Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die plek waar ek my dagtaak volvoer se deure het Vrydag reeds vir die vakansie gesluit. Vandag is dit Maandag en ek sit alleen in die koel kalmte van ’n stil kantoor om ‘n laaste paar goeters en geite af te handel.

Een van hierdie lastige goeters is ’n voertuig se lisensie hernuwing. Blykbaar het die mense met die hogere ampte erens besluit dat die hernuwingskennisgewings vir November en Desember, vanjaar nie gepos sal word nie.
Nee, as jou lisensie se hernuwingsdatum in hierdie twee maande val, dan moet jy en jou ID en bewys van adres by ’n toonbank by die munisipaliteit aanmeld om die hernuwing te doen. Of so hoor ek. Hulle sê ook nie vooraf hoeveel die affêre gaan kos nie; jy sal dit by die toonbank hoor!
En, dit geld nie net vir my nie; nee,...dit geld vir honderde duisende ander mense ook. Vir my het dit egter gevoel en gelyk of hulle álmal by dieselfde kantoor as ek vanoggend aangemeld het!

So-by-so, nadat ek my kalmword oefeninge bedink het, sit ek ook in die ry op die metaalstoele voor toonbanke 1 tot 5 en wag. Die ry is so lank, dit lyk asof die mislikepaliteit gratis Lotery-kaartjies uitdeel. Ons skuifel-skuifel ons agterstewes ’n stoel op ’n slag nader na die voorpunt van die ry en na slegs veertig minute, is dit my beurt. Die seun agter die toonbankglas maak nie meer oogkontak nie; hy neem die papiere wat ek saamgebring het en tik ’n slag op die rekenaar voor hom. Toe, steeds sonder om op te kyk, help hy my bloeddruk verby die kalmte drempel tot op die rand van die helse gloed met die woorde: “ we need the company documents “
Ek praat en beduie en vertel van die kantoor wat reeds op vakansie is, maar hy verseg daarmee dat die dokumente onvolledig is. Ek probeer ‘n wyer en pragmatiese oorredingshoek en gryp selfs na die onbekwaamheid van die regering..... maar, niks help nie.
Toe kyk hy eindelik op en sê “ sir, I’m just doing my job....next please”.

Met die uitstap verby die ander toonbanke sien ek ‘n duidelike inligtingsblad teen die muur wat al die vereistes vir hierdie hernuwing bevat. Inligting en dokumente wat ek sou kon saambring en die storie afhandel, indien ek dit eers gelees het.

Gister was kerkdag.
’n Oom en tante wat ek van sien ken en hulle seker vir my, wil verby my skuif om ook ’n sitplek op die bank te kry. Ek staan op en terwyl hy my groet , stel die oom hom sommer ook aan my voor.
Ek sê “dankie, maar ek weet wie oom is”, “o’, sê hy terwyl hy met sy grys pakklere verby my skuif. Hy gaan sit hier neffens my en asof hy dringend ’n verskoning vir hierdie oorsig van erens af moet uitgrawe, kon hy net met “dis maar die ouderdom wat mens laat vergeet”, na vore kom.
“Jy sal eendag sien wat ek bedoel; jy’s vinniger daar as wat jy dink.”

Terwyl die gemeente met die voorsang begin en ek sing sonder om aan die woorde van die lied te dink, draf daar ’n paar aweregse gedagtes deur my gemoed.
“Die oom in sy ou Trustbank pak en staatsdienskuif kon darem beter as dit gedoen het; verwens hy my omdat ek as middeljarige moontlik nog my volle denke tot my beskikking het, of waarsku hy my dat ek ook binnekort op sy deel van die kerkbank sal sit en wonder vanwaar ek die jongman langs my ken?”

’n Kollega sê altyd dat ’n lukrake aanname nie kwansuis die regte opsomming van ’n gebeurtenis of situasie is nie. Dat ons aannames soms so deurspek is met die vooroordeel, dat dít wat ons sien en dít wat is, twee vreemde leeus se welpies is. ’n Resep vir kwaadaardigheid as jy my nou vra.

Twintig vyftien skuur nou soos ’n pas gelande valskermspringer tot sy einde. Wanneer die kalenderjaar tot stilstand kom en die seil oor die nuwe jaar weggetrek word, dan sal sommige van ons die volgende dag betree asof ons onder ’n koma ontwaak het en nou die ganse wereld in ’n nuwe lig wil sien en met ’n vars lus die sogenaamde nuwe jaar wil aanpak...
Net om die sooibrand en ongesteldheid van die werklikheid van ons bestaan na die eerste week te ervaar...

As ek behoorlik wou lees en luister, dan sou hierdie dag en gister vir my soveel meer aangenaam gewees het. Dan sou ek met die eerste probeerslag ’n lisensie gekry het en sou ek nie met die tweede wagslag ( 2-ure later ) die einste toonbankklerk om verskoning vir my optrede moes vra nie. Sou my dag meer produktief gewees het en syne minder traumaties.
Dan sou ek die woorde van die voorsang kon inneem en sou ek Sy lofprysing en aanbidding werklik kon meeleef, in pleks daarvan om met ’n gemoedsbekakking te stoei.
“Skuus oom, jou hare lyk nie staatsdiensagtig nie, alhoewel die grys pak dit steeds nie vir my doen nie!”

Dit bring my by die wense vir myself vir twintig sestien en die res van vandag....
“myself, maak skoon jou kop,
maak oop jou oë,
luister vir jou hart
en vergeet van die datums in jou ID-boek .”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Twintig sestien
Positiwiteit ! Ek hou baie daarvan, kan ek bietjie by jou bedel?

Ha ha ha,
Mooi geskryf !
3 jaar 9 maande 2 weke 6 dae 8 ure oud


Twintig Sestien


Positief! (En ai, ek kort sommer emmers vol om so geaard te kan kom...)
3 jaar 10 maande 1 dag 8 ure oud


laat ander begaan, sou ek se
Ai, die beskrywing van die oom in die kerk ... is jy nie juis daar om nader te kom aan God nie? Laat maar begaan en laat die oom aantrek wat hy het - dis dalk al wat hy het, al doen dit nie vir jou nie ... ek meen maar net.

Ek stem met jou - ons moet vergeet van die datums in ons ID-boeke en voluit leef - die lewe is te kort!

Dankie vir die deel van jou gedagtes, net 'n dapper man/vrou pen dit so neer!

'n Mooi 2016 jou toegewens.
3 jaar 10 maande 4 dae 8 ure oud


2016
En my wense is:
Myself, neem ter harte wat Hennie vir sy self wens
maak skoon jou kop,
maak oop jou oë,
luister vir jou hart
en vergeet van die datums in jou ID-boek
en ek las by:
Gaan maak reg wat jy verkeerd gedoen het en basta met vloermoer gooi!
3 jaar 10 maande 5 dae 1 uur oud


20/16
Ek is juis bang vir oud word.

Pragtige skryfwerk vir nadenke.
3 jaar 10 maande 5 dae 11 ure oud


20/16
k stem. vergeet van die datum op jou I.D. Mens is net soud soos jy jouself dink.
3 jaar 10 maande 6 dae 1 uur oud



Van ons ander lede

Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar