Titel: Stad versus platteland?
Weergawe: 1
Aantal woorde: 430
Kere gelees: 89
Datum gepubliseer: 25 Nov 2009
Net soms wonder ek:
Is die gras aan die ander kant van die draad nie dalk regtig groener nie?
Is ek nie besig om uit te mis op dit wat die stad my kan bied nie?
Is ek nie besig om my talente onder ʼn maatemmer te begrawe nie?
Dan gebeur ‘n dag soos vandag:
09:30: ʼn Bybelstudiegroep gebied my om die kerkkantoor (ek is skriba) vir ʼn wyle te sluit en die jaar se afsluiting saam met hulle te kom vier.
13:30: Die internet is buite werking en ek gaan doen elektroniese inbetalings by ABSA. Die personeel gaan uit hulle pad om my te help waar ek vashaak.
14:30 By die kasregister van die supermark (net oorkant die straat) vertel ek vir ʼn dame in haar sestigers van ʼn mede dorpenaar se negentigste verjaardag. Dié tannie het vir ʼn wyle vrede gehad met die genooide gaste. Al haar aandag was op die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks. Grappenderwys het haar seun opgemerk dat hy weier om saam met sy ma rugby te kyk. Hy’s bang sy slaan in sy teenwoordigheid van pure opgewondenheid dood neer.
As antwoord vertel my geselsgenoot hoe sy en haar papegaai saam rugby en sokker kyk. As dit rugby is, boots hy die skeidsregter se fluitjie na. Tydens die sokkerwedstryd weer die Govuzela. My dag is gemaak!
Verlede week het ʼn hewige haelstorm verwoesting in ons dorp gesaai. Onder andere is 72 ruite by die ouetehuis in die kleurlingwoonbuurt stukkend geslaan. In die reënweer is kinderboodskappers gestuur om die nood te rapporteer en my man (voorsitter van Badisa) het saam met die VGK-predikant ure lank gaan help om die plekkies waterdig vir die nag te kry. Die volgende dag het hulle weer die straatkinders (teen betaling) geleer om ruite in te sit.
Toe ʼn dierbare tannie ʼn paar jaar gelede verkrag is, het ʼn groepie anderskleurige Christenmammas wat daagliks hierdie traumas beleef met haar gaan empatiseer en vir haar gebid.
Dan is daar nog die eksentriekes onder ons. Soos die dierbare omie in die ouetehuis wat, omdat hy hom vervies het vir die personeel wat kla dat hy so mors as hy stort, feitlik daagliks met net ʼn baadjie oor sy onderbroek, Croix aan die voete en handdoek om die nek in sy Mercedes klim en na Shell Ultra City ry om daar te gaan stort.
Ons leef so na aan mekaar. Ons leer so van mekaar. Ons skaaf mekaar.
Ja, soms verwond ons mekaar en skinder van mekaar. Dis aan die einde van die dag maar deel van omgee vir mekaar.
Ek wonder net: Bied die stad ʼn soortgelyke alternatief?
L.T. Oud-stadsjapie. 24.11.2009.
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Meeste gelees in die laaste 24uur
Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Rubrieke
Gedigte
Artikels

deur Francis Gillieron
Kroniek van die rol van Suid-Afrika in Eerste Wêreldoorlog. Gedenkuitgawe.