Rubrieke

Titel: TRANSKAROO
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

November 1972. My ouers sien vir my en my kêrel op Touwsrivier, my tuisdorp, se stasie af. Dis die begin van die lang universiteitsvakansie. Na ‘n paar dae by my ouerhuis, is ek en Kêrel op pad na sy ouers se plaas in die Philipstowndistrik. Ons moet op De Aar afklim.

Ons staan op die netjiese perron en hoor die trein by die spooroorgang fluit. Die elektriese bobaan-kabels begin sing en ek staan, soos altyd, met verwondering en kyk hoe die yslike enjin stadig en statig die stasie binnery. Ek herken die drywer en waai vir hom.

My en Kêrel se tweedeklaskompartemente is langs mekaar. My pa gee ons tasse deur die treinvensters aan. Dis ‘n stampvol studentetrein van Stellenbosch af op pad na die Noorde. Net ‘n boonste slaapbank in elk van ons onderskeie kompartemente is nog onbeset, maar is vol koffers en trommels gepak. Ons sê: “Los dit maar op die banke – ons klim op De Aar af so ’n driekwartier na middernag en gaan nie inkruip nie.”

Ons staan in die gangetjie en kyk uit. Ek vertel vir Kêrel van my grootwordwêreld. By Draaistasie vertel ek hom van Die Nels wat daar gewoon het. Die oom het ons horlosies herstel en sy seun, Adri, wat by my in die klas was, het in standerd twee amper versmoor toe hy boontjiepitte in sy neusgate opgedruk het nadat een van die boontjiesakkies wat ons vir mekaar tydens liggaamsoefeninge gegooi het, oopgebars het. Die boontjies het in die klammigheid uitgesit en die skoolhoof moes met hom na die spoorwegdokter, dr Küpper, toe jaag.

By Jan de Boers wys ek hom tant Johanna Gerber se ganse op die plaasdam en vertel dat my ma gansdons by die tante gekoop het om in my en my sussie se donskomberse te stop.

Ek vertel hom van die Boesmantekeninge en standhoudende fontein by Konstabel.

Ek wys hom die imposante toegangshekke van Tweedside, die plaas van die stigter van Matjiesfontein, James Douglas Logan. Logan het op die oewer van die Tweedrivier in Skotland grootgeword. In die dorpie Reston in Skotland, het hy ‘n huis vir sy broer gebou, met die naam Karroo House. Ek wys hom die begraafplaas aan die voet van ‘n koppie by Memorial waar Logan en sy vrou begrawe is. Ook Lohman, die gevierde Engelse krieketspeler wat op Matjiesfontein weens gesondheidsredes kom aftree het. En dan is daar die graf van die beroemde Skotse generaal Wauchope wat tydens die slag van Magersfontein gesneuwel het. Wauchope is eers naby Kimberley begrawe, maar Logan het die generaal se weduwee onder ‘n vals indruk gebring en die stoflike oorskot by Matjiesfontein, wat soos Magersfontein klink, laat herbegrawe omdat hy toerismepotensiaal daarin gesien het.

Toe raak ek en Kêrel moeg van in die treingangetjie staan en gaan bestel vir ons koeldrank in die eetwa. Later die middag word ons versoek om die eetwa te verlaat omdat die tafels vir aandete gedek moes word. Ons gaan sit in die sitkamer. My ma het vir ons etekaartjies vir aandete gekoop en ons wag vir die tweede sitting. Ons sien hoe Laingsburg, Koup, Prins Albertweg en Leeu-Gamka by ons verbyskuif. Na aandete gaan sit ons weer in die sitkamer, totdat die streng kondukteur ons kom versoek om na ons kompartemente terug te keer omdat die sitkamer gesluit word vir die nag. Ons gaan staan weer in die gangetjie.

Op Beaufort-Wes rek ons bene op die platform. ‘n Nuwe kondukteur klim op. Ons gaan vra hom of daar nie ‘n oop kompartement op die trein is waar ons kan sit tot op De Aar nie, want ons slaapbanke is vol bagasie. Hy sê nee. Ons gaan staan weer in die gangetjie. Ons moet kort-kort opsy staan sodat die beddegoedman met die rolle beddegoed by ons kan verby kom.

En toe sien ons dat die beddegoedkompartement se deur nie op knip gedraai is nie. Ons wag totdat dit stil is, glip in en sluit die deur van binne. Ons sit langs mekaar op ‘n beddegoedrol by die tafeltjie. Ek haal ‘n pakkie kaarte uit my handsak en ons speel rummy by die dowwe liggie om die tyd om te kry. Dis nog ver van middernag af. Toe ons weer uitdeel en elkeen met sy uitgewaaierde pakkie in die hand sit, buig Kêrel oor na my kant toe en soen my op die mond. Dit word ‘n lang, salige, uitgerekte soen. Hoe lank dit geduur het, weet ek nie, maar ek word bewus van ‘n geklop teen die venster. Ek maak my oë oop. Die trein staan stil (hoe lank al?) op Hutchinson. Die kondukteur staan op die perron met sy gesig tussen sy bakgemaakte hande teen die ruit gedruk. Ons sit soos twee verskrikte hase in ‘n motor se lampligte na hom en kyk, kaarte nog steeds in die hand.

Kondukteur sê ons moet ons tasse in ons kompartemente gaan haal en saam met hom kom. “Vanaand word ons twee op hierdie haaivlak tussen niks en nêrens van die trein af gegooi,” fluister ek benoud vir Kêrel.

Maar die kondukteur sluit vir ons ‘n eersteklaskompartement oop en sê: “Nou lê elkeen van julle op sy eie bank en slaap. Die deur moet oop bly en ek sal julle betyds kom wakker maak voor De Aar. En geen gesoenery.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Geen gesoenery . . .
Hahahahahaaaaaa . . . en?

Dit was nou die beste, heerlikste storie wat ek in 'n lang tyd gelees het!!!

WELKOM terug!
4 jaar 2 maande 3 weke 12 ure oud


***
Bly om jou weer hier te sien, Elise. Lekker gelees aan jou storie, maar wat van die klimaks :)
4 jaar 2 maande 3 weke 15 ure oud


SOEN
Kostelik !!!
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 3 ure oud


geen gesoenery


herdefinieer na asemhalingsoorlewing
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 6 ure oud


:-)
Boeta!

En toe moes julle die ge-soenery aanskou het in daai eersteklas kompartement...
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 12 ure oud


Soen
Aaag hy is 'n ou spoil-sport! Dit was ek heerlike storie. Uit meegevoel het ek sommer namens jou gebloos!!!
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 15 ure oud


Eers
Voor ek lees wil ek eers se:
Mens is ek bly om weer van jou te hoor!!! Dis wonderlik!
Nou gaan ek lees.
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 15 ure oud


Transkaroo
Elise
Wonderlik om weer van jou te hoor.
Og daardie eerste soen . .
Neewat, ek was stupid en sy ook en die try was maar simple.

Joune was 'n reuse sukses - veral die aanloop . . .
Thanks.
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 19 ure oud


Transkaroo
heerlik gelees.. die ou kondukteur het n jong hart gehad wat liefde verstaan!
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 23 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Besoeking

deur Kobus van Eden

DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar