Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vandag in woorde se tema vir hierdie week is ‘Bly’. Dis ’n baie klein woordjie met ’n hele paar verskillende betekenisse. Die eerste begrip wat by my opkom is vreugde, gelukkigheid, oorstelptheid, blydskap. Dan voel ek my genoop om te sê hoe bly my hart was oor al die bydraes wat julle dierbare Woesters gemaak het tot verlede week se ‘MASKERS’ tema. Ek gee staande applous aan ieder en elk!

In die lewe is daar so baie dinge wat my bly maak. Nie noodwendig groot goed wat baie geld kos nie, alhoewel ’n Audi TT my ook vreeslik bly sal maak. Hoor jy Bokka?

Vat nou maar gistermiddag. Ek kan nie eers voluit verduidelik hoe bly my hart was toe Bokka hier aankom met ’n sakkie vol swart Wilson toffies, nie. Man, ek vertel jou ek het gejubel en gejuig, want dis nie iets wat mens aldag hier in die bos raakloop nie.

Is daar iets so klein soos ’n toffie wat jou bly kan maak? Vertel ons daarvan. Dalk sien ons dan ook die klein goedjies raak wat groot blydskap bring.

’n Ander blye dag wat ek altyd sal onthou is die dag dat ’n vreemde stem oor die foon my meegedeel het dat daar ’n beurs aan ons seuna toegeken is. Al sy studies, boeke en verblyf kon betaal word. Ek was alleen my kantoor. Toe ek daai foon neersit, was ek eers vir ’n paar sekondes stil om die nuus te laat insink. Daarna het ek tegelyk getrippel-dans en uit volle bors, ’n dankgebed gejubel.

Vertel ons van die nuus wat jou al só bly gemaak het.

Daar is ’n ‘bly’ wat mens laat jil en daar is ’n ‘bly’ wat mens net rustig laat glimlag. Soms is dit eerbied en soms is dit tevredenheid. Soms is dit trots en soms is dit dankbaarheid. Jy weet mos wat ek bedoel. Vertel ons van die dinge, gebeure, geleenthede en mense in jou lewe wat jou doelbewus of onwillekeurig bly maak.
Sing dit uit in geskrewe woorde! Gorrel dit of dig dit. Of vertel sommer maar net.

Mooi loop en wees hierdie week aspris bly.

Bos-groetnis
Kiekies



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kroniek van die Suid-Afrikaanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Geskiedenis van die Suid-Afrikanse Weermag vanaf 1912 tot sy ontbinding in 1994



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar