Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My hart moes al ‘n hele paar keer sterk staan vir hierdie lewe en sy dingetjies.
Een so ‘n keer was toe ek ‘n baie moeilike keuse moes maak. ‘n Keuse wat my toekoms dramaties sou beïnvloed. Wat dit erger gemaak het, was my vrees om dit met my ouers te deel.

Met ‘n swaar gemoed en jelly bene is ek aan die einde van my tweede universiteitsjaar huistoe om die bul by die horings te gaan pak. Dit was ‘n aand soos enige ander aand en skraps voor Kersfees, toe ek die twee oumense die tyding meedeel. My hande was waterpoele van sweet en ek moes behoorlik aan my stoel klou om nie soos ‘n bang hond aan die hol raak nie. Die drie van ons het by die kombuistafel gesit, pas klaar aandete gehad. Ek het gevra dat my ouers nog ‘n rukkie sal bly sit, want ek het iets op die hart. Skielik was ek nie meer alleen in my ongemak nie. Ma en Pa het ook in hul stoele begin rondskyf. Die vuil borde en oorskiet krummels op die broodplank moes ook na die gesprek luister. Ek het besluit dit sou beter wees om die bom te bars voor die tafel af gedek word, sodat ek iets kon hê om my hande én gewete besig te hou as Ma in die badkamer gaan huil en Pa met stilstuipe voor die TV gaan sit. Dit is elk geval die prentjie wat ek my voorgestel het, toe ek hierdie vergaderingtjie beplan het.

“Ma, Pa…ek gaan nie volgende jaar terug universiteit toe nie.”

Met dié een vuurhoutjie het ek ‘n astronomiese ontploffing veroorsaak... of gedínk ek sou ‘n ontploffing veroorsaak. Ek meen, ek was besig met ‘n 3-jaar kursus en met net een jaar oor, kom vertel ek my ouers (wat hul alies afwerk om my op universiteit te hou) dat ek my kursus gaan opskop. Hulle het alle reg om te ontplof, maar dis toe nie wat hulle doen nie. Hulle reaksie het die wind uit my seile geruk, nee, dit het my seile geskeur! Hulle het doodstil bly sit en rustig gewag dat ek alles klaar verduidelik. Maar ek kon nie. Ek het oor my woorde gestruikel soos ‘n pasgebore springboklam. Hulle koel kalmte het my heeltemal onkant gevang. Ek het die ontploffing, die geveg en baie trane oor en oor in my kop sien afspeel. Ek was voorbereid dáárop. Voorbereid om vir myself te moet opstaan, om terug te baklei, tien goeie redes te gee, kliphard te oortuig dat ek die regte keuse vir myself gaan maak. My geestesoog het ook gesien hoe ek ten spyte van al die drama, wel die aanstaande jaar my registrasie by die universiteit sou moes hernu.

Ek het gehoop my hart sou kon sterk staan vir die moeilike taak wat ek op hande gehad het, maar hy het in duisend stukkies verkrummel daardie aand. Daar was wel ‘n ontploffing. ‘n Ontploffing van dankbaarheid en waardering. My oë is vir my oopgemaak sodat ek kon sien watter wonderlike ouers die Here my gegee het.
Die besef het by my ingesink en so swaar geweeg dat ek my kop in skaamte moes laat sak: ek is groot gemaak met die vryheid van keuses. Al het ek as kind nie altyd oor die wysheid beskik om die regtes te maak nie, het my ouers my nog altyd ondersteun in my besluite. Die minder goeie keuses is nooit summier afgekeur nie, ek is raad gegee of subtiel gebegelei om twee keer te dink voor ek voortgaan met ‘n ding. Ek het ouers wat saam met my droom, beplan en bid oor my toekoms en die uitkoms van my keuses. Hoe kon ek myself dan so opwerk met ‘n gedagte dat hulle my sou haat omdat ek van studierigting wou verander?
Wys jou hoe mens se kop met jou op loop kan gaan.

Hulle was effens geskok, ‘n klein bietjie hartseer ook, maar nie kwaad nie. Hulle het heeltemal verstaan toe ek verduidelik ek sien ‘n doodloop in die pad waarop ek loop, maar ek het reg gestaan met ‘n plan B. Daar was ‘n ander uitkoms wat ek kon volg. Daaroor was hulle saam met my bly en dankbaar dat dinge darem nie heeltemal hoef te gaan stil staan nie. Soos in al die jare voorheen, is ek weer geondersteun in ‘n keuse. Is daar saam met my gedroom, beplan en gebid oor die toekoms en die uitkoms van die nuwe pad wat ek begin loop het.

Ek het daai aand, by my ma se kombuistafel, geleer dat die mens se hart nie net swak kan raak as gevolg van die terugslae in die lewe nie. Die onverwagse mooi en sielsberustende gebeurtenisse kan jou soms hard terug aarde toe bring.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

slavin

deur Maangodin

Annelise, die skrywer van Maanvrug, is terug. Ná haar eksoties-metafisiese reis deur die hiernamaals in Weerloos speel slavin weer in die bekende wêreld van hedendaagse Suid-Afrika af. slavin bevraagteken die definisie van normale seks en die aanvaarde sienings oor seksualiteit. Dit streel en verlei, daag uit en wonder. slavin is weereens net vir volwassenes. Eroties Afrikaans.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar