Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Weereens dié vakansie het die onderwerp van moraliteit gesorg vir vurige woordewisselings. Iets word gereken as reg of verkeerd relatief tot iets. Hiermee stem ons nog saam, maar aan wat presies moet mens dit meet? Volgens die wat hul posisie teenoor my eie gestel het is die maatstaf relatief tot die kultuur wat die oordeel fel. Dus was iets soos slawerny destyds in vele kulture aanvaarbaar vir die gene wie se kultuur slawe eienaars was. Vir ons om hulle te oordeel is om ons huidige kulturele morele standaarde ongeldig toe te pas op ʼn ander kultuur met hul eie morele maatstawwe.

Maar hier word die onderdrukker se sienings verdedig. Hoe het die onderdruktes die situasie ervaar? Sou byvoorbeeld ʼn Romein van adellike afkoms as slaaf gevange geneem in een van die kolonies sy nuwe status as eiendom van sy meester maar gedwee aanvaar het omdat slawerny ook in dié kultuur bedrewe was? Deur ʼn persoon sy regte te ontneem omdat hulle buite die aanvaarbare of inklusiewe kategorieë val is logies arbitrêr. Inherent is daar min verskille tussen die wie ander besit en die wat so besit word.

Dus is die verskil in status iets toegeskryf aan persone deur die gene in beheer van die magsstrukture van die betrokke samelewing. Persone wat volgens hul raamwerk lede is van die bevoorregte groep word die regte toegedien wat die groep hulself gun, terwyl die wat nie daaraan voldoen nie daarby uitgesluit word en so ook die beskerming van hul persoon daardeur verloor. M.a.w. die wat uitgesluit of verwerp word verloor daardeur hul menswaardigheid en die morele status wat dit veronderstel.

Toe ek dit stel dat verkragting verkeerd bly al is die verkragter onder die indruk of oortuiging dat dit nie is nie; omdat die verkragte persoon se ervaring daarvan die maatstaf behoort te wees ter veroordeling van die daad; word ek gevra of in ʼn kultuur waar verkragting nie veroordeel word nie en selfs deur die slagoffer as hul lot aanvaar word ek nog steeds dit kan veroordeel as verkeerd. Nou hier kom ons weer by definisies uit. Indien verkragting beteken dat die slagoffer teen hul wil misbruik word, dan is die slagoffer se oorgee aan hom/haar lot nie dieselfde as om toestemming te gee nie. Indien toestemming wel gegee word dan is dit ook nie meer verkragting nie.

Miskien; word dan weer voorgestel; het die idee van verkragting eers later ontstaan, so dieselfde daad was voor die definisie van die konsep nog nie verkeerd nie. Wel, al wat die definisie doen is om iets te omskryf. Dat mense teen hul wil misbruik word is ʼn feit, ongeag of ons die konsep daarvoor reeds verfyn het. Wat tel is die ervaring van die slagoffer. Al wat ons moet oor besin is of die slagoffer deel vorm van die morele gemeenskap. Die argument is dus oor wat bepaal die insluiting van ʼn wese in die morele gemeenskap. Is dit spesie, geslag, ras, kultuurgroep of iets anders spesifiek eksklusief? Wie het die mag om hieroor te oordeel?

Eerstens moet ʼn wese deur ander wesens geaffekteer kan word op fisiologiese en psigiese vlakke. Daar moet dus tweesydige interaksie kan plaasvind. Iets onaangeraak deur die aksies van ander is per definisie buite die morele sfeer. Gevoelsvermoë is die basis, maar die intensiteit of kwaliteit daarvan varieer tussen wesens. In ʼn materiële wêreld is neurologiese kompleksiteit die kenmerkende maatstaf van die vlak van gevoelsvermoë. Of dit wel al kenmerk is wat wesens se graad van gevoelsvermoë toon is nog onbeantwoord, maar dat wesens wel so gegradueer kan word is in prinsiep oortuigend. Dus, al is ʼn wese onbewus van die impak wat hul dade op die gevoelens van ʼn ander wese het, kan ons slegs aflei dat die oortreder naïef is aangaande die onreg wat hul pleeg en nie dat geen onreg gepleeg is nie.

Kennis oor die werklikheid is dus noodsaaklik om korrek te handel teenoor ander in die werklikheid. Die studie van die werklikheid, vernaamlik die wetenskappe, het ons bewus gemaak van vorige miskonsepsies oor die aard en vermoëns van ander wesens. Rasse verskille ter ondersteuning van rassisme het geblyk om ongegrond te wees soos die gemete verskille getoon het om slegs oppervlakkig en nie inherent te wees nie.

Homoseksualiteit is as natuurlik erken met die waarneming van sulke gedrag onder omtrent alle soogdiere. Ook vroue het getoon dat seksistiese idees rondom hul vermoëns ongegrond is. Dus volg dit dat gelykheid logies na alle mense van alle tipies uitgebrei behoort te word. Diere se ervaringswêreld is ook al meer sigbaar deur die wetenskappe wat ons noop om die morele sfeer selfs verby die menslike spesie te vergroot.

Verwag ons dus dat roofdiere hul jag moet staak in medelye met hul prooi? Nee. Geen bewyse toon dat sulke inherente instinkte van roofdiere oorkom kan word nie. In kontras hiermee is dit duidelik dat mense hul idees kan aanpas en verander. Ook het die mens die vermoë om rasioneel en logies oor dinge te dink wat die mens die verantwoordelikheid besorg om sy dade te kies en te oordeel. Wat dan van mense met tekortkominge, soos fisies of geestelike gestremdes? Moet ons hulle minder ag as gesonde mense? Nee, want behalwe dat hulle self nog aangeraak word deur hoe hulle hanteer word het hoe ons sulkes hanteer ook ʼn impak op die gesondheid van die samelewing as ʼn geheel.

Selfs al is daar geen familie meer om vir so persoon om te gee nie, sal ʼn samelewing brutaal wees om nie vir hulle te sorg nie. Dieselfde geld vir beseerde, siek of bejaarde mense wat onbeholpe is en ons sorg benodig. Indien jy self die sorg sou verwag of voor hoop wanneer omstandighede dit sou bepaal, dan logies kan mens slegs daarop aandring indien jy ander dieselfde sorg gun. Moraliteit is rasioneel onderskryf. Die feite oor die ervaringswêreld bepaal die toepassing daarvan. Hoekom kies om moreel te handel? Jy hoef nie, maar jou keuses het gevolge en ander sal jou daarvolgens oordeel en hanteer. Dit is ook die enigste logies verdedigbare gedrag vir ʼn regverdige en liefdevolle samelewing. Ons maai wat ons saai.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

>
En so maai die wat saai, terwyl die wat saai ook aan't maai is. Soos wat gister en vandag se gebeure in Parys dit weereens so klinkklaar onderstreep.

En toe bly als nog dieselle.

Soos wat die maaiery en saaiery reeds vir eeue lank deel van ons mense se wrede geskiedenis op hierdie planeet is...
6 jaar 2 weke 2 dae 2 ure oud


vakansie
Ons maai wat ons saai. Inderdaad. Dankie vir die deel
6 jaar 2 weke 2 dae 4 ure oud


Roofdiere
,Jy is wat jy eet.'
Dus:
Ons moet wolwe met lammers voer. Want hoe meer lammers 'n wolf vreet, hoe meer word hy lam-artig.
Tot hy 'n lam is.
Of hoe?
Mense is mense, en diere is diere. Ons kan slegs beperk van die een op die ander oordra.
In so 'n debat is versigtigheid die moeder van die porselaankiste.
GvT
6 jaar 2 weke 2 dae 7 ure oud



vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar