en verwonder my aan die relatiwiteit van tyd. Wanneer het tyd ontstaan; hoe is tye ingedeel, of wat is ’n onmeetlikheid byvoorbeeld as bewys van relatiwiteit al dan nie? Maar die kruks bly tog immers in die Skepper daarvan! Dan word relatiwiteit werklikheid! Soos Jesus Christus: Mens, Skepper in Woord… God! Dan nie?

      Die mens se soeke is nie uniek nie.

      Tinktinkies tjirp, want so het God gewil. Maar Hy het ook gewil dat ons ín Hom, met begin maar sonder einde, die Evangelie moet uitjubel! En hoe karig doen ons dit nie! Hoe lees jý Sy wil? Hoe leef jy tans Sy wil?
      En Tyd?

Vêr, iewers in die donkernag,
grynslag die Sekel wat doodstryd brag!
(In die oudword se eensame gang
sterwe die tyd in alleenwees se bang!)

Maar God het beveel: “Koop uit die tyd!
In Mý is die tyd ’n ewigheid!”
Al byt die tyd soos ’n hond sy stert,
maak die Gees ons hartklop Sý moeite werd!

Maar glo ons werklik so? Of nouer getrek: Lééf ons so? Beloer ek om my, ín my, dan beskaam dit! Tog het die Here heilige liefde met ons onmag! En watter genadige onverstaanbaarheid is dit nie! En om te jubel: Haluluja is tekortskietend skraal… Maar Goddank, die Lam maak dit heilig volmaak!

“To be or not to be…” Shakespear had, glo ek, nie die minste gedagte gehad oor die geestelike diepte van sy terloopse uitlating nie. Bedink die paar woorde teologies. Hieruit sou ’n mens mos vele dieplopende preke kon verbaal! Gee gedagte…

Is die wéés nie op sigself ’n onverstaanbare wonder nie? Die voel, die hoor die praat… ’n skamel belewenis van genade nie? En ai, ek wat minder maklik hoor vergryp my soms aan God se klanklikheid! (Al sê die kinders daar is nie so ’n woord soos klanklikheid nie verstaan ek uit my gehoorgestremdheid die begrip van hierdie buite-die-woordeboek-woord!))

Maar net so ’n tussen-in losgedagtetjie tot baring van groter gedag-tes: Is ons of word ons of was ons reeds gewees?

Nou ’n ontboeseming: Ek’s moeg geleef aan verspildheid. Meer moeg teen die baklei om end te kry aan ’n eie verwerfde diepe swartgalligheid! Ek is reddeloos moeg, Maar dan, as ek hierdie leegtetjie afry kyk ek ná ek die driffie oor is tog maar weer in God se son. En dan eina dit oor swakheid van ongeloof. ’n Doring in my vlees! (Ai, waarom tog moet ons Hom met swakge-lowigheid beskaam?!)

Dorings is ’n nodige onnodigheid het Pa altyd gesê as ons kinders nie kon verstaan wanneer ons op ons lewenspad in seerkry-goed trap nie. As kind nie so mooi verstaan nie, maar nou met die grysheid van jare verstaan ek helemal! En ek kan erkentlik na Bo dankie sê vir die eintlik eina-gesaaide doringtjies op mý lewenspad, (Al sou ek tot vermaking kon aandik!) want elke seerkry-doring waarin ek getrap het was ’n lessie vir die pad vorentoe. En nie tot skade nie! En Pa sou kon aanlas dat Jesus as vernedering en bespotting dorings as ’n kroon moes kry sodat ons knus kan wees… (God¸Almagtig, hoe sal ons ooit kan begryp U barmhartigheid, Grootheid, Liefde? …Ja, ook vir my, die laaste stukkie brandende stomp uit die vuur geruk! So baie, baie, baie dankie vir soveel genade!)

Oumense het man-af geskimp dat in die oudword verborge dinge skuil. Ja, tot selfs doodgaandinge, want, sê die logika, waar ’n begin is is ook ’n einde. En nou filisofeer ek met die aanstap van my dae nogal geil oor die wás, die ís en wat sál wees. En ek sukkel rêrig oor die middelste deel! (Vroutjie sou sweer ek het die kat - en verskoon die banaliteit!- aan die gat beet! Maar so nooit nie! ’n Ernstige erns vir my! Rêrig!) Want ek het ’n kindjie dood aan gemiddeldes wat nie Noord, nog nie Suid, Oos, Wes of met tussenin grade ploeter nie! … En iewers raak ek in eie vergeet verstrengel! ’n Ernstige siekte van ons tyd. En ek ontknoop dié knoop nie!

Ek wil nie dat julle julle dood verveel aan tussenin-inwerpings nie. Tog skater dit meer as wat geseg is uit! Dus:Luister maar so nu-en-dan na die innerlike krakelings. Loutere bog? of dalkies nie…?

Bedink ek nou die mens se soeke: Daaraan sal verseker geen einde kom nie. Daarmee, bedoelende die soeke, het ek geen baklei nie. Maar darem tog: ’n Multiebiljoen Amerikaanse dollars om te beloer in God se onmeetlike skepping? Nee wat, té veel om te verteer! Maar kom ons word onkundig kundig en ons redeneer dié gier! Sou ons elders lewe vind? Onseker. Sou ons elders ’n skepping vind soos op dese bodem? Onseker. Het God deur Sy Woord, Jesus Christus nie tydig volmaak geskape nie? Ek glo seker! Laat weet hoe jou gevoel hieroor klop!

Ek loop my gestrengeld vas in Jakobus 2:14. Onkundig stry dit mos met die wete van begenadiging soos in Romeine 3:20 (En met jou kennis dalk verskeie ander plekke uitgelig!) Verduidelik asseblief as jy kan!

Deurmekaargroete!
Ekke.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wegsteek Plekke
Eerstens het ek hierdie skryfstuk baie geniet.

Miskien moet mens begin by die wegsteek plekke en goeters.

Krap gerus in Friedrich Nietzsche se werke, en as jy dit in die hande kan kry... "Which Way Western Man" deur William Gayley Simpson.
6 jaar 10 maande 3 weke 15 ure oud


Worstelwerfie
Vir hierdie het ek tyd nodig om dit te laat verteer en te bestudeer! Ek worstel nog met dit wat my ontslape moeder op haar sterfbed gevra het: "Bid asb. net dat en my geloof sal behou!" ...Sy wat ons op haar knieë deur die lewe gehelp het tot daar waar sy nie meer kon nie!
6 jaar 10 maande 3 weke 22 ure oud


Lewenswerfie
Hier is voorwaar 'n paar dorings en rose hier te vind. Ek kan ongelukkig nie help teologie nie een van my sterkpunte - hoop jy kry antwoorde. Al wat ek wel kan vertel is dat jou pad reeds deur Hom uitgelê is en ons moet net op die regte pad hou, nie noodwendig die breë geteerde een nie, dis juis die smal pad met al sy struikelblokke wat sterk maak in geloof.
6 jaar 10 maande 3 weke 2 dae 10 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar