Titel: Kategorie definisies
Weergawe: 1
Aantal woorde: 1365
Kere gelees: 1581
Datum gepubliseer: 12 May 2009
Die Artikel
’n Artikel is in die meeste gevalle ’n nie-fiksie teks wat in die vorm van ’n opstel of verslag geskryf is. Daar word met ander woorde met feite, sienings en besprekings gewerk en kan oor enige onderwerp handel. ’n Artikel spreek die werklikheid aan en nie ’n verbeelde werklikheid nie. Dit kan vir ’n koerant, tydskrif, akademiese joernaal of die elektroniese media geskryf word. Met ’n artikel poog die skrywer om inligting te kommunikeer, te vermaak, of te onderrig. Die onderwerp moet in alle gevalle nuuswaardig, aktueel en belanghebbend wees en moet vanuit ’n spesifieke oogpunt beredeneer word. Publikasie waarvoor die artikel geskryf is, bepaal gewoonlik die lengte van die artikel, maar ’n artikel kan enigiets van 800 tot 3 000 woorde lank wees.
Die Gedig
‘n Gedig is ‘n vorm van literêre kuns waarin taal gebruik word vir die estetiese en beswerende kwaliteite daarvan, in die plek van of ter byvoeging van die oënskynlike betekenis daarvan. ‘n Gedig kan onafhanklik geskryf word as diskrete gedigte of kan in samewerking met ander kunste soos poetiese drama, liedere of lirieke voorkom. Behalwe vir die vryvorm waar ‘n digter kan maak soos hy/sy wil, is daar agt tipes gedigte wat elke ‘n eie patroon volg, naamlik verhaaldig, heldedig, dramatiese gedig, satiriese, liriese, elegie/treursang/klaaglied, versfabel en prosaïese gedig. Daar is nie ‘n spesifieke aantal woorde waaraan ‘n gedig moet voldoen nie, maar kan bepaal word deur die publikasie waarin dit gepubliseer gaan word.
Digkuns gebruik soms spesifieke vorme en konvensies om alternatiewe betekenisse voor te stel, of om emosionele en sensuele reaksies uit te lok. Elemente soos assonansie, alliterasie, klanknabootsing en ritme word soms gebruik om musikale of betowerende effekte te verkry. Die gebruik van dubbelsinnigheid, simboliek, ironie en ander styl elemente van digterlike uitdrukkings laat soms ‘n gedig oop vir veelvoudige interpretasie. Eweneens skep die metafoor, vergelyking en naamwisseling ‘n resonansie tussen andersins ongelyksoortige beelde – ‘n opeenlegging van betekenisse wat verbindings vorm wat voorheen onbekend was. Aanverwante vorme van resonansie kan bestaan tussen individuele verse in hul patrone van ritme en rym.
Die Kortverhaal
Minder kompleks as ‘n roman en moet in een sessie klaar gelees kan word. Kortverhale konsentreer op slegs een gebeurtenis, het ‘n enkelvoudige komplot/verwikkelingsplan en toneelskikking, met min karakters, speel oor ‘n kort tydsduur af, stel bepaalde eise, soos ‘n strak bou, uiterste konsentrasie, snelle verloop, en soms ‘n verrassende slot. Dit kan werklike of fiktiewe gebeure as tema hê met nie minder nie as 2,501 en ‘n maksimum van 7,500 woorde.
Dit kan die volgende patroon volg: uiteensetting (inleiding van tonelskikking, situasie en hoofkarakters); verwikkeling (gebeurtenis wat die konflik bekendstel); stygende aksie, draaipunt (die beslissende moment vir die hoofkarakter en sy verbintenis tot die handelwyse); klimaks (punt van hoogste belang in terme van die konflik en die punt van meeste aksie); ontknoping (die punt wanneer die konflik opgelos word); en die sedeles. Weens die lengte, kan kortverhale hierdie patroon volg alhoewel moderne kortverhale net partykeer ‘n uiteensetting het. Dit begin plotseling met ‘n storie wat in die middel van die aksie afskop. Dit het ‘n klimaks en krisis/draaipunt, maar sommige kortverhale eindig plotseling met ‘n oop einde en kan met of sonder ‘n sedeles wees.
Die Kort-kortverhaal
’n Kort-kortverhaal is kort en kragtige fiksie – ‘n beknopte verhaal met ‘n baie snelle verloop wat in die bestek van ‘n dag of twee afspeel. Dit kan oor enige onderwerp handel, maar moet op een A4 tydskrif bladsy of twee teenoorstaande A5 bladsye gedruk kan word en bestaan tradisioneel uit tussen 1001 en 2500 woorde.
Kort-kortverhale bevat die klassieke storie elemente: hoofkarakter, konflik, struikelblokke of komplikasies en oplossing. Nietemin, nie soos in die geval van ‘n tradisionele kortverhaal nie, dwing die beperkte woordlengte sommige van hierdie elemente om ongeskrewe te bly, dit wil sê deur sinspeling in die geskrewe storielyn.
Die Happie Afrikaans
‘n Happie is ‘n kort letterkundige bydrae wat handel oor die skrywer se belewenis van ‘n gebeurtenis waaruit hy/sy iets geleer of waarde geput het. Dit kan ook geklassifiseer word as flitsfiksie wat waarlik roep na uiters kort, maklike, beknopte skryfwerk. Die doel van ‘n happie kan wees dat die skrywer sy lesers wil vermaak, waarsku, onderrig of sommer net sosiale kommentaar wil lewer. Dit kan werklikheid of ‘n verbeelde werklikheid wees – grappig of ernstig. Die lengte word waarskynlik bepaal deur die spasie wat ‘n publikasie daaraan toestaan en kan wissel van 34 tot 1500 woorde.
Die Musiekresensie
‘n Musiekresensie is die individuele analise en evaluasie van enkel (“Singles”) CDs, albums, DVDs, konserte, onderhoude/profiele, musiektoerusting (bv kitare, klankversterkers, mikrofone, ens). Dit kan verdeel word in joernalistieke kritiek wat gereeld in koerante en ander populêre massa media afsetgebiede asook akademiese kritiek deur musiekkenners wat musiekteorie gebruik en in tydskrifte of joernale gepubliseer word. Musiekresensente luister na die snitte op nuut vrygestelde CDs/DVDs en formuleer daarna hul opinies. Resensente se evaluasies het ‘n belangrike impak op die uiteindelike speel van CDs/musieksnitte wat die luisteraarspubliek se aandag trek, veral dié in spesifieke genres. Die uitspraak oor die sanger/kunstenaar/musikant se uitendelike weergawe van klank en lirieke, asook sy/haar vermoë om die luisteraars van die spesifieke genre se smaak te bevredig, het ‘n verdere impak op luisteraars se besluit oor die aankoop van die CD. By poplêre musiek word baie aandag gegee aan liedjieskrywers, regisseurs en ander individue in die musiekbedryf. Daar is ook groter beklemtoning van die voorkoms (klere, haarstyl en leefstyl keuses) van die musikante as by resensies oor uitvoerders van klassieke musiek. ‘n Swak resensie en luisteraarskeuse kan produksie verdoem en finansiële verlies tot gevolg hê, terwyl ‘n goeie resensie verkope na Goud/Platinumstatus kan opskuif. Dié resensie kan enige lengte hê van 137 tot 300 woorde afhangende van die spasie beskikbaar vir publikasie.
Die Filmresensie
‘n Filmresensie is die analise en evaluasie van films, individueel en gesamentlik. Dit kan vryalgemeen verdeel word in joernalistieke kritiek wat gereeld in koerante en ander populêre massa media afsetgebiede asook akademiese kritiek deur filmkenners wat film teorie gebruik en in tydskrifte of joernale gepubliseer word. Film resensente wat vir koerante, tydskrifte, uitsaai media en aanlyn publikasies werk, resenseer gewoonlik nuwe vrystellings. Hulle sien enige gegewe film een maal en het dan ‘n dag of twee tyd om hul opinies te formuleer. Resensente het ‘n belangrike impak op films, veral dié in spesifieke genres. Die opsomming van die intrige en beskrywing van ‘n film wat die kern uitmaak van die filmresensie, kan ‘n belangrike impak hê op die kykers se besluit om na ‘n film te gaan kyk of nie. ‘n Swak resensie kan dikwels ‘n film verdoem tot duisterheid en finansiële verlies. Dit kan enige lengte hê van 137 woorde tot 300 woorde afhangende van die spasie beskikbaar vir publikasie.
Die Boekresensie
‘n Boekresensie is ‘n vorm van literêre kritiek waarin die boek geanaliseer word op grond van inhoud, styl en meriete en is ‘n goeie bron om die kwaliteit van boeke te evalueer. Die lengte kan wissel van ‘n enkele paragraaf tot ‘n aansienlike essay. So ‘n resensie bevat dikwels evaluasies van die boek op grond van smaak. Sommige resensies is bloot ‘n eenvoudige opsomming van van die intrige. ‘n Boekresensie ontwikkel die resensent se analitiese bedrewenheid sodat hy/sy die inhoud weergee nieteenstaande die tipe roman, geskiedkundige of kritiese aard van die boek. Die doel is om die inhoud van die boek te bespreek en ‘n analise te verskaf van dit wat hy/sy gelees het en daaruit af te lei of die skrywer daarin geslaag het om die kern te openbaar, by die tema te hou of deeglik daarin geslaag het om die doel te bereik. Boekresensies is dus goeie bronne vir die evaluasie van die kwaliteit van boeke en kan tussen 300 en 1500 woorde beslaan afhangende van die boek wat geresenseer word en die publikasie daarvan.
Lees ander Woes-nuus artikel deur Willem Woes
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die nuusstuk
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie nuusstuk
Lees soortgelyke Woes-nuus artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

