Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

20. Vervolging

Elkeen van ons, glo ek, het al gefassineerd gesit en luister na die getuienis van iemand (of oor ie-mand) wat in ‘n vreemde land vervolg is en selfs tot die dood toe gemartel is vir sy geloof. Dis ook een van die dinge wat jong gelowiges (veral kinders) nogal bang maak, wanneer Christenskap en lyding so eksplisiet met mekaar geidentifiseer word. Maar dis ongelukkig waar. Baie Christene moes al met hulle lewens boet bloot omdat hulle Christene was (of soms selfs net deel van ‘n oorwegend Christelike kultuur is, soos op die oomblik in Noord Afrika). Die Bybel waarsku ons wel teen lyding en vervolging. Ons hier in Suid Afrika, met al die dinge wat verkeerd is en verkeerd gaan, geniet steeds godsdiensvryheid en ons het die voorreg om ons Christenskap uit te leef sonder vrees dat ons daaroor doodgemaak sal word of sal hoef te ly op fisiese vlak. Dit beteken nie daar is nie Christene in Suid Afrika wat ly vir hulle geloof nie. Vervolging in ons konteks is baie meer subtiel. Ons word nie fisies seergemaak of doodgemaak nie, maar emosioneel en geestelik ly baie wel. Ons oortuigings en geloof word uitgedaag, gekritiseer, letterlik soms afgelag. Ons word name genoem. Ons word beskryf in negatiewe terme soos “verkramp”, “uitgedien”, “onverdraagsaam”, “eksklusief”. Ons word deur sommiges wat hulleself beskou as intelektueles beskryf as (om die Engelse term te gebruik) “simple minded”. Sommige kenners van die sielkunde beweer ons geloof is net ‘n kruk, want ons kan nie op ons eie staan nie. Ons skep blykbaar vir onsself ‘n god omdat ons die die realiteit van lewe kan hanteer nie.
Persoonlik het ek vrede met wie wat dink en beweer, maar vir baie Christene is dit die sort vervol-ging in hulle werkplek, sosiale kringe en selfs in hulle familie. Dis nie lekker om alleen te staan nie.

Maar daar is ‘n ander kant. Ek is bevrees baie Christene het al vervolging ervaar omdat hulle dit oor hulleself bring. Hulle ly nie terwille van die kruis nie. Hulle ly as gevolg van die manier waarop hulle die kruis hanteer. Hulle hanteer mense sonder respek en “ly vervolging” omdat daardie mense hulle rug draai en soms met sterk taal hulleself van so persoon distansieer. Hulle verkondig die evangelie “tydig en ontydig” sonder om die mens voor hulle (en die plek waar hy/sy hom/haarself bevind) in ag te neem. Hulle verkondig oordeel in plaas van liefde en dink hulle gaan iemand se hart blywend aanraak deur vrees. Mense loop draaie om hulle, soos om die omie wat in sy swartpak op die hoeke van die strate staan en sy ‘Draai of braai’ evangelie uitskree. Mense vermy hulle
naderhand want hulle is ‘n verleentheid. Ek vermy hulle ook. Hulle is vir my ook ‘n verleentheid, en ek is ‘n Christen.
Nie alle vervolging van Christene is terwille van die kruis of die ‘Goeie Nuus’ nie. Baie vervolging is as gevolg van die Christen se onsensitiwiteit, liefdeloosheid, harteloosheid, onbetrokkenheid en bloot ontydigheid. Niemand kan daarin roem nie. Waak teen ‘n valse ‘ly vir my geloof’. Maak eerder seker die Kruis ly nie as gevolg van jou nie.

Vervolging vir die regte rede is wanneer jy vervolg word omdat jy die Goeie Nuus verkondig. Jy neem die ander persoon in ag, jy weet van sy swaar en sy worsteling, sy vrae en vrese, sy kultuur en verwysingsraamwerk. Jy kom nie met goedkoop antwoorde en steriele tekste nie, en tog word jy en die boodskap wat jy bring verwerp. Jy doen soos Jesus beveel het; jy streef na die maak van ‘n dis-sipel (nie ‘n bekeerling nie), en tog, soos in sy geval, verwerp hierdie ‘dissipel’ jou (en vir Jesus).
Ja, daar is tye wanneer jy, ten spyte van ‘n opregte hart, ‘n sensitiewe gees en ware omgee en ‘n Blye boodskap, steeds verwerp sal word. Dan ly jy terwille van die kruis van Christus. Dit sal ge-beur.

Hoe hanteer ek vervolging? Wat maak ek met die verwerping, die gevoel van mislukking, die teleurstelling? Niks, want dit gaan nie oor jou nie. Jy word maar net met Christus geidentifiseer. Jy word een met Hom in sy lyding en verwerping. Dit gaan oor Hom in die eerste plek. Verwerping van die boodskap van die Kruis is verwerping van Homself. Dis verwerping van die hoogtepunt van die openbaring van God se liefde. Die werklike lydende party is die onkundige, onwillige of onver-skillige persoon wat nie die boodskap van die Kruis wil aanvaar nie. Dis hy wat vasgevang bly in sy ou natuur, wat die genade en barmhartigheid van God nie bewustelik beleef nie, wat die lewe in oorvloed mis en onbewus is van die erfenis wat vir ons in bewaring gehou word. As jy iemand wil jammer kry is dit vir hom, nie vir jouself nie.

Vervolging terwille van die Kruis van Christus en die Goeie Nuus van versoening, verlossing en vryspraak is onafwendbaar in ‘n wereld wat hardkoppig sy eie antwoorde wil soek, sy eie oplossings wil vind en homself as die enigste bron van krag beskou. Maar waak daarteen dat die evangelie, die ‘ware’ evangelie, nie ly as gevolg van jou nie!




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Hartsnare

deur Driekie Grobler

100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar