Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die ander dag môre toe die kinders soos gewoonlik vra “wat maak ons vanaand?” ( die eintlike vraag is: wat eet ons vanaand? ), toe besef ek net weer dat die waarde van kosmaak baie vêr bokant die voedingswaarde van die kos lê.
Kombuiskaskenades staan in baie van ons huise reg in die middel van gesin-wees. Tans in ons eiesoortige verhaal, staan die kombuis nie net so-te-sê in die middel van ons bestaan en saamwees nie, maar ook die huis!

Ek het eintlik nog nooit gesug om kos te maak nie. Ek hou net nie daarvan om ’n kombuis te deel nie – as ek kook, kan jy kyk as jy wil. Of andersom. Sommige mense sal dit heel waarskynlik as ’n enkelkind-ding beskou. My ouers het beide gewerk en vandat ek kan onthou, kon ek die kombuis vir myself hê. Destyds voorskool, toe ek vir Pa met ’n koppie koffie moes wakker maak om te gaan werk, of vir myself in die skoolvakansie ontbyt maak, was dit streng volgens Moeder se voorskrifte. Later sou dit eksperimentele broodjies uit Kook-en-Geniet raak. ’n Warm vars brood, kouevleis, tamatie en kaas was egter my gunsteling min-moeite ete na ’n rugby oefening. Toe my Pa skofte gewerk het en later sakeman was – het hy gereeld vir middagete huistoe gekom. Dan het ek vir hom ’n spek-en-eierbroodjie gemaak, of “French-toast”, of geroomde niertjies op roosterbrood, of wat ookal die tyd toegelaat het . Later toe die spanning en te veel suiwel en vleis hul tol begin eis het, sou ons groentesop, radysslaai en appelsap, soos die homeopaat voorgeskryf het, voorsit.

Wanneer Trustbank se boeke nie wou klop nie en Moeder en die tannies van die grootboeke ’n 2-sent fout tussen blaaie en blaaie papiere tot in die laatnag moes soek, dan het ek solank die “kos opgesit”. Eers net die groente, rys en aartappels. Ma het die vleis kom doen. Tot ek die “stoompot” ontdek het. Dit was die begin van my lewe saam met die bredie. Hier kon ek nou begin eksperimenteer met die samevoeging van smake en bestandele. Hoender met muskadel, skenkels in rooiwyn, Kerrie maalvleis en groente. Nie al die smake was wenners nie, maar met moeite en inspanning, was dit darem eetbaar. Daardie jare het ons nie juis baie vleis gebraai nie; dit het eers later jare ’n skadu oor ons mense se groei in kosmaak kom werp.

In afwyking eerder as in teenstelling met my kommentaar hierbo, is ek dankbaar dat ek en my beter-helfde wel ’n kombuis kan deel. Ons tweetjies kan saam ’n ete voorberei, sy die een deel en ek ’n ander. Dit is natuurlik wanneer ons die geleentheid kry, want.... Ons oudste seuntjie het erens tydens die begin van sy tienerjare die vaardigheidslus vir kosmaak ontwikkel. Van toe-af, het dit met spronge en huppels toegeneem, so-by-so dat hy die kombuis tuis as sy eie beskou en ek en Mammie besoekende kokers geword het! Nie dat hy nie heerlike eetgoeters maak nie, inteendeel. Sy kullinere vaardighede en nuutgevonde wysheid en kennis word nou die basis van die kritiese beoordeling van die res van ons se kombuispogings. Hier-en-daar slyp daar oomblikke in waar ek en Mammie oorweging daaraan skenk om die “slimstudent” met sy eie spesialis-messe op te kerf!

Kafee-kos en restaurant aansit is al vir baie jare nie meer ’n gereelde deel van ons gesin se eetplan nie. Alhoewel ons soms voel om die slim-kook-seun met potte en panne te verjaag, geniet ons tog die vrug van sy studies uit die kombuis. Die ekstra koker in die huis, is die afgelope jare die ontvlugting van “iets-aanmekaar-slaan” vir ete, na die lekkerte van kosmaak. Dit is veral oor ’n naweek wat ek darem ook nog ’n kansie in die kombuis kry.
Terwyl my gesin in vat-afstand van die gasplate of die Weber of die braaier sit of staan, kan ek ’n wyntjie neem en ’n mater se geselskap geniet. Ander kere, kan ons net rondom die kospotte staan en gesels; kan ek my seuns in die lengte van hul skaduwees oor die stoof in die middel van ons kombuis sien groei; dít in die middel van ons saamwees.

Eendag, moontlik nie so baie vêr van nou af nie, sal ons nie elke dag saam kan kosmaak nie en sal ons seuns voor hul eie kospotte en om hul eie gesinne se stowe staan. Wanneer ek daaraan dink, word ek hartseer.
Tot ek die vraag soggens hoor....”wat maak ons vanaand” en pleks van moedeloos te antwoord “ek weet nie”, kan ek net daarna uitsien om vandag se kosmaak saam te geniet. Want vandag se ete, raak so môre se voeding.

Lekker eet my volk. Soos Andre Brewis sou sê.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

*
Wonderlik om so in die kombuis te kan saamkuier tussen al die geure! Puik skrywe met goeie taalgebruik, het dit geniet!
6 jaar 9 maande 13 ure oud


Vanaand
@ Rentia: Gisteraand se groentesop as 'n voorsop vir vanaand se gebraaide hoendervlerkies, vars aspersies, avokado en pampoen. Ons sny bietjie op die stysels!

Dankie vir almal se saamlees en kommentaar.

Groete
6 jaar 9 maande 2 dae 2 ure oud


Kos
Het lekker saamgekuier in julle kombuis! Wat maak julle vanaand?
6 jaar 9 maande 2 dae 4 ure oud


***
Sommer 'n baie lekkerlees storie dié -- dankie Hennie.
6 jaar 9 maande 3 dae 14 ure oud


Voeding
Pragtige beskrywing. Ek is al jare lank die kok, maar ek wil alleen in die kombuis wees. Ongelukkig wou nie een van my kinders ooit kosmaak nie en vandag is hulle almal baas kokke in eie reg in hul huishoudings. Wat ek rerig geniet as ons en die kinders saamkom en daar word potjie gemaak of gebraai. Dan kan ek agteroor sit met 'n glasie!
6 jaar 9 maande 3 dae 16 ure oud


Voeding
Is dit nie fantastiese voeding vir die siel om take saam met die kinders te kan verrig nie. Knap gedaan Hennie.
6 jaar 9 maande 3 dae 19 ure oud


Voeding
Pragtig geskets Hennie. Die reelings in ons huis was, die een wat eerste by die huis kom maak kos. Ek het vir jare baie ver van die huis gewerk, en saans deur die verkeer geswoeg. Dit het toe gewoonte begin word dat manlief die aandete maak. Maar naweke is die kombuis myne en bak en brou ek na hartelus :)
6 jaar 9 maande 3 dae 20 ure oud


Puik
Puik rubriek: goeie Afrikaans, goeie lekkerlees inhoud!

(Gaan vanaand op jou knieë en sê dankie jy is nie in my piepklein kombuisie hier in Engeland nie - twee kokke plaas glad nie in die beperkte ruimtetjie in sonder om letterlik en figuurlik op mekaar se tone te trap nie.)
6 jaar 9 maande 3 dae 20 ure oud


Ano
Voeding
Mapstieks! Mag ek jou soms leen?? En hoe verlang ek nou na my kinders wat altyd so honger was :-)
6 jaar 9 maande 3 dae 20 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar