Titel: Monument vier opknapping - hou konsert
Weergawe: 1
Aantal woorde: 293
Kere gelees: 260
Datum gepubliseer: 19 May 2010
Pretoria, 18 Mei 2010. Op Sondagaand 30 Mei om 18:00 bied die Voortrekkermonument ‘n besondere verskeidenheidskonsert in die Heldesaal aan om die onlangse, grootskaalse restourasie van die interieur van die Monument en verskeie ander verbeterings op die terrein aan die publiek bekend te stel. Die program bestaan hoofsaaklik uit gewyde musiek met gepaste Afrikaanse musiek ter ondersteuning.
Verskeie bekende kunstenaars soos Dewald von Solms (tenoor), Gaylen Sales (harp), Eon Malan (orrel) en Magda de Vries (marimba) voer bekende werke soos Jesus Bron van al my Vreugde (JS Bach), Caruso (Lucio Dalla), You raise me up (R Lovland), Halleluja (GF Handel) en Gebed van Koos du Plessis, uit. Die suksesvolle Constantiapark Laerskoolkoor o.l.v. Annelie van Rooyen sing werke soos Spreuke (G de Villiers) en die Nuwejaar Setees van C Lamprecht.
Die konsert word moontlik gemaak deur die bydraes van die maatskappye en hoofkontrakteurs wat vir die opknapping verantwoordelik was nl, MEG Argitekte, Siya Zama (Gordon, Verhoef en Krause) en die Van der Schijff Trust.
Die monument restourasie en paduitbreidings is met fondse wat van die Nasionale Lotery Distribusiefonds verkry is, moontlik gemaak. Grootskaalse waterskade wat deur die jare aangerig is, is herstel en die monument is binne geverf terwyl nuwe ligte op die trappe aangebring is. ‘n Groter hooftoegangshek en ’n nuwe toegangshek aan die Noordekant van die VTM, vanuit Jan Smutsweg, ‘n nuwe informasiesentrum neffens die vergrote geskenkwinkel en heelwat meer sitplekke met baie mooi uitsig by die kiosk en ’n nuwe baadjie vir die Blikkantien Restaurant langs Galery 20.20, is enkele ander toevoegings wat die terrein nog meer toeganklik en besoekersvriendelik sal maak.
Kaartjies vir die konsert is R80 vir volwassenes en R50 vir kinders en is verkrygbaar by Annatjie by 012-326-6770 of ontvangs@voortrekkermon.org.za. U kan gerus ook skakel vir besprekings.
Lees ander Woes-nuus artikel deur Willem Woes
Raporteer foute/ongewenste inligting rondom die nuusstuk
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie nuusstuk
Lees soortgelyke Woes-nuus artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

Kortverhale
Woes-Nuus
Artikels
Gedigte
Rubrieke
