Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Deur die nag dreun die verkeer van die snelweg hier naby ons en dit klink amper asof ek by die see woon, daardie duidelike gedruis asof die waters baie woelig is en klotsende branders breek met die gesis van voertuigbande op die teerpad. Vireers was ek vreeslik verwonderd oor dié geluide snags, tot ek bewus geword het waar die snelweg geleë is. Ek kyk deur my venster en sien trokke, busse en al wat voertuig is, verbysnel...die gesuis, waaraan ek nou gewoond geraak het, deurlopend, aanhoudend, want ek woon in 'n stad.
'n Tydjie gelede het ek, na my aftrede op 'n plaas gewoon, moes ek die stiltes en ongewone geluide van hierdie omgewing leer ken. Die versengende hitte het gedwing dat die waaier deurnag loop en dit bietjie klank verleen het aan die andersheid waarin ek nou geluide met sekere voorwerpe en diertjies moes assosieer.
Skurwejantjies het deurentyd, bedags en snags territoriale gevegte teen elke binnemuur gevoer, stertswaaiend en amper swart van woede, sy opponent probeer afskrik, want watter een in die sitkamer oor dié gebied beheer gehad het, kon nie na die kombuismuur oorbeweeg nie...ek het my altyd verwonder aan hul oorlogvoering.
'n Nonnetjieuil paar, het nes gehad in die stoor, reg oorkant die kombuis en het saans op 'n stuk yster gesit en die wêreld bespied vir muise, rotte of watter prooi dit ookal naby sou waag. Daar was bykans elke jaar twee kleintjies hier grootgemaak en saam met moederuil op die ysterstaaf die wêreld sit en beloer het.As die mannetjie op 'n jag ekspidisie gegaan het, het die wyfie op die wasgoeddraad reg voor my venster gesit en blaas en roep na hom en ek was so bekommerd oor die paar eekhorinkies wat in die dak bebly het, wat dalk sou waag om uit te kom. Gelukkig is hulle nie nagdiere nie.
Dit was ook 'n prentjie om te sien, wanneer hulle bedags van boom tot boom geskarrel en lustig aan die rooi vruggies geknibbel het, sodra hierdie besondere boom se saaddoppe droog was het dit met 'n geknal oopgeskiet om die ryp rooi vrug binne-in, bloot tel lê... (die naam van die boom het my ontgaan.)
Twee massiewe koorsbome het in die binnewerf getroon, aan die voor- en agterkant van die huis en honderde rooi en geelvinke het flink en kwetterend nessies gebou, van die rietbosblare in die een hoek naby die grensdraad van die huis...dit was prettig om hierdie bouery dop te hou, heen en weer met lang repe van die blare in die bekkies en die netjiese geweef van 'n stylvolle plek vir die wyfie en haar kleintjies. Die bome was aanmekaar net trosse nessies.
Daar het gereeld 'n trop blouapies by ons kom kuier, voor die son nog uitgeloer het, was dié lewenslustige groep al springend, spelende op ons huis se dak, wat aan die voorkant laer was as die agterkant, want die huis het teen 'n helling gestaan. Voor die huis was wildedadels waaraan hulle kon smul, agter was lemoenbome en die aapkinders het net verslind al was daar net aan die een kant van die lemoen 'n soeterige proeseltjie, dit dan net daar neergegooi en 'n volgende een probeer.
Hulle sou daar 'n redelike tydjie vertoef, selfs al het ek lawaai gemaak, het dit geen indruk op hulle gemaak nie. My skoonfamilie, wie se plaas dit was, was nie so beindrik met hierdie aap-trop nie...maklik 50 of meer van dié kwaaddoeners het lluidkeels tussen die avokadopeerboomlanings ingevaar en geplunder so ver as wat hulle gegaan het. Hierdie groepie was nie goed gedissiplineerd nie.
Ons het heel dikwels die vreemdste kuiergaste daar ontvang...natuurlik soms binne die huis, maar meeste van die tyd het hulle bedags buite rondgeluier, soos weekliks die gewoonte was, 'n hele gesin gestreepte muishonde, wat geensins bang was vir die mensekinders van die huis nie. Die kleintjies het reg tot by die agterdeurtrappies kom loer...dalk het hulle 'n spesiale happie verwag, maar ek was nie vertroud met hulle eetgewoontes nie en wou nie dat hulle te gemaklik raak om gereelde huisbesoekers te word nie.
Ek was besig om die ontbytskottelgoed te was, toe dié groot bruinjakkalsvoël in die voëlbad langs die lapa plaasneem...op 'n baie besondere warm dag in die laeveld...daar was twee hoë baddens, op voetstukke, vir die kleinere voëltjies, soos die blou sysies, tiptolle, mossies ens. en baie duiwe het ook hier kom afkoel. My seun het ook 'n sementdammetjie op die grond, tussen hierdie ander gemaak, met klippe en ornamente binne-ingebou, in die koelte van die skaduryke koorsboom.
Ek het vireers nie hierdie voël geëien nie, vir my soos een of ander arend gelyk , toe moes ek in my voëlgids naslaan wie hierdie mooi geveerde vriend was. Tot my verbasing lees ek dat hy van Euroasië was en net sekere tye van die jaar in Suid Afrika besoek aflê en kenners meen dis raar om een in ons omgewing te gesien het. Ek was so opgewonde oor hierdie fonds. Hy was duidelik baie moeg en warm en het amper 3 uur in die bad vertoef, tot ek besluit het om hom te bekruip vir 'n fototjie en hy my gewaar het...ek was so jammer dat ek hom laat wegkom het sonder 'n bewys dat hy daar was.
'n Ander van my gereelde gaste, wat ook my wekker soggens was, my elke môre met 'n geklop aan my venster vertel het dis opstaantyd, was die bosveldvisvanger! My slaapkamer venster was naby die buitelig wat heelnag gebrand het...dis mos plaas, mens moes sien wat aangaan, wanneer die honde besete blaf. Goggatjies het op die ruite aan die buitekant gesit en dit was 'n vroeë maal vir hierdie besondere gevleuelde maatjie.
Skokkend-verrassend ook die teenwoordigheid van 'n spoegkobra vir bykans twee maande in die huis as besoeker gehad. Eers was ons redelik ontsteld om soggens op te staan en artikels wat bo-op kaste gepak was, veral in die badkamers, op die vloer te vind. Houers naskeerroom, lyfrome, badolie ens, het omgekeer gelê of was op die vloer. Vir 'n tyd kon ons nie verstaan en dit maar afgemaak as rotte of iets dergeliks wat snags in die huis rondbeweeg, kon selfs die eekhorinkies wees, want die luik in die plafon het maklik oopgeskuif.
Ons het nie 'n tuimeldroër gehad nie...die laeveldse hitte het dit onmoontlik gemaak om wasgoed buite te hang, vir die mangovlieg wat eiers lê op nat wasgoed en jy redelik siek word wanneer hierdie larwe binne jou vel homself tuismaak. Dus was die spaarkamer, wat ook 'n heerlike sonkamer was, gebruik vir ;n waskamer, met wasbak en alles byderhand.
Dit was juis wasdag en ek was besig om die eerste kledingstuk uit te skud, om op te hang, toe ek die skielike geplons, soos iets wat val, direk agter my hoor...ek draai om, in die gesig van 'n spoegkobra, met gekoekte lyf van die val waar hy agter die gordyn, vermoedelik by die venster probeer uitkom het en binne die wasbak beland het. Ek het my lam geskrik, dadelik spore gemaak en die kamerdeur vinnig agter my toegetrek, wou nie dat die slang die hele huis oorneem nie.
Ek was alleen tuis, my seuns, wat net oorkant die straat 'n ingenieursbesigheid bedryf het, was altwee dorp toe vir aankoop van toerusting en ek het hierdie slang in die huis! Ek is soms redelik braaf, miskien dom-braaf...moes vir ta weer gaan soek, maar kon hom nêrens kry nie.
Gelukkig vir selfone, was hulp gou byderhand en na 'n hele soektog en operasie om die slang uit die kamer en onder die wasbak uit te kry, het ons vir 'n paar nagte wakker gelê en dink aan die implikasies van hierdie gevaarlike metgesel, 'n spoegkobra, wat 'n hele twee maande saam met ons die huis gedeel het en dan eers besef  hoe alles so deurmekaar geraak het...asseblief, nooit weer nie!
O die nagmerries!
2011/11/04 Joan Lotz




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Atmosfeer
Ek het die atmosfeer so lekker aangevoel!

Die slang: in die vroeë tagtigs was dit vreeslik droog in die Karoo. Ons het vir 'n ruk in 'n kasarm van 'n ou spoorweghuis op die kant van die dorp gewoon. Diertjies het in die dorp kom kos soek. Een oggend het ek 'n yslike slang by die honde se kosbak gekry wat besig was om hulle pap te vreet.
8 jaar 4 maande 2 weke 5 dae 20 ure oud


-
eish ja nee, al die herhinneringe en 'nagmerrie' oomblikke wat daarmee gepaard gaan... groot dilemmas maar darem met 'n goeie uiteinde elke keer... die "wat asse" vergete.
Pragtig mamma... mis ek nou die stilte in die bos... xxx
8 jaar 4 maande 3 weke 2 ure oud


=)
o gonnapiet... ek piepie my sopnat net daar... laat my dink aan die storie wat my ma so 'n jaar of wat voor haar dood vir my vertel het van die slang wat by haar huis ingekom het.. ja gelukkig vir selfone... anders was sy seker nou vroeer weg. iemand het haar darem kom help.
8 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 4 ure oud


Dorpsjapie/Plaasjapie
Dankie!
Dit was nou vir my heerlike leesstof! Jou opgewekte verteltrand is boeiend en beskrywend dog lig en lekker.
Jy mag maar!
8 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 8 ure oud


Ja
Ja, lang sinne- waaraan ek veral ly- lees swaar. My ou voorbeeldjie beskryf ook iets spannends. Dan is korter sinne en die teenwoordige tyd beter.
H.
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae 21 ure oud


Nog
Ek bedoel wat ons noem "die historiese teenwoordige tyd."
Ek reageer later uitvoerig- is 'n LANG storie, elders. Dis NIE net teorie nie. Luister bv na die verskil. :"Hy maak die deur oop. Sy hande bewe. Hy stap in. Sy het die pistool al opgelig. Die skoot knal. Dit word swart voor hom en sy bene swik."
Teenoor :"Hy het die deur oopgemaak. Sy hande het gebewe. Hy het ingestap ( Sy het die pistool al opgelig- dit is dus nodig, soms.) Die skoot het geknal. Dit het swart voorhom geword en sy bene het geswik." Afrikaans het strenggesproke nie tyd nie, net aspek van handeling en dit is o.a. sy krag.
Tot later.H.
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 1 uur oud


plaaslewe
Het dit nou baie geniet
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 22 ure oud


Joan!
Askies, mens, ek het WEER vergeet om my brief eers te redigeer. Hoop jy maak uit wat ek wou sê. Kern is: ek is REGTIG beïndruk en jy weet self ek is 'n (jaloerse?) vuilgoed
om enigsins te beïndruk! Askies!
8 jaar 4 maande 4 weke 8 ure oud


Ma-Linguis!
Ek wil nie oor mygelykluidende emosies praat nie, maar probeer om oor dei KWALITEIT van jou stuk te praat. Ek was aangenaam verras, maar jy sal moontlik al onthou dat ek voorheen al egsuggereer het dat jy dalk jou hand aan prosa moet waag! Ek is trots en ek weet my seun soo sekerlik gesê het: "Dad, you certainly still can pick 'm!"

Ek wil nou nie, maar veral jou ritme in daardie ertse sinne- JA, prosa het OOK 'n ritme ( nie METRUM) nie. Paulo Coelho sê hy kry eers die RITME van 'n verhaal en dan die verhaal!
Ek sal, hopelik later, privaat, ek is steeds erg onder druk en wil nog so baie self afwerk en dalk neersit, vir jou sê waar ek dink jy kan beter doen. O.a. in die gebruik van meer wit op die bladsy en die gebruik van die teenwoordige tyd waar moontlik.
Baie oulik! Ek is werklik beïndruk en jy weet mos self ek is maar 'n PES! Groete.
8 jaar 4 maande 4 weke 8 ure oud


Bosveld
Lekker gelees J.Boeiend.
Ons is bevoorreg om nog in die Laeveld te bly, binne 'n sekerheidskompleks met groot groen belt. Nouja Laeveld en slange is sinoniem. My werkers het hierdie week, wat ons glo 'n luislang is, tussen rotse gesien. Gaan hom soek vanoggend en laat verwyder. Nie soseer bang nie, maar moet maar die plek veilig hou, vir die bokkies ook. Sal laat weet.
8 jaar 4 maande 4 weke 9 ure oud


Plaasvrou
En so word 'n kobra ook 'n spesiale herinnering. Klink vir my wat 'n gesoute stadsmens is na 'n idilliese lewe hoor
8 jaar 4 maande 4 weke 12 ure oud


PLAAS
Ha, nou het ek lekker gekuier in die bosveld op die plaas. Ek gril nog steeds vir daai Cobra, sie ga! Buiten vir die slange, moes dit darem 'n wonderlike blyplek gewees het!
8 jaar 4 maande 4 weke 12 ure oud



Van ons ander lede

Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar