Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Elke Kersfees het my ma en haar drie susters met hul gesinne saamgetrek op Flora’s Folly, ‘n kleinhoewe op Adendorp digby Graaff-Reinet in die Groot Karoo. Daar, op die oewer van die diep, boomryke Bloubossloot, ‘n sytak van die Sondagsrivier, in die skadu van Spandauskop, het tannie Hanna, die oudste suster en matriarg van die familie, die septer geswaai. ‘n Formidabele vrou wat vir alles kans gesien het en wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

Dit was die lekkerste vakansies van my kleintyd. Synde die enigste maergraatjie tussen al die mollige neefs en niggies, het ek altyd voorkeurbehandeling geniet. Die tantes wou my voortdurend vet voer en ek moes drie maal ‘n dag onder streng toesig van my oudste tante, ‘n tonic drink om my ‘op te bou’ – en ly vandag nog aan die nagevolge. Dit het my ma se selfbeeld ‘n taamlike knou gegee, want behalwe vir die feit dat sy die enigste van die vier donkerkopsusters was wat dit, danksy my blonde pa, nie kon regkry om swart-ogige brunetjies voort te bring nie, het haar oudste nog boonop ondervoed voorgekom. En die Desember voor my twaalfde verjaarsdag het tannie Hanna, met die groetslag, een opsommende kyk in my rigting gegee en toe gesaghebbend aan my ma gesê: “Die kind moet ‘n bust bodice kry.”

Die aanloop tot Kersdag was deel van Kersfees. Tannie Hanna en my ma het elke jaar so tussen die grootskaalse geslag, gekook en gebak deur, vir al ons niggies enerse vrolike krismisrokke gemaak wat ons dan baie opgewonde op Oukersaand en op Kersdag aangetrek het. So ‘n week voor Kersfees het ons, terwyl die rooimiere ons kaalvoete geniepsig gebyt het, saam met een van die ooms langs die leivoor ‘n mooi groot garingboom met baie sytakkies, wat moes dien as ‘n kersboom, gaan afkap. Saans het ons kinders om die groot tafel in die woonkamer gesit en met skêre, kreukelpapier, kleeflint en blinkpapier, tuisgemaakte kersversierings geprakseer en met gespitste ore na die grootmense se geselskap sit en luister. En as ons klompie teen slapenstyd ingeryg soos sardientjies kop-en-punt op teenmekaargeskuifde beddens onder koel lakens gelê het, het my pa vir ons een gewone storie en een Bybelstorie kom vertel. Eenvoudig, sodat selfs die kleinstes dit kon verstaan.

Ons kinders het die snikhete dae, met die aanhoudende en eentonige gesing van sonbesies en die skerp geur van doringboombloeiseltjies, in die sementdam deurgebring waar ons ons voetsole en tone tot bloedens toe op die skurwe bodem deurgeswem het en bottels vol gemmerbier uitgedrink het. Ons het vir ure lank tjoepstil en vol verwondering op die varkhokke se muurtjies sit en kyk hoe werpsels varkies gebore word – elkeen soos ‘n klein pienk polonietjie vasgewikkel in ‘n vliesie. Ons het in die reusagtige ou Kaapse moerbeiboom rondgeklouter waar ek van al die neefs en niggies die meeste moerbeie geëet het omdat ek die hoogste van almal kon klim. En smiddae as die ooms en tantes gerus het of as dit donderweer was, het ek die Afrikaanse boeke in my oom se tuisbibliotekie, en my ouer neef en niggie wat al in die hoërskool was se voorgeskrewe boeke, in die koel, donker voorhuis verslind: Ruiter in die Nag, Die wit Arend, Ons wag op die Kaptein, ‘n Span van 20 Muile van Mikro. Uit Oerwoud en Vlakte van Sangiro. Die Vrou op die Skuit van Elise Muller. Geknelde Land van F.A. Venter.

Een jaar het my oudste neef die koerante gehaal na hy skelmpies ‘n vuurpyl gebou het om maan toe te skiet, maar toe net reggekry het om helfte van die stoep en byna een van sy oë weg te skiet.

En ek is sekerlik die enigste mens ooit wat ‘n pak slae bo-op die kruin van Spandauskop gekry het. Toe ek so ongeveer nege jaar oud was, het ek die kop vroeg een oggend kort voor Kersfees saam met my pa gaan uitklim. Sommer met my paar goue sandaaltjies - my enigste - en ‘n rok aan. Ons het toe nog nie nonsens met spesiale toerusting gehad nie. Bo gekom, het my voete op ‘n plaat los klippertjies onder my uitgeglip en ek het die Naam van die Here ydellik gebruik toe ek op my sitvlak te lande kom. Dit was net een te veel vir my godvresende pa. Hy het my daar en dan met die plathand bygekom en alle lus om te vloek vir ewig uit my uit gefoeter.

Op Oukersaand het almal opgewonde op Vader Krismis se koms gewag. My pa het dan gewoonlik uitgegaan om die ou man se takbokke op die lusernland te gaan vashou terwyl ons die kersliedere wat ons in die skool geleer het, gesing het. Ons kleinste niggie, toe nog ‘n kleuter, het op ‘n keer, tot groot vermaak van die grootmense gevra of ons Uit die Blou van onse Hemel kon sing. Dan het Kersvader met sy rooi jas en wit baard ingekom en die kersverhaal vertel en presente uitgedeel

EEN Kersoggend in die Nuwe Kerk op Graaff-Reinet, waar my ouers ‘n klompie jare tevore getroud is, het een van die jong niggietjies tydens die preek styf onder my pa se blad ingekruip en ingedagte sy armhaartjies sit en trek. En toe kliphard gesê: “Weet oom Wynand wat? Vader Krismis het net so ‘n horlosie soos jy.”




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kersfees . . .
En dit is al oor en oor bewys :
Hoe klein ookal, kinders sien en hoor en onthou alles!

Thanks Elise
4 jaar 1 maand 2 dae 1 uur oud


Kersfees
My jinne kan jy dit nou glo? Oom wynand en Vader Krismis shop by dieselfde winkel vir hulle juwele!

Ai man dit was alweer 'n Elise-voorslag-vertel!!
4 jaar 1 maand 2 dae 17 ure oud


Ano
Horlosie
Ah-ha, 'n oplettende klein dametjie daardie :-)))
4 jaar 1 maand 2 dae 23 ure oud


Horlosie
:D

Wat 'n heerlike Kersfees-onthou! Ek het elke woord geniet en my verkneuter oor daardie pak slae . . . siestog, goue sandaaltjies en rokkie en al !

DANKIE!
4 jaar 1 maand 3 dae 11 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

DIE WIEL DRAAI

deur neels claasen

Die skrywer se vierde spoorwegroman uit die stoomera uit waarin hierdie dae weer herleef word



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar