Woes-Nuus

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

'n Nuwe geskiedenisboek vir Suid-Afrika waarin die geskiedenis van die land meer gebalanseerd beskryf word, word deur die Geskiedeniskommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns beplan.

Dit is die direkte uitvloeisel van die Geskiedenisberaad wat verlede week deur die SA Akademie aangebied is. By die geleentheid het die voorsitter van die Geskiedenis­kommissie, prof. Fransjohan Pretorius van die Universiteit van Pretoria, gesê dat die Afrikaner in die sogenaamde "Nuwe Geskiedenis" as die sondebok en skurk figureer en gepleit dat 'n soort regstellende aksie in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing moet plaasvind. Dit is as't ware 'n reaksie op die regstellende geskiedskrywing wat die afgelope jare plaasgevind het en waarin Cecil John Rhodes nou voorkeur bo Paul Kruger geniet.

Prof. Pretorius het onder andere verwys na die onverdraagsame nuwe geskied­beskouing in 'n nuwe reeks van ses geskiedenisboekies wat deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening met die oorhoofse titel Turning Points in History uitgegee is en waaraan matriekleerlinge blootgestel word.

Die beplanning van Turning Points in History was lofwaardig te oordeel aan die uitgangspunt van die voorsitter van die redaksiekomitee, prof. Bill Nasson. In teenstelling met die eensydige Afrikaner-sentriese skoolgeskiedenis in die apartheidsera is die verantwoordelikheid volgens hom nou om 'n demokratiese perspektief aan te hang "to embrace not only the experiences of different groups but also to reflect the existence of divergent historical memories in the making of a shared past".

Met uitsondering van 'n paar pogings van enkele skrywers in die reeks om die verlede-ervaring van die verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika weer te gee, het verreweg die meeste skrywers 'n ander betekenis aan die begrip demokratiese perspektief geheg.

In Boek 2, getitel The Impact and Limitations of Colonialism, kyk Jeff Peires na die ongelyke ontwikkeling van kolonialisme in Suid-Afrika. Hy gee, terloops, die ontstaan van die Zuid-Afrikaansche Republiek verkeerdelik as 1858 aan en negeer daardeur die Sandrivierkonvensie van 1852. 'n Hele bladsy word uitgelig in veroordeling van die Boere se "atrocities" wat in 1854 in die "Makapansgat massacre" tussen een- en drieduisend swartes vermoor het uit weerwraak vir die moord op 28 Boere in drie afsonderlike voorvalle (pp. 15, 16). Opvallend genoeg is daar nêrens in die reeks 'n verwysing nie na die Zoeloes se "atrocities" in Februarie 1838 op die Voortrekkerlaers by Bloukrans en omgewing óf die moord op Piet Retief en sy geselskap wat dit voorafgegaan het. Daar is trouens geen verwysing na die slag van Bloedrivier nie – nie in Boek 2 nie, en ook nie in Boek 3 nie waar die Groot Trek meer aandag kry, aldus prof. Pretorius.

Twee bladsye word aan sir Harry Smith, Britse goewerneur aan die Kaap gewy, en koning Moshoeshoe van die Basotho's kry aandag, maar Andries Pretorius en Piet Retief se name word geïgnoreer. Oor hulle is daar niks (in Boek 3 word Andries Pretorius darem die "leader of the Transvaal Republic" genoem). Ek sou reken mens sou in die huidige tydsgewrig van versoening nogal iets kon maak van Retief se uitspraak in sy manifes oor die Trekkers se begeerte om in vrede en vriendskap met die swart groepe in die binneland te leef. Maar dit pas kennelik nie in by die beeld wat die skrywer van die Afrikaner wil skep nie, het prof. Pretorius gesê.

Ses reëls word gewy aan die aard van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, met geen vermelding nie van 'n veldslag of Boereleier in 'n vryheidstryd waarmee die moderne Suid-Afrikaner hom kon vereenselwig het. Daarteenoor beslaan die volgende paragraaf oor die rol van swart mense tydens hierdie stryd nege reëls, en vertel van die baie sterftes in die swart konsentrasiekampe. Niks word gemeld van die sterftes in die blanke konsentrasiekampe nie.

Byna geen Afrikaanse bronne of werke deur Afrikanerhistorici word in die hele reeks vermeld nie. Slegs enkeles haal die Bronnelyste. Die belangrikste swart skrywers is daar. Maar wanneer dit by die keuse van illustrasies en foto's kom, skitter die reeks in sy eensydigheid. Laat mens Boek 1 oor ou beskawings en globale handel buite rekening en jy maak 'n lys van objekte uit Britse/Engelse, Boere/Afrikaner en swart geledere, is die resultaat verstommend. Daar is slegs twaalf illustrasies van Boere/Afrikaners, waarvan een dr. Beyers Naudé is. Nege Britte of Engelse maak dit. En daarteenoor is daar minstens veertig foto's of illustrasies van swart mense, en word hulle dikwels as die uitgebuites voorgestel, aldus prof. Pretorius.

Dit is so dat eensydige nasionale Afrikanerstandpunte in die apartheidsera ons skoolgeskiedenisboeke gekenmerk het. Dit was – afhangende van jou uitgangs­punt – die Groot Leuen, of die Groot Waarheid. En dit was 'n fout. In 1994 het die demokrasie egter gekom en was daar tereg behoefte aan 'n nuwe interpretasie van die verlede, 'n demokratiese interpretasie wat die ervarings van die verskillende groepe belig, as 't ware 'n regstellende aksie. Ter wille van versoening moet die pendulum egter nou nie na die ander kant toe swaai nie. Maar die vraag is of die Nuwe Groot Leuen of die Nuwe Groot Waarheid nie eerder op hande is nie, vra prof. Pretorius.

Die SA Akademie se Geskiedeniskommissie beplan om vyftien skrywers by 'n nuwe publikasie wat in Engels en Afrikaans en so moontlik in ander landstale moet verskyn, te betrek. Onderwysers en akademici sal gevra word om saam te werk. Daar word beoog om die publikasie kommersieel te bemark. Prof. Pretorius sal as projekleier optree.

Prof. J. van der Elst

Hoofuitvoerende Beampte

SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Tel. 012-328-5082



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Van ons ander lede

As drome waar word

deur Evelyn van der Merwe

Sewentig gedigte wat ‘n buitengewone vrou se lewe beskryf. Sewentig boodskappe van lief en leed uit die pen van ‘n vrou wat op die harde manier geleer het om meer as die gewone teenslae van die lewe te hanteer, om sterker te word en uiteindelik om sterk te wéés – nie net vir haarself nie, maar ook vir die mense rondom haar.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar