Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek onthou toe ek nog jonk was, het ek gesukkel om te verstaan hoe daar mense kan wees, wat in groot en duur huise bly, en ‘fancy’ motors ry, terwyl daar armoede en ellende al om ons sigbaar was. Ek het gevoel die onreg en ongelykheid is absurd, en kon nog minder verstaan hoekom niemand daaraan iets kan doen nie. Die feit dat die met geld en weelde, nie sélf hul rykdom met ander gedeel het nie, was reeds vir my onverstaanbaar. Sien hulle dan nie die nood van ander raak nie, of skaam hulle hulself nie dood deur niks met behoeftiges te deel nie?

Nou dat ek self groot is, en ook ʼn huis besit en motor ry wat armes sal beny, dink ek terug aan my naïewe sienings van my jeug, waar die antwoorde op morele kwessies so duidelik en eenvoudig was. Ek betaal elke maand af aan die luukshede wat, vanuit die perspektief van ʼn arm persoon, soos weelde en luukshede moet lyk. Ek weet nou die geld wat ek maandeliks inkry, word weer deur dié besittings ingesluk, en saam met die lewenskostes van ʼn middelklas familie, bly daar byna niks oor om uit te deel aan die minderbevoorregtes nie.

Maar die feit is van buite lyk als waarskynlik rooskleurig vir die gene wat niks hiervan het nie. Die frustrasie daarvan om uitgesluit te voel, omdat jy uitgesluit is, moet erg wees. Ek mag dalk weet my rykdom is op skuld gebaseer, en elke maand die knyp daarvan voel, maar steeds lewe ek op ʼn standaard wat die skuld vir my regverdig. Iemand in wie se lewe nie dieselfde geïnvesteer was as in myne om eendag gemaklik te kan lewe nie, voel tereg die lewe se onreg aan. Maar waar lê die oplossing?

My eerste reaksie is om die regering te blameer vir hul swak bestuur van die land se hulpbronne. Hoe durf die ANC met sulke hoë ideale so korrup en onbeholpe wees? Ek voel, nes toe ek nog ʼn kind was, dat die ANC, soos ryk mense, die skuld moet dra vir die onreg wat selfs na 20 jaar van demokrasie seëvier. Ook, soos in my jong dae, voel ek magteloos om iets aan die situasie te doen. My stem gaan verlore tussen stemme wat harder praat en reik nie veel verder uit as aan die wie die naaste aan my is nie. Ek probeer nugter bly oor ons land se toekoms en luister altyd skepties na beskuldigings wat heen en weer gegooi word oor die redes waarom die toekoms (veral in donker se midde) soms duister lyk.

Wat ek besef is dat wat gebeur, gaan gebeur, of ek nou daarvan deel is of nie. Al wat mens kan doen is om jou eie rol te speel volgens jou eie oortuigings, asook om die oortuigings konstant te bevraagteken om rasioneel te bly oordeel. Wat gaan gebeur is onmoontlik om te voorspel, al lyk dit soms of jou voorspellings waar word. Dit is nie toeval nie, maar nog minder het dit gebeur as gevolg van jou voorspellings. Onderliggend aan die lewe vloei ʼn konstante gety. Niks kan dit stuit nie, want als dra daartoe by.

Anders as Atlas wat die wêreld op sy skouers kon dra, kan die mens dit nie doen nie. Die lewe rus op almal, maar die gewig word oneweredig versprei. Wanneer die gewig na jou kant toe verskuif, onthou dat daar ander om jou is wat dit saam met jou dra, en dat niks ooit staties bly nie, en dus jou las ook weer sal verminder. Hier stem ek met Camus saam; kyk die absurditeit in die oë totdat dit sy blik van jou verskuif. Ons, wat in stories lewe, kan ook nie anders as om wal te gooi, selfs al word dit weer meegesleur deur tyd se stroom nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

dankie
. . . . jy het my inspireer om oor OUERS en KINDERS te skryf


http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/woord-vir-ouers
5 jaar 11 maande 2 dae 11 ure oud



Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar